Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Slypskole | Workshops > Afrikaans > Toneel

Sanlam Aanlyntoneelskool: Inspirasie is oral. As jy lewe, het jy iets om te sê


Jeanne Goosen - 2006-07-27

 


Laat ek my met hierdie skrywe my by Afrikaanse drama bepaal, wat die stand van sake betref en hoe ek dit ervaar.

Hoe dit gaan?

Kan nie kla nie. Dit gaan goed met drama – veral óp kunstefeeste en wééns kunstefeeste. Ons het feeste sielsnodig. Tienduisend toeriste kry die geleentheid om hulle geliefkoosde sterre in lewende lywe te sien optree en die mediadekking is goed – wel, beter as vóór 1994.

Sondae gee Rapport ‘n oorsig. Sterre – veral sepiesterre – se gewildheid word gesplash, en amok, as daar amok was, sorg vir die sout en peper. Lesers landwyd kan verneem watter dramas baie aandag getrek het. Ironies genoeg, egter, word die dramaturg van die betrokke stuk(ke) selde vermeld.

Maar dit maak seker nie saak nie, wat. Dramaturge is teen hierdie tyd al gewoond daaraan. Hoofsaak is, elkeen gaan huis toe met ‘n paar daalders, dalk ‘n prys of twee, en daarna begin die groot gewag. Vir die volgende fees, of wie weet – dalk volg daar ‘n paar besprekings van teaters op die platteland.

Alles hang af van die gewildheid van die sterre, die publisiteit, en natuurlik die bemarking. En dikwels hoe “snaaks” ‘n stuk is. Afrikaners se boodskap is duidelik: ons is plesierig, ons wil lag, want politiek, die bakleiery oor die Afrikanerdom, die Kerk, misdaad en bla-bla-bla het ons vuisvoos.

Dis natuurlik nie heeltemal waar nie. Afrikaners wou nog altyd (net) lag – van my ma-hulle se jong dae al af met Oom Kaspaas, Die Mielieblaarklub en koffiehuiskonserte. Met lag op sigselwers is daar seker niks verkeerd nie. 'n Goeie klug het beslis sy plek – nes 'n mooi gesig en 'n mooi lyf. Mits ... nouja ...

En dit bring my by die sepiesterre – al is die onderwerp al holrug gery. My sê wil ek egter sê, en veral dat hierdie ou tante nie 'n knorrige, suurgat is met 'n sepiesterkompleks nie.

Daar is meer as genoeg speelvaardigheid daar, maar hopeloos te min geleenthede vir hierdie spelers om in, laat ek maar sê, stewiger stukke met meer aan die lyf hulle vernuf uit te leef. En paternalisties is ek nou ook nie.

My opdrag is om 'n mening oor die stand van dramaturge te kerm of te jubel, maar ek kom daarby.

Daar is byvoorbeeld al vir my gesê wanneer ek 'n jonger speler aanbeveel vir 'n rol, dat dié te “onervare” is. Ek moet in ag neem dat my rolle “moeilik” is en spelers met meer “emosionele volwassenheid” verg.

Ja, seker, maar ook 'n groot Nee. In die ou streeksrade-opset het die meeste spelers al voor 30 vir 'n Shakespeare of Tsjechof opgetree. Met 'n bekwame regisseurshand en leiding, glo ek, sou heelwat sepie-donsdosies met sukses 'n Romeo en Juliet kon aandurf.

Maar tye het verander. TV het gekom om te bly en die publiek dikteer. Hulle wil ligter vermaak hê – uit en gedaan! Lokettreffers. Dis seker goed vir box-office, maar dit werf nou nie eintlik permanente teatergangers nie.

Eintlik is dit ironies: die voorspelling dat TV die teater gaan bedreig en selfs dooddruk, het nie bewaarheid geword nie – TV lok nou eintlik groot teatergehore. Die publiek besoek die teater om televisie te sien. Die uitdaging vir spelers is om die publiek daarvan te oortuig dat lewende teater 'n ander ervaring is. Sonder om 'n antagonistiese houding jeens televisie in te neem, kan 'n mens gerus die Britse aktrise Penelope Keith aanhaal: “'n Mens is dankbaar vir enigiets wat mense teater toe lok. Jy doen jou heel beste vir hulle.”

Maar wat is die situasie van die skrywer van speelbare stukke vandag? Hel, waar begin 'n mens?

Om mee te begin, waag geen uitgewer eintlik meer sy hand aan die publikasie van teaterstukke nie. Daar is eenvoudig net nie 'n mark daarvoor nie. En voordat 'n mens te veel begin kla daaroor, dit is 'n wêreldwye tendens. Die gevolg is dat die meeste dramadepartemente hulle op reeds gepubliseerde werke moet beroep. Intussen word daar egter baie speelbare stukke geskryf en is daar beslis nie 'n tekort aan geesdriftige aspirant- en gevestigde skrywers nie. Daarvan getuig die talle inskrywings wat die inisieerders van die Nagtegaal-Tekspryse en die Sanlam-dramawedstryde jaarliks ontvang.

Van daardie tekste wat ontvang word, is van so 'n hoogstaande gehalte dat 'n mens lirieke kan uiter wat Salomo se Hooglied oortref. Wat word daarvan? Hoogstens vyf haal die verhoog. Die opkoms is nóóit na wense nie, want die dramaturge is nie bekend (genoeg) nie.

