Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Slypskole | Workshops > Afrikaans > Toneel

Sanlam Aanlyntoneelskool: Wat seuns, meisies en kunstenaars wil weet


Adriaan Meyer - 2006-07-27

 


Op ’n sekere ouderdom begin jy agterkom dat jy besig is om te verander. Jy kry vervulling op behoeftes wat jy nooit voorheen gehad het nie, en jou brein mik-mik alewig in ’n sekere rigting. Jy begin wonder oor daardie wit bladsy wat so skaamteloos naak daar lê en wag vir jou pen. En dis al. Die einde. Jy bly die onvolwasse tiener wat nooit die moed bymekaargeskraap het om jouself te ontbloot voor ’n ander nie.

 Dít is die kunstenaar in baie van ons. ’n Lewe van nievervulling. ’n Definitiewe begeerte ontstaan om te skep, om geboorte te gee aan ’n nuwe wêreld, maar jou kunstenaar gaan nooit oor tot die daad nie. Soms dink jy daaroor, skep fantasieë waarin jy jou pen genadeloos manipuleer in ink, die regte woordjies fluister en jou lesers laat snak na hul asems. Die wit laken wat jy moet omruil voordat Moeder of die bediende dit sien, is egter geen substituut vir die wit bladsy nie.

Daar is wel dié wat uiteindelik die moed bymekaarskraap, en die ervaring blyk so wonderlik te wees, dat ons orals in die hoeke van speelgronde, kafeterias en gange skinder daaroor. Die kunstenaar praat groot oor sy ervaring, sy gehore swymel of twyfel.

Die vervuldes kan hulle gaan vestig in die voorstede, veilig met hul salaris, pensioen en twee labradors. Maar daar is dié wat dit as beroep kies! Een van die oudstes! Hulle moet hulself uithuur in ongure omstandighede om te oorleef. Om dramaturg te wees, is so ’n beroep – ons was nog net nie slim genoeg om ons telefoonnommers agter in koerante te adverteer nie.

Kliënte besoek skrywers vir die spesiale gunsies wat hulle bied, maar dit eindig nie daar nie. Dit is ’n proses tot en met die uiteindelike geboorte – daar is g’n konsep soos “veilige kuns” in dié rooilig-distrik nie. En ai, as ek maar nege maande gehad het ...

Maar nou het jy gekies. Geen selfrespekterende regsfirma gaan die gekose beroep op jou CV goedkeur nie. Jy het die wit bladsy tot jou ewig ontwykende beminde aanvaar en moet daarvan werk maak. Jy kan nie meer soos die verwarde tiener alewig dronk word om die nodige moed te skep nie. (Is dit nie maar net die innerlike Calvinis wat ons probeer stil met drank nie?) Om te oorleef sal jy jou bates in daardie venster moet uitstal en potensiële kliënte moet nader róép. En dit is jou verantwoordelikheid om jou kuns te vervolmaak, sodat hulle sal terugkom vir meer.

Aan die begin was daar niks

Om die kreatiewe proses uiteen te sit is dus nie slegs esoteriese spekulasie nie, maar ’n kwessie van oorlewing en ekonomiese lewensvatbaarheid. Jy moet probeer bepaal wat die mees optimale omstandighede vir die skeppingsdaad is. Hoe reproduseer jy die Big Bang? Hoe, wat, waar, wanneer, hoeveel ... en met watter musiek in die agtergrond?

Die laaste vraag het ek uiteindelik beantwoord: géén musiek nie. Die soetsappige idee om die “bui” van die musiek te onderskep en sodoende self kreatief gestimuleer te word, werk klaarblyklik vir sommige (daar is geen definitiewe reëls hier nie – ek het ook eens so geglo), maar dan is jy nie besig om self te skep nie. Met die luister-aksie word ’n groot fakulteit van jou brein afgestaan aan die absorpsie van ’n ander se kunswerk – jy is nie besig om al jou aandag aan jou eie projek te skenk nie.

Met die stroping van indringers soos musiek kom ons af op die kern van die reëls en regulasies van die kreatiewe proses: dóén dit net. Gaan sit en gaan doen dit, moenie wag vir die muses om jou te kom aansteek met ’n mitologiese plaag van inspirasie nie! Niks gaan gebeur sonder ’n bietjie wrywing tussen pen en papier nie. Hoe gaan jy verbeter as jy dit nie eens die eerste keer wil waag nie?

Jy moet kan gaan sít en werk: skakel die rekenaar aan en vát dit aan, want die muses besoek slegs dié wat hulself beywer. Hoe anders gaan jy jou sappe aan die vloei kry as dit nie gestimuleer word om te produseer nie? Wérk daai orgaan! (Ek word herinner aan die grappie oor die man wat tydens sy sóveelste gebed om die Lotery te wen, uiteindelik ’n antwoord van Bowe ontvang: “Seun, help ’n bietjie Hier! Gaan kóóp net ten minste ’n kaartjie.”) Lê in die bad, luister musiek, kyk prente ... vertroetel jouself nes jy wil. Maar onthou net dat daardie wit bladsy ’n oujongnooi gaan word as jy nie jou pen optel nie.

