Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Artikels | Features

Dagboek van ’n drama: Wolke (Translated) - Deel 4


Marcel van Heerden - 2007-09-26

Wolke (Translated)
Regie: Henriëtta Gryffenberg
Met Marcel van Heerden en Jessica Haines.
25–29 September 2007
Aardklop, Potchefstroom

DEEL 4: WOLKE-OOMBLIKKE

Deur die akteur: Marcel van Heerden

Waar en op wie ons moet fokus, is een van die eerste raaisels en uitdagings vir die akteurs; soms praat ons met onsself, soms met die gehoor, soms met mekaar of met karakters wat nie op die verhoog is nie. Die storie is nie liniêr nie en die play is gedekonstrueer. Dit spring van hede na verlede na toekoms en terug. Onverwags. Soms in die middel van 'n sin. En natuurlik is dit deel van die storie dat Jak (my karakter) aanhou met sy dogter praat asof sy steeds sewe is.

Wanneer ons met die gehoor praat, is dit met hulle as 'n groep getuies of moet ons hulle as individue probeer betrek? Waar kyk jy? In hulle oë of deur hulle? Lyk my in hierdie stuk is enigiets moontlik. En dit word elke oomblik nog moontliker.

Natuurlik is dit ons primêre plig om die storie te dien. Hier beteken dit dat ons soms die karakters moet wéés en hulle soms moet verteenwoordig. Ek dink aan Bertold Brecht en sy “epiese teater”, teater waarin akteurs die karakters moet illustreer eerder as speel. Maar sy stories was grootliks allegories en boonop met 'n politieke inslag. Hier is dit intens persoonlik en, so lyk dit my, amoreel. Ek het nog altyd gedink dat Brecht 'n perverse spel met die akteurs speel net om hulle op hulle tone te hou. Maar tog raak dit aan die kern van toneelspeel – 'n skewe, objektiewe subjektiwiteit, in my geval net-net genoeg sodat ek nie uitspin nie. Ek dink dit bly 'n kontradiksie. Seker omdat ek my wortels het in die Artaud-denkrigting waar die teater ons kerk is en ons in 'n soort sjamanistiese beswyming gaan wanneer ons speel. Teater as 'n besete ritueel.

Henriëtta praat van 'n “clear strip” wat die heeltyd bewustelik die tegniek as veiligheidsnet het. Sy wys na iewers aan die bokant van haar ruggraat. Dit verstaan ek. Dit skakel vir my met wat Eugène Marais bedoel het as hy na die “primitiewe” geheue verwys het. Ek dink dis die een wat grootliks oorneem as mens op die verhoog is.

Omdat verslawing een van die hooftemas in die stuk is, vra ons Dax (ons komponis vir die show) uit. Sy “day job” is om by 'n rehabilitasiesentrum te werk. Snaaks genoeg verwys hy in 'n heel ander konteks na die voorste lob van die brein van 'n addict wat dormant word en die pleasure zones (hy wys toevallig ook na sy agterkop) aktief. Ek wonder waar Harry se kop was toe hy hierdie storie opgedroom het. Het sy muse dalk ook so aan sy/haar agterkop gevat toe sy/hy hom besoek het? Dit voel asof daar net té veel toeval aan die werk is. Te veel ooreenkomste met ons eie lewens. Ek gaan egter nie daaroor praat nie, want ek wil nie die storie weggee nie. Zeitgeist is een ding, but this is ridiculous.

Maar genoeg van al hierdie esoteriese stront. Ons het werk om te doen.

*

Oor die naweek het my geliefde uiteindelik tyd om vir my die boek vas te hou sodat ek die haakplekke wat nog gebeur, kan identifiseer en merk. Dan kan ek uitwerk hoekom dit altyd op daardie plekke gebeur. Party is net detail wat ek gereeld uitlaat, ander is sinne wat ek konsekwent parafraseer. Dan is daar natuurlik die oorgange wat in hierdie stuk soms onmoontlik voel totdat mens die emosionele reis behoorlik kan uitkaart. Ander is doodgewone tonque-twisters wat eenvoudig oor en oor geoefen moet word totdat hulle vlot loop en dan versnel word totdat jy dit teen 'n moerse tempo kan aframmel. Daarna moet die woorde natuurlik weer gekontekstualiseer word. Die tegniese kant van enige woordinstuderingsfase. Amper soos toonlere vir 'n musikant of kombinasies vir 'n bokser.

Jy't nie moer baie intelligensie nodig om akteur te wees nie, maar sonder 'n unieke kwaliteit gaan jy nêrens kom nie.

