Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Slypskole | Workshops > Afrikaans > Toneel

Sanlam Aanlyntoneelskool: Weet waarmee jy te doen het


Marthinus Basson - 2006-07-27

 


Gereeld staan ek voor die 36 meter van my boekrak en probeer besluit wat ek weer moet lees voor die dood my die kans ontneem.

Miskien Patrick White se Vivisector vir ‘n 13de keer? Petronius Arbiter se Satyricon vir ‘n 4de? Al die baie gedigte van WH Auden? Liewer my grysblou Kinderbybel met die mooi prentjies op elke teenblad wat my eerste bekendstelling aan skilders soos Rembrandt en Edward Burne-Jones was? Of die verflenterde Superman en Metal Men Comics wat ek vir ‘n tiekie in Melkbosch se kafee gekoop het op Sondagbesoek aan ouma? Ma se Lekkerkos met die aantekeninge? Tante Sitter se naaldwerkboek waar jy alles kan leer van Assisiwerk en Belgiese kloskant, Spaanse swartwerk, Franse knopies, satynsteek, stampsteek, en komberssteek? Of dalk die antropoloog professor Michael Beezley van die Universiteit van New York se Encyclopedia of Human Sexuality? Altyd ‘n plesier daardie een.

Maar die paar meter, reg bo, middel van my boekrak slaan ek omtrent altyd oor. Mens moet op ‘n stoel klim om hulle by te kom, die versameling van triestige dun bundeltjies, vergeel deur die jare, sommige nog onoopgemaak na ‘n sogenaamde winskopie op ‘n afslagrak.

Vra ek myself af: Hoekom is ‘n toneelstuk op ‘n rak so ‘n dêm terneerdrukkende ding?

Anders as ‘n skildery wat rondhang en altyd ‘n lewe het, of ‘n roman wat ‘n lewe vir hom oopskop in jou verbeelding, of ‘n stuk musiek wat deesdae bloot met die druk van ‘n knoppie kom aanmeld, vra ‘n toneelstuk om te lééf. En vir ‘n toneelstuk om te leef vra dit ‘n teater, akteurs, ontwerpers (een vir stel en kostuums, een vir die ligte), verhoogbestuurders, klankapparaat en ‘n klankoperateur, dan nog kostuums, stelle, vervoer, verblyf, vlugte, bemarking, geld en tyd. Bloedsweet. ‘n Regisseur. En nog geld. En nog meer as dit …

‘n Toneelstuk hier sal net die planke haal deur die goedgesindheid van teaterbesture, borge met voorskrifte, feesdirekteure met voorkeure en departemente van kuns en kultuur met partypolitieke agendas. En o ja, dan natuurlik nog smaak van die publiek.

So as skryf en skilder ‘n vorm van masturbasie is, is teater ‘n bra publieke orgie.

‘n Toneelstuk verdien om stof te vergader. Dit het die Amerikaners tog nou reeds deeglik besef. Vra enigiemand daar wie skryf nog drama vir die verhoog en hul kyk jou skuins aan. Daar is tog net soveel meer geld in televisie, en wie wil nie in ‘n film wees nie? Soaps verskaf jarelange werk teen fantastiese betaling en jy hoef boonop nie diep te delf om goud raak te boor vir jou een karakter per soap nie. OK …

Maar af en toe val daar een van daardie dun tekste van my boonste rak af, flap in my rigting en dwing hom aan my op.

Probleem: dis baie moeilik om ‘n toneelteks te lees.

Jy moet karakters leer ken uit wat hul sê en soms uit wat hul doen. Geen swiepende beskrywings van landskap en wolkehemels vir tekstuur soos in ander literatuur nie. Geen flikkerende lig wat glim op nat strate en opwellende musiek soos in die movies nie. Geen goeduitgevoerde beweging van ‘n kamera om jou ‘n aanduiding te gee van waarna om te kyk in jou soektog na die behoeftes van die teks nie. Net woorde in ‘n mimimum-ruimte ingedruk sonder visuele aanduiding van toonaard, ritme of emosionaliteit. Dit vat harde werk om al die drade los van mekaar te hou. En nes jy dink jy hét die teks nou, onthou jy, kwit, tussendeur moet jy ook die skrywer agter sy teks leer lees. Dis nou tussen die lyne, daardie oop, wit spasies waarin, as jy nou nie te veel respek het vir jou boeke nie, jy aantekeninge sou kon maak, want sien, die Pinters en Pieters vergryp hulle miskien aan styl of -ismes, of het moreel-politiese agendas, of sommer net geld of roemlus.

Mens sê ‘n stryd met die flappende teks aan soortgelyk aan dié van Jakob met die engel. Of was dit Esau? Of …?

Nota aan self: Volgende keer haal jy die Kinderbybel van die rak af.

