Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Skole | Schools > Notas, toetse en vraestelle

Trippel-H: Uitkomsgerigte les oor Riëtte Hugo se gedig, "Die kampioen"


Trippel-H - 2007-10-01

DIE KAMPIOEN The Champion
Riëtte Hugo



die the
skoot shot
KNAL BANG(S)
sy lyf is ‘n plat lem his body is a flat blade
water insny cuts the water
onderwaterasemophou underwaterholdingbreath
mensvis human fish
vismens fishlike human
tot sy bors wil till his chest wants to
BARS EXPLODE(S)
uit die water out of the water
arms soos wielende
wieke
arms like wheeling [windmill] vanes
alle teenstand all opposition/ resistance
weggeskop met
vinnende voete
kicked away with
finlike (literally "finning") feet (also fast)
hap bite
LUG AIR
Blaas borrels,
lug... blaas... lug... blaas
blow(s) bubbles
air… blow… air… blow
draai turn(s)
in een beweging in one movement
die terugtog vaartbelyn
aangepak met nat, blink spiere
the return quickly/streamlined
tackled with wet, shiny muscles
EERSTE FIRST
geraak touched
aan die rand the side (of the pool)
met gestrekte webbers with stretched weblike fingers
stralend afgebuig vir olyfkrans en goud: die swenner. streaming (and beaming)
bent forward for olive garland and gold the swinner (winner+swimmer)


BESPREKING

Hierdie gedig is ‘n moderne gedig wat vinnig gelees moet word om die swemmer se bewegings in die water op die papier na te boots. Die titel vertel ons reeds dat hy ‘n kampioen is, maar ons weet nog nie waarin nie.

Die eerste drie woorde kan ook enige sportsoort aandui. Die kampioen duik soos ‘n lem in die water in en dan weet ons dat hy ‘n swemkampioen is.

Reël 5 dui aan hoe lank die swemmer onder die water bly. Hy swem soos ‘n vis, maar hy is ‘n mens. Hy kan nie te lank onder die water swem nie, want moet opkom om lug te skep (asem te haal).

Hy bars uit die water en sy bors wil bars. Sy arms lyk soos wiele wat draai – ook soos die windmeul se wieke. Hy swem vinniger as sy teenstanders en ook kry hy nie veel teenstand van die water nie. Sy voete is soos vinnige vinne wat aanhou beweeg, Hy lyk asof hy die water “hap” en hy swem vinnig terwyl hy asemhaal en lug uitblaas. By die draai doen hy dit in een beweging en die enjambement maak ook ‘n vinnige draai. Nou begin hy terugswem. Hy is vaartbelyn – dit beteken hy is gebou om vinnig deur die water te beweeg. Sy spiere word genoem (soos sy arms en bene); hulle is nat en blink (soos die vis waarmee hy vergelyk word). Hy raak eerste aan die rand van die swembad. Sy vingers word vergelyk met ‘n gewebde dier se vingers- met ander woorde ‘n dier wat in die water leef.

Hy is baie bly: hy “straal” van plesier en die water tap in strale van hom af. Hy buig vorentoe om sy pryse te ontvang. Hy kry ‘n olyfkrans om sy kop en die goue medalje. Hy is ‘n wenner-swemmer en ’n neologisme dui aan dat hy dus ‘n swenner is.


LEERUITKOMS 1: LUISTER EN PRAAT

1. Verdeel die klas in groepe van vier of vyf en laat elke groep navorsing doen oor die volgende swemmers:

Mark Spitz Penny Heyns
Ian Thorpe Karin Muir
Ryk Neethling Natalie du Toit
Roland Schoeman Lewis Pugh

2. Elke groep moet die volgende inligting inwin en aan die klas oordra:

(a) Waarom het hierdie persoon bekend geword?
(b) Watter soort swemslag het hy/sy beoefen?
(c) Watter rekords het hy/sy opgestel?
(d) Van watter land is hierdie swemmer afkomstig?
(e) Wat doen die swemmer nou (as hy/sy nie meer swem nie)?


LEERUITKOMS 2: LEES EN KYK


RYK EN SY KLEINSUS SWEM SAAM

1. Ryk Neethling en sy kleinsus, Jean-Marie, het tydens die Statebondspele in Australië in meer as een opsig rekords geslaan. Hulle is die heel eerste broer en suster wat aan dieselfde sportsoort, swem, deelneem en ook daarin presteer.

2. Ryk het gehelp dat Suid-Afrika die 4x100 meter vryslag-aflos in ‘n rekordtyd van 3:14,97 wen. Hulle is veral trots dat hulle die sterk Australiese span geklop het. Alhoewel dit ‘n nuwe Statebondrekord is, verbeter dit nie die Olimpiese rekord wat hy, Schoeman, Ferns en Zandberg in 2004 opgestel het nie.

3. Sy suster, Jean-Marie, het in haar heel eerste Statebondspele vir haar naam gemaak. Sy het die eindronde van die 200 meter individuele wisselslag gehaal en ook ‘n Suid-Afrikaanse rekord verbeter.

