Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Katvrou: Katswink

Albums met murg


Katvrou - 2006-07-21

Sommige albums het nie nodig om ná ’n week of ’n paar keer se speel in jou kop te klim nie. Sommige albums gryp jou aan die lieshare en pluk jou rond tot jy jou naam, jou van en jou voorvaders vergeet. Sommige albums is só ongewoon dat jy vir dae na die eerste luister steeds daaraan herkou.

Sommige albums ruk mal.

Hier’s vir jou ’n paar van hulle.

Taxi Violence – Taxi Violence

Vier manne uit die Kaap – hierdie is ’n kort-kortspeler met drie kragtige snitte. Wees veral bedag op “Nothing left to lose”. Die kitaarwerk binne die eerste 30 sekondes gaan jou timpane kneus. Dis nou as jy verby die waarskuwende tromme en daardie dik witwarm iiiieeeeaaarrrghhhh van die intreekitaar kan kom.

Die nuwe album is aanstons beskikbaar, en jy kan die band in Augustus by Oppikoppi op die verhoog beleef. Taxi Violence is George van der Spuy agter die mikrofoon, Rian Zietsman met kitaar, Loedi van Renen op die diksnaar en Louis Nel as tromdirigent. Hulle weier om flou liedjies te doen. George het nie ’n instrument nie. Hy’t net sy stem – en ’n hoë-oktaanverhoogpersoonlikheid wat jou onmiddellik vasvat. Die CD laat jou verder dans. Daarso by die huis, ja. Befrommel die sitkamermat met jou sweetlyf en kaalvoete. Lees dan meer oor hulle by www.taxiviolence.com.

Die kortspeler is in Cresta se Look & Listen te vinde – maar nie in die voorste ry nie. Jy sal moet sóék na daardie dun rooi papierboksie.

Robin Auld – Jungle of One

Al het Robin reeds sowat 14 albums die lig laat sien, is hy steeds binne ’n nismark aktief besig om liedjies te bou wat jou vir dae bybly. Jy koop ’n album van hom sonder om dit eers te beluister – want jy weet jy koop iets met wáárde. As jy ooit die kans kry, gaan kyk hoe voer hy “Over the mountain” uit saam met Barry van Zyl. Die perkussie is ’n kragtoer. Maar dit weet jy van Barry, sien. Die res, die vennootskap met Robin, daardie lekkerte is ’n nuwe ding. “Came to me in a dream before I saw your face – saw you in the sky from a lonely place …” Op die album kry jy hierdie liedjie in kleure uit die grond uit - daar waar jy bly – die stadige inleiding, dan die versteekte lekkerte aan die einde waar die kitare wakker dans. Dis so mooi, jy kan dit vir iemand as ’n subtiele liefdeslied aanbied. “I found your soul carried on the tide – found your footprints by the riverside.”

In “The ballad of lucky Lucan” sal jy vir ’n oomblik weer in Ocean Motion (1985) se “Sesheke Town” tussen die mangobome en Jungle Book se luislang Kaa ronddool. “Last light at the river bar …” Maar net vir ’n oomblik. “Lucky lifts his glass to the evening star …”

Die een wat my egter die hardste aan die siel beet het, is “Fortune teller”. Hier kan jy jou oë toemaak en hoor hoe skuifel die tromme nader. “Oh mama – why did you go to the fortune teller …” Dan die droë sjiekka-sjiekka van die shakers, die rustige mondfluitjie, die kitaar wat dan harder word. Dringender. “If I could mama, I’d smash that crystal ball …” En jy begin dans. Net daar waar jy staan. “I do believe that it was you – mama it was you – mama it was YOU ..”
 
Jungle of one het name soos Chris Letcher, Andy Green, Yoyo Buys, Albert Frost, Derek Baxter en Keith Lentin om dit een van jou beste en waardevolste albums van hierdie jaar te maak.

