Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Theunis Engelbrecht: Sound Bites

Rock around the c(l)ock


Theunis Engelbrecht - 2007-09-27

Raai wie het vanjaar die lekkerste winter van almal gehad? Die rockliefhebbers. Daar het die afgelope drie tot vier maande soveel nuwe rock-CD’s verskyn dat ‘n mens aanvanklik gevrees het jy sal breinskade opdoen as jy na die hele stapel moet luister, maar dit was helaas nie so erg nie.

Die grootste klomp van die nuwe uitreikings het mens ‘n sug van verligting laat slaak, want dit het al begin voel of rockmusiek die einde van sy pad begin bereik het. Daar is baie vars asem en nuwe energie.

Dit is ook ‘n geval van Rock Around the Cock, want 95,4 persent van die nuwe rock word deur mans gespeel.

Maar gou eers van die ossewa op die ontkleedanseres se jas: as julle die heel eerste Sound Bites op www.oulitnet.co.za gaan lees, sal julle sien daar staan swart op wit geskryf Sound Bites gaan net fokus op oorsese uitreikings en gaan glad nie oor Suid-Afrikaanse of Afrikaanse albums skryf nie. Ondanks al die genot wat bogenoemde lys rock-CD’s ons hier by Sound Bites gebied het, het ons wel dié kere wanneer ons 100 persent nugter daarna geluister het, begin moedeloos raak oor die huidige globale toestand van rock. Ons het selfs begin dink ROCK IS DOOD. Kan jy jou iets erger indink? Dit sou selfs Lady Di se treurige heengaan na ‘n molshopie laat lyk het. Hoekom? So baie van die goed begin dieselfde klink. Die meeste Amerikaanse en Britse groepe klink al na blote klone van mekaar. Daar is vreeslik baie generiese wanmutasies.

Gelukkig kan rock se grafskrif heel duidelik nog nie geskryf word as jy luister na die nuwe uitreikings nie. Toe ek vroeër na Springbok Nude Girls se Peacebreaker geluister het, het ek gedink sjoe, dié album klink beter as 85 persent van die internasionale rockalbums wat ons oortjies en gemoedere deesdae besoedel. Sound Bites het toe sy hekke, voordeur en agterdeur oopgegooi en ook weer begin luister na wat in Suid-Afrika aangaan.

En glo dit of nie, maar ons hier by Sound Bites se persoonlike grootste gunsteling van AL die afgelope winter se rockuitreikings (plaaslik én globaal) is ‘n Afrikaanse CD!

Ek het amper op my rug geval, want as ‘n mens kyk na die Afrikaanse musiek op MK89, en veral die rockgoed, wil jy die meeste van die tyd jou ore toedruk en gillend weghardloop en jouself in ‘n spruitjie verdrink. As ‘n Afrikaanse groep dan kom en almal se gatte behoorlik nerf-af skop en kop en skouers bo die ander uittroon, dan raak ‘n mens opgewonde. Bars dus uit in ‘n spontane staande toejuiging vir …


DIE TOP-CD VAN DIE SEISOEN
Foto Na Dans

Nadat ons dié CD die eerste keer in een sitting deurgeluister het, was ons verstom. En selfs uitasem, so is ons meegesleur. Deur die bank is daar gevoel dat dit die beste Afrikaanse rockalbum is wat ons nog ooit gehoor het. Ons weet dit is ‘n geweldige ding om te sê, en dat dit eintlik ‘n onding is om absolute uitsprake te maak en vergelykings te tref.

Met die tweede luisterslag is al die positiewe indrukke versterk. Waarin lê Foto Na Dans se allesoorweldigende trefkrag (om ‘n frase van ‘n vriendin te gebruik)?

Eerstens in die baie sterk komposisies. Anders as die meeste jong Afrikaanse rockgroepe maak Foto Na Dans uiters intelligente musiek. Die melodieë is sterk en vernuftig gestruktureer. Die musikante is ver meer as bo gemiddeld bekwaam. Die verwerkings is ook indrukwekkend en dra daartoe by dat Foto Na Dans glad nie so eendimensioneel klink soos 99 persent van ander Afrikaanse rockgroepe nie.

