Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Estetiese woordkuns met min gelyke
Leopard's Leap Leesmedalje: Ouhout deur Piet de Jager


Gerda Odendaal - 2007-09-10

Ouhout deur Piet de Jager
Illustrasies deur Zerk de Villiers
Suikerbos Uitgewers, Pretoria 2006
Hardeband, 100 bladsye, ISBN 1-920042-02-4, R100.

Die denkerfiguur wat op die omslag van Ouhout verskyn, is reeds ‘n aanduiding dat hierdie bundel van lewenservaring spreek. Ouhout is Piet de Jager se debuutbundel en is die produk van jare se besinning oor die betekenis van simbole en dinge in die wêreld. Die resultaat is ‘n versamelaarsbundel wat op menige boekrak tuishoort.

Piet de Jager is ‘n ou bekende in die Pretoriase hooggeregshof, waar hy bedags sy nering as advokaat beoefen. As regsgeleerde wat hom in sy vrye tyd met die poësie besig hou, sluit hy hom aan by voorgangers soos Toon van den Heever en HA Fagan. Dit is dan ook geen wonder dat sy ervaring as regsgeleerde juis in hierdie bundel neerslag gevind het nie.

Ouhout beslaan 100 bladsye wat 52 gedigte bevat wat in vyf afdelings aangebied word. Die poësie word verder verryk deurdat daar deurgaans aanhalings van ander digters, filosowe en skrywers betrek word. Wat hierdie bundel egter besonder spesiaal maak, is die vyftien skilderye van die internasionaal-erkende skilder Zerk de Villiers, wat in die bundel betrek word. De Villiers is ‘n Vrystaatse skilder wat veral met sy realistiese studies van nar-figure bekendheid verwerf het. Die skilderye dien as visuele representasies van die gedigte wat die simboliek op só ‘n wyse vasvang dat dit die leser as’t ware aanmoedig om die meegaande gedig te lees. Die resultaat van die interaksie tussen hierdie twee kunsvorme is iets wat ‘n mens as “estetiese woordkuns” kan beskryf.

‘n Mens sal hierdie bundel ‘n onreg aandoen om dit bloot as ‘n digbundel te klassifiseer. Dit is meer as dit: dit is ‘n samespel van kunsvorme – interaksie tussen die woord en die visuele. Ouhout is ‘n “St. Tuiglike” bundel met min gelyke. Met soveel nuwe boeke op die mark kan jy maar gerus jou hand ‘n bietjie dieper in die sak steek om hierdie koffietafelbelegging aan te skaf. Mag Ouhout die begin wees van meer sulke medewerkende kunsprojekte in Afrikaans.