Gaan soek hom waar hy optree, en dis waar jy Jungle of One ook sal kry. Kuier ook by www.robinauld.co.za en lees sy skryfwerk. RESPEK.

The Wild Eyes – Our Love Has A Special Violence

Die album is vreemd verpak in ’n deurskynende sterk plastiekomhulsel, swart-en-wit geteken met twee engelvlerke – een met vere, die ander ontblote beendere.

Nikhil Singh is ’n lenige, swalkende gedierte met sewe duisend uitheemse persoonlikhede wat hy binne ’n enkele verhoogoptrede grinnikend vir jou agter sy veremasker uitruk, binne die klawerbord inkwispel en elkeen dan blitsig oprol en in sy gatsak druk. Sy oogomlyner is houtskool en appelgroen is die gunstelingkleur vir sy gesig. Onder die skelpienk pruikbob word hy moeilik misgekyk. Sy kitaar is getiteld Homme Fatale. Sy trawante is Gareth (meestal met ’n bleekgeverfde skedelgesig) met baskitaar, en Len wat net met sy tromme praat. Op die album kry jy, onder andere, Lark se eksotiese voorsanger Inge en Lee van Hog Hoggidy Hog wat saamwerk om ’n ongelooflik onklassifiseerbare produk te lewer. Met die intrapslag trek “Christmas in Berlin” weg teen ’n ritme wat jou lyf laat ruk en skud. Nikhil begin kweel. Dis moeilik – maar hou jou in tot jy kan rondbons in die kastig onskuldige “Breakdown”, en dan totaal bos gaan vir die rasende klimaks in “Disko Inferno”.

Hulle styl is skrikwekkend lekker. Dis ondergronds, soms amper gruwelpunk, vreemd, bitsig vinnig, elektronies eroties, en totaal links van die grootpad. Soos Nikhil sê: “All good things must come to a trend.”

In Melville is daar hierdie weggesteekte musiekplekkie gedoop Canned Applause. Jy kry The Wild Eyes net daarso – in Derdelaan, na Richmond se kant toe. Daar’s net 450 kopieë gedruk – maak gou. ’n Bont bordkrytplakkaat wys jou waar jy moet loop. Andersins, besoek hulle webwerf by www.thewildeyes.com.

Rokkeloos - Nooiensvaart

Nou goed. Jy het hulle sover nog net op die verhoog beleef. Nou kan jy bietjie jou gedagtes oor die helleveeg-rockers Prinses Petro, Tequila Mockingbed en Crystal Meth orden met hierdie CD. Lojandi het Anika vervang op baskitaar, en hierdie meisie is veel, veel kleiner as haar kitaar. Visueel het sy ewe veel invloed as die res van die span. Met die kaalgat Barbie agterop weet jy mos nou al hierdie een is nie vir die kerkbasaar nie. En jy speel hom HARD. “Plotmeit” vertel jou wat wag vir jou deur die res van die tien snitte - met Paul Riekert as produksie- en mengmeester. “Baked Beans en Cocaine” sê vir jou HOU JOU BEK, “Herinner my” het ’n onteenseglike FOK JOU in die laaste minuut, en “Stoksiel Seun” kom streel weer bietjie die nekhare plat.

Die een wat die volksmoeders ontstig, is “Die Bernina Breakdance”. Jy kry alles hierbinne – van ’n koedoeleerkettie tot tolletjiebrei. En die gewraakte tot-die-hel-verdoemde “Ek hou van melktert, ek hou van breiwerk, ek hou van skaapbraai, ek hou van hard naai!!!” Die slim (aldus raserigste) een is “Aanhoudende Gekyf”. Tequila Mockingbed se kitaarwerk is beheksend. En die boodskap is ietsie spesiaal wat jy vir die opperklontkop in jou kantoor kan speel.

Rokkeloos sal jou sjarmeer.*

Want jou asem ruik soos beskuit met anys.

“Volgelinge, vriende, vryers – wind in julle seile.”

