Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

Oor Afrikaans Sonder Uitkoms (of Dubbele Borstrok Vertaalde Engels)


Jaco Alant - 2007-09-19

Wat het Jannie vir sy ma gesê die dag toe die Meneer hom "geassesseer" het?

"Mamma, my as is seer!"

Maar laat ek onmiddellik ophou om ons gedweë assesseerders – opvoedkundiges en ander akademici, beleidsmakers en dweepsugtiges – só op hulle (uitkoms-) basisse te raps. Nee, my eintlike teiken is 'n nóg groter monster, waarvan genoemde uitkomsgebaseerdheid (eina!) maar net een - weliswaar besonder pynlike - simptoom is: politieke korrektheid. En dan wil ek uitkom by hoe laasgenoemde ons koppe dom maak en ons monde snoer en ons tale verlelik - veral, helaas, Afrikaans. "Polities korrek" natuurlik, so sonder dat ons dit agterkom of boe of ba (of Baas) sê.

Ek begin met 'n bietjie agtergrond, want die ongedierte het nie uit die bloute opgedaag nie.

Hier van die 1960's af het die idee begin posvat (dink veral aan die Franse filosoof Michel Foucault) dat menseverhoudinge – wat eintlik die ganse menslike realiteit is, want wat is dan nou nié 'n verhouding nie? – as magsverhoudinge geïnterpreteer behoort te word. Magsverhoudinge wat setel nie soseer in die "werklikheid" nie (soos in die konkrete uitoefening van mag in die ekonomie en die politiek), maar in die manier waarop ons oor die werklikheid praat. Of eintlik: oor die werklikheid redeneer, wat behels hoe ons ons kennis van daardie werklikheid – juis dan veral dinge soos die politiek en die ekonomie, maar ook ander gebiede soos gesondheid, seksualiteit, die onderwys, ens – organiseer en gestalte gee deur middel van taal. Kortom, ons diskoers oor dinge.

Nou, die idee dat magsverhoudinge verskuil is in diskoers, maw dat taal op 'n manier gebruik word om (ongelyke) magsverhoudinge as't ware af te dwing deur hulle as "normaal" te laat voorkom was 'n baie vrugbare idee – want wat is dan nou meer "normaal" as 'n "wetenskaplike" diskoers van "geleerdes"? Die geneuk het gekom toe intellektuele pierewaaiers wat te lui of te dom was om Foucault en sy geesgenote behoorlik te lees (iets wat, toegegee, nou nie juis maklik is nie), besluit het om van diskoers, wat 'n hoogs komplekse affêre is, 'n bloot terminologiese aangeleentheid te maak. Diskoers is hierdeur gereduseer tot maar net woorde, en waarvan jy maklik 'n lysie (eintlik eerder 'n swartlysie) kon maak. Die volgende stap was so meedoënloos voor-die-handliggend dat dit jou trane in die oë gee (nadat jy uit frustrasie jou kop meermale teen die muur gestamp het): jy vervang een lelike, onvanpaste woord met 'n mooi, gepaste woord. En siedaar! ewe skielik is die arme drommel wat aan die kortste ent van die gewaande ongelyke magsverhouding was (polities, etnies, ekonomies, seksueel, opvoedkundig, maak nie saak watter etiket jy gebruik nie), as't ware in ere herstel, is die "speelvlakke gelyk".

Natuurlik is die speelvlakke nie rêrig gelyk nie. Die "voorheen benadeeldes" is nie minder swart as vantevore nie, net so min as wat die "senior burgers" minder bejaard is. En assessering bly steeds 'n toets met 'n punt: goed, gemiddeld, sleg of beroerd. Sekerlik een van die mees (of mins?) sprekende voorbeelde van hierdie kamma gelykheid is die woordjie leerder. Dis glad nie moeilik om die politieke korrektheid van leerder uit jou duim te suig nie. Waar sy voorganger leerling vasgevang was in 'n binêre, onderdanige verhouding met onderwyser (in Engels pupil teenoor teacher), staan 'n leerder mos onafhanklik, vry!

Is 'n leerder 'n onderling soos 'n leerling? Nee!

Wat doen 'n leerder? 'n Leerder leer!

(... ).

