Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Fanus Rautenbach: Umfaanus

'n Wildtuinstorie


Fanus Rautenbach - 2007-09-18

Ons vertrek om 10 vm op 26 Augustus per kulula.com ("either Jan Smuts OR OR Tambo Airport"), waar ons 'n Honda huur – wat nie so gerieflik soos Frans se Merc is nie, met die gevolg dat my boude beginne seer word en ek verskuif na die agtersitplek waar ek langbeen kan sit. Die enigste nadeel is dat Frans die diere eerste sien! Ook maar gelukkig, want so ontdek ons die non, suster Hondisia: van waar ek agter sit, lyk die swart nekskermskut net soos 'n non van agter af.

Ek en seun Frans het lanklaas met 'n non gesels en sy was nog nooit in die Wille Kriertyn nie ... Dit was vir ons al drie 'n verbysterende ervaring, want nie net mog ons nie drink nie, maar ons mog ook nie ou, stout oopskoppe vertel nie. En ons moes alles aan haar verduidelik van die bye en die blommetjies. Ons het haar gevra of sy weet waar babatjies vandaan kom. En toe sy bevestigend knik, sê ons: "Nou met die bye en die blommetjies is dit presies dieselfde en ook waarom Apartheid die regte ding is, want diere oorkruis nie ... En toe sien ek sy wil vra: "Maar, Broer, het jy al ooit 'n wit hoenderhaan by 'n swart hen sien verbyloop?" Maar uit ordentlikheid vra sy niks.

Toe begin ek en Frans die ou-ou wildtuinspeletjie: jy moet sê watter dier gaan ons volgende sien. Nou moet ek bieg: Frans ken die Wildtuin beter as wyle president Kruger of Rocco Knobel – hy was sewe keer na mekaar in die kol: vlakvark ... renoster ... bromvoël ... leeus (vyf gesien !) … olifante (65) … buffels (35) … en drie hiënas.

Frans: "Pa het nog net een – die tarentaal! PA moet wakker word!" So hou hy aan karring totdat ek vir hom sê: "Jy moenie my in 'n blik druk nie!"

"Waar sou dit vandaan kom? In 'n blik druk …"

"Ek weet nie, maar moet net nie in dr Anton Prinsloo se boek gaan kyk nie – hy weet ook nie."

Net daarna onthou ek dat ons met duiwe geboer het en as jy byvoorbeeld 'n sekere mannetjie – sê nou maar 'n witte – met ’n swart wyfie wil laat paar, druk jy hulle twee saam in ‘n lampolieblik. Dis waar dit vandaan kom: "Moenie my in blik druk en my dwing om dinge te doen wat ek nie wil nie."

Daarna het ons suster Hondisia om verskoning gevra en vertel van Frans en Gerrit se ervarings in die Wildtuin, en ook een of meer oopskoppe.

Een jaar het dit in Belfast gesneeu en toe die juffrou na die wintervakansie aan die klas vra wat hulle gedoen het …

"Gerrit?"

"Ons was in die Wildtuin, Juffrou!"

"En wat het julle gesien?"

"Sneeu!" sê Gerrit en sy ogies blink. Die juffrou het gesê hy jok.

(Toe sien ons 'n rooibok en ons verdoop hom na Bok van Blerk. En toe sien ons ons eerste leeu van agter af loop en ek en Frans beginne vals te sing: "Leeuloop … Suster, ons sal jou geleidelik, verleidelik verdydelik van leeuloop ...")

Toe vra die juffrou: "Gerrit, hoeveel kinders is julle?"

"Net twee – ek en Frans."

Toe vind die juffrou uit dat dit op Belfast gesneeu het – Gerrit het dus nie gejok nie.

Daarna vertel Frans van die dominee wat op die plaas kom en daar speel nege kleintjies rond.

"Tannie, maar die Here (ekskuus, Suster!) het julle mildelik geseën!"

"Ag, nie juis nie, dis sommer my en Jan se lawwigheid!" Toe gesels Dominee baie erntsig met haar en sê hulle moet glad nie eens bymekaar slaap nie en desnoods moet Jan alleen bo in die solder slaap.

En sy sê: "Dis 'n goeie plan ! En as hy beginne verlang sal ek sommer bo by hom gaan slaap!"

Daarna volg die storie van die paartjie wat vier pare tweelinge gehad het.

"Suster," sê Dominee, "maar die Here het julle mildelik geseën!"

"Ag, ek weet nie so mooi nie, Dominee, pittykeer is daar niks!"

Ons ry verby 'n kwagga.

"Dit laat my dink aan die bul wat al die diere gevra het wat doen hulle op die plaas. Die haan maak die boer wakker; die hen lê vir Mevrou eiers, ens. Toe vra die kwagga vir die bul: 'En jy, wat doen jy?' En die bul antwoord (skies, Suster): "Trek net daai pajamas uit, dan wys ek jou!

Die volgende oopskop is van die oom en tannie wa na die nuwe, reuse-dorsmasjien kyk, en die oom sê vir haar: "Jy word darem nou baie goot – amper so groot soos daai dorsmasjien." Daardie aand in die bed raak hy vryerig en hy voel-en-wil-doen-en-soen-en-wil-doen en sy sê: "Jan Vannemerwe, as jy dink ek gaan hierdie ou groot dorsmasjien opstaart vir net een ou mielietje, maak jy 'n helse fout!" (Ekskuus, Suster, maar u ken seker nie 'n dorsmasjien nie!)

Daarna volg Danie Smuts se storie van die windpomp. Dit was baie droog op die plaas en oom Koos besluit om 'n windpomp te koop. Die nuwes was baie duur en hy koop toe ' n gebruikte Champion wat vreeslik geskree het – ook in die nag, maar oom Koos het nie omgegee nie, want met elke skreeu het hy
water gepomp. So lê oom Koos en geniet elke skreeu. Maar skielik is dit doodstil.

"Wat is dit Koos?"

"Ag, die ding staan alweer!"

"Wag, lat ek net reg lê!"

Kulula.com praat Afrikaans. Net nadat ons gaan sit het, kondig die kaptein aan: ”Welkom aan boord … en ‘n spesiale woord van welkom aan … oom Fanus!” en almal klap hande.

Toe was dit lekker. ‘n Halfuur later kom die kaptein ons groet. “Dit is my
seun, Frans. Wat is jou naam?"

“JC” (op Engels).

En toe sê Frans, soos blits: "Dan moet u en suster Hondisia mekaar baie
goed ken?”

Ons lag so dat kaptein JC sommer by ons kom sit.

Dis dié wat Suster summier afklim.