Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > Resepte | Recipes

Die Pick 'n Pay | LitNet Virtuele Kruideniersmandjie: Wini Esterhuizen se resepte


Wini Esterhuizen - 2007-10-23

Voorgereg



Mielie-en-kaas-Filodriehoekies met aarbeivlamme en snytjies Camembert

4 Filo-velle
200 g Pick 'n Pay No Name geroomde soetmielies
120 ml Roomkaas (Sweet Thai Chilli)
120 ml Cheddar-kaas
'n halwe sirkeltjie fetakaas (gekrummel)
1 Eier

Metode

1. Verhit die oond na 200° Celsius.
2. Meng al die vulselbestanddele.
3. Sny die Filodeeg in lang, ewe groot stroke.
4. Smeer gesmelte botter oor die stroke.
5. Plaas 'n teelepel vol vulsel op die linkerkantste hoekie van elke strook deeg.
6. Vou die hoekie oor om 'n driehoekie te vorm en hou aan vou tot aan die einde van die strook. Sorg dat die hoekies mooi styf toe is, sodat daar nie kans is vir die vulsel om uit te loop nie.
7. Verf 'n bietjie botter oor elke driehoekie.
8. Plaas die driehoekies op 'n gesmeerde pannetjie.
9. Bak 15 minute lank.

Neem een bakkie Pick 'n Pay aarbeie en sny in dun skyfies.
Sny 'n sirkeltjie Pick 'n Pay Choice Camembert in klein skyfies. Rangskik snytjies Camembert en aarbei en repies komkommer op 'n bord. Gooi 'n paar klein plassies Pick 'n Pay Choice Hot Chutney op die bord. Gooi 'n klein poeletjie Spicy Mango Sauce oor die Camembert, aarbeivlammetjies en driehoekies.


Hoofgereg



Beesvleisrolletjies op Basmati-rys in 'n groentekraaltjie met sitrussous

1 Pakkie Pick 'n Pay Choice Basmati-rys

Kook die rys volgens die aanwysings op die pakkie. Besluit self hoeveel rys jy sal nodig hê.

1 Heel beesfillet (Pick 'n Pay se Lazy Aged Beef)
Mostert (Djion)
Cheddar-kaas
1 Pakkie vars Pick 'n Pay sampioene
1 Pakkie Pick 'n Pay Choice Bacon

Groente en sous

1 Koppie Delheim Pinotage Rosé. (Gaps dit sommer uit een van die bottels wat later gedrink gaan word!)
1 Koppie kookwater waarin een beesvleisekstrakblokkie opgelos is.
1 Pakkie vars Pick 'n Pay sampioene
12 Klein Pick 'n pay uitjies
1 Pakkie Pick 'n Pay groenboontjies. Kap die stertjies en die koppe af.
6 Opgeskote wortels in lang repe gesny
1 Lourierblaar
5 ml Gemengde droë kruie
Grofgemaalde swartpeper en gegeurde sout na smaak


Metode

Sny die beesfillet in skywe. Slaan die skywe met 'n hamertjie lekker plat. Smeer 'n mespunt vol mosterd op elke stukkie vleis. Strooi 'n bietjie grofgemaalde swartpeper en gegeurde sout oor die vleis. Laat 'n repie Pick 'n Pay Choice Bacon oor elke stukkie vleis lê. Bêre nou 'n snyseltjie kaas en 'n stukkie sampioen op elke stukkie vleis. (Skud eers die sampioene om seker te maak dat daar nie 'n kabouter in woon nie!) Rol elke lappie vleis soos 'n klein rolkoekie op en heg die rolletjie met 'n tandestokkie sodat die binnegoedjies binne kan bly.

Maak 'n riffelpan baie warm. Gooi so 'n klein bietjie botter in die pan en braai die rolletjies aan albei kante. (Mens moet die pan se strepe op die vleis kan sien.) Verwyder van die hitte.

