Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Theunis Engelbrecht: Sound Bites

Pret uit Pretoria op 'n wa uit Tshwane - 'n Proudly South African Special


Theunis Engelbrecht - 2007-10-17

Nadat ons hier by Sound Bites enkele maande gelede ons hooghartige snobisme oor Suid-Afrikaanse en Afrikaanse musiek laat vaar het, danksy briljante nuwe plaaslike albums van onder andere Springbok Nude Girls, Vusi Mahlasela en Foto Na Dans, het ons besluit om hierdie keer weer ons ore uit te leen na wat hier onder ons eie neuse aangaan. En ons is verheug om te sê dat daar weer ‘n klompie stewige Suid-Afrikaanse albums is, en selfs een of twee in Afrikaans.

CD VAN DIE MAAND
Dan Wilson Mark Huggett Project

Streng gesproke, asook tegnies gesproke, weet ‘n mens nie of jy darem heeltemal na hierdie CD as ‘n Suid-Afrikaanse album kan verwys nie. Die groep se twee stigterslede is die baskitaarspeler Dan Wilson van Durban en die tromspeler Mark Huggett, wat al saam met kunstenaars soos Crowded House, The Pogues en Johnny Thunders opgetree het.

Wilson en Huggett het ook ander interessante kunstenaars gekry om saam met hulle te werk: die trompetspeler en sanger Yngvil Vatn Guttu, ‘n Noorweegse vrou wat in Alaska bly, en kitaarspelers soos Silas Wood, James Tartaglia en Dave Warren. Die album is in Suid-Afrika, Brittanje en Alaska opgeneem. Omdat dit deur ‘n Suid-Afrikaanse platemaatskappy uitgegee is, beskou ons dit maar as Suid-Afrikaans, al steek die klanke hier demografiese en geografiese grense oor.

Volgens hul platemaatskappy is hul klank ondefinieerbaar en is dit ‘n roerbraai van jazz, rock, klassieke grooves en world. Die album se titel is geïnspireer deur ‘n park in Londen wat na die legendariese jazz-tromspeler Max Roach vernoem is.

Benewens die sterk jazz-aanslag is daar ook ‘n sterk lounge-geurtjie aan hierdie musiek. Dis ‘n gesofistikeerde album, maar terselfdertyd toeganklik. Die reklamekoppelaars van die maatskappy wat dit uitgee, sê die musiek laat hulle dink aan ‘n rokerige sigaar-lounge en lui middae op die strand. Die toeganklikheid beteken egter nie dat die album kommersieel is nie – dit sal eerder meer in fynproewers se smaak val.

Max Roach Park is ‘n besonderse produksie. As jy ontvanklik is daarvoor en dit met ‘n oop gemoed benader, kan die boeiende verweefdheid van world-ritmes en jazz-kitaar jou op ‘n lekker trip vat (soos op byvoorbeeld die snitte “William Blake”, “Bells”, “Chesil”) en jou selfs in ‘n soort meditatiewe toestand dompel. Dis ‘n album wat ‘n mens onmoontlik in een luistersessie kan absorbeer, en met elke herluister ontdek jy meer en meer. As jy glad nie ‘n aanvoeling vir jazz het nie, bly weg. Maar as jy bereid is om geduldig te luister, kan Max Roach Park jou op allerhande avontuurlike paadjies laat afdwaal.

Ménage à Trois

Wat ‘n aangename verrassing – en dit nogal uit Pretoria se wêreld. Om mee te begin is daar die groep se opwindende liedjieskrywer en sanger Auriel Lefebre – ‘n sterk, indrukwekkende nuwe talent met ‘n kreatiwiteit wat drup van individualiteit en verbeelding. En boonop het sy ‘n stem om van te droom.

Die ander lede is Jako Loots (tromme), Garth de Meillon (baskitaar), Lani van der Merwe (tjello) en Illimar Neitz (kitaar). Volgens die groep se persverklaring is hulle beïnvloed deur onder andere Ani DiFranco en Dave Matthews, maar moet geen klakkelose navolging verwag nie. Die groep is veelsydig en die musiek uiteenlopend. Daar is ‘n sterk jazz-inslag, maar deurentyd op ‘n stewige rock-fondament. Onvoorspelbare melodieë en sterk poëtiese lirieke wat getuig van ‘n eiesoortige kyk op die lewe is ander uitstaande kenmerke van Ménage à Trois.