*

In die aand sien ek dat daar 'n lys van die Aardklop-produksies in die Star is. Ons is laaste op die lys. Ek kan my oë nie glo nie. Tobie Cronjé is al vir iets soos twee maande nie meer betrokke nie, maar die berig lees: "Tobie Cronje directs Marcel van Heerden in …" Die stuk word beskryf as "Sex and drugs and rock and roll and a father/daughter relationship from hell". Tog nie alweer daardie simpel cliché nie, asseblief! Wat van Henriëtta? Wat van Jessica? Wat van Dax Butler wat die musiek komponeer? Daar is geen rock 'n roll in hierdie stuk nie. Dax het sorgvuldige navorsing gedoen. Omdat Camilla se band Children of a Hip Hop God genoem word en sy wit is, het hy met 'n soort feministiese hip-hop met nufolk-invloede vorendag gekom.

Ek vryf my agterkop en begin groente skil vir aandete. Dit voel asof daar 'n verraaier in ons midde is. As ek so iets oor 'n nuwe stuk sou lees, sou ek 'n punt daarvan maak om dit mis te loop.

*

Vir my is alles wat in dié stadium in die repetisielokaal gebeur, uiters privaat. Ons is soos 'n geheime bende.

*

Harry kom kyk na 'n run-through. Ek dog hy gaan soos 'n lid van die gehoor wees en kyk na wat ons met die stuk gedoen het, maar nee, hy sit met die teks in sy hand en dit voel asof hy seker maak dat elke woord wat ons sê, syne is en dat ons nie soveel as 'n komma uitlaat nie – en hy maak heeltyd notas. Ek wil hê hy moet opkyk. Ek begin twyfel aan die woordorde van elke sin. Raak al hoe stadiger. Ek voel hoe die stuk begin sleep, maar daar is 'n rebelsheid wat ek nie kan stop nie. Ek struikel op plekke waar ek nog nooit gesukkel het nie, maar in plaas van die storie vertel, beklemtoon ek met opset my foute. Arme Jessica verloor algaande haar ander helfte, want in hierdie stuk moet ons soos een wese word. ’n Siamese tweeling. Ek voel hoe ek al hoe sagter word - amper verdwyn - ek gaan net deur die motions. Dis 'n helse plek om te wees as mens op die verhoog is. Al manier uit is om die cues baie vinnig op te tel, maar dit sal ek eers onthou wanneer Henriëtta dit na die tyd in die notasessie sê.

Na die tyd sê Harry met 'n smile vir my: “Jy’s lekker bang vir my, nè?”

Ek dink: “Fok jou, ek vrees geen mens of sy woorde nie. Al ding op hemel en aarde waarvoor ek bang is, is 'n verhoog."

Arme Harry. In sy posisie sou ek seker presies dieselfde doen.


*
Wanneer ek wil slaap, hardloop die woorde onbeheerst deur my kop. Dit dien geen doel nie, want dis altyd die passasies wat mens goed ken. Al wat vir my in hierdie stadium van instudeer werk, is meditasie.

*

Die volgende dag met die run-through is die jong beligtingstudent Chandré daar om dit vir die eerste keer by te woon. Ek haak vir die eerste keer nêrens nie en laat niks uit nie. Dit voel wel hier en daar bietjie stadig, maar ek is nogal heel chuffed met myself.

Ons kom van die verhoog af. Henriëtta se gesig is vir my nie heeltemal leesbaar nie. Sy sê: "OK, so hoe voel julle?" Ek en Jess kyk vir mekaar. Voor ons iets kan sê, sê sy: “Wel ek hoop julle voel baie kak, want dit was terrible. Dit het omtrent 'n uur en 'n half geloop en dit was al in vorige runs net oor 'n uur; mense gaan uitloop as julle teen daardie tempo speel.” Sy moet met Chandré oor die ligte praat. Ek en Jess loop verdwaas na buite om tee te maak en ons begin onmiddellik met 'n cut-to-cue speed run. Ons bly na die tyd agter en doen 'n woord speed run. Dit is maar soos enigiets - jy oefen die nood-dril sodat jy kan reg wees as die moeilikheid sou kom.

*

Henriëtta vra dat ons moet commit. Ophou so hard werk. Glo in ons karakters en ons storie.

*

Ons doen 'n run in Henriëtta se huis. Met musiek. Nou voel dit asof ons jam. Dis baie cool. Ons ken die rifs. Ek wil op daardie plek kom waar niks wat jy doen, reg of verkeerd is nie, want jy vertel die storie op dáárdie oomblik op dáárdie plek.

*

Ons het 'n gehoor nodig. Ons moet deur die muur breek. Dit gaan net gebeur as hulle by ons aansluit. Dan gaan dit begin teater word.

*

Môre-aand speel ons voor vriende en Sondag pak ons die karre.

*

Dinsdagaand maak ons teater in 'n kerksaal in Potch.


Klik hier vir "Deel 1" deur die skrywer: Harry Kalmer

Klik hier vir "Deel 2" deur die regisseur: Henriëtta Gryffenberg

Click here for "Part 3" by the actress: Jessica Haines