Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Slypskole | Workshops > Afrikaans > Toneel

Sanlam Aanlyntoneelskool: Toneelskryf: geluk of tegniek?


Nico Luwes - 2006-07-27

 


Om te skryf oor hoe jy toneelstukke skryf, is miskien gevaarlik, want dan gaan jy skryf oor hóé jy skryf en nie by die skryf van die toneelstuk uitkom nie!

Kritiese analitiese denke verlam juis die spontane kreatiewe proses. Die twee perspektiewe is aartsvyande! Moet nie selfkrities wees tydens die proses nie! Ander mense sal oordeel.

Resep vir skryf? Ek twyfel. Miskien maniere wat vir die een mag werk en vir die ander geheel en al nie! Meer hieroor later.

Ek was gelukkig om deur die ATKV Kampustoneel te kon kom. My eerste poging was 'n uitdaging van AJ van der Merwe toe ek gekla het oor alles in Afrikaanse teater wat so "heavy" was.

Die komedie Graswewenaar het suksesvol gevolg en is deur streekrade opgevoer. Punt is, daar was 'n geleentheid geskep vir opvoering. Daarsonder sou ek en ander skrywers soos Reza, Deon, Charles en baie ander seker nooit begin skryf het nie! Nou is daar die Sanlam-kompetisie vir jong skrywers - gryp dit aan!

Ek kan maar net uit eie ondervinding praat. Ek het aangevoel dat ek ná die eerste komedie met 'n ernstiger stuk moes opvolg. Aku vang 'n ster se struktuur kort heelwat aandag - dit sien ek nou, maar die karakter het oorgeneem tydens die proses.

Met Die buite-egtelike ouma en My Liewe Meneer Malan het ek wel vooraf 'n soort raamwerk geskep van waar ek op heen is, en struktuurgewys was dit dalk meer bevredigend. En toe ek dink ek weet nou alles van komedie skryf, onderskat ek die gehore se intelligensie en pleeg die grootste pot gemors met Drie Bruide vir Jan Ramdam! Daai nag in die kombi terug was dit nag! Toe was ek versigtiger en het ek besef dat skryf 'n voorreg is en dat druk om te skryf die wreedste ding op aarde moet wees. Jy speel met die toekoms van regisseurs en akteurs! Maar ek het dadelik begin skryf aan Mure van Jerigo oor Suid-Afrikaanse oorlogsmisdade in Angola. Sensitiwiteit vir kritiek kan nie. Dis 'n leerskool. As jy nie mislukkings kan vat en wéér en wéér probeer nie, gaan jy niks leer nie. Rugbyspelers word elke Maandag uitgevreet of opgehemel en hulle vat dit. Wie's ons kunstenaars om te heilig te wees vir kritiek? Ek het daarna heelwat verdere komedies, musiekspele, tragedies en sosiale dramas geskryf en voortdurend geleer. Ook by objektiewe regisseurs en spelers.

Ek leer nog. Elke keer. Daarom probeer ek elke keer 'n ander genre. Maar ek skryf nie voordat die ding geskryf wíl word nie. Ek het vanjaar geen drama geskryf nie. Ek probeer 'n boek! In Engels. Trek by hoofstuk vyf en weet nie hoe dit gaan eindig nie, maar het 'n vermoede! Al lees niemand die boek nie, maak dit ook nie saak nie. Ek wil dit vir my skryf. Soos die meeste van die dramas ook. As ander mense dit wil opvoer, is dit 'n bonus, waarvoor ek baie dankbaar is, want die proses is nie voltooi voor die opvoering nie. Verkieslik deur 'n objektiewe regisseur. Ek het die fout gemaak om in my eie stukke te speel of regie te doen. Dit is 'n fout. Jy is nie objektief nie en gaan op 'n ego trip. Ek het vinnig en hard geleer. Is ek in die kuns vir myself en die groot ego, of is ek in diens van die teater en die gemeenskap waarvoor ek miskien bevoorreg is om iets voor te sê - as hulle wil luister?

'n Paar jaar gelede, toe ek nog slim was, het ek heelwat te sê gehad oor hoe mens kan skryf. Groot skrywers het gesê: "NEE, NEE, NEE! Daar's nie 'n formaat nie!" Tog wonder ek of daar nie 'n soort van "onbewustelike" formaat in die harte, senings, derms en koppe van alle skrywers ronddwaal nie. Vergelyk André P Brink en Jeanne Goosen. Is daar iets bespeurbaar wat neig? Ek dink tog. Terugskouend sien ek neigings in my eie werk waarvan ek onbewus was terwyl die stukke geskryf is. Ek weet ek neig na die dubbelsinnige in taal en romantiese karakters waarin die arrogante, manlike chauvinis dikwels die onderspit delf of ontmasker word deur 'n slim vrou in my komedies. Ek wéét. Want ek is getroud! In ernstige drama loop religie altyd op een of ander manier deur my dramas. Ek weet dit nou. Maar hoe begin die ding?

