Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > Artikels | Features

''Ag Here, gee tog net nog pens!''


Johann H Crafford - 2007-10-26


Die vleispotte van Egipte? Ga! Al ooit die kospotte van Lambertsbaai gesien? Om meer presies te wees, die vis- en vleispotte van Muisbosskerm? Nie? Dan weet jy nie wat jy mis nie.

Voeg nou by daai kospotte ’n sauvignon blanc van hierdie area wat jou na die naaste leë glas laat gryp soos ’n drenkeling na ’n reddingsboei, en jy herskryf onmiddellik die definisie van die woord dekadensie. Nou beteken dit sommer ’n algehele oorgawe aan jou smaaksintuie. Of beter nog, ’n simfonie van sintuie, ’n paradys van plesier, ’n gastronomiese tsunami!

Maar kom ek begin voor.

Die Louws van Diemersdal daar by Durbanville nooi toe mos ’n hand vol van ons uit na die amptelike bekendstelling van hul jongste avontuur in ’n bottel. Dis ’n sauvignon blanc met die pragtige naam Sir Lambert. Sy kort geskiedenis lees so: Diemersdal maak wyn van formaat en Lambertsbaai het sowat 10 ha sauvignon blanc-druiwe van gehalte. En so vorm Thys Louw van Diemersdal, Johan Teubes, bekende wingerdboer van Vredendal, en dr John Hayes van Lambertsbaai ’n vennootskap om hierdie verskillende elemente saam te voeg en met iets besonders in ’n bottel vorendag te kom.

Die eindresultaat? Sir Lambert Sauvignon Blanc 2007, ’n wittetjie met sulke heerlike geure van tropiese vrugte en ’n nasmaak wat jou aanmekaar na die bottel laat gryp. Maar dis nie so intens dat jy gou moeg raak vir hom nie. Nee, hy vra om byna onophoudelik geniet te word.

Die Sir Lambert Sauvignon Blanc 2007, waarvan slegs 7 000 bottels gemaak is, verkoop teen R65 per bottel.

Maar waar stel jy nou hierdie nektar van die gode bekend aan mense wat nogal bederf geraak het oor die jare? Eureka! By ’n plek wat sinoniem met gastronomiese bederf geword het: Muisbosskerm net buite Lambertsbaai.

En so kom die klompie van ons toe daardie Woensdagoggend by Muisbosskerm teenaan die Weskus bymekaar, net so 5 km buite Lambertsbaai. Die sonnetjie het gaan wegkruip agter ’n stewige misbank, maar die belofte van kos en wyn direk uit die hemel se spens en kelder het ons daar langs die see met kwylende monde laat wag.

En kort voor lank het die fees begin. Dit was vis vir Afrika en soetpatat, ’n slaaitjie vir diegene wat lyf dophou, waterblommetjiebredie, kerrie, lamsvleis, calamari, paella, kreef, varsgebakte brood en hanepootkonfyt. Noem dit en dit was daar!

En tussenin het die proppe van die Sir Lambert Sauvignon Blanc gevlieg soos ’n eskader swaeltjies dringend op soek na die naaste somer.

Dis toe die tweede sarsie kos op pad maag toe is en die derde sarsie op die lang tafel beland dat Joanita, ma van Thys en vrou van Tienie, so met ’n wanhopige kreun langs my prewel: “Ag Here, gee tog net nog pens!”

Nou kyk, jy sal moet ver gaan soek om ’n beter beskrywing vir daai feesmaal te kry! Jy kan jou maar pace tot jy blou in die gesig is, daar gaan altyd te veel kos wees. En jy gaan nooit genoeg pens hê nie!

Muisbosskerm (027 432 1017) is natuurlik die eerste en oorspronklike opelugrestaurant in Suid-Afrika en sy seekoservaring is beslis iets om oor huis toe te skryf, veral as jy in gedagte hou dis ’n drie uur lange dekadente reis in die gastronomiese hemel in! Edward en Elmien Truter het hierdie eetplek jare gelede begin en vandag nog trakteer hulle besoekers op die beste wat die Weskus op die etenstafel kan plaas.

En moenie vir Lambertsbaai sommer so op sy baadjie takseer nie, hoor. Hier lê sommer ’n hele klomp juwele en wag. Tussen Augustus en November baljaar die walvisse en dolfyne hier asof hulle ook na Muisbosskerm uitgenooi is, terwyl ’n verskeidenheid watersportaktiwiteite hier beoefen kan word. Dan is daar ook nog die Sandveld-museum, Voëleiland wat ’n móét is, en sandduine vir Afrika vir diegene wat hul vaardigheid agter die stuur van ’n fô-baai-fô of op die rug van ’n kwadbaaik wil toets. Skakel gerus die toerismekantoor op 027 432 1000 vir meer inligting.

Die Lambertsbaai/Muisbosskerm-ervaring begin natuurlik die oomblik dat jy die N7 pak. As jy nie daai lappieskomberslandskap van Malmesbury af tot by die Piekenierskloofpas waardeer nie, of die kloof tussen Citrusdal en Clanwilliam met sy erewag van sitrusboorde nie, of die Sandveld en sy asemrowende rotsformasies nie (dis nou van Clanwilliam af Lambertsbaai toe), dan is ek bevrees daar’s nie juis meer hoop vir jou nie! Die skrywer Linda Hogan het immers eendag geskryf: "Die aarde – die natuur – praat met ons. Net so jammer ons stop nooit lank genoeg om na hom te luister nie."

    • Johann Crafford is ’n reklamekonsultant, vryskutjoernalis en skrywer, en spesialiseer ook in privaat wyntoere.