Die slim klawerbordverwerkings dra verder by tot die skep van ‘n geraffineerde klank vol verskillende teksture. Die trompet word ook deurgaans verstandig ingespan om net op die regte plekke in te skop en die emosionele impak van ‘n liedjie tot ‘n verruklike klimaks te voer. Daar is deurgaans oomblikke van sulke pure intensiteit dat ‘n mens onwillekeurig hoendervleis kry. Le Roi Nel se sang laat mens ook nie koud nie – daar is iets in wat huiwer op die grens tussen weerloosheid en hardegatgeid wat ‘n mens boei. Om als nog net lekkerder in te vryf is die sterk vokale harmonieë van die sang en agtergrondsang op die album op sigself ‘n bykomende pluspunt. (En, dankie tog, hulle sing nie “dôr” en “môr” wanneer hulle “daar” en “maar” moet sing nie.)

Op suiwer musikale vlak kan ‘n mens dit amper ‘n konsepalbum noem, aangesien sekere frases, motiewe en variasies op melodieë mekaar op ‘n fassinerende wyse eggo. Vergelyk byvoorbeeld hoe die akoestiese weergawe van “Soldaatvolk” oorloop in “Vergeet van my”.

Ons hier by Sound Bites voel nie ons oordryf as ons sê daar is heelwat liedjies wat epies is op hierdie album nie – “Hou jou hande bymekaar”, “Vergeet van my”, “Verkleur en vermom”, “Met ‘n laaste asem” en die briljante “Oggendstilte”. Die akoestiese weergawe van “Soldaatvolk” is ook roerend mooi en aangrypend.

Wat ‘n wonderlike verrassing is hierdie CD nie. Foto Na Dans verskuif die bakens van Afrikaanse rock op ‘n indrukwekkende en baie opwindende manier.

DIE BESTE VAN DIE ROCK-RESTE
Korn

Voordat ek hierna geluister het, het ek Korn toevallig op TV sien optree by ‘n rockfees in Duitsland. Dit het vir my maar besonder kak geklink. Asof hulle te veel suip en paartie en nie genoeg oefen nie. Ek het die CD dus toe nie met te veel hoop in my rein hart aangesit nie. En jou wragtag, daar is ek toe aangenaam verras.

Die CD is werklik, werklik goed en is een van die heel beste rock-CD’s van die seisoen. (Ek weet daar is puriste wat my gaan kruisig omdat Foto Na Dans meer opgehemel word as Korn, maar mens moet alles binne konteks en perspektief sien, onthou.)

Die eerste treffer is “Evolution”, waarvan ons die video gereeld op TV sien. Snitte soos “Hold On”, “Kiss”, “Do What They Say”, “Love and Luxury”, “Killing”, “Hushabye” en “I Will Protect You” het selfs groter impak.

Uiters indrukwekkend, broers en susters, vriende en vyande. Korn is ongetwyfeld in die geselskap van die reuse van rock.


Die vrou wat hierdie winter die warmste musiek gemaak het, se naam is Beth Ditto en sy sing vir die groep Gossip. Dié groep kom van Arkansas en is in 1999 gestig. Die ander lede is kitaarspeler Brace Pain en tromslaner Hannah Blilie.

Ditto lyk allesbehalwe soos wat ‘n mens jou ‘n rockster sal voorstel: Randall Abrahams sou neusoptrekkend op Idols gesê het sy is vet en lelik en weet nie hoe om sexy aan te trek nie. Sy skeer ook nie haar onderarmhare nie.

Haar sang is al beskryf as dié van ‘n “soul diva”. Met haar onaangeplakte werkersklasvoorkoms en al het sy ‘n onwaarskynlike ster geword en is verlede jaar deur New Musical Express in Brittanje aangewys as “Nr. 1 Coolest Person in Rock”. Sy is boonop baie intelligent en uitgesproke en is nie bang om te praat oor kwessies soos haar gewig, seksualiteit en haar feministiese sienings nie. Sy is ook nie skaam daaroor dat sy lesbies is nie. Sy is ‘n uitstekende rolmodel, veel eerder as Paris of Nicole of Madonna of Shitney, ag ekskuus ek bedoel Britney, en al daai ander voëltjiesaadbreine.

Daar is net te veel klone en generiese wanmutasies in die rock-genre wat ‘n mens soms laat vrees dié geliefde musiekstyl gaan lepel in die dak steek. Daarom is dit driedubbelduisendmaal so lekker as ‘n groep soos Gossip kom en jou vrese besweer.

