Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > Artikels | Features

Cloof verras met wyne en kos


Johann Crafford - 2007-10-10

"Braaivleis, rugby, sonskyn en Chevrolet!" Wie kan nog daai ou advertensierympie onthou uit die goeie ou dae wat so aanhoudend deur byna elke bloubloedman geneurie is dat dit later byna volksmond geword het?

Ja, hoe meer Suid-Afrika verander, hoe meer bly hy maar dieselfde, nè?

Maar dinge het tog verander. Rugby is nou ‘n beroepsport, daai Amerikaanse mouterkar is terug, en braaivleis is skynbaar nie meer sommer net braaivleis nie. Die son skyn darem nog dieselfde.

Maar terug na braaivleis. En wyn. Kyk, die een kan mos nie eintlik sonder die ander nie, of wat praat ek nou alles?

Ek word mos toe saam met ‘n paar ander “wynvriende” uitgenooi na Cloof (022-492-2839) daar naby Darling (op die pad tussen Darling en Malmesbury, om meer presies te wees) om hul nuwe wyne te kom proe en braaitapas te geniet. Braaitapas? vra ek myself. Nee, antwoord ek terug, dis nou ‘n nuwe een vir my, maar dit klink interessant. Baie interessant.

Ek is een van daai ouens wat sommer ‘n vuur maak vir een tjoppie en ‘n braaibroodjie (en ‘n botteltjie van Bacchus se hartmedikasie natuurlik!), en ‘n lang geëtery soos die Taljaners en Spanjole dit doen, is mos ‘n fees. Wat kan dus nou beter wees as om ‘n vleisbraai met tapas te kombineer?

By Cloof aangekom is ons eers aan die nuwe wyne bekend gestel en toe is daar geproe. Met name soos Daisy Darling, The Dark Side, The Ink Spot en The Very Sexy Shiraz op etikette wat onmiddellik die oog vang, wys die mense by Cloof hulle is ernstig om hul mark se aandag te trek en te behou. Die motivering agter die name en etikette is glo om elke wyn se unieke karakter uit te beeld en natuurlik die oog te vang. En dit werk skynbaar, want dit het onmiddellik vroulief se aandag getrek. Net jammer sy drink nie!

Die Daisy Darling 2007 is ‘n ligte wit versnit van Chenin Blanc en Sauvignon Blanc, en behoort ‘n lekker piekniekwyn te wees, of sommer net vir iets ligs langs die swembad of op die seiljag. Of as geselskap vir ‘n ligte slaai onder die blou hemel.

Onder die rooies wat in die glas beland het, was The Dark Side 2005, ‘n Cabernet Sauvignon / Shiraz-versnit wat in Franse eikehoutvate verouder is, my persoonike gunsteling. The Ink Spot 2005, ‘n Pinotage / Shiraz / Cinsaut-versnit wat ook houtverouder is, en The Very Sexy Shiraz 2006 was kort op sy hakke. Al drie, sowel as The Cloof Cellar Blend 2004 (Pinotage / Tinta Barocca / Shiraz / Cabernet Sauvignon / Merlot / Cabernet Franc), Lynchpin 2005 (Merlot / Cabernet Franc / Cabernet Sauvignon) en Crucible Shiraz 2006, sal enige vleisbraai of potjiekos goed afrond. Of braaitapas.

Dis toe die laaste geloer, geruik en geproe die aftog geblaas het dat die mense van Cloof die eerste van die braaitapas voor ons neersit, sesame-hoenderslaai ("hoenderrepies bedien op gesnipperde blaarslaai en spruite, en met ‘n eetlepel sojasous onder in die bakkie").

En toe dit in ons kele af verdwyn het, het die Geskroeide Tuna en Avokado Caprese gevolg ("skywe tuna, vinnig gebraai om die binnekant nog donkerpienk te laat, afgewissel met skywe ryp avokadopeer en bedien met mayonnaise") en toe die Noorweegse Salm met ‘n Oosterse Kinkel ("vinnig gebraaide salmstukke bedien op noedels"), Skilpaadjies op Suurdeegbrood ("deeglik gebraaide skilpaadjies, in skywe gesny en bedien op roketblare en suurdeegbrood, afgerond met soetrissiesous") en uiteindelik die coup de grace, Chermoula Lamtjops ("die tjops is oornag in ‘n Chermoula-mengsel gemarineer en dan oor warm kole gebraai"). En so tussendeur het die genoemde rooies lustig in die regte rigting gevloei.

Om die hele tapaservaring af te rond, is diepgebraaide okkerneutfilorolletjies saam met sterk boeretroos voorgesit.

Met die terugry huis toe het ek en Mevrou gedagtes rondgegooi oor hoe om die braaitapasgedagte uit te brei en met idees vorendag gekom soos stywe pap en boerewors, minisosaties op couscous, minifilette en bronkors/roket-blare (“watercress/rocket”) met balsamiese asyn en olyfolie, en varkribbetjies in ‘n soetsuursous. Alles in klein porsies, natuurlik.

Braaitapas laat jou natuurlik toe om lekker lank te knibbel (lees: kuier!) aan ‘n verskeidenheid disse wat dan met verskillende wyne geniet kan word. En daar is absoluut niks mee verkeerd nie. Inteendeel!

Terloops, Cloof bied heerlike ligte maaltye onder die blou plafon saam met hul wyne. Bespreek net vooraf.