Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Slypskole | Workshops > Afrikaans > Toneel

Sanlam Aanlyntoneelskool: As jy die studeerkamer begin regpak


Gaerin Hauptfleisch - 2006-07-27

 


’n Bekende skrywer of ander martelaar het gesê dat dit baie lekkerder is om te geskryf het as wat dit is om te skryf.

En ek moet ruiterlik erken dat dit my ondervinding ook is. Ek is al male sonder tal vreeslik opgewerk en entoesiasties oor ‘n projek, net om ure vir ‘n blanko rekenaarskerm te staar. Ek lieg; gewoonlik soek ek verskonings om ander goed te doen – die staardery hou gewoonlik nie baie lank nie.

Soos ander skrywers (ek sou myself nou nie voordoen as ‘n regte skrywer nie – regie is my eerste liefde) reeds genoem het in die Toneelskool, is die tipe skryfwerk wat ek doen, gewoonlik gekoppel aan die sperdatum van die een of ander aard, gewoonlik ‘n fees of ander tipe feestelikheid. Ek moet nog die skrywer ontmoet wat sit en geduldig en getrou daagliks sy stukkie skryfwerk inkry

So, hoe doen mens dit? (Reg, eers tyd vir ‘n koppie tee.)

Soos die meeste dinge begin mens sekerlik met inspirasie, ‘n idee of ‘n storie.

Omdat ek gewoonlik die regie van my stukke ook behartig, kan akteurs, ‘n ruimte of selfs ‘n rekwisiet dien as inspirasie, en is dit ook gewoonlik gekoppel aan die storie wat ek wil vertel, want dis wat teater tog behels: die vertel van ‘n storie, met al die vertakkings wat dit impliseer.

Die gaan sit en begin is gewoonlik die moeilikste deel vir my van enige stuk skryfwerk, hoewel ander mense of skrywers dalk dieselfde kan sê van die middel of einde.

Vir my begin die begin gewoonlik so week of twee na die datum wat ek myself gestel het. Let op dat die datum wat jy vir jouself stel, bitter min te make het met ‘n regte sperdatum, want tensy jy die tipe selfbeheersing het wat jou toelaat om net een grondboontjie te eet en dan op te hou, is daar altyd dinge wat toelaat dat jy jouself uitstel gee met mooi beloftes van môre of die dag daarna.

Navorsing is natuurlik die ander heerlike manier om te verhoed dat jy begin, want dit neem weer die onus weg van daai eerste woorde op die papier en verplaas dit na ‘n soekenjin, boeke of ‘n biblioteek, wat sonder twyfel heerlike afleiding verskaf maar selde die stuk betyds klaar geskryf gaan kry.

Maar wag, hierdie bydrae gaan oor skryf, nie oor nie skryf nie.

Ek maal gewoonlik my idee, storie of gedagte in my kop rond vir ‘n hele tydjie voordat daar, as gevolg van bogenoemde redes, oorgegaan word na die eintlike skryfproses. Dit gebeur gewoonlik organies op die tydstip wat reg is, ‘n amperse magiese oomblik wat grotendeels deur my onderbewussyn bepaal word – of dis hoe ek graag daaraan dink.

My paniekerige teatergeselskap, wat nou al weke voortbeef op beloftes van ‘n teks, het meer kleurvolle uitdrukkings daarvoor. Die skryftydperk is gewoonlik ‘n koorsagtig besige periode met baie onderbrekings vir tee, krieket as dit aan is op TV, nog tee, netjies maak, regpak, nog tee en ander aktiwiteite wat die kreatiewe proses aanwakker. Ek wonder dikwels: Kan enige iemand in ‘n studeerkamer werk waar die boeke nie alfabeties gerangskik is nie, en dit volgens genre, taal (hoewel dit mos nie meer saak maak nie) en ander onderafdelings wat die proses sal uitrek?

(Al die gepraat van tee het my nou lus gemak vir tee – nou terug.)

Die voordeel wat ek het as regisseur, is dat die werk herskryf word soos mens repeteer, en dat jy ook onmiddellik kan sien wat werk of nie.

Die meriete van jou eie werk se regie behartig al dan nie is nie vir my om te debatteer nie; ek het al ander mense se werk geregisseer, maar ek hoef nou nie die regisseurs wat baklei om my werk te doen, weg hou met ‘n stok nie.

My werk is redelik gereeld komies van aard (of bedoel om komies te wees), en in baie gevalle ondersteun die teks en regie mekaar, want die style vul mekaar aan. Die teks word ook geskryf met my visuele prentjie in gedagte. Wat die akteurs daarmee gaan doen, is natuurlik altyd ‘n verrassing en in sommige gevalle vorm dit die karakter meer as wat ek oorspronklik geskryf het (ek sê mos ek is nie eintlik ‘n skrywer nie).