Gossip sing oor kwessies waarmee almal kan identifiseer: vinnig veranderende werklikhede, identiteitsverglyding en gekompliseerde menslike verhoudings. Die klank is op die man af en intens. G’n versiersels of optooisels nie. Klankgewyse is dit ‘n geen-nonsens-aanslag met die punk-newetone wat baie prominent is. In your face, baby. Die titelsnit skop soos ‘n sterk muil, en “Eyes Open” soos ‘n donkie op hitte. Kwaai stuff. Ek dink ek hou selfs meer van Gossip as van White Stripes, maar dis irrelevant. Jy kan hoor Ditto het al hard geleef en swaargekry en dat musiek ‘n passie is vir haar en nie net ‘n manier is om aandag te trek, geld te maak en beroemd te word nie.

Garbage

Garbage kom al ‘n lang pad (13 jaar) en uiteindelik is daar nou ‘n album uit met al hul grootste en beste treffers bymekaar. Dis boonop ‘n stewige CD met niks minder nie as 18 snitte. Van voor tot agter is dit pure lekkerkry, want die liedjies is baie goed en Shirley Manson se sang wonderbaarlik hemels (verskoon as ek soos ‘n TV-evangelis klink). Al die treffers is daar: van “Queer”, “Stupid Girl”, “Only Happy When It Rains”, “Milk”, “Push It” en “I Think I’m Paranoid” tot “When I Grow Up”, “The World Is Not Enough” en “Bleed Like Me”.

Dis tog te aangenaam om na ‘n CD te luister en jy weet jy sal nooit moeg raak vir die musiek daarop nie. Ek sal Absolute Garbage vir ewig koester. Die CD-boekie is ook pragtig, met ‘n klomp foto’s en ‘n uiters insiggewende artikel deur ene Peter S Murphy. Sy opsomming van Garbage is in die kol:

The first time I set eyes on Garbage, I got a strange feeling in the pit of my stomach. For a start, they didn’t look like other bands. There was nothing fresh-faced or innocent about them. They weren’t playing the Alex & The Droogs/Ziggy/Iggy/Martian juvenile delinquent card, but they didn’t look much like a bunch of old pro’s flogging some retro hi-res version of rock ‘n roll either. In fact, they didn’t look like a band at all. They looked more like members of some CIA-funded black ops unit engaged in MK Ultra mind control experiments. They were kind of, I dunno, sinister. Like they knew stuff. The initial impression was that if you were abducted by this mob, like the poor stooge in Old Boy, they’d leave your body without a scratch, but your mind would be reduced to mulch.


Modest Mouse

Die legendariese kitaarspeler Johnny Marr (The Smiths, The The) is nou ‘n lid van Modest Mouse, en dit is op sigself al genoeg om jou te laat weet jy kan ‘n buitengewone en bogemiddelde luisterervaring verwag op dié CD. Selfs al sou die liedjies simpel wees (hulle is nie), sou mens net na Johnny se meesterlik verweefde kitaarklanke kon luister.

We Were Dead is Modest Mouse se vyfde album en volg op 2004 se Good News for People Who Love Bad News. Die nuwe album begin met ‘n snit wat jou dadelik in die maag tref soos die knopvoete van ‘n skopbokser (Uma Thurman in Kill Bill?). Op plekke klink Modest Mouse soos Talking Heads op ‘n oordosis tik (vergelyk byvoorbeeld “Florida”), maar dis onregverdig om vergelykings te tref. Hier en daar is dieselfde gevoel van neurotiese angs in die musiek as by die heel vroeë Talking Heads, maar hier net in allerlieflike in your face overdrive. Hier is g’n voorspelbare resepte wat gevolg word of groter sterre wat opportunisties gekloon word nie; o nee, mev De Viljee. Jy hoor selfs trekklaviere en viole.