Dit is eers ná die eerste tree gegee is dat werklike inspirasie hom inderwaarheid manifesteer. Let op hoe jy, nadat jy ’n nuwe projek aanpak, ewe skielik orals rondom jou konneksies begin raaksien met jou eie idees. Informasie stroom by jou in; dit is asof die hele wêreld skielik rondom hierdie spil idees van jou draai. Jung het voorwaar ’n punt beetgehad toe hy opgemerk het dat alles verbind is en slegs die konneksies daarvan soms sigbaar is.

Dit is waarom ek glo dat navorsing so ’n belangrike deel van elke proses uitmaak: om jou blootstelling aan hierdie sinchronisiteit te verhoog. Gaan sóék daardie goeie idee. Die diepte van jou navorsing mag wissel – moenie ’n tesis daarvan probeer maak voordat jy by jou kreatiewe proses uitkom nie! ’n Titel op Google laat dalk iets vonk in jou; ’n kennismaking met die verskeidenheid bronne is reeds aanduidend.

Hierdie sinchronisiteit manifesteer ook in jou eie lewe: persoonlike ervaring is deur die eeue al ’n ryk bron om uit te put. Die kunstenaar se eie verbintenis met ’n kunswerk neem soms “skakerings” aan, en die veelvlakkigheid wat die outobiografiese insluiting tot gevolg het, is interessante stof om mee te werk. (So, byvoorbeeld, glo ek dat die skeppingsdaad juis jou eie mortaliteit onderstreep – met elke begin is daar ook ’n einde – en dat die skrywer se masturbatoriese selfinsluiting in die teks dikwels ’n poging tot onsterflikheid is.)

Binne die postmodernisme gebruik jong skrywers hierdie sinchronisiteit met ander tekste dikwels as ’n steunpilaar vir hul eie skeppings. Dit dui enersyds op die skrywer se behoefte aan ’n ondersteunende mentor én ’n teiken vir ontrafeling. Met oom Willem aan die hand stap jy deur Hamlet en knip dit stukkend. En tog, Hamlet was óók ’n herskrywe, van ’n teks wat onder vakkundiges bekend staan as die Ur-Hamlet (toegeëien aan Thomas Kyd). En in Hamlet self herskryf ons jong Deense held ’n klassieke stuk, nl Die moord op Gonzago.

Die portret van die kunstenaar as ’n jong hond: dit is goed vir sy ontwikkeling om sy gô uit te speel met die takelwerk van postmodernisme, en ander se speelgoed. Maar hy moet gou grootword.

As ek maar nege maande gehad het ...

Om te skryf is maar ’n tydsame proses, en nie ‘n proses wat ek noodwendig weet hoe om aan te jaag nie. En Tyd is Geld. Ons sperdatums word aangepor deur feeste en kompetisies se sluitingsdatums. Weg is die “goeie” ou dae van staatsubsidies en salarisse om een maal ’n jaar ’n teks te produseer. Daar is geen TRUK, geen SUKOVS, geen KRUIK meer om van te drink nie. Die staatsgeld verdwyn nou op andere wyses en ons as Suid-Afrikaanse kunstenaars sit vandag met die realiteit dat, om ’n bestaan te kan maak, die slaafse navolging van die Wet van Transvaal ’n vereiste is.

Maar ’n tekort aan tyd is nie altyd die vyand nie, ás jy kan leer om dit wat tot jou beskikking is, reg in te span. Daar is slim maniere, en dom maniere. En as jy dom is, gaan jy suffer. Daarom, wanneer ek besig is om te konsepsualiseer en ’n uitspattige idee lig sy kop, haal ek dit uit, speel bietjie daarmee, blaf, kyk of dit nog lewe, blaf, maar bêre dit uiteindelik in die onderste laai van my liasseerkabinet: O-Z. Die jong hond moet grootword.

Natuurlik is dié fantasievlugte ’n belangrike onderdeel van enige proses (kreatiewe waansin is heerlik – ás dit werk), en as die dramaturg dit regkry om die essensie daarvan vas te vang, lei dit dikwels tot wonderwerke op die verhoog. En dié vrye teuels is nodig vir enige jong kunstenaar om sy kreatiewe denke te ontwikkel. Maar of sy denke ooit op die planke sal (of behoort te) kom, is ’n ander saak. Jy kan so maklik jou waardevolle tyd daaraan spandeer om te werk aan iets wat op daardie stadium lyk soos die wonderlikste konsep ooit, maar wat slegs sal plaasvind as jy Sarafina 3 se budget gegee word.

Die gepaardgaande vrees is dat ’n tekort aan tyd ’n kompromie tot gevolg sal hê met betrekking tot die kwaliteit van ’n stuk werk. Dít weier ek egter hardkoppig. (As ek onvoldoende werk wou lewer, sou ek ’n hysbak-herstelman geword het.) Die kunswerk is altyd belangriker as die kunstenaar, en eersgenoemde verdien die sweet en tyd van laasgenoemde. En as dit dan beteken dat laasgenoemde moet ly vir sy kuns, dan is dit so. (Moet hom egter nie te jammer kry nie: alle kunstenaars is ’n bietjie masochisties.)

