Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Anton Goosen: Met liefde ... van die Liedjieboer

"Die stokvel-partytjie is verby ..."


Anton Goosen - 2007-10-23

“Klink my die stokvel-party hier langsaan is verby,” sê Lizzie toe sy die voordeur toemaak en die fyn stokkies wat sy onder die melkhoutbome opgetel het, kaggel toe dra. Sy verwys na die bure hier agter. Hulle hou partytjie en die een kind sing oor ʼn mikrofoon wat by die hi-fi ingeplug is. Tuning is nie haar sterkpunt nie, maar aan die ander kant kan ek vreugde en entoesiasme hoor. Al is die pa ʼn wynvlieg wat gereeld naweke teen twaalfuur oor die muur hang om my te probeer oorreed om ʼn dop te kom geniet.

Om 3 vm blaf Skye, die Jack Russell, my wakker. Dit is toe daar aan die voordeur van die einste bure geskop word en die dronk man met die wit bakkie sy vrou kom soek wat daar geskuil het vir die nag. Huismoles. Ek kan elke woord hoor. Hy start sy bakkie op en rev hom: "Anton Goosen bly mos daar!” Ek reageer nie, beloer van die tweede verdieping. En hou Skye vas. Uiteindelik is hy vort – spinnende bande wat tot om die hoek en verder skree deur die nag. Boy van die suburbs revisited.

Dit is Lizzie, my getroue huishulp van 20 jaar, se eerste besoek aan die see. Met dié dat ek die groot trek aangepak het einde Januarie en in Kleinbaai (langs Gansbaai) kom woon het, het ek besluit dis tyd vir ʼn groot werkvakansie vir haar.

Lizzie is ʼn sprekende voorbeeld van African PR: sy sê wat sy dink my ore wil hoor. Sy beweeg sagter as ʼn trapsuutjies. Na soveel jaar weet sy dat muso’s wat die vorige aand gewerk het, nie vroegoggend wakker geraas wil word met geluide van skottelgoed of voetstappe nie. Sy wag geduldig voor die onderste televisie en kyk die reruns van die soapies totdat daar beweging van die boonste vloer in die huis kom. Skye die Jack Russell is gewoonlik eerste onder om dag te sê.

Lizzie kyk al dekades lank soapies: Days of our Lives, The Bold and the Beautiful, Generations, Isidingo, 7de Laan, Muvango en soapies wat nog nie eens geskryf is nie!



Ons doen shopping. Dis die einde van die maand in Gansbaai. Voor Savers Lane se gebou is ʼn crowd. Masikani-mense. Dis ʼn swart dude wat trekklavier speel met ʼn ou op tuisgemaakte tromme langs hom. Dit bestaan uit ʼn 20 liter-verftrom oorgetrek met ʼn velum en tamboerynringe bo-oor gespan.

Lizzie en ek is verstom. Ek neem foto’s. ʼn Wit man met ʼn beanie kom sit langs die tromspeler. Dis nuwe tye. Die ou Gansbaaiers ry net verby.

Verlede week het ʼn wit ou met ghitaar en soortgelyke trom voor die Fish Lady gespeel – en oor ʼn megafoon wat aan sy trom gemonteer was, gesing. Hy het heel eerste vir die vrou by die viswinkel ʼn stukkie wit papier gaan vra om ʼn sigaret mee te rol, maar sy het toe sommer vir hom ʼn pakkie siggies gesponsor.

Dis amazing om haar dop te hou. Haar van is Molapo – rivier in Tswana – en ʼn eerste blik op die groot blou dam. Sy tel skulpies en seepampoentjies op by Blou Sloep in Franskraal. Sy pluk blomme by Perlemoenbaai. Sy bekyk die see by De Kelders. Sy is verstom oor die Noorkappers in Walkerbaai. Staar na die agt “trolskyde” wat een-een op ʼn streep Gansbaai se nuwe hawe uitvaar. Sy geniet die shopping in die Super Spar. Sy is mal oor die snoek takeaways van die Fish Lady. Sy hou daarvan om vir Skye vir stappies te neem - gewoonlik na die hawe en omgewing van Kleinbaai.

“Wat is anderkant?” vra sy terwyl sy na die see kyk, en beskryf laagwater: “Die water is leeg vanoggend.” Tuis het ek self eers met die vinger die ronde aardbol gevolg tot waar Alaska anderkant lê voor ek kon antwoord …



Kleinbaai is die selfaangestelde hoofkwartier van die Great White Shark-bedryf. “We educate and save” staan op die meeste haaibote geskryf. Dit beteken in kort dat hul geld maak daaruit: R1 400 pp. Of jy nou haaie sien al dan nie. Hul lok die haaie met bloed (want die toeriste wil die haaie teen die hok sien stamp) en dis juis hieroor waaroor natuurliefhebbers hulle kwalik neem. Volgens die haaiboot-organisasies migreer haaie elke ses weke en raak hul dus nie gekondisioneerd met die lokaas en die klank van die bootenjins nie. Maar dit, altans, volgens hulle. Die wit haaie swem teen ongeveer 3 kph, maar doen die aanval op prooi (grootliks robbe) teen ongeveer 60-80 kph. Dit maak van hulle die effektiefste roofdier ter wêreld. En tussen Kleinbaai en Dyer-eiland is hul gebied. Die robbe het al geleer om onder op die bodem van die kanaal by Dyer-eiland te swem, want dan beweeg die wit haaie bo hulle.

So is dit dan dat Kleinbaai ʼn rukkie gelede die Haaifees aangebied het. Stalletjies, biertente, brannewyn teen R10 volgens die wit pompjoggie by die garage, handgemaakte goetes, tente, ʼn mirambaspeler en nog baie ander goed.

“Daar was ʼn band ook,” sê Lizzie toe sy terugkeer van ʼn Skye-stappie; “hulle is goed, maar speel nie hul eie songs nie. En baie mense het Skye herken.”

Ek het eers die volgende dag uitgevind presies van wie sy gepraat het, toe Elsabe Zietsman op Skye se Facebook-bladsy ʼn boodskap skryf. Elsabe het die vorige aand in een van die tente opgetree.

Vir Lizzie was dit alles nuwe inligting, nuwe plekke, nuwe mense. Alles anders. Soos dit hoort met ʼn vakansie. En so kom dit ook tot ʼn einde en tyd om terug te gaan werklikheid van Gauteng toe.

Soos sy sê: "Die stokvel-partytjie is verby …"


(Hierdie vertelling het voorheen in Vonk verskyn.)