Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vryepoort > Afrika Afrikaan Kapittels

Kaapstad Kapittel


Manie de Waal - 2006-08-09

Hi daar

Was gisteraand by die gesprek in die Kaap in Fridas (Breestraat), en dit baie geniet. Die enkele vraag: "Is gesprekvoering nodig?", en gepaardgaande kommentaar dat "ons generasie deur die kraak geval het en dat die jeug met nuwe kreatiewe oplossings sal kom", het egter vir my die punt gemis.

Gesprekvoering IS nodig, indien om geen ander rede nie as dat dit stimulerend en natuurlik is. In daardie lig gestel het ek die aand geniet.

Onafwendbaar was daar vir my 'n sterk ondertoon in die gesprekke: "Kan ons 'n verskil maak?"

Miskien was die opmerking (dat ons generasie deur die kraak geval het) ten opsigte van dit bedoel, maw: "Nee, omdat julle al te oud is, kan wat julle sê of dink nie 'n verskil maak nie. Julle is te gewortel in die verlede."

Dit alles daar gelaat.

Die punt wat gemaak is aan die begin van die aand, dat “ons” (neem aan wit Afrikaanssprekend?) opsigtelik afwesig is by al die jeugkonferensies, debatte ens. Die rede daarvoor, en ook die rede hoekom ek op 16 Junie dan seker iewers 'n brander sal gaan soek om te surf, is soos volg:

As een van die etniese minderhede in ons geliefde Suid-Afrika voel ek totaal polities ontmagtig. Ons opposisiepolitiek laat veel te wense oor; in der waarheid vervreem dit mense net nog meer van mekaar. Aan die ander kant staan 'n regering waar die onnatuurlike alliansie (ook gewortel in die verlede) van COSATU, SAKP en die ANC voortploeter. Hoekom sal ek aan 'n gesprek deelneem as my bydrae tot niks kan lei nie?

So, ek wag vir 'n leier wat kan opstaan (as ‘t ware uit die as?) en 'n werklike opposisie vorm. Iemand wat “credentials” het onder alle bevolkingsgroepe en die weg wys na 'n haalbare toekoms. Of, dat die huidige regeringsalliansie skeur en dan kan ek aansluit by 'n groep wat 'n werklike stem het en my kan verteenwoordig.

Daardie dag, as ek 'n politiese stem gekry het, sal my gesprekvoering nie net stimulerend wees nie, maar wel verder kan lei tot 'n werklike verskil.

Tot dan is my keuse, waar ek wel 'n verskil kan maak, 'n ekonomiese een.

Groete en sien uit na die volgende gesprek.