4. Dié 15-jarige het in die eindronde sesde geëindig. Dit is amper drie sekondes vinniger as haar vorige beste tyd. Toe sy gevra is hoe sy gevoel het oor haar eerste deelname aan so ‘n groot swemgala, het sy vertel: “Ek kan dit glad nie glo nie! Ek het my beste tyd twee keer op een dag verbeter.”

5. Jean-Marie sê dat dit wonderlik was om na die horlosie te kyk en te sien dat sy haar beste tyd ooit geswem het. Sy is die afgelope ruk gepla deur ‘n lastige hoes. Sy dink dat dit miskien maar net senuwees kan wees wat haar gepla het, want nadat sy deelgeneem het, het die hoesie verdwyn!

6. Sy sê dat sy haar broer kan bedank vir sy goeie raad. “Toe ons na die swembad gery het, het hy gesê: ‘Ontspan. Dis maar net ‘n gala. Jy weet wat jy moet doen. Doen dit en geniet dit.’"

7. Jean-Marie sê sy is gelukkig om so ’n broer te hê. Sy weet dat as sy eendag net die helfte so goed soos hy kan wees, sy ‘n goeie swemmer sal wees. (282 woorde)

VRAAG 1

1.1 Op watter TWEE maniere het Ryk Neethling en sy suster rekords geslaan? (2)

1.1 Is die volgende stelling WAAR of ONWAAR? Gee ‘n rede vir jou antwoord.

1.2.1 Ryk Neething het tydens die 4x4-aflos die Olimpiese rekord geslaan. (2)

1.2.2 Ryk praat sy suster moed in. (2)

1.2 Ryk en sy suster swem albei baie goed.
1.3.1 Met watter swemslag het Ryk sukses behaal? (1)

1.3.2 Met watter swemslag het Jean-Marie sukses behaal? (1)

1.4 Wat was heel moontlik die rede vir Jean-Marie se hoesery? (2)

1.5 Wat was Ryk en sy spanmaats se grootste oorwinning: die Statebondspele of die Olimpiese Spele?
Haal ‘n gedeelte van ‘n sin aan om jou antwoord te bewys. (2)

1.6 Dink jy dat Jean-Marie baie van haarself dink?
Sê JA of NEE en gee ‘n rede vir jou antwoord. (2)

1.7 Wat is veral vir Jean-Marie wonderlik oor haar swemprestasie? (2)

1.8 Die titel van die teks sê dat Ryk en Jean-Marie saam swem.
Verduidelik wat daarmee bedoel word. Beteken dit byvoorbeeld dat hulle aan dieselfde items deelneem?
(2)

1.9 Waarom kan ons sê dat Jean-Marie tydens ‘n swemgala nie na die horlosie kyk om te sien hoe laat dit is nie? (2)

Totaal: 20


LEERUITKOMS 3: SKRYF EN AANBIED


VRAAG 1

1. In hierdie gedig is daar woorde geskep om te pas by die inhoud. Wat probeer die skrywer eintlik sê met woorde soos:
(a) mensvis; (b) wielende; (c) vinnende; (d) webbers; (e) swenner? (5)

2. Waarmee word die swemmer vergelyk net nadat die skoot geknal het? Haal ‘n woord aan wat jou antwoord ondersteun. (2)

3. Waarom is woorde soos "Knal", "Bars", "Lug" en "Eerste" met hoofletters geskryf? (2)

4. Waarom is “o n d e r w a t e r a s e m o p h o u” as een woord geskryf met spasies tussen die letters? (1)

5. Waarom is daar elke keer ses reëls voor die volgende hoofletterwoord? (1)

6. Die woord "teenstand" dui eintlik op twee soorte teenstand. Wat is hulle? (2)

7. Waarom het die woord "stralend" ook twee betekenisse? (2)

8. Watter "pryse" kry die kampioen? (2)

9. Verduidelik wat "vaartbelyn" beteken. (1)

10. Waarom moet hierdie gedig vinnig gelees word? (1)

11. Slaan die woord “wieke” na in die woordeboek. Wat beteken dit? (1)

Totaal: 20

VRAAG 2

Wat het jy alles in hierdie gedig gelees? Skryf ‘n kort paragraaf van 50 woorde daaroor.


LEERUITKOMS 4: TAAL


Voltooi die volgende vrae deur die instruksies in die kolom aan die regterkant te volg.