Dit het al gebeur dat ek begin repeteer het voor die stuk klaar geskryf was en dan word nuwe bladsye daagliks uitgedeel soos ons repeteer, sodat die storie ontwikkel in die repetisieruimte, en die akteurs die verhaal stimuleer soos wat die teks hul karaktervorming stimuleer. Ek dink dis ‘n bevoorregte manier om te kan werk, hoewel nie almal sal saamstem nie, veral nie die akteurs wat deel is van die eksperiment nie.

‘n Teks op papier beteken natuurlik niks nie (wel, totdat jy die een is wat ‘n teks op papier moet sit ...) en ek moet erken dat ek dit ontsaglik moeilik vind om teatertekste te lees. ‘n Teks word eers lewend in die akteur se mond, deur sy of haar handeling en die verskillende intriges in die stuk. ‘n Stuk kan eers werklik beoordeel word op ‘n verhoog, want dis waar teater lewe. ‘n Verhoog het sy eie ritmes en energie wat deur vele faktore bepaal word.

Om die praktiese sy van skryf aan te roer: Hoe gebeur dit?

Sorg dat jou stoel gemaklik is, want jy gaan redelik lank daar sit. Hou maar die eksterne afleidings tot ‘n minimum – iets wat inspirasie kan wees, kan ook net jou aandag aflei.

Die romantiese prentjie van die skrywer wat sit en skryf êrens in ‘n rokerige koffiewinkel of kroeg het vir my nog nie regtig dividende opgelewer nie, behalwe vir die een of twee vreemde karakters of satiriese observasies wat ek bygekry het, en die enkele koffie “high” of babbelas.

Die dae voor skootrekenaars was dit ook ‘n ewige gesukkel om ‘n lang genoeg koord te kry vir die rekenaar, en die terugstap huis toe was ‘n redelike pyn (veral as dit voor die reeds genoemde babbelas was).

Ek was nog nooit groot op pen en papier vir skryf nie. My handskrif is nie iets om huis toe oor te skryf nie en rekenaars maak redigering baie makliker, en autocorrect om karakters se name met simbole te vervang is ‘n redding.

Vir my is ‘n teaterteks karaktergebonde. Karakters is wat gehore aangryp. Karakters gaan jou sê vir jou sê. Goed, jy moet natuurlik ook iets te sê hê, anders kan jy net sowel maar tot die politiek toetree. August Wilson het by ‘n lesing in Grahamstad een jaar ‘n teks beskryf as ‘n soort bredie waarin jou idees gegooi word om dan eindelik ‘n teks te vorm.

As jy ‘n idee vir ‘n goeie karakter kry, gooi dit in die bredie; as jy ‘n interessante intrige uitdink, gooi dit in die bredie. (Dit klink meer literêr op Amerikaans; en ek raak nou net lus vir bredie.) Moenie bang wees dat die teks op papier gevorm word soos jy aangaan nie. Al die bestanddele saam vorm jou bredie en die geure en kleure kom eindelik harmonieus saam om die geheel te vorm – of dis die ideaal. Te min of te veel sout is altyd maar ‘n boggher en daai een eksperiment met beet was ‘n volslae mislukking.

Daar is praktiese aspekte wat ek in ag moet neem as ek vir teater skryf. Die aantal akteurs wat jy benodig, gaan ‘n definitiewe invloed hê op jou begroting. Uitspattige rekwisiete en stelbenodighede gaan jou begroting knou. (Mens wil dalk vra: Watter begroting?) Die lengte van ‘n stuk moet in ag geneem word. Jou teikengehoor moet bedink word. Die ruimte wat jy in gaan optree, moet in ag geneem word. Multimedia en ander tegniese effekte gaan jou begroting ruk. (O, daar is ‘n begroting?)

Die geluk vir ‘n skrywer is dat jy glad nie bogenoemde in ag hoef te neem nie – dis die regisseur se probleem.

Die geleentheid wat teater jou bied om kreatief met woorde, klanke en beelde te verkeer is wat dit so opwindend maak. Jy kan dinge sê sonder woorde, die onmoontlike laat gebeur, drome laat waar word, fantasieë uitleef, mense laat verwyder … Al wat jy moet eerstens moet doen is om dit op papier te sit.

Reg, dis weer tyd om die studeerkamer te gaan regpak, want KKNK se sperdatum is besig om nader te kom ...


<< Terug na die Sanlam Aanlyntoneelskool <<