Gooi die koppie beesaftreksel en die koppie Delheim Pinotage Rosé in 'n lekker dikboompot. Laat die mengsel net kook. Plaas nou die rolletjies, wortels, sampioene, lourierblaar, kruie, uitjies en groenboontjies in die kokende ekstrak. Laat prut die kos stadig totdat die groente sag is. Jy kan nog 'n bietjie water byvoeg as die sous te droog is. Verdik die sous met 'n bietjie meel.


Sitrussous vir groente

Die sap van twee groot Pick 'n Pay lemoene
5 ml lemmetjiesap. (Gebruik vars lemmetjies.)
1 Eetlepel nartjiemarmelade
2 Eetlepels suiker
1 Eetlepel mielieblom
60 ml water

Gooi die lemoensap, lemmetjiesap, nartjiemarmelade en suiker in 'n pannetjie. Laat dit net kook. Meng die mielieblom met die 60 ml koue water. Voeg die mielieblommengsel by die sapmengsel terwyl jy aanhoudend roer. Laat die mengsel kook totdat dit verdik en helderder word. Verwyder van hitte. Proe, voeg nog suiker by indien jou suikertand so sê. Gooi die mengsel deur 'n siffie en hou eenkant.

Braai 'n pakkie Pick 'n Pay se babamielies op 'n baie warm riffelpan waarin 'n klein bietjie botter gegooi is.

As die rolletjies en groente gaar is, kan jy die gereg maar bedien. Ek skep die gereg in mooi borde en gooi 'n strepie sitrussous oor die groente. Skep die beesrolletjie op 'n matras Basmati-rys wat jy sommer met 'n leë tunablikkie vorm. Versier die rand van jou bord met piepklein tamaties en gebraaide aartappels wat met 'n koekiedrukker in die vorm van blommetjies gedruk word. Jy kan jou eie idees gebruik vir versiering. Sit 'n bakkie ekstra Pick 'n Pay Choice olywe op die tafel.

Drink 'n paar bottels Delheim Pinotage Rosè terwyl jy eet!


Nagereg



Korslose Kaaskoek-eilandjies in 'n see van aarbeie en yoghurt

Kaaskoekies

40 ml Gelatien geweek in 125 ml koue water
460 g Roomkaas (twee bakkies)
250 ml Pick 'n Pay Choice room
5 groot eiers (geskei of ongetroud, nes jy verkies!)
435 ml suiker
Nog 250 ml Pick 'n Pay Choice room

Sous

250 ml Pick 'n Pay Choice Plain Yoghurt
1 Blikkie aarbeie (Net die aarbeie word gebruik, nie die stroop nie.)
1 Pakkie Pick 'n Pay aarbeie

Week die gelatien in koue water en verhelder dit dan oor 'n bietjie kokende water.

Klits die roomkaas en die 250 ml room goed saam. Gooi 185 ml suiker by die eiergele en klits dit oor kokende water totdat die mengsel liggeel en lekker dik is. Gooi die lemmetjiesap en die verhelderde gelatien by die eiermengsel.

Klits die eiermengsel by die roomkaasmengsel. Klits die eierwitte styf. Gooi die res van die suiker (1 koppie) bietjie vir bietjie by die eierwitte. Klits die mengsel totdat dit dik en blink is. Voeg by die roomkaasmengsel. Vou in. Klits 250 ml room tot styf en vou dit ook by die mengsel in. Gooi die kaaskoek in leë tunablikkies wat met waspapier uitgevoer is. (Enige blikkie of houer van jou keuse is ook reg.) Laat die mengsel in die yskas stol.

Meng intussen die Pick 'n Pay Choice Plain Yoghurt met die geblikte aarbeie. Gooi so twee eetlepels (of meer) suiker by die mengsel.

Maak 'n versiering van jou keuse van gesmelte sjokolade en laat stol. Sny die aarbeie in dun repies.

Keer die gestolde kaaskoekie op 'n bord uit. Gooi 'n bietjie van die joghurt-mengsel om die eilandjie en pak dun skyfies aarbeie om die kaaskoekie.