Hoogtepunte sluit in “Stepping Through”, die lieflike “October Finds Me”, die meesleurende “34th”, “Saturday Night Machines” en “Bakerloo Blues”. Wat nie beteken die res is sleg nie – inteendeel! Ménage à Trois is ‘n groep waaroor ‘n mens baie opgewonde kan raak. These Are Birthmarks is ‘n album om te koester en een van die hoogtepunte onder Suid-Afrikaanse uitreikings vanjaar.

Johnathan Martin & No Quarter

Johnathan Martin & No Quarter kom ook van Pretoria – dit lyk my dié stad se musikante is weer behoorlik aan die kook. Martin het al bekend geraak as lid van Jack Hammer en vir puik akoestiese optredes saam met Piet Botha.

Al vandat hy saam met Jack Hammer begin speel het, het almal besef Martin is nie net ‘n goeie liedjieskrywer en ‘n baie goeie sanger nie, maar ook ‘n uitmuntende kitaarspeler. Sy solodebuut saam met No Quarter lewer ook oorvloedig bewys hiervan.

Dis sterk kitaargedrewe, volbloed-rock wat ‘n mens aantref op In My Blood. Die meeste van die liedjies is deur Martin self geskryf, en hy doen ook vars, skaflike weergawes van Neil Young se “Cortez the Killer” en Bob Dylan se “Love Sick”, en ‘n interpretasie van Nick Drake se “Black Eyed Dog” wat koue rillings langs ‘n mens se ruggraat afstuur.

Van Martin se eie komposisies is dit veral “Not the One”, “7 Years Bad Luck”, die subtiele “African Story”, die oorrompelend mooi “Everything and Nothing”, “Down Song”, die sterk “Higher Place” en “Scars on my Guitar” wat tref.

Johnathan Martin is ‘n uiters talentvolle en spesiale kunstenaar wat nog diep spore kan trap in die Suid-Afrikaanse musieklandskap. Met nuwe, jong bloed soos dié van Martin en Ménage à Trois se Auriel Lefebre lyk die toekoms blink.

Tidal Waves

Muzik an de Method is Tidal Waves se derde album en volg op Hard Work (1999) en Harmonijah (2002). Vyf jaar was te lank om te wag, besef jy as die groep se weldadige reggae-ritmes jou verlei en jou in ‘n baie lekker groove laat dobber.

Die groep kom oorspronklik uit Klerksdorp en woon tans in Yeoville, Johannesburg. Die lede is Boogie "Zakes" Wulana (kitaar, mondfluitjie en sang), Sam "Drumbo" Shoai (tromme en sang), Lucky Nhlanhla Mthalane (baskitaar) en Ruben "Toply" Faku (klawerborde).

Dis lekker om te weet as ‘n mens in ‘n CD-winkel invaar met die uitsluitlike doel om ‘n lekker reggae-album te koop, een van jou beste opsies dié van ‘n Suid-Afrikaanse groep is. Tidal Waves kry jou reeds met die eerste snit, “Kia Ora”, stewig in hul greep met hul onweerstaanbare musiek. Daarna duur die lekkerkry sonder ophou voort, met verrassings soos drie Afrikaanse liedjies (“Lekker Lekker Dans”, “Konfyt” en Koos Kombuis se “Hartseerland”) en verder reggae van die boonste rakke op snitte soos “Jah Luv” en “Reggae Steady Go!”.

Wat Tidal Waves se musiek so interessant maak, is die duidelike maskandi- en mbaqanga-invloede (soos op “Egigini” en “Basop A”), rock (“Jah Luv”), blues (“Let the Music Play!”) en rock ‘n roll (“Rockin’ and Rollin’”). Daar is selfs ‘n teer ballade (“U’ll Be Mine”).

