Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Artikels | Features

Dagboek van ’n drama: Wolke (Translated) - Deel 1


Harry Kalmer - 2007-09-21

Wolke (Translated)
Regie: Henriëtta Gryffenberg
Met Marcel van Heerden en Jessica Haines.
25–29 September 2007
Aardklop, Potchefstroom

DEEL 1: DIE STAGGER-THROUGH

Deur die skrywer: Harry Kalmer

Ons het nie baie gepraat nie. Want ons het oor geld gepraat. En daar was nie baie ter sprake nie.

Maar dit was te verwagte – almal het van die begin af geweet dat dit so gaan wees. En almal was bereid om ‘n kans te vat. En selfs al maak ons elke sitplek in die teater vol, sal daar nie meer geld wees nie. En sonder die borgskap van Aardklop sou daar niks gewees het nie.

Want teater soos hierdie gaan oor iets anders as oor geld. Miskien kan mens dit geloof noem. Die begeerte om iets te sê wat regtig saak maak en regtig sin maak. Om uit die malle gejaag van die lewe te klim en te sê: “Kom ons kyk hoe lyk ons nou.”

Vir amper vier weke lank al repeteer Henriëtta, Marcel en Jessica aan ’n teks waarvoor hulle bereid was om ’n kans te vat. Aan ‘n idee wat hulle genoeg aangestaan het om te hoop dit kan werk. En te doen wat ons almal die graagste doen – iets te skep wat betekenis het. Beide vir onsself en vir die mense wat die moeite gaan doen om te kom kyk. Want elke kunswerk wat jy maak of ervaar is ’n ontdekkingstog. En geen reis na die onbekende is maklik nie.

Dis soos om die see in te stap en te swem en te swem en te swem tot die land buite sig raak en te hoop jy verdrink nie voor jy anderkant aankom nie.

En dis scary. Maar hopelik kom die land weer op een of ander stadium in sig en land jy op ‘n ander plek. En dalk is dit in die land van hoop en drome.

Op die oog af is die tog wat ons in Wolke (Translated) aanpak, ’n donker een. Dis ’n storie oor Camilla ( of “Wolke” soos sy verkies om haarself te noem), die jong hip-hop musikant wat in rehab in Amerika sit en nie net met haar crack-verslawing stoei nie, maar ook met die onlangse dood van haar ma, die wreedaardige moord van haar ouma in Johannesburg en haar vrot verhoudings met haar pa en haar girlfriend Cindy.

Camilla se pa, Kobus Otto, is ’n musikant en ’n stoner. Toe sy dogter sewe was, het hy op die vliegtuig geklim en terug gevlieg na Suid-Afrika. Sedertdien skryf hy elke jaar op haar verjaardag ’n ongeposte brief aan haar. Tussen hierdie twee se gegewe van versplinterheid, verslawing en deurmekaargeid probeer ons 'n storie vertel van vergifnis, herstel en versoening.

Op die oog af lyk dit soos ’n ou Harry Kalmer trick: skryf ‘n teks wat mooi is op die oor, huur die beste akteurs moontlik en bied dit op die eenvoudigste manier moontlik aan.

Maar dis waar Henriëtta in die prentjie kom. Sy ken my werk, persoonlikheid en hebbelikhede so goed dat sy presies weet hoe om dit alles te ondergrawe. Dit besef ek goed terwyl ek in die repetisielokaal sit en kyk na die eerste “stagger-through” …

Die muse is saam met ons in die kamer.

Marcel se Kobus is eers ‘n pa voordat hy ‘n stoner of musikant is. Wat Marcel met Kobus doen, is ’n faset van sy acting wat ek in die meer as twintig jaar wat ek hom ken, nog nie ervaar het nie. Van die dromerige hippie wat ek geskryf het, maak hy ’n Afrikaanse pa wat almal sal herken en verstaan.

Jessica se Camilla is die een oomblik sewe en behep met haar pa en die volgende oomblik 23 jaar oud en in cold turkey. Ek kan sien hoekom John Malkovich beïndruk was. (Jessica speel Lucy teenoor sy David Lurie in JM Coetzee se Disgrace, wat volgende jaar vrygestel word.)

Henriëtta se regie is magies-realisties (of dalk realistiese magic?) en presies die teenoorgestelde van wat ek gevisualiseer het terwyl ek die teks verwerk het .

Minstens drie maal tydens die stagger-through raak ek heeltemal oorstelp. (Nie eers die raserige aerobics klas vol jillende kinders in die kamer langsaan lei my aandag af nie.)

Ons hou postmorten en ek sukkel om nie te wys dat ek tevrede is nie. As mens te entoesiasties raak op hierdie stadium, mag jy dit dalk later berou. Maar ek kan my nie beteuel nie. Die eerlikheid van die oomblik sorg dat al my fasades verdwyn

Ek stap dankbaar terug na die kar. Die pad na die opening in Potchefstroom is nog lank en swaar. Maar dit wat ek hier gesien het, is ’n goeie begin.

En as ons dit bymekaar kan hou, gaan dit befok wees. Pure magic. Die tipe magic wat jy net op die verhoog kan maak. En wat geen geld kan koop nie.


Klik hier vir "Deel 2" deur die regisseur: Henriëtta Gryffenberg

Click here for "Part 3" by the actress: Jessica Haines

Klik hier vir "Deel 4" deur die akteur: Marcel van Heerden