Ek kan nie begin voor ek die ding kry wat my kielie of krap nie. En my báie lékker kielie of hárd krap! Die kielie wil uitkom in komedie en die krap in die ernstige drama. Dis 'n voordeel as jy baie toneelstukke in jou lewe gelees, gesien en beleef het. Ek wil huil as mense vir my "toneel"-tekste stuur en die ding is geskryf as prosa! Ek bel sulke mense en vra hulle watter toneelstukke hulle gesien het. Dan vertel hulle jou van flieks. Geen toneel nie. Nog nooit! Niks! En daar is sulke lang inligtingstukke voorin die "toneel"-teks wat vir jou vertel waaroor die "drama" gaan. Dan ween ek! Hard! In hulle ore. Dan pla hulle my nie meer nie.

Maar ek wíl "gepla" word deur jong skrywers wat die teater ken, of ten miste bywoon. Want hulle kan. Ek het mense gepla toe ek jonk was. Aan André Brink van Rhodes 'n stel gedigte gestuur toe ek eerstejaar was by Kovsies. Hy't waaragtig geantwoord, met aantekeninge! "Tussen die twaalf pogings miskien een met meriete na baie skaafwerk!" Ek is hom vandag dankbaar. "Tussen die twaalf … miskien een …" Dis skryf se ou laai! Maar hy't my raad gegee!

My raad of "vermoedens" is soos weggooibare doeke. Gebruik of gooi baie ver weg! Maar dit gebeur in my kop. Vermoedelik vooraf. Soms dalk jare onbewustelik vooraf. Kom ons hou dit eenvoudig.

Wat is die issue wat my kielie of krap? Nie die storie nie, die abstrakte konsep. In Zollie was dit kinders op straat wat vasgevang is in een helse dilemma. Dit ontstel my dat mense so moet leef. Wat doen ek daaraan? Wat sit agter die kielie of krap? Menslikheid? Is Romeo en Juliet 'n liefdesverhaal? Tog nie! Dis 'n stuk ook vergifnis tussen twee families. Twee kiddies tjop af, maar Wikkelspies kom by sy hoofpunt uit en dis die punt. Mens kan nie in haat bly lewe nie. Dis tjol. So wys die haat én die liefde. Die moontlikheid van harmonie. Wikkelspies móés dit toon. Hy kon nie anders nie. Jeanne Goosen se Ons is nie almal so nie. Deon Opperman se Boesman my seun. Dit kan nie binne bly nie. Dit moet uit. Wat is jóú issue wat kielie of krap?

Ek moet ten minste 'n vermoede hê wat die stuk uiteindelik gaan sê. Anders is ek iewers op die Cerese Karoopad met die verkeerde voertuig en die verkeerde soort mense wat vreemde tale praat oor sake wat niks maar niks met die saak te doen het nie.

Wat gaan die beste wyse wees om by die vermoede uit te kom? Is dit 'n dans, 'n gedig, prosa, drama, 'n stuk musiek? As dit toneel is, watter soort toneel pas die saak? Lig, ernstig, tragedie, musiekspel? In watter toonaard klink die akkoorde? Teen watter tempo dans die verhaal? Is dit kopwerk, bloedwerk of dermwerk? Innerlike of uiterlike aksie en konflik?

Waar speel die ding af? Is dit die beste plek(ke)? Tydperk? Tyd? Winter of somer? Oggend of aand? Weer? Hoekom? Hoe dra dié dinge by tot atmosfeerskepping? Wat kan ek wys deur dekor, props en klank wat nie gesê hoef te word nie? Ek vind ons gebruik die elemente nie genoeg om die verhaal in te vou nie. Kyk wat maak Tsjegof net met seisoene in Kersieboord!

Realisties of gestileerd? Hoekom? Waar gaan dit opgevoer word? Toer? Begroting? Vir wie? Wat sê Tyd oor Styl en Struktuur? Wie's die mense? Ouderdom? Emosionele agtergrond? Geslag? Ras? Religie? Politiek? Finansies? Voorkoms? Klere? (Hoekom?)

Wat is die verskillende individue se agenda in en sienings van die saak waaroor dit gaan? Hoe meer opinies hoe ryker geskakeerd die karakteruitbeelding en die "behandeling" van die saak waaroor dit gaan. Enige Tsjechof-drama is 'n wonderlike leerskool in karakterskepping met agendas! Kersieboord! Die Seemeeu nog beter!

Op hierdie stadium is nog net gedink bewustelik of onbewustelik. Ek vermoed die teks kan hom-/haarself begin skryf. Die reis is die begin na 'n vermoedelike eindbestemming. Presies hoe daar uitgekom gaan word, wie dalk af- of opgelaai gaan word, wat alles op die pad spontaan gaan opdaag by die skrywer, dit weet ek nie. Die gebeurtenisse sal uiteraard karakters verander, sypaaie gaan voorkom, ens.

Solank ek net nie rigied bly by die reisplan nie, maar darem naastenby in 'n rigting bly beweeg en nie die einddoel uit die oog verloor nie. Daai verleipaadjie is dalk die volgende teks! Sterkte met die reis!

 

<< Terug na die Sanlam Aanlyntoneelskool <<