Tidal Waves maak goedvoel-musiek en as jy hierdie CD op ‘n paartie speel, sal dit kook. Boogie Wulana se sielvolle sang en fantastiese stem dra verder daartoe by om van dié album iets spesiaals te maak.

Dan Patlansky

Ons hier by Sound Bites is baie beïndruk. Om deesdae musiek soos reggae en blues op te neem, verg kunstenaars van werklike kaliber, juis omdat albei genres al die gevaar begin loop het om holrug gery te raak. In mindere hande wat dié style bespeel, styg die musiek selde uit bo die middelmatige en voorspelbare. Tidal Waves se vars aanslag maak hul soort reggae baie aangenaam, en as dit by die blues kom, blaas Dan Patlansky baie ander kunstenaars heeltemal van hul troontjies af. Dis CD’s soos dié wat aan geykte uitdrukkings soos “Trots Suid-Afrikaans” nuwe inhoud en diepte verleen.

"Dan Patlansky is one of the most renowned and fiery blues artists in the southern hemisphere and one of the greatest I’ve ever seen," het die gerespekteerde David Batiste Sr selfs al oor Patlansky gesê.

Patlansky het tien jaar gelede sy eerste treë in die musiekbedryf gegee toe hy nog 15 was. Toe hy 21 was, het hy sy eerste album, Standing at the Station,uitgereik. En ‘n skrale drie jaar later gebeur ‘n ongekende ding, iets wat baie, baie selde met Suid-Afrikaanse musikante gebeur: hy kry ‘n kontrak by die hoogaangeskrewe Blue Note-maatskappy, wat beskou word as dié reus in die internasionale jazz-wêreld. Die resultaat was die album True Blues.

‘n Jaar later het Selwyn Muller, die bestuurder van kunstenaars soos David Gates en Bread, Randy Crawford en Petula Clark, vir Patlansky New Orleans toe genooi. Hier het hy saam met ware groot name opgetree, soos onder andere Henry Gray (Howlin’ Wolf se klavierspeler), Snooks Eaglin, die Batiste-familie en Rockin Dopsie Jr.

Patlansky se derde album, Real, het vanjaar die lig gesien. In sy verspreiders se persverklaring is daar geen melding van hoekom Patlansky nie meer by Blue Note is nie, maar as mens na die kookwatermusiek hierop luister, maak dit ook glad nie saak nie.

Sielvol, passievol – dis die beste woorde om beide Patlansky se manier van sing en sy kitaarspel te beskryf. Die stem is so rou dat ‘n mens skaars kan glo dit kom uit ‘n 25-jarige keel. Die stem klink na dié van ‘n argetipiese old soul wat al omtrent alles gesien, gehoor en beleef het. En hy looi daai Fender Stratocaster met mening. Dis waarin deel van die trefkrag van Real lê: die musiek laat die blues weer jeugdig en energiek klink, en gekombineer met die rou old soul-stem dra dit boonop opnuut die boodskap oor dat ware blues tydloos is.

Die kersie op die koek is ook dat Patlansky ‘n baie goeie liedjieskrywer is. Hy volg ook nie die maklike uitweg deur net ou blues standards te speel nie. Hy is ongetwyfeld een van die heel blinkste jong talente in die Suid-Afrikaanse musiekwêreld.

Freshlyground

Daar is siniese bitterbekke wat Freshlyground afmaak as bloot die nuwe Mango Groove. Dit getuig van kortsigtigheid en/of eenogigheid, want dis nou nie juis asof Freshlyground dié groep klakkeloos naboots of navolg nie. Hulle doen hulle eie ding. Dit is dus onregverdig om sulke vergelykings te maak, wat net dui op ‘n gebrek aan insig en perspektief.

Baie mense het al gepraat van die soektog na die ontwykende eg-Suid-Afrikaanse klank. Hoe sou ‘n mens so ‘n eiesoortige klank definieer? Met so ‘n ryk kulturele verskeidenheid soos wat daar in Suid-Afrika bestaan, is dit waarskynlik onmoontlik om net één enkele eg-Suid-Afrikaanse klank uit al die verskillende style en tradisies te distilleer.

Freshlyground maak stylvolle musiek en die musikante is duidelik baie gesofistikeerd. Hulle slaag daarin om toeganklik en kommersieel te wees sonder om hul integriteit en gehalte in die proses prys te gee.