*Al wat Rokkeloos vergeet het, is die WAARSKUWING: HIER WORD GEVLOEK (veral in “Tien Tequilas”) op die album se omslag.

Nooiensvaart is vir ’n paar weke reeds op die rakke. Nie by tuisnywerhede, CUM of tweedehandse boekwinkels te vinde nie.
 
Jim Neversink – Jim Neversink

Michael Whitehead was die kitaarman van die eertydse Durban-groep Famous Curtain Trick. Jy hoor hom mooi (snare en stem) in hulle “True Monsters” van die Land with no Cadillacs-album. Jy kry hom in GQ se Julie-uitgawe – bladsy 68. Daardie rooi leerbaadjie is deel van hom soos sy buierige Washburn. Jim Neversink doen slim, eerlike en donker country – liedjies oor opgefokte verhoudings, diewe en verbete selfmoordenaars. Die kitaar léwe hier. Luister na “Ride Ride Ride” en jy sien vir André Stander met ’n sak vol R50-note en vuil bebloede jeans op die treinspoor staan terwyl die staalkitaar huil vir die maan. “I just found a place quieter than the moon …” Jy vou sommer dubbel van die lekker vir die glykitaar. “Maybe some day they’ll make a movie of my life …”

Moenie bekommerd wees as die eerste luister jou effe verwar nie. Nie eens die radiostasies weet hoe om Jim Neversink te hanteer nie. Sy stem is briljant - tegelyk trots en hartseer. So. Luister hom WEER. En jy sal aanstons vertroud wees met Jim Neversink se “Mail-order Russian Bride”, vioolspeler Katherine se hitsige solo in “Angel”, en die dinge van die “Palomino Gold Dust Saloon” – terwyl Matthew Fink jou wys hoe mens ’n akkordion meestal skisofrenies moet laat skrou. Jy wil nie weet wat hy met sy Ibanez aanvang nie.
 
Hierdie album is net by hulle optredes beskikbaar. Laasweek by die Bohemian is die vyf beskikbare kopieë binne ’n halfuur opgeraap.

Boabab – Code 14

Die naam is opsetlik Boabab pleks van Baobab. Ja, hierdie boom is half lelik en kalerig. Vreemd bleek. Maar hy’s van Afrika. Kunstenaarsvryheid en asprisgeid – en dan’s jy nog net by die naam. Ed Lewis, komponis en voorsanger, is deurgaans besig om jou met verskillende vlakke en kleure in elke liedjie te betoor. Hy klink lakonies – maar ook beslis met ’n goeie skeut sensitiwiteit en passie vir dit wat hy vir jou skryf. Saam met die res van sy groep is hulle sewe musikante uit Gauteng wat Code 14 (ja, hierdie is “heavy duty”-musiek) moeiteloos vir jou op die verhoog herskep. Jy word sommer dadelik met die ongewone “Please” aan die bek geruk – wat nogal baie te doen het met Delta Blue se Henry Steel wat as gaskunstenaar kom kitaaraksie pleeg. Ed krul sy stem op in hoekies wat jy later weer sal gaan opsoek.

Nothing stays the same
It will be a mistake
We all need the break
Every now and then …

Please please plea-plea-plea-please, plea-plea-plea-plea-plea-plea-please …

Vernuftige ritmewisselings, spesifiek in “Luza” en die lieflike “Salty Waters”, wat met ’n skaars hoorbare fluister deur Lyudmila Rukavitsyna begin. Die genotvolste ritme-omswaai is egter in “Burger Queen”. Dis asof jy geblinddoek agteruit dans - tussen ’n koor kunskitare en blink nuwe simbale. G’n wonder jy sien meestal vir Ed agter ’n outydse Shure 55SH nie. Boabab maak nie musiek vir ploerte nie.

Kry die album by hulle optredes in Gauteng. Jy kan ook meer oor hulle lees en aflaai by www.boababband.co.za.

