Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Artikels | Features

Dagboek van ’n drama: Wolke (Translated) - Deel 2


Henriëtta Gryffenberg - 2007-09-21

Wolke (Translated)
Regie: Henriëtta Gryffenberg
Met Marcel van Heerden en Jessica Haines.
25–29 September 2007
Aardklop, Potchefstroom



DEEL 2: DAGBOEK VAN 'N REGISSEUR

Deur die regisseur: Henriëtta Gryffenberg

Liewe Dagboek

Foto: http://www.saswa.org.zaHarry Kalmer het my al twee keer in sy lewe met ’n slap riem gevang.

Die eerste keer was ses jaar gelede toe hy my gevra het om in die verhoogweergawe van Briewe aan ’n rooi dak te speel. Ek was toe 37 jaar oud en glad nie opgewonde oor die vooruitsig om ’n 73-jarige ou tannie te moet speel nie. Dis nou tot ek die teks gelees het.

Die tweede riem kom in die gestalte van Wolke (Translated), die opvolg van Briewe aan ’n rooi dak. Dié keer vra Harry op die laaste nippertjie of ek die regie sal behartig. Tobie Cronjé sou dit gedoen het en toe brand hy vas. My verstand sê nee – ek het tyd nodig om ’n visie te konsidereer, konsepsualiseer en indien nodig te herkonstrueer. Ek beloof om die teks te lees, en daarmee tref die spreekwoordelike Kalmer-koeël weer die spreekwoordelike Henriëtta-hart en weer bevind sy haar met die slap riem gevange, maar dié keer geniet sy die stroppie om haar tjoppies. Wat weet ek van regiseur wees? is ’n gedagte wat ek ver weg stoot. Vir bang wees is daar nie plek nie. Nie nou nie. Nie ooit nie.

6 Augustus

Liewe Dagboek

Wolke (Translated) gaan oor ’n pa-en-dogter-verhouding. Ek identifiseer met Kobus, en Camilla fassineer my. Dis broos en kompleks – en tog so bitter eenvoudig.

Dis ’n week later en ek begin ’n aktrise soek om die rol van Camilla te vertolk. Ons soek ’n jong Engelse aktrise wat ’n Amerikaanse aksent kan crack. Ek vind gou uit die nuwe generasie skrik nie vir Amerikaanse pampoen nie. Een meisie staan kop en skouers uit. Haar naam is Jessica Haines. Marcel van Heerden speel teenoor haar. Ek wou nog altyd met Marcel werk.

Ek begin opgewonde raak, maar sit met die nagmerrie van ’n skedule wat opgestel moet word. Marcel skiet aan ’n TV-reeks. Dit word ’n oefening in logistiek. Ek weet TV-produksie-skedules is nie die papier werd waarop hulle geprint word nie. Ek dra my teaterroostertjie aan die gode op en vra dat Katinka se skietproses geseën word, want dit gaan myne maak of breek.

13 Augustus

Liewe Dagboek

Ons soek ’n bekostigbare repetisieplek. Hoekom doen mens teater!? vloek ek as die soveelste plek my agt honderd rand ’n dag kwoteer.

’n Dag voor ons begin, vind Harry ’n bekostigbare lokaal by die Roosevelt Park Recreation Centre. Dis ’n vriendelike plekkie met twee wonderlike vrouens wat die kennisgewings lamineer en die plek soos ’n glad-geoliede masjien bestuur. Dis klein en nie ideaal nie, maar dis ons plek. Ons begin deurlees en met die lees begin ’n ontdekkingsreis.