Maar terug na die ongelyke speelvlak. Dié is natuurlik wél op 'n manier gelyk daar waar dit vir die spreker van die "goeie woord" saak maak: hy/sy (meer oor hy en sy en hom en haar nou-nou) het naamlik in die proses van mooipraat hom/haar so 'n bietjie nader gewriemel daar aan waar dinge "relevant" raak. Die ouens met die mag hou tog immers daarvan as die "deskundiges" dié soort woorde gebruik wat die kortspeensuigers (van watter aard ook al) die indruk kan gee dat hulle "aangespreek" word. Engels sê dit so manjifiek niksseggend: hulle word ge-engage. Van nou af, al het hy/sy nou nie self mag nie, is die mooiprater ten minste deel van die heersende ideologie. Dis 'n goeie tweede prys.

Die gemak waarmee polities korrekte taalgebruik intellektueles (eintlik napraters, rugkrappers en gatkruipers) by 'n maghebbende elite kan laat inskakel, bring my by 'n laaste punt oor die magsaspek van hierdie soort wangebruik van 'n taal voordat ek meer spesifiek by die gevolge vir die taal uitkom. Mens sou die skep van polities korrekte woorde kon regverdig as 'n verryking van 'n taal (dws sy woordeskat), as dit so was dat sulke terme bloot nuwe woorde daarstel wat die spreker 'n groter keuse tussen alternatiewe woorde bied – 'n bietjie soos ek kan kies of ek wil praat van 'n kar of 'n motor, emosies of gevoelens, transformasie of omvorming. Maar polities korrekte woorde vernietig keuse. O wee jou onkorrekte prater! Onder daai dekmantel van demokrasie, deursigtigheid en gelykheid lê daar 'n kilheid wat lelik met jou kop kan speel: senior kollegas glimlag half-berekenend wanneer jy verby druk op pad toilet toe. (En toe laat weet die bevorderingskomitee - na vele navrae - hulle het jou portefeulje eers ná die sperdatum ontvang.)

Daar's spesifiek twee dinge wat ons polities-korrekte kampvegters en komiteesitters nié van taal weet nie - en wat enige eerstejaar-taalkundestudent hulle sal kan vertel:

1. Die Gereformeerde Kerk leer dat ons in sonde ontvang en gebore is, maar dit beteken geensins dat ons nie hemel toe kan gaan nie. Dieselfde ding is waar vir woorde. Alle woorde het die vermoë om as't ware uit te styg bó hoe hulle ontstaan het en waar hulle vandaan kom; enige woord kan al hoe meer en meer beteken - mens moet hom net 'n kans gee. (Dié beginsel is veral maklik herkenbaar in name – dink maar net aan uShaka: op 'n kol die embleem van die bloedstollende umbulali – "moordenaar" - wat verantwoordelik was vir die moeder van alle voortvlugtende volksverskuiwings, tot so ver as Malawi; vandag glansprykend van al die fun dinge wat jy kan doen op Durban se South Beach. Wanneer dit by taal kom, is mite baie sterker as feite.)

2. Nes die Bybel is geen taal 'n stel logies-wetenskaplike aanwysings nie. Natuurlik is 'n taal propvol kennis en insigte in die maniere waarop hy as't ware die werklikheid "filtreer" ten einde dit bepraatbaar te maak, maar die ongelooflike ding is dat dit nou maar eenmaal onmoontlik is om hierdie maniere (wat 'n taal se sinstrukture en woorde onderlê) te koppel aan een of ander gebeurtenis, nog minder aan een of ander ideologie. Kortom, taal is die één menslike skepping wat kollektief-demokraties is. Hier en daar kan ons intelligent gis oor die oorsprong van spesifieke woorde en uitdrukkings, maar van verreweg die meeste – en veral die oorsprong van strukturele (grammatiese) dinge – weet ons eintlik maar niks, en dis goed so. Iets wat kollektief-demokraties tot stand kom en gedy, is niks minder as 'n wonderwerk nie. Afrikaans het so tot stand gekom. (Maar in politieke korrektheid is daar nie plek vir wonderwerke nie; die enigste relevante kennis - wat "tel" - is van dié soort wat jy kan etiketteer en manipuleer; woorde word teikens soos leeus in 'n hok.)