Jammer, maar die bemarking onder veral die potensiële teatergangers is nie na wense nie. Die spelers – dikwels studente – het ook nog nie Rapport of Die Burger of Beeld se Bladsy Drie gehaal nie. Ai! Wat word jaarliks van die bruikbare tekste?

Van hulle – onder leiding van 'n kundige hand – sou 'n lewe kon hê, maar as die wenner sy een aand op die verhoog had en sy prysgeld ontvang het, is dit dikwels Totsiens Jannie! Uitgewers stel nie belang nie.

Maar toemaar, daar is lig aan die einde van die tonnel – en dis nie dié van 'n voortsnellende enjin nie. Nommer een is dit Praag wat nou Zollie, verlede jaar se Sanlam-pryswenner, publiseer en uitgee? Watter puik werk dié van Nico Luwes en watter vernuftige spel deur die Arama-studente van die Vrystaatse Universiteit. Dit WAS 'n tour de force!

Goeie mens is goeie mens. Die uitgewery Genugtig! kom ook vanaf 2006 vorendag met gepubliseerde dramatekste van gehalte, en teen 'n bekostigbare prys. Die belofte is dat daar met kundigheid wat die publikasie betref omgegaan sal word.

Dít dan wat die goeie nuus aangaan.

Terug by die huis. Die riglyne wat hierdie Sanlam/LitNet-Toneelskool aan my gee om oor te skryf, raak aan die senu-entpunte. Byvoorbeeld: “Waarom juis teater kies bo ander genres?” “Die sterk punte en die struikelblokke van die media”.

Struikelblokke? Swak bemarking is beslis 'n faktor. 'n Ander een is 'n cast en regisseur(s) met te veel hooi op die vurk. Dit help nie die rolverdeling en die regisseur(s) is beroemd, bekwaam en gesout, dat jou drama vol sale trek en dat daar 'n hengse aanvraag daarna is as hulle te besig is om dit verder te neem nie. Die speelstuk waaraan jy so begeesterd gewerk het, vrek net daar.

Kan daar nou 'n groter frustrasie wees vir 'n skrywer? Jy maak dit en jy maak dit nie! Jy boet in alle opsigte in met jou lus geblus. Kan 'n mens verkwalik word as jy die gevoel kry dat hierdie klompie erkendes met wie jy saamwerk, hoofsaaklik ingestel is op openingsaande se limelight? Overgesetsynde, 'n gejaag van een okkasie na die ander? Is daar dalk 'n onbewuste of dieperliggende vrees dat hulle populariteit mag taan as hulle nie betrokke is by elke enkele flikkerlig-okkasie nie? Weet nie.

Kommunikasie bestaan feitlik nie. Of dan net totdat daar 'n droogtetydperk kom en jou werk meer in aanvraag kom. Jy is mos omstrede en jou werk trek gehore.

Op 'n ander, hopelik ligter noot: idees vir inspirasie. Skryf daaroor, vra die Toneelskool.

Inspirasie is oral. As jy lewe, het jy iets om te sê. Ek het ook vroeg al – op skool reeds – 'n onderwyser se raad gevolg: absorbeer en observeer. Sonder aansiens des persoons. Dialoog volg (dan) spontaan en natuurlik. Taal is, soos Kierkegaard sê, situasiegebonde.

Ek verstaan nie waarom dialoog so dikwels in 'n geskrewe teks sneuwel nie; waarom dit lomp en ongeloofwaardig aandoen nie. Ek verstaan geen skrywer se probleem daarmee nie. Weer eens: absorbeer en observeer. En as jy dit sinvol kan ervaar, kan jy dit sinvol weergee.

En om kort mette te maak met nog 'n vraag, nl: Hoe werk karakterisering? It boils down to the same thing: observeer en absorbeer. Laat dit toe dat dit wat jou inspireer, die “hoofrol” speel. Moenie tussenbeide kom nie. Laat dit, of hulle, wat jou begeertes is, hulle rolle uitspeel. Redigering kom heel, heel laaste.

Die rol van spanwerk in teater tussen teksskrywer, regisseur en speler: Hoe neem jy afskeid van 'n teks? Dis ook 'n vraag van Die Sanlam/Litnet-Toneelskoolspan.

Die spanwerk is verruklik. Skryf is 'n baie geïsoleerde taak. Die uitruil van idees, selfs met meningsverskille, verbreek daardie afsondering. Dit is altyd, altyd verrykend en uiters leersaam. Afskeid van 'n teks? Ek was nog altyd in die bevoorregte posisie dat ek volle vertroue kon stel in die regisseur en haar/sy span. En ek het nog nooit heilig gevoel oor 'n teks van my nie. Die span(ne) met wie ek tot dusver kon saamwerk, het dit wat vir my van waarde was, tot lewe kon bring. Dit was altyd 'n moerse katarsis en ek bemin hulle met die sout van my niere. Sela.

Dis goed om idees uit te ruil – selfs al ontstaan daar soms konflik. Teater in Suid-Afrika lewe. Dit borrel en dis mooi en goed. En dit moet ten alle koste sonder enige benepenheid of bevangenheid voortduur, want stilstand beteken agteruitgang.  

 

<< Terug na die Sanlam Aanlyntoneelskool <<