Modest Mouse maak fokken lekker demoniese musiek wat die paganistiese roersele in jou diepste binneste aan die bewe sit. (Kyk maar net tot watter soort taalgebruik dryf hierdie ekstastiese musiek my!) As jy lus is om weer soos ‘n lekker mal, wilde ding sorgeloos in die volmaan te dans, oorgegee aan suiwer ekstase sonder inhibisies en versmorende dwangbaadjies, kry ‘n bottel whiskey, doof die ligte en sit hierdie CD kliphard op. Dis asof jy deur ‘n mal sjaman in jou eie voorhuis vermaak word. Te heerlik vir woorde. Dus, hou die woorde oor Modest Mouse hier op. Of dan nog net tweetjies: FOKKEN LEKKER!


The View
Hats off to the Buskers

Dié Skotse groep is baie duidelik erg onpretensieus. Dit tel al klaar in hul guns. Met die eerste luisterslag het ek (soos altyd) my brein afgeskakel en my net oorgegee aan die musiek. Dit was baie lekker en genotvol. Daar is oulike, huppelende ritmes en kitare en al sulke goed, en die liedjie “Same Jeans” besit selfs ‘n tydelike sjarme, en die ska-invloed hier en daar (soos op “The Don”) dra by tot ‘n gevoel van wellewende vrolikheid. Die sosiale kommentaar is ook lekker tong-in-die-kies, soos op “Wasted Little DJ’s”).

Met die tweede luisterslag het ek my brein aangeswitch. En dit het dadelik die luisterervaring bederf. Skielik het dit vir my geklink of daar niks is wat The View klankgewys ‘n eie identiteit gee nie, ondanks die aweregse literêre inhoud. Dit klink of hulle baie beïnvloed is deur The Beatles, Oasis en The Charlatans. ‘n Voordeel van ‘n album soos dié is dat dit ‘n mens juis weer groepe soos The Charlatans laat herontdek. Helaas is dit ook die grootste waarde van Hats of to the Buskers. Dit was donners lekker om weer na The Charlatans te luister. Dankie, ouens.

The Used

As jy van jou rock ekstra-swaar hou, sal The Used jou sintuie verruk. Die produksie en verwerkings is puik, soos op die epiese “The Bird and the Worm”. ‘n Liedjie soos “Paralyzed” is ook uitermate kwaai. Die angs, vertwyfeling en ontgogeling is op plekke wel ‘n bietjie te dik aangesmeer as wat goed is vir enige mense se gesonde spysvertering, maar in die rock-genre is dit ‘n uitstaande album. (Ek weet net nie of ‘n mens dieselfde kan sê van die postmodern-globale genre nie …)


Bloc Party

Bloc Part maak ook musiek wat varser is as jou standaard Top 40-fodder-rock. Die liedjie “Hunting for witches” is met een woord fantasties.

A Weekend in the City is Bloc Party se tweede album. Die groep maak volwasse rock wat nie ‘n geykte patroon volg nie. Hulle klink na baie introspektiewe en ernstige kêrels, maar dis juis deel van hul eiesoortige hipnotisme. Daar is mense wat na Bloc Part as Radiohead Lite verwys, maar ek weet nie so mooi nie. Bloc Party self sê hulle is beïnvloed deur The Cure, Gang of Four, The Smashing Pumpkins, Sonic Youth, Pixies, Joy Division en XTC.

Op Wikipedia kom ‘n mens ook af op die volgende interessante paragrafie oor die groep:

The drumming on Bloc Party songs is often influenced by the London dance and R&B scene whilst the guitar demonstrates typical indie sharpness with alternative panned chords and fast chord picking. To achieve their unique guitar style, BOSS echo effects equipment is implemented and is particularly apparent on the track “Lilke Eating Glass”.

So, gooi al die bestanddele wat in die vorige twee paragrawe genoem is in ‘n pot, roer dit deurmekaar en siedaar, daar is Bloc Party vir jou. Allamapstieks.

Arctic Monkeys
Favourite Worst Nightmare

Die album is 37 minute en 39 sekondes lank. As jy dus R150+ daarop wil blaas, moet jy seker maak jy kry waarde vir jou geld.

Die Britte gaan hewig te kere oor Arctic Monkeys. Ek wonder hoekom dink almal altyd iets is spesiaal as die Britte daaroor te kere gaan. Q Magazine kan argumentsonthalwe vyf sterre aan Favourite Worst Nightmare toeken en daar sal jou wragtagwaar mense wees wat dink dit beteken Arctic Monkeys is dié nuwe groep wat rockmusiek uitlig bo die grys, gemiddelde pulp wat so baie van dié (spesiaal gefabriseerde) musiek deesdae geword het.