Daar's nóg 'n ding wat ons van politieke korrektheid kan sê. Sy/haar moedertaal is Engels. Nou Engels, moet 'n mens toegee, kom gereeld vorendag, nie net met nuwe nie, maar met verbeeldingryke nuwe woorde. My gunsteling-voorbeeld is Big Bang. Wie sou kon dink dat 'n strokiesprent-, cowboys 'n crooksuitdrukking ("Bang-bang you"re dead!") die hoofteken sou word van 'n kwantumfisikateorie in die mond van sedige mense in stowwerige kantore en oorbeligte laboratoriums? (Oerknal het kwalik dieselfde welluidendheid, maar dan hét hy darem minstens iets van 'n eie idioom ... Meer hieroor verder aan). Ten spyte van dié soort kreatiwiteit is Engels egter by uitstek dié taal wat gebuk gaan onder die mees absurde soort polities korrekte heksejagtery.

Dink maar aan die eindelose veldtogte om Engels te ont-man. Watter gerieflike teiken vir geslagsgelykheid! (En hoe gelukkig dat die totale naamwoordstelsel nie, soos byvoorbeeld in Frans, berus op 'n fundamentele indeling tussen "manlik" en "vroulik" nie!) Hierdie obsessie kan wyd waargeneem word, maar bereik veral 'n laagtepunt in die mens- en sosiale wetenskappe. Skielik skep 'n klassieke waarheidjie soos "Man is a thinking animal" allerhande onvoorsiene besware. (Maar vervang 'n bietjie man met people of human being - aggenee, alwéér 'n man! - en giggel hoe krom en skeef dit op die oor val.) In dieselfde asem is daar die veldtog teen die arme manlike voornaamwoord, wat alte dikwels lei tot 'n perverse swetterjoel van he/she, him/her, his/her – dankie tog,Supreme Being, vir die liewe forward slash ... nie dat taalkundige lompheid enigsins 'n probleem is vir ons polities begeesterde taalpuriste nie – ook nie die feit dat die intelligensie van hulle lesers geminag word nie. Hulle "bemagtig" ons mos.

Van "probleem" gepraat. Wanneer laas het jy die woordjie problem in die mond van 'n aktivis of 'n burokraat gehoor? Dis kompleet of daar êrens 'n ministeriële memorandum moes gewees het om dié nederige – dog nuttige - woordjie met die eiegeregtige challenge te vervang. Nes met leerder het jy kwalik graad 8 (standaardgraad) nodig om die Oprah Winfrey-agtige (of is dit dalk Dr Phil?) aantreklikheid van challenge in te sien. (En watter oulike taalkundige alibi vir mooipraat-politici wat niks doen aan mense se probleme nie.)

Die polities korrekte verknorsing is groot vir Engels. Is daar nog 'n taal op aarde waarin mens so woordvloeiend só min sê, wat so maklik in 'n leë vorm ontaard? Maar die gevolge is selfs erger vir 'n taal soos Afrikaans. Ten minste skep Engels sy eie monsteragtighede. In Afrikaans het ons nie net te make met politieke korrektheid as sodanig nie, ons moet dit nog na-aap ook.

Mens stel jou voor dat daar êrens in die (vroeë 1990's) agtergrond van die politieke onderhandelinge vir die Nuwe Suid-Afrika minstens een of twee bosberade moes gewees het vir 'n Nuwe, Polities Korrekte Afrikaans. Of het dié proses dalk reeds in Dakar begin? In elk geval, dié taalvleuel van die nuwe, blygemaakte Broederbond het klaarblyklik nie ver gesoek vir sy metodologie nie: klakkelose vertaling van die Engelse woord. As dit nie werk nie, vat die Engelse woord en las die agtervoegsel -eer aan: assesseer! Vandaar ons hedendaagse polities korrekte juwele. Nie Afrikaans nie. Vertaalde Engels. Ons kan vlugtig na enkele oorbekendes kyk.