(1)DIE KAMPIOEN 1. Die kampioen is die (goed) van almal.
die (2) skoot 2. Die _____ skiet ’n skoot.
(3)KNAL 3. Gee die definisie van “knal”.
sy lyf is ’n plat (4) lem 4. Gee die verkleinwoord.
(5) mensvis 5. Kies: ’n mens soos ‘n vis of ’n vis soos ‘n mens
(6) vismens 6. Kies: ’n mens sooos ‘n vis of ’n vis soos ‘n mens.
tot sy (7 (i) en (ii)) bors wil 7.i. Gee die meervoud.
7.ii. Gee die idioom vir: om baie hard te sing.
(8) BARS uit die water (8) Bomme wat bars is ____ bomme.
(9) arms soos wielende wieke (9) Gee die verkleinwoord.
alle (10) teenstand weggeskop met (10) Gee ‘n sinoniem.
vinnende (11) voete (11) Gee die verkleinwoord
(12) hap (12) ’n Haai wat hap, is ‘n ____ haai.
(13) LUG (13) Wat is die verskil tussen LUG en LIG?
in een (14) beweging (14) Nie ‘n groot beweging nie, maar ‘n klein _______?
die (15) terugtog vaartbelyn (15) Verduidelik die agtervoegsel -tog in woorde soos staptog, uittog, veldtog
aangepak met nat, (16) blink spiere (16) Spiere wat blink, is _____ spiere.
(17) EERSTE (17) Gee die antoniem.
Geraak aan die (18) rand met gestrekte webbers (18) Gee die verkleinwoord.
(19) stralend (19) ‘n Stralende bruid, maar ‘n ____ kankergewas.
afgebuig vir olyfkrans en (20) goud: die swenner. (20) Gee die korrekte vorm: Sy is ’n (goud) meisie.




MEMORANDUM: DIE KAMPIOEN

LEERUITKOMS 2: SKRYF EN PRAAT

VRAAG 1

1.1 Hulle is ‘n broer en suster wat saam deelneem en hulle het swemrekords laat spat. (2)

1.2.1 Onwaar. Hulle het ‘n Statebondspelerekord geslaan. (2)
1.2.2 Waar. Hy het haar vertel hoe om te ontspan. (2)

1.3.1 Vryslag (1)
1.3.2 Wisselslag (1)

1.4 Sy was baie senuweeagtig. (2)

1.5 Die Olimpiese Spele. "verbeter dit nie hulle Olimpiese rekord nie" (2)

1.6 Nee. As sy net die helfte so goed soos haar broer is, sal sy tevrede wees. (2)

1.7 Sy het haar eie beste tyd twee keer op een dag verbeter. (2)

1.8 Nee. Hulle neem aan dieselfde swemgala deel. (2)

1.9 Sy wil net sien hoe vinnig sy geswem het. (2)
Totaal: 20


LEERUITKOMS 3: SKRYF EN AANBIED

1.
(a) Die swemmer swem so goed soos ‘n vis.

(b) Die arms beweeg so vinnig deur die water dat hulle soos wiele lyk.

(c) Die vinne van die vis en die woord vinnig word in hierdie woord betrek om die idee van spoed en visagtige bewegings na te maak.

(d) Gewebde pote/diere word hier betrek. Die webbe veroorsaak dat daar beter geswem kan word.

(e) Hierdie woord veronderstel ‘n swemmer wat ook ‘n wenner is. (5)

2. Hy is soos ‘n mes. Insny. (2)

3. Die woorde word sodoende beklemtoon. Boonop is die knal van die skoot baie hard. Die swemmer moet opkom om asem te haal en bars dan uit die water nadat hy so lank moontlik onder water gebly het. Die krag waarmee hy dit doen, word deur die hoofletters gesuggereer. Die belangrikheid van lug vir die swemmer word met LUG gesuggereer en die feit dat hy eerste kom, word triomfantelik met EERSTE aangekondig. (2)

4. Die woorde wat so geskryf word, weerspieël die tydperk onder die water. Hy probeer so lank moontlik onder die water bly omdat dit bewys is dat hy dan vinniger beweeg. (1)

5. Dit stel voor dat hy sy arms ses keer gebruik voordat hy weer asem moet haal. 1-2-3-4-5-6: asem 1-2-3-4-5-6: asem (1)

6. Teenstand kan dui op die wrywing wat die water teen die mens se liggaam het en jou verhinder om vinnig te swem. Dit dui ook op teenstanders of opponente (2)

7. "Stralend" word ook gebruik in die uitdrukking “stralend gelukkig” en die water loop in strale/strome van jou af. Ons praat van ‘n straal water. (2)

8. Hy kry ‘n olyfkrans om sy kop en op die podium word die goue medalje om sy nek gehang. (2)

9. Vaart = spoed; belyn het te doen met die vorm van iets wat die vermoë om vinnig te wees aanhelp. Vaartbelyn = om spoed te verseker (1)

10. Dit moet pas hou met die vinnige pas van die swemmers. Hulle swem vinnig deur die water. (1)

11. Wieke is windmeullemme. Hulle beweeg om en om soos wiele wat rol. Die spreker gebruik die woorde “wielende wieke” om die ontwil van alliterasie, maar ook om die draaiende beweging van die arms aan te dui. (1)

LEERUITKOMS 4: TAAL

1. beste
2. skut
3. harde geluid soos ‘n ontploffing
4. lemmetjie
5. mens soos ‘n vis
6. vis soos ‘n mens
7.i. borste
7.ii. sing uit volle bors
8. barstende
9. armpies
10. opposisie
11. voetjies
12. happende
13. Lug = wat jy nodig het om te oorleef; lig = blink lig, sonlig, nie donker nie, maar lig.
14. beweginkie
15. die agtervoegsel beteken ‘n reis. Terug+tog beteken dus die reis terug na waarvandaan jy kom.
16. blinkende
17. Laaste
18. randjie
19. bestraalde
20. goue