En die tekste op my rak is natuurlik die goeie tekste. Die tekste wat hul produksies en die tyd oorleef het. Hier sit die grotes gestrand: Plautus en De Vega, Lessing en Dumas, Shepard, Bond, Brecht en Müller. Ongesien, ongehoor te ruste gelê bo-op my rak onder stof van ‘n dik laag Suiderland.

Dan is daar is nog derduisende tekste wat met dieselfde liefde gekraam is, wat ongelukkig meestal nie die papier werd is waarop dit gedruk is nie.

Daar is die teks wat ‘n verwerking is van ‘n roman.

Of ‘n teks wat ‘n movie wil wees.

Of die teks wat alles sê wat reeds gesê is en dit nie weet nie.

Of die teks wat so slim is dat dit onopvoerbaar is.

Of die teks wat so groots is dat geen opvoering dit kan ewenaar nie.

Die teks wat nie weet wat om met die verhoog te doen nie.

Die teks wat nie om regie vra nie.

Die teks wat so van sy tyd is dat dit vergaan terwyl dit bestaan.

Die teks wat so ‘n sukses is dat jy jou skaam oor hoekom.

Die teks wat teer op iemand se selfmoord of literêre belang.

Die teks wat op geen ander manier gedoen kan word nie.

Die teks oor hoe goed dit is in die Nuwe Suid-Afrika.

Die teks oor hoe sleg dit is in die Nuwe Suid-Afrika.

En dan, ai God!

Die teks wat ‘n prys gewen het en opgevoer moet word.

Maar moet my asseblief nie te ernstig opneem nie. Eintlik is ek maar net ‘n verwerker van ander se idees.

Eintlik is daar ‘n ander rede hoekom ek daardie meter of twee van my boekrak vermy. Ek vind dit ongelooflik terneerdrukkend dat daar soveel stukke bestaan wat ek as regisseur nooit die stryd sal kan aansê nie. My tyd raak min vir Hamlet en King Lear. Faust sal ‘n pypdroom bly en Wedekind, Ibsen, Norén en Strauss se rolverdelings is te groot en onbekostigbaar vir ‘n skoolsaalverhoog op ‘n fees. Dis te lank ook. Almal langer as ‘n uur en ’n kwart.

Ek wonder soms of ‘n mens jou enigsins ‘n regisseur kan noem as jy nie baklei het met die grotes en miskien diep verwond, maar lewend, uit die stryd kon tree nie. Letselweefsel is per slot van rekening sterker as vertroetelde vel. Want ‘n goeie teks het ook ‘n ander baie belangrike funksie. Dit is opleidingsmateriaal. Dit verryk en verdiep die kuns van akteur-wees, regisseurs word uitgedaag om ‘n nuwe aar in die bekende oop te boor, en ontwerpers om verrassende kontekste te skep waarin dit kan plaasvind. So word die publiek die geleentheid gebied om hul grense te verskuif en wen daardeur die Aardvark vir grensverskuiwende-houding-ten-opsigte-van-verwagtinge-oor-wat-‘n-lekker-show is. En hopelik sal voornemende skrywers weet waaraan om hulle te meet. Sien meer as vyf stukke by ‘n fees en mens kry soms die gevoel die lat is so laag gestel dat onderdeur ‘n baie groter uitdaging sou wees …

Ek lees per jaar in die omtrek van sewentig voorleggings vir die keurkomitee waarin ek dien. Meestal val die nuwe tekste in een van die bogenoemde kategorieë. Natuurlik sal daar altyd die uitsondering op enige van my vooropgestelde idees wees, goddank, en wanneer dít gebeur, is dit bleddie opwindend, maar dit bly vir my baie duidelik in die meeste gevalle dat die skrywers selde bewus is van die omvang en moontlikhede wat teater bied.

Stel jou voor: ek staan voor my boekrak en kies om weer Tant Sitter se naaldwerkboek te lees. En met my kennis van knoopsgatsteek trek ek Groote Schuur toe en bied my dienste aan om teflon aan slagare te heg met ‘n hartomleiding.

Weet waarmee jy te doen het.

Weet ook dat jy uit comics, veral in ‘n taal wat jy nie verstaan nie, meer sal leer as uit ‘n regiehandboek. Dat kloskantwerk jou meer sal leer oor tegniek en aandag aan detail as Jackson Pollock, dat daar meer drama in een hoofstuk van die Bybel is as sewe jaar se Days of Our Lives, dat die verhoog ‘n poëtiese ruimte is gelykstaande aan die versamelde werke van Auden, dat ‘n ensiklopedie oor seks jou meer sal help met Hamlet as ‘n dissertasie daaroor, en dat ‘n resep met ‘n so klein toevoeginkie van Ma se hand jou dalk kan leer en inspireer oor hoe om ‘n toneelstuk te geur.