  • Bemagtig. Loshande die mees holruggeryde eselwoord van die demokrasie en toevallig ook die lelikste. Afrikaans beskik natuurlik oor doodgoeie staatmakers soos "in staat stel" en "toerus", maar ons moes nou maar eenmaal die polities korrekte metafoor van Engels naboots, vandaar die klakkelose vertaling van empower. Maar power rol 'n honder maal gemakliker van die Engelse tong af (power staan dik in die Amerikaanse popkultuur) as mag (wat nog te sê magtig) van die Afrikaanse. Buiten vir ons middeljariges wat nog op skool "En hoor jy die magtige dreuning ...?" gesing het, is magtig nie veel meer as 'n beleefde vloekwoord nie (soos vervlaks!). Kortom, bemagtig klink 'n bietjie te baie na bedonner. Is dit nie dalk wat ons regtig bedoel nie?
  • Uitkomsgebaseerd (eina!). Soos ek in die begin aangevoer het, is dit wel moontlik om politieke korrektheid terug te voer na redelik diepsinnige wetenskaplik-filosofiese idees. Vandag is daar egter 'n leerskare "idees" wat voorgee om wetenskaplik-filosofies te wees, maar eintlik maar net opgediste politieke korrektheid is. Is daar 'n "uitkoms" uit hierdie drukgang van middelmatigheid? Dit bring my tot my punt: die Afrikaanse uitkoms is die spreekwoordelike silwer draadjie in die donker wolk, iets wat outcome hoegenaamd nié is nie. Laasgenoemde is gewoon 'n resultaat, 'n gevolg. Ons klakkelose vertalers het egter besluit dié belangrike semantiese verskil is nie polities korrek relevant nie, en die silwer draadjie opgeoffer aan die donker wolk.
  • Voorheen benadeelde gemeenskap. Daar was nog altyd minder bevoorregte mense, of onbevoorregte mense, selfs in Amerika. Wat is die verskil tussen underprivileged en disadvantaged? Politieke korrektheid. Hoekom praat ons, as ons dan ernstig is om die punt van armoede teen die agtergrond van politieke verandering tuis te bring, nie op die man af duidelik van gemeenskappe waarteen voorheen gediskrimineer is nie? Hoekom so naarstiglik daarop aandring om die Engelse etiket (stereotipe?) in Afrikaans te herhaal?
  • Nierassig. En toe word ons almal ... "nierassig". Net so. So sonder dat ons ooit "rassig" was. Nie in die skool nie, nie op universiteit nie, nie op televisie nie. Rassisties was ons wél (sommer baie), asook koppig, halstarrig en sondig, veral dié wat in die kerk was. (Darem 'n bietje sonnig ook.) Maar rassig? Geen wonder Antjie Krog haat dié woord so nie. Weer eens die gatkruiperige refleks van die polities korrekte: Afrikaans wat teen wil en dank plek maak vir die onderskeid tussen (race) -ist en -ial – Afrikaans geskoei op mooipraat-Engels.

Word daar in ander tale ook so geskarrel elke keer wat daar van oorkant die Atlantiese Oseaan 'n polities korrekte foefie (eintlik 'n stink) aangefladder kom? Is die Duitsers, die Franse, die Russe, die Swahili's, die Arabiere en die Japannese ook sulke meesters van Vertaalde Engels? Maar ons Afrikaners is tweedeklas meesters, dis wat so neerdrukkend is. Tweedeklas meesters van ons eie taal. Die stywe, opgesmukte, Germaans-behepte Standaardafrikaans van die slegte ou dae word dikwels na verwys as "borstrok-Afrikaans". Nou het ons, in die goeie, nuwe dae, stywe, opgesmukte, Engels-vertaalde polities korrekte Afrikaans. Ons het nou dubbele borstrok.

Dink 'n bietjie na. Afrikaans het nie polities korrekte woorde nodig nie. Ons kan enige ingeburgerde, "ou" woord gebruik om te praat oor enigiets, hoe vroom ook al, in die nuwe Suid-Afrika. Wat sal dit verg? 'n Bietjie verbeelding en 'n bietjie eerlikheid, deugde wat soos mis voor die son verdwyn het in die goedkoop – en boonop tweedehandse – verskoning wat politieke korrektheid bied. Te hel met bemagtig, dan empower ek maar liewers in ons non-racial demokrasie. Kom ons gun Engels ten minste die alleenreg op sy eie mismaaksels.