Toe ek die eerste keer na Favourite Worst Nightmare geluister het, was ek nugter, pragmaties en by my volle verstand. (U ideale deursnee-burger.) Toe het ek gedink Arctic Monkeys word hewig oorskat en dat al die aandag wat hulle kry, maar net die resultaat is van hype en mediamanipulasie deur die korporatiewe Mammoniete wat die musiekbedryf beheer. Ek het dus nie daarvan gehou nie en dit het vir my maar net gevoel soos nog generiese variasies op ‘n afgesaagde tema.

Die tweede keer het ek ‘n dubbelwhiskey, ‘n Grand-Pa en ‘n heerlike sigaret agter die blad gehad en boonop op oorfone daaroor geluister. En toe was die CD vir my skielik baie kwaai en cool en al daai woordjies wat van verwondering, verrukking en bewondering spreek. Dis lekker spunkerig-punkerig. Lekker energie, catchy rifs en ‘n algemeen sexy attitude. Ek kan nie al die woorde so mooi hoor nie en die lirieke is nie in die CD-boekie afgedruk nie, so vir al wat ek weet, kan dié kêrels oor die grootste kak op aarde sing. Maar net op grond van die energieke musiek alleen is ek bereid om dit vir soetkoek op te vreet.

Daar is ten minste ADRENALIEN in Arctic Monkeys se musiek, en van hoe baie ander kunstenaars kan ‘n mens dit sê, huh? So moenie met my sukkel nie, dude, ek scheme Arctic Monkeys is ultra kewl, my bru, orrait, jy check? Wat my betref is hierdie 37 minute en 39 sekondes R150+ werd, maar luister eers self voor jy koop, want ek wil nie hê jy moet my kom bliksem as jy nie saamstem en voel jy het jou geld gemors nie, oukei? Dankie.

The Click Five

Ek weet absoluut niks van hierdie groep af nie. Oukei, ek sou hulle kon Google of kyk wat sê Wikipedia. Soms is dit egter beter om nie te veel te weet nie.

Op die omslagfoto’s lyk hulle vreeslik gestileerd – ‘n mens kan sien hulle het ‘n modekonsultant. Dit het al klaar gemaak dat ek liefs nie veel van hulle wil weet nie. As jy wil, kan jy hulle self Google – ek kan darem wragtag ook nie ALLES vir julle doen nie.

Die eerste liedjie klink oulik en is baie catchy en alles, maar ‘n mens vermoed dis maar net nog ‘n vooraf-gefabriseerde sameflansing van allerlei generiese rock- en pop-mutasies van liggewigstatus sonder om ondanks dit alles ‘n sterk genoeg eie identiteit te ontwikkel. Gelukkig voel The Click Five vere vir kommentaar soos hierdie, want hulle weet daar is miljoene bakvissies en donsdosies van beide geslagte met ontwakende hormone wat hul CD sal koop. Dit is skynbaar ook maar al waaroor dit gaan vir hierdie valerige seuns (al het hulle mooi gesiggies).


The Cinematics

My gort is al gaar, Gert, en steeds is daar geen einde aan die winter se nuwe rock-CD’s nie. Die probleem daarvan dat die mark so oorlaai en oorgeabsorbeer is, is dat party CD’s nie dadelik ‘n indruk maak tussen ander wat besonder briljant is nie. Met die eerste luister na The Cinematics het ek ook gedink, ag nee, jirretjie tog, dis maar net weer nog ‘n generiese voortgekarring.

Die tweede keer het ons almal hier by Sound Bites saamgestem hierdie CD is een van daai wat op jou moet groei, hy oorrompel jou nie dadelik nie. En hoe meer jy luister, hoe beter en aangenamer raak dit, al het jy die eerste keer gedink dis als ‘n pot onheilsame en onaanvaarbare kak.

Die eerste liedjie, “Race to the City”, mag jou nie dadelik intrek nie. Maar dan kom die tweede een, “Break”, en haak jou brein soos doringdraad, so catchy is dit. Die titelsnit is derde – en dit is so ‘n sterk liedjie dat alle weerstand nou verkrummel, al dink jy The Cinematics klink op plekke na ‘n mengsel van Simple Minds en U2.