Scarlet Box – Scarlet Box

Ek’t die eerste keer Jenna-Lee Philips se bebliksemde stem halfpad af met die Koppi op pad na die Gito Baloi-verhoog gehoor. Nou kyk. Hierdie meisie het ’n buigbare stemboks wat jou uit jou sokkies sing. Dit pas perfek by haar kwaai verhoogpersoonlikheid. Daar is meer inligting oor hulle by www.scarletbox.co.za en jy kan ook na ’n paar van hulle liedjies luister. Die album is oorwegend opruiend, en Jenna-Lee se span is verwoed vinnig, maar sit gerus terug en laat die hoendervleis loop met “Crystal Clear”. Hulle liedjies is solied. Geen slapgewrigtwak nie. In radiokringe is “Just Be” en die klipharde “Love-Hate” reeds bekend. Jy gaan moeilik genoeg kry van hierdie viermanskap uit Gauteng – Jenna-Lee as voorsanger, die skone Jitka Brzek agter baskitaar, Andrew Kerr op voorkitaar en Francois du Toit wat die tromme beheer.

Jy behoort die album by die meeste respektabele musiekwinkels op te spoor.

The Dirty Skirts – The Dirty Skirts

Hierdie manne het nie net een van die ongewoonste webwerwe nie (kyk en klik by www.thedirtyskirts.com), hulle trek hierdie opsetlike donkerte van honger wolwe, wollerige hasies en dik intensiteit deur tot in die musiek. Jy het straks hulle “What can I do, oh-oh, what can I do, oh, OH …” op Radio 5 gehoor – “Feeling the Pressure” is die bekendste snit. Maar op hierdie kortspeler met sy ses snitte klim “Little Tsunami” ook vinnig onder jou vel in. Die klank is jonk, onnutsig. Spelerig. Elektronika, punk en elegante dog bose kitaarineenstortings word hier ’n hibriede musiekvorm wat net The Dirty Skirts vir jou kan doen. Die prentjie word duideliker sodra Sumo voor jou staan en sy kitaar ’n les of twee leer. Jess, Mo, Sumo en Markie gaan spesiaal Kaapstad in Augustus verlaat om die doringbome in Oppikoppi te leer ken. En soms kom maak hulle amok in Horror Café, skuins langs die Mandelabrug in Newtown.

Ek’t my kopie in Cresta se Look & Listen gekry.

Kabous se skyf – Beenkamers en gange

Moenie enigiets verwag nie. Wat jy ook al dink dit gaan wees, trap daardie idee dood. Dis nie net gedigte nie. Dis Kabous Verwoed en hy laat jou loop binne sy kop. Saam met hom werk dik talent soos Piet Botha, Lukraaketaar, AmaFist, Bacchus Nel en Riaan Nieuwenhuys om ’n rits klanke en persepsies vir jou te skep wat veel meer is as deure wat oop en toe klap, kras voetstappe in ’n gang en liedjies wat in die middel van ’n rits note onderbreek word.

Die gedigte is kragtig. Kabous se goiingsakstem bring nóg krag. Jy mag dalk hierna jou eie flou pogings iewers in ’n stowwerige laai gaan druk. Of jy gaan geïnspireerd van voor af begin skryf.

Kry hierdie skyf by optredes waar Kabous sy gedigte lees.

In die volgende albumrubriek, onder andere:

BoneKey - Heartsong
Kaalkop Waarheid – Lieg of Bieg
The Narrow - Travellers
Stean vd Walt – Tla!
Diesel Whores – The Fear
KOBUS! – Swaarmetaal
Johnathan Crossley – My friends and I
Fokofpolisiekar – Brand Suid-Afrika
Trike – Kennis van die oggend
Cassette – Welcome back to earth
Willim Welsyn – Buikspraak
Battery 9 – Straks
Anika – Hovering
Gordon’s Suitcase – Good girls like good music
Scicoustic – Come and love us
Akkedis – Vir Volk en Vaderland
Orkez – In opsomming

Sien jou tussen die luidsprekers.