Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vryepoort > Afrika Afrikaan Kapittels

Pretoria Kapittel: Die dinge wat ek besef het


Louise van Dyk - 2006-08-09

Ek is opgewonde ... sommer baie opgewonde om deel te word, régtig deel, van die reënboog van kulture, etnisiteite, geskiedenis en toekoms van die mense van my land.

Dis dan ook gesprekke soos die Kapittel wat ek onlangs in Pretoria bygewoon het wat die deure hiervoor begin identifiseer, die moontlikhede tasbaar maak, en ook die struikelblokke na die oppervlak bring.

Wat het ek besef?

  • Ek is deel van die jeug van Suid-Afrika. Ek het daarom die geleentheid en die verantwoordelikheid om dit uit te leef.
  • Ek weet gans en al te min van die geskiedenis om te kan saamgesels oor die toekoms. Ek het soms by die gespreksgroep verlore geraak tussen al die sosiopolitieke terminologie, argumente, belese stellings en feite uit geskiedenisboeke. Want ja, ek is ook maar een van die jongelinge wat maklik “Menseregte! Menseregte!” skree wanneer my eie regte in gedrang kom, maar nie regtig besef presies hoe goed ek dit het nie, waar ons vandaan kom en wat gedoen kan word om nie die verlede te herhaal nie.
  • Ek het verseker ’n aandeel aan die gebrek aan integrasie en medemenslikheid wat vandag steeds ’n hartseer werklikheid is. Hier is daar dalk ʼn storie (ten koste van myself) te vertelle: Twee jaar gelede werk ek in die ouditorium op kampus. Ek is moeg van drie nagte sonder slaap, ek is moeg van jillende kinders, van tegnici wat nie weet wat hulle moet doen nie, van organiseerders wat nie weet wat hulle wil hê nie. Die hoeveelste mens wat ontydig aan die verhoog se sydeur klop, is ʼn swart vrou met twee arms vol grasbesems. Ek reageer op impuls: “Nee dankie, ons wil nie besems hê nie, en jy mag nie hier agter wees nie.” Byna onmiddellik besef ek dis die onderwyseres van die plaaslike skool wat haar revue-groep se rekwisiete kom wegsit vir die voorvertoning. Ek ag, op die ingewing van die oomblik, nie haar taalvoorkeur of titel nie, ek verneem nie waarom sy daar is nie, ek oorweeg haar nie as my verre meerdere nie, ek reken haar nie eens my aandag werd nie. Dis tog maklik: swartvrou + besems = lastige, bedelende straatsmous ... en ek wil myself ʼn Afrikaan noem!? Dis genoeg rede vir ’n goeie houer vol relevante skuldgevoelens!

Dit was wrintie nie ek wat Afrikaans as voertaal op skoliere afgedwing het nie; ek was nie betrokke by die samestelling van die Paswette of die Wet op Groepsgebiede nie; ek is nie deel van die geslag wat my oë toegemaak het vir die onreg wat in hierdie land gepleeg is nie; maar ek het geblom in die voordele en die vooroordele daarvan.

Juis hierdie tipe stories moet ons nie meer moedeloos maak nie, maar moet bydra tot ʼn vurige verbintenis tot gesprek oor elke individu se deel in die toekoms waar ʼn oorgeërfde ingesteldheid van veroordeling en ongelykheid vir goed tot die verlede kan behoort.

  • Elkeen kan ’n bydrae lewer; ek ook. Ons bydrae lê nie in heldedade nie – dit het Madiba en baie ander vir ons gedoen; ons bydrae lê nie in sosiale-investeringsprogramme nie – King II het dit vir ons byna ’n voorvereiste van goeie besigheidspraktyk gemaak; ons bydrae lê nie by rebelse opstande nie – hiervoor was 16 Junie 1976 hopelik genoeg. Ons bydrae sit, by uitstek, in die alledaagse dingetjies wat ons gemaksonthalwe miskyk. Eintlik eenvoudig – ek’s dalk naïef, and I stand to be corrected: GEE – van jou tyd, van jou geld, van jou geleerdheid, van jou geleenthede, van jou o, so kosbare lewenstandaard.

My gees is gewillig en optimisties om ingelig te wees, om deel te word van gesprek, om aktief te wees en selfs gewillig om die swakheid van my vlees te erken. Dis ten minste ’n begin, of hoe?