Die verhoog het meer beperkings as vryhede, maar juis daarin lê sy sjarme, sy uitdaging en verlossing van die slaggate van naturalisme en realisme wat sekerlik beter geskik is vir televisie en film. En eeu na eeu vind opwindende teatermakers steeds metodes en tegnieke om daardie ruimte opnuut te laat leef met die onverwagte. Maar vernuwing en kwaliteit kom net uit moeite, sweet en veral kennis en insig. Die groot vernuwer van dans, Pina Bauch, se dansers kan net doen wat hulle doen omdat hul die rigiede agtergrond van klassieke ballet het. Nie dat jy dit sal dink as jy hul werk sien nie. Robert Wilson se spel met visuele metafoor is gesetel in skadu- en poppespel, teaterkuns so oud soos die berge. Die gevierde Duitse regisseur Frank Castorf se anargistiese produksies van klassieke werke het veel gemeen met die Commedia del Arte.

Ons, daarenteen, neem Egoli as maatstaf.

Nie dat ek dit nie verstaan nie. Waar is die alternatief? Waar is die geselskappe waarbinne akteurs hul kuns kan ontwikkel en verdiep sodat hul meer komplekse en genuanseerde werk van skrywers moontlik kan maak? Waar is die geleentheid vir ‘n skrywer om te faal binne die raamwerk van ‘n repetisieruimte voordat sy werk ‘n oeps word voor ‘n feespubliek? Waar is die volgehoue borgskappe vir die atlete van die gees?

Ons ween as die Bokke (met hul miljoene) ‘n wedstryd verloor. Die land sny sy polse. Kulturele verarming, daarenteen, is so aanvaarbaar as stygende petrolpryse. Ons, die kunstenaars, moet maar net meer verdien om dit te kan bekostig ...

Maar soms is daar manna in die woestyn.

Wat ek as die tweede fase van my loopbaan sou beskryf, dit wil sê die tydperk ná die Streeksrade (wat maar altyd iets versigtigers wou hê as wat hul gekry het, maar tog die werk van Heiner Müller en Botho Straus vir my moontlik gemaak het, iets wat die feeste tot dusver nog nie kon doen nie), is tot geboorte gedwing deur die kompleksiteite en uitdagings van Breyten Breytenbach se Boklied, ‘n grootse werk, goed gehoon deur kenners en publiek, wat weer en weer uitdagings aan regisseurs en spelers sal stel. Dit wil sê as iemand ooit bereid sou wees om ‘n ander regisseur en span spelers die geleentheid te bied. Wat bedoel ek daarmee? Uit die titaniese stryd met Boklied moes ek ‘n nuwe verhoogtaal ontwikkel, en daardie halfgebakte peer kon eers tot sy reg kom met stukke soos Ek, Anna van Wyk en AARS! Sonder Boklied, met al sy tekortkominge as produk, weet ek sou ek ander, versigtiger en meer voor die hand liggende keuses gemaak het. Of bloot te veel respek vir lewende skrywers gehad het om te doen wat ek moet of lus het en sodoende my eie kreatiwiteit gestriem het. Dit het my wakker geskud.

‘n Teks is net heilig tot op ‘n punt. Daarna vra – nee, eis – teater iets anders. Iets meer.

‘n Goeie teks is onvernietigbaar. Dit maak moontlikhede oop. Dit laat ruimte vir interpretasie. Dit verander sy betekenis van eeu na eeu sonder om self verander te word. Dit kan gedekonstrueer word en dit oorleef. Dit praat met die hart en die verstand. Dit is goeie klei wat deur die spesifieke pottebakker omvorm kan word na behoefte. Dit transformeer die mense wat daaraan werk en die publiek wat daarna kyk.

Dit mag stof vergader, selfs op my rak, maar dit is ‘n tydbom.

Verhoë is vreemde plekke. Vra enigiemand wat laataand deur ‘n leë teater loop. Die leegheid is intens. Dis meer vreesaanjaend as ‘n begraafplaas om middernag. Daardie ruimte eis ‘n intenser lewe en meelewing van diegene wat sy voet daar durf waag. Dit is waar alle vorme van kuns, woord, ritme, beweging, kleur en betekenis saamgesnoer word tot eenheid.

Dis ‘n ruimte wat enigiets moontlik maak, maar dit behoort nooit aan jou nie. Jy reis net daardeur met jou goed en jou insig. Daarna pak jy jou flaters en korale op om plek te maak vir iets en iemand anders.

Maar dis ‘n heilige ruimte wat hom verbind het aan die hergeboorte van idees.

En ‘n Teks is die bewysstuk van daardie vervlietende bestaan. 

 

<< Terug na die Sanlam Aanlyntoneelskool <<