14 Augustus

Liewe Harry

Waar plaas ek die stuk? Kobus is in Suid-Afrika, Camilla in Amerika. Hy skryf oor ’n tydperk van 14 jaar vir sy dogter briewe. Sy bevind haar in rehab, waar sy gedwing word om dagboek te hou. Die grootste deel van die stuk is gedagtes en herinneringe, die terugroep van ’n oomblik wat in die onthou vasgebrand bly sit. Ek voel die ruimte moet soos die oomblikke kan verander. Dis ’n verhoogstuk, demmit, nie ’n televisiestorie nie. Ek sit met twee akteurs en ’n klomp karakters en ek is so-o-o-o nie lus vir hoede, kapstokke en ’n kas vol rekwisiete nie. Mmm … Grondverskuiwend. Nee. Prakties. Daar is doodeenvoudig nie genoeg geld vir al die dinge nie. Ook weet ek dat ek nie my gehoor uit ’n stel mag cheat net oor ons nie geld het nie. Die verantwoordelikheid van regisseur wees skaaf my nerf af. Veral in die nag. Dink, Brolloks, dink.

Kobus is rusteloos, maar hy soek ’n tuiste. Die beeld van ’n man wat uit bokse leef, bly in my geestesoog vassit. En dan is daar Camilla wat haarself in ’n paar sekondes verloor terwyl sy teen ’n muur staan tydens ’n konserttoer. ’n Muur in Amerika en ’n doos in Afrika. Daarmee kan mens werk.

Ek gaan koop bokse. Nie een nie. Nie twee nie. Baie. En terwyl ek met my boksies kar toe loop, sing ek “Little boxes on the Hillside. Little boxes made of ticky tacky …!”

Êrens tydens die repetisietydvak

Liewe Dax

Jy het vandag kom insit en vir my van die musiek gebring. My vel het hoendervleis getrek. Jy was opgewonde soos ’n kind en kon nie wag dat ons almal luister na jou klanke nie. Marcel en Jessica lig tydens die run-through die sluier en ek kry ’n gevoel van hoe dit gaan lyk as hierdie twee “opstyg”. Dankie, Harry. Dankie, Dax. Dankie, Jessie en Marcellie.

17 September

“Marcel en Jessica”

"Wat julle vandag gedoen het, moet julle voor die liewe Vader nie weer doen nie.” Marcel se oë trek vraagtekens. Jessie begin onmiddellik verduidelik. Ek het mos gesê as julle voel die stuk trek, “pick up on your cues”.

Dis ’n week voor Aardklop en ek kan die senuwees aan my ingewande voel torring. Agter my lê ’n wonderbaarlike repetisietydvak waarin ons die Kalmer-teks bladsy vir bladsy, frase vir frase, woord vir woord ontdek het. Tog weet ek die harde werk lê nog voor. Die klank wat moet bykom, die ligte wat geplot moet word. Daarna moet Jess en Marcel die hardste werk. Vertoning na vertoning. Glo my, dis nie maklik om prosa te dramatiseer nie, selfs al is dit ’n Harry Kalmer. Oor sewe dae sal ek moet terugstaan en kyk hoe die vlerke wat ons die afgelope vyf weke saam gebou het, gaan vlieg. Oor ’n week moet hulle met die sleutels wat ek vir hulle probeer gee het, die Kalmer-stuk vir ons gehore oopsluit.

Ek hoor die kaartjieverkope is oor die algemeen maar traag. Dit maak my hartseer. Ons het dan so hard gewerk om dit vir die mense te maak. Ek kyk al hoeveel shows en elke keer wys Jessie en Marcel vir my iets anders. Ek sou dit so graag met meer as net my alter ego wou deel. Ek gord hierdie twee rieme onder my hart vas en pantser myself met die wete dat ons die waarheid gesoek en gevind het. En steeds bly hoop en droom ek dat ons “gehore” in die volgende ses dae vlerke sal ontwikkel waarmee hulle na Potchefstroom toe sal kan vlieg om te kom kyk hoe ons vyf Wolke gemaak het.


Klik hier vir "Deel 1" deur die skrywer: Harry Kalmer

Click here for "Part 3" by the actress: Jessica Haines

Klik hier vir "Deel 4" deur die akteur: Marcel van Heerden