Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Rubrieke | Columns > Afrikaans > KritNet

Engelse liefde


Paul Cilliers - 2007-10-03

Ian McEwan
Jonathan Cape
ISBN 978-0-224-08118-4
166 bladsye


’n Worsteling met die vraag: “Wat is liefde?” is een van die ewigdurende temas van die romankuns. Ian McEwan skryf gereeld en in detail daaroor. Dink maar aan Enduring Love en sy voorlaaste roman Saturday. Dié boek het my geweldig getref. Die predikamente van ’n hedendaagse mens, iemand wat bloot probeer om sinvol te lewe te midde van al die eise wat aan hom gestel word, is met insig en deernis aan die orde gestel. Dit wat hom deur alles dra, is ten slotte sy verhouding met sy vrou. Die huwelik tussen twee onafhanklik suksesvolle mense word sterk en positief uitgebeeld.

McEwan se jongste boek, On Chesil Beach, fokus weer op hierdie tema. Die hele novelle (dit is nie heeltemal ’n roman nie), speel af op die huweliksnag van ’n jong middelklas-paartjie. Dit begin met hulle (afgryslik Engelse) aandete in ’n hotel wat oor Chesil Beach uitkyk. Die situasie is gespanne, want die huwelik moet duidelik nou voltrek word. Dit is ’n gelaaide oomblik wat dreig om al twee te oorweldig aangesien hulle voor die huwelik, op haar aandrang, geen omgang gehad het nie. Mens hoef nie veel McEwan te gelees het om te voorspel dat dit op ’n ramp gaan uitloop nie.

In ’n reeks terugflitse leer mens die twee ken en kan sien hoe sy, ’n begaafde violis, deur haar agtergrond belemmer is om sosiaal gemaklik met veral die teenoorgestelde geslag om te gaan. Hy is nie heeltemal van dieselfde “klas” nie, maar het haar hartstogtelik lief. Hulle besluit om te trou neem ’n eie momentum aan, en sonder dat hulle mooi weet presies wat gebeur het, is hulle getroud. Bietjie soos die hond wat die bus gejaag en dit toe gevang het.

Die ware probleem is gou duidelik: sy walg aan die idee van seks. Die walging is oënskynlik nie die gevolg van een of ander morele rede nie; sy is eenvoudig te vitterig. Die morsigheid van seks gril haar tot in haar tone, in so ’n mate dat sy daarvan weghardloop en die twee mekaar moet konfronteer op die klipstrand van Chesil Beach. Die afloop van die konfrontasie verklap ek nie hier nie, maar dit is ’n uiters emosionele gedoente.

Soos die leser mag agterkom, is ek nie heeltemal seker of mens die boek ernstig moet opneem nie. Die verhaal is effe leeg en die gevoelens is so oordryf dat ek op kolle gedink het dit moet ’n parodie wees. Die boek is egter nie ironies genoeg om hierdie leesstrategie enduit te motiveer nie, en myns insiens is die teks dus nie heeltemal ’n sukses nie. Die uitbarsting op die strand, en die gevolge daarvan, is nie goed genoeg gemotiveer nie. As alles verby is, het mens bietjie die gevoel van “So what?”.

Dit alles gesê, is On Chesil Beach nie ’n slegte boek nie. McEwan skryf, soos altyd, met ’n wonderlike helderheid. Soos in Saturday is daar wonderlike passasies oor musiek en die effekte daarvan. Hy het ’n fyn oog vir sosiale en interpersoonlike spannings en is nooit soetsappig nie. As mens dit lees as ’n lang kortverhaal, ’n soort vingeroefening, eerder as ’n voluit-ontwikkelde roman, het die boek veel om te bied. Miskien is dit op die ou end niks anders ’n tong-in-die-kies draakstekery met ’n sekere soort “Engelsheid” nie.

Die omslag van die boek, sowel as die ligging waarin die gebeure afspeel, het my aan John Fowles se French Lieutenant’s Woman laat dink. Die titel, sowel as van die beelde in die boek, roep weer na die bekende gedig "Dover Beach" van Matthew Arnold. Die gedig, wat Arnold op sy wittebrood geskryf het, besin met ’n soort weemoed oor die wêreld terwyl die digter oor die klipstrand en die see kyk. Vir hom lê daar net vertroosting in die moontlikhede wat sy liefde inhou.

So, wat is die liefde? As mens Saturday lees, kan dit iets wees wat rykheid aan jou lewe gee en jou in staat stel om die druk van die wêreld te hanteer. As mens On Chesil Beach lees, is dit ’n brose affêre wat o so maklik kan skipbreuk ly. Natuurlik is die liefde nie ’n ding wat ons kan vaspen nie. Ek hoop net dit het met Arnold en sy geliefde beter gegaan as met die paartjie op Chesil Beach.