The Cinematics maak volwasse en intelligente rock wat weens die demografiese samstelling van die wêreld ongelukkig nie dieselfde soort onmiddellike en meer sensasionele impak het as dié van ‘n klomp vuil tienerseuns vol lewensangs en woede en minder talent nie. Maar so is die lewe nou maar eenmaal.

Sick Puppies

Sick Puppies bestaan uit aggressiewe jong mannetjies wat sing en skree oor meisies wat hulle nie verstaan nie. Die selfbejammering loop dik. ‘n Mens vermoed tienerseuns wat ‘n slegte verhouding met hul pa’s het, vorm ‘n groot deel van Ick Puppies se bewonderaarsklub. Die liedjie “Asshole Father” is dan ook inderdaad heel aangrypend. Liedjies soos “Cancer” en “Issues” staan ook uit. Die kitare is baie woes en baie warm en dis als ‘n adrenalien-rush. Vir u vriendelike luisterpersoneel hier by Sound Bites was dit egter genoeg om net een keer daarna te luister en aan te beweeg na meer avontuurlike CD’s, soos …


Interpol

Baie goed, baie luisterbaar. Dit begin eers spoed optel op “The Scale” en “The Heinrich Maneuver”. “Wrecking Ball” is fantasties en “All Fired Up” en “Rest My Chemistry” staan ook uit. Dis glad nie oppervlakkige musiek wat jou met die eerste luisterslag beetkry nie. Ek twyfel egter of ek hierdie CD oor tien jaar nog sal onthou. ‘n Mens kan Interpol beslis nie as gemors afmaak nie. Dit is ‘n sterk album dié. Ongelukkig is daar tans te veel ander rockalbums wat meer trefkrag het en dus meebring dat die impak van uitreikings soos dié verskraal word. Dis jammer. Ai.


Velvet Revolver

As jy lus is vir lekker rou, vuilgatrock is Velvet Revolver die Ware Jakob. Ek vat jou ‘n wed hulle sal die Rolling Stones onder die tafel kan inspeel. Rof, onbeskof en vir sommige mense dalk selfs dof, maar wat my betref van die suiwerste argetipiese rock wat jy kan kry. Dis niks groots en grensverskuiwend en epogmakend nie, maar dit skop soos tien duisend tequilas en het meer passie as twintig jagse sheilas. Velvet Revolver is hardebaarde – hier kry jy niks van ‘n melkbaard-geskommel nie. Dié CD kry Thumbs Up van u onbaatsugtige luisterspannetjie hier by Sound Bites. Dit byt, dit grom, dis skerp, dis primitief, dis met een woord fabelkragtig.


Within Temptation

As jy van Evanesence hou, sal jy ongetwyfeld van Within Temptation hou. Dis in dieselfde liga. Groots-georkestreerde klanke, harde kitare, semi-Gotiese neigings, baie teatraal en baie dramaties – maar ongelukkig word onses insiens die fyn lyn na melodramaties oorgesteek. Dis ‘n verwarrende CD – want daar is tog snitte wat heel indrukwekkend is, soos “Our Solemn Hour”. Daarteenoor begin ‘n snit soos “Hand of Sorrow” baie belowend, maar val dawerend plat wanneer die sangeres met die eerste versie wegtrek. Soms klink sy soos Sarah Brightman ná ‘n nag in die arms van Metallica, en ons kan julle waarborg dis ‘n vreemde klank daai. Within Tempation huiwer egter so sterk op die grens van pretensie dat ‘n mens die CD maar liefs bêre sonder om werklik te weet of jy dink dis ‘n meesterstuk of ‘n fokop. Niemand het gesê dit sal maklik wees om ‘n rockliefhebber te wees nie.


Fountains of Wayne
Traffic and Weather

Ná die oordaad van Within Temptation is Fountains of Wayne se bykans tradisionele rock baie verfrissend. Die eerste snit, “Someone to Love”, is onweerstaanbaar en gee die toon aan vir wat volg: straightforward rockliedjies sonder enige aansitterigheid. Dis musiek wat jou laat goed voel, en het as sodanig bestaansreg, want ‘n mens vind die afwesigheid van ‘n gewroeg en ‘n geswoeg en ‘n gespoeg en pyne oor die wêreldse swyne bykans onwerklik. Die titelsnit is uitstaande met lirieke wat ironiese kommentaar bied op hoe die werklikheid deur die nuusmedia gereflekteer word.