In die sweet van sy aanskyn

Om iets te lewer om op trots te wees, met bitter min tyd, geld en geriewe, moet die dramaturg maar net harder werk. Hy moet net aan die regte ding werk. Jou skeppingsproses moet begelei word. Dit is belangrik om te onthou dat daar nie net een goeie idee is nie, en dat jy net soveel vrugte kan werp as jy jouself toespits op die werklikheid waarin jy jou bevind. Leer om dit wat tot jou beskikking is, tot jou voordeel te gebruik. As jy werklik kreatief met hierdie “beperkinge” omgaan, stel jy jouself in staat om nie slegs daarbínne te speel nie, maar daarméé.

Onthou, teater is buigsaam. Dit is nie “realiteit” nie, was nog nooit nie, en sal nooit wees nie. Die lagwekkende pogings van dramaturge tydens die Neoklassieke periode staan as voorbeeld hiervan. Hulle het bepaal dat die lengte wat die produksie duur, dieselfde tyd móét wees waaroor die storielyn strek: sodat gehore makliker kan glo dat wat op die verhoog gebeur, waar is. (Die universele stokperdjie om te skinder oor sepiekarakters is egter bewys genoeg daarvan dat kykers dit eerder moeilik vind om te glo dat fiksie nié waar is nie.) Dié tydelike gordel wat teater moes dra, dui op ’n inherente vrees wat hulle daarteenoor gehad het.

Waarmee hul egter nie rekening gehou het nie, is dat die gehoor óók deel uitmaak van teater. Hulle onderneem óók die reis. Gehore léés en verstaan ’n produksie volgens die reëls, die konvensies, wat daarin neergelê word. As die teks ’n baba op die verhoog vereis, en die aktrise loop met ’n plastiekpop rond, aanvaar die gehoor dit verteenwoordig ’n lewende baba. Die speelse vraag kom wanneer daar besluit moet word of die pop weggesteek moet word in doeke, of in naakte glorie van plastiek rondgeparadeer kan word: die gehoor verstaan tog beide. Vandaar die hedendaagse (positiewe) tendens om niks weg te steek nie. Gehore weet wat hulle “mag” sien.

Wat die kunstenaar uiteindelik baar (nege maande of te not), is ’n nuwe wêreld met sy eie reëls en realiteite. Hierdie wêreld hoef nie meer ooreen te stem met dié daarbuite nie – en hoef nog minder oor dieselfde hoeveelheid tyd te strek. Binne die bewussyn waarin ons vandag leef, word dit algemeen aanvaar dat subjektiwiteit die gedeelde ervaring verdring en elkeen slegs in staat is om sy eie realiteit te omskryf. En die een wat die Wetboek dikteer in hierdie wêreld, is die skrywer. Hy mag voorskryf dat ’n verhoog ’n sitkamer, tuin, swembad en boot is. Hy mag voorskryf dat ’n enkele wit vierkant die ganse Denemarke is.

Dit is nie verniet dat skrywers deur die eeue dikwels ’n parallel trek tussen goddelikheid en kunstenaarskap nie. Maar dit is ’n verantwoordelike taak om te regeer – en daar is beter en slegter gode. Die goeie dramaturg is deeglik. Elke konstruksie impliseer ’n groter een, en dit is die dramaturg se verantwoordelikheid om elkeen van hierdie aspekte, en die implikasies daarvan, fyn te deurdink en op te los. En die goeie gehoor is genadig.

Hierdie reëls/konstruksies/konvensies maak vir my een van die grootste gedeeltes uit van die skeppingsproses. Dit is die grondwerk wat gelê moet word vir ’n nuwe teks, hetsy jy die skrywer of regisseur daarvan is. Die dramaturg moet net verseker dat sy reëls netjies uitgelê word – gelowe is al gebou op slegs tien. Maak seker daar ís reëls. ’n Gehoor moet ingespan word; dit is deel van die ervaring. Sluit ’n kontrak met jou toekomstige kliënte, wys hulle volgens watter reëls jy vanaand gaan speel ... en slinger hulle dan rond in daardie kryt.

Aan die nuwe begin was daar weer niks

Die geboorte van een wêreld is nooit die einde nie. As daardie pen weer begin jeuk, kom dieselfde ou vrese oor jou eie vermoëns en waardigheid weer na vore, maar hopelik het die vorige proses jou reeds effens versterk in jou arsenaal teen jou grootste kritikus: jy self. Oorkom jou vrees. Sit daai fantasieë om in aksie en werk aan jou kuns. Alhoewel dit jou waarskynlik meer as sewe dae sal neem, kan jy, met geloof in jouself, ’n Paradys skep waarin gehore hulle kan verlustig.

En dit sal goed wees.  

 

<< Terug na die Sanlam Aanlyntoneelskool <<