‘n Groot deel van Freshlyground se bekoring lê in die sjarmante Zolani Mahola, die groep se sangeres. ‘n Mens wil haar net opvreet so oulik is sy. Daarbenewens sing sy fantasties. Daar is iets in haar stem wat so onskuldig klink.

Die groep se veelsydigheid beïndruk mens. Daar is die opgewekte liedjies wat jou voete laat jeuk, soos die titelsnit, “Manikiniki” en “Ask Me”, die kokende reggae-seksies van “Fired Up”, die cityscape groove van “Zulu Lounge” en vioolspel wat die ore laat tintel op “Umalume”.

Die ballades op die album word nie gesink deur sentimentaliteit nie en spreek van eerlike gevoel, soos op “Arms of Steel” en die pragtige “Crimson Smile”.

‘n Mens is huiwerig om ‘n bloedlose term soos “volwasse kontemporêr” te gebruik vir Freshlyground se musiek, maar dis ‘n kategorie waarin hulle gemaklik sal pas vir mense soos Sama-beoordelaars. Die produksie is seepglad en professioneel. Die musikaliteit is onbesproke. ‘n Mens hoop Freshlyground het gekom om te bly.

Jak de Priester

Dit is waarskynlik gepas om Sound Bites se Proudly South African Special af te sluit met ‘n Afrikaanse album deur nog ‘n kunstenaar van Pretoria.

Daar is mense wat sê Jak de Priester is die nuwe Johannes Kerkorrel en dat hy die leemte vul wat gelaat is na Kerkorrel se dood. Ons hier by Sound Bites is nie seker of ons heeltemal daarmee saamstem nie, en bly gevolglik by ons standpunt dat dit onsinnig en tydmors is om sulke vergelykings te probeer tref.

Stellenbosch Lovesong is De Priester se vierde album. Sy debuut, Sally Williams Nougat, was baie verdienstelik. Daarvandaan is sy werk gekenmerk deur ‘n stygende lyn wat gehalte betref. Dit was goed om te sien hoe hy met elke nuwe album net beter word. Sy derde album, Brooklyn Poet, was besonder goed en dit was indrukwekkend om te sien hoe De Priester groei en nie bang is om met nuwe idees en klanke te eksperimenteer nie.

Met Stellenbosch Lovesong sit Die Priester nie noodwendig die stygende lyn in sy werk voort nie, maar hy handhaaf die standaard wat hy vir homself gestel het op Brooklyn Poet. Dis duidelik dat hy oor ‘n natuurlike talent beskik wat ‘n duidelike gevoel van spontaneïteit en eerlikheid aan sy werk en vertolkings gee.

Al is Stellenbosch Lovesong ‘n goeie album, het dit nie in geheel dieselfde sterk impak as wat Brooklyn Poet gehad het nie. Een of twee van ons hier by Sound Bites is ook van mening dat De Priester nog te veel oor oppervlakkige dinge skryf – studenteverliefdheid, ‘n gevry op die strand, oulike kelnerinne, ‘n gekuier in coffee shops en sushi bars – en dat hulle graag sal wil hoor dat hy dieper en meer ernstige temas aanpak, soos wat dit ‘n Kerkorrel sou waardig wees. Vir my self pla of irriteer dit nie noodwendig nie, maar ek moet ter wille van volledigheid melding maak van my medeluisteraars se opinies.

As mens egter luister na die meeste ander jongmans wat deesdae in Afrikaans sing – die Darrens, die Louws, die Wesselse, die Koene, die Van Blerks, die Van der Merwes, die Campbells, die Jordaans (Arno, nie Theuns nie), die Mullers, die Ludicks (om net ‘n paar te noem) – besef jy De Priester se werk is myle beter en interessanter as hulle s’n. Hy maak ten minste nie musiek wat jou laat voel jy is skaam om Afrikaans te wees nie.


  • Luisterpaneel: Theunis Engelbrecht (notulehouer), Beyers Eybers, Yvette de Wet, Jana-Mariana Human en Alice Ellis.
  •