Die groep het ‘n oog vir die absurde wat menslike gedrag betref, wat ook neerslag vind in die stories wat hulle vertel. Snitte soos “This Better Be Good” verraai ‘n Elvis Costello-invloed, wat wys die groep het goeie smaak.


Air Traffic

Bliksem, maar rockliefhebbers het ‘n heerlike winter gehad. Daar is net die een lekker CD na die ander. Air Traffic is ook een van dié groepe wat heel verfrissend klink en weergaloos kook. Demmit, man, daar is net sóveel byvoeglike naamwoorde in Afrikaans om plate soos hierdie mee te beskryf. En mens wil nie begin klink soos ‘n plaat wat vashaak nie.

Air Traffic val nie in die swaar kategorie nie. Ook nie in die ligte een nie – maar as ‘n mens hulle middelgewig noem, laat dit hulle gemiddeld klink, en hulle is dit juis nie. Soos Fountains of Wayne is dit ook Air Traffic se totale pretensieloosheid wat ‘n baie goeie indruk maak. Daar is ook net een klein foto’tjie van die groep weggesteek in die CD-boekie – en ‘n mens is verras om te sien hoe bloedjonk die knapies lyk, want as jy dit eers hoor sonder dat jy weet hoe hulle lyk, dink jy dis darem ‘n klomp volwasse, deurwinterde kêrels hierdie. En dan kan jy nie glo dat dit die werk van sulke jonges is nie. Wat dit dus des te meer indrukwekkend maak. ‘n Aangename ontdekking. Mens hoef ook nie eers liedjies uit te sonder nie, want elke liewe een is sterk.


Good Charlotte
Good Morning Revival

Dis ‘n goeie idee om na Good Charlotte te luister wanneer jy na Bloc Party en Interpol luister. Good Charlotte val ook in die kategorie van kunstenaars wat volwasse, intelligente rock maak wat nie eendimensioneel is nie en meer diepte het as jou standaard Top 40-worsmasjienfodder. As julle hier bo sien na hoe baie rock-CD’s ek hierdie winter geluister het, sal julle verstaan dat ek in hierdie stadium nie die fisieke en geestelike krag het om ‘n verhandeling oor hierdie CD te skryf nie. Vat maar net my woord vir wat ek tot dusver daaroor gesê het. Dis nie een van daai CD’s wat full-out in your face is nie; dis meer subtiel en geskakeer. (Dis sulke mooi woorde – “subtiel” en “geskakeer”.) Neem kennis van Good Charlotte. Dit kan jou nie kwaad doen nie, al is die kanse goed dat jy oor 20 jaar heeltemal sal vergeet het wie hulle is. Hulle is egter meer as net ‘n blote poep in ‘n donderstorm, glo my.


Ash

Nog een van daai CD’s wat mens moedeloos maak. Jy kan hoor die outjies geniet hul gate uit en speel lekker, en jy kan met die beste wil ter wêreld sê dis nie ‘n klomp kak nie. Maar gemeet teen al die ander onlangse rock-uitreikings maak hulle nie so ‘n sterk indruk nie, al het ‘n mens wel waardering vir hulle lekker cocky houding en ontembare energie. Hulle is soos ‘n klomp stout seuntjies wat net ‘n lekker tyd wil hê. Hulle het talent en speel daai instrumente van hulle dat nie net die biesies nie, maar ook die onderrokke van volksmoeders bewe. Ongelukkig is die liedjies nie so sterk nie, en dis wat Ash in die slaggat laat trap.


Thirty Seconds to Mars
A Beautiful Life

Nog ‘n aangename verrassing! Thirty Seconds to Mars bestaan al nege jaar en is gestig deur die akteur Jared Leto en sy broer, Shannon, as ‘n “klein familieprojek”. Tot sy eer het Leto tot dusver geweier om sy roem as akteur te gebruik om die groep bekend te stel – hy het selfs geweier om op te tree by plekke waar promotors dit aan die groot klok wou hang.

Leto het ook al die liedjies geskryf (behalwe die groep se weergawe van Björk se “Hunter”). Persoonlik sal ek baie eerder hierna luister as na byvoorbeeld Linkin Park. Thirty Seconds se aanslag is kreatief en oorspronklik en hulle maak intense rock wat ook op plekke epiese proporsies aanneem. Beslis iets anders as jou gewone ou worsmasjien-rock. Stel gerus ondersoek in. Jy sal nie jou tyd mors nie.


Manic Street Preachers

Dié kêrels is ook baie lekker en cocky. Hulle klink nie so lewensmoeg soos sommige ander rockgroepe nie. Die uitstaande snitte is die titelsnit, “Underdogs”, “Imperial Bodybags”, “Winterlovers” en “I’m Just a Patsy”. Ek is egter bevrees die pret wat die CD bied, raak gou uitgeput en na so drie luisterslae is mens al klaar moeg daarvoor. Dis nie soos die albums van Bloc Party, Interpol, Thirty Seconds to Mars en Good Charlotte, waar ‘n mens elke keer ‘n bietjie meer ontdek nie. Meer vervlietend, dus, maar nie te onaardig nie. As iets egter nie ‘n blywende indruk laat nie, is dit nie die moeite werd om te veel geld daarop te mors nie.


Billy Talent
Billy Talent II

Die eerste indruk is dat hierdie nog een van daai run-of-the-mill-rock-albums is – jy kan nie sê dis sleg nie, want dit is nie. Maar dit laat jou ook nie regop sit nie en maak jou ook nie lus om op die dakke te dans nie. Snaaks genoeg: hoe verder jy luister, hoe meer geniet jy dit. Daar is sterk rifs en genoeg woede. Die sterkste snitte is “Killer Bees”, “Fallen Leaves”, “The Navy Song” en “Burn the Evidence”. Die gehalte is egter ongelyk, en dis waarskynlik een van daai albums waarvan ‘n mens eerder net sekere liedjies sal wil aflaai op die internet as om die hele CD te koop. Tough cookie, kêrels.


Skillet
Comatose

Die meeste liedjies begin belowend, met grootse, simfoniese klanke, en dis baie dramaties. En dan ontaard dit helaas maar weer in gewone swaar rock. Die ouens kan gerus bietjie by Korn gaan kyk hoe om dit te doen. Maar selfs dan weet ek nie of hulle dit sal regkry nie. As mens nie jou eie ding kan doen nie, is dit neusie verby en help dit nie om by iemand anders te gaan afkyk nie, want so word klone gevorm. Skillet maak nie ‘n enkele duikie in die firmament met hierdie album nie.


Sunrise Ave

Sunrise Ave is ‘n poprockgroep van Swede. Hulle is nog melkbaarde, maar die musiek is nie sleg nie. Dis baie kommersieel en markgeoriënteerd en het nie juis substansie nie. ‘n Mens kan hulle beswaarlik ernstige kunstenaars noem. Hulle is egter nie onverdienstelik nie, al dryf hul musiek jou nie juis tot ekstase nie. Dis musiek vir mense wat die veiliger, minder uitdagende roete wil volg. Knus middelklas.


Daughtry

Chris Daughtry het goed gedoen in een van die Idols-reekse in Amerika. Daarna het hy ‘n groep gestig met sy van as naam. Die musiek laat mens aan Nickelback dink. Dis tipiese verbeeldinglose Amerikaanse rock, al is die musikante heel vaardig en het Daughtry nie te ‘n goor stem nie. Dis baie kommersieel – en uiteindelik maar net spookasem. Gaap.

Dis nog nie die einde van al die vuurwarm rock nie, glo my, maar ons hier by Sound Bites kan nie meer nie – ons breintjies voel al soos die rugbyballe waarmee daar in die Wêreldbeker-toernooi gespeel word. Die nuwe CD van Hard-Fi, Once Upon a Time in the West, het ook hier aangeland en is net een stuk groot vet plesier van voor tot agter. Ook The Smashing Pumpkins se Zeitgeist het hier aangeland, maar daaroor heers daar nog aansienlike verdeeldheid onder ons hier by Sound Bites.

  • Luisterpaneel: Theunis Engelbrecht (sameroeper), Beyers Eybers, Alice Ellis, Yvette de Wet, Jana-Mariana Human en Tom Blom.
  •