Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Katvrou: Katswink

Toast Coetzer - Die skroeikant


Katvrou - 2006-07-21

“Ons vergeet, maar dis net dormant, dit sluimer iewers tot iets anders - 'n reuk dalk - dit trigger en skielik is jy weer vyf met 'n tuinslang in jou hand, somer, moerbeie, muisvoëls in die kriebosse.”

Tik Toast Coetzer se naam by die Google-venstertjie in (vir die Suid-Afrikaanse webblaaie) en jy kry die volgende:

Resultaat 1 tot 10 van omtrent 10 300 vir Toast+Coetzer (0,06 sekondes)

Die meeste resultate is wel hy. Nie obskure roosterbroodresepte, ’n plaaslike tennisster of ’n Coetzer-familieboom nie.

Toast Coetzer. Skrywer-fotograaf-fotograaf-skrywer.

Jy ken hom met ’n baard, of sonder een. Sy kamera altyd naby. Of soms agter die mikrofoon as onpeilbare hooflid van The Buckfever Underground. Die talle velle papiere met woorde wat soos moerige swartmiere bo-oor skrabbel. Die lirieke wat alles behalwe die resep volg. Soms kou jy die skroeikant van die roosterbrood. Maar jy eet, want jy wil.

 


ons maak onsself dood

kyk hoe kom die nuus nou, stuksgewys, sweisende vonke, blou-blou lig, dak van ’n gestig wat vuis oplig, opgedroogde sonlig, schoongezicht se uitsig, sonsondergang, gaan maar jou gaan in jou wentelbaan, ons weet mos jy woon waar die sekelbosse staan, in ’n papwiel karavaan sonder ’n naam, so stort maar jou trane, slag al jou hane, suig leeg jou are, pluk uit jou hare en slaak ’n sug van ...
verligting, verkragting, versagting (van vonnis), verslawing (aan slawe), versoening (vir soene), verstikking (in stikland), verminking, versugting – versigtig! – vir verdrinking, vir dronkheid, die donker, vir deernis, ... en derms uitryg, ’n gehyg in die bosse van die brandmaer osse, wat een vir een geslag word – tjoptjop aftjop – dis reeds in die hormone, ons lieste is steriel en ons kinders is seniel, daar’s niks aan te maak, dis ’n uitgemaakte saak.

hier kom die vloed nou, kant aan wal, die stede die dorpe die damme het geval, met die misdaad in oordaad, die staat in ’n daze, muise deur ’n maze en die gedruis van AIDS, never mind die bloed en die bomontploffingsgloed, dis die wêreld se gestamp wat ons koppe vasklamp, militêre kolomme, langafstand-bomme, pre-emptive war, stukkende peaces en die pieces don’t match, catch nog ’n virus – hier kom die Ebola - bloed by jou ore uit, spuit by jou mond uit, gryp by jou binne in, lewer en niere, fyngemaalde kliere, die ure op jou uurglas? een.

*

  • Vertel meer van BastardMedia. Het jy daarmee begin? En is dit tans jou hoofaktiwiteit?

BastardMedia is deesdae 'n misnomer, om nou die woord verkeerd te gebruik. Ek en 'n paar vriende het die oorspronklike BastardMedia tydens varsity in die lewe geroep as sambreel waaronder ons kan werk - ons het hierdie sambreel egter almal gou ontgroei, elk ons eie sambreel gekry. Die site soos dit tans bestaan is baie oud (skandelik), maar sal dalk weer eendag lewe kry (wanneer ons ons sambrele in dieselfde erdepot bêre). Tans is BastardMedia die maatskappy waaronder my vriend Gilad Hockman (basspeler en medestigterslid van The Buckfever Underground) sy private sakeonderneming, die Independent Armchair Theatre, behartig. Ek het dus geen aandeel in BM CC of die Armchair Theatre nie, alhoewel ek genoeg aan die kroegtoonbank daar hang om verwarring te veroorsaak in dié verband. BastardMedia is dus net my e-posadres. En nie my hoofaktiwiteit nie. Uregewys is my hoofaktiwiteit slaap. Tweede is werk en derde in my kar sit, seker.

  • Hoe deel jy jou tyd tussen skryf en fotografie? Vind jy dis nodig om soms meer tyd vir een as die ander in te ruim?

Hulle kom meestal saam, maar soms apart, afhangende van die assignments wat ek kry, waarvoor ek lus voel of watter okkasie dit ook al is. Ek sou reken oor die afgelope drie jaar skeep ek my fotografie baie af ten koste van skryfwerk. Hopelik sal dit eendag ook verander. Fotografie op sy eie is al waarvoor ek soms lus voel. Alles moet op vakansie gaan, ook skryf. Eendag wil ek net graphic novels teken, wanneer ek mooi kan teken en in die tronk sit en dus ook die tyd het.

  • Jy het al ’n duisternis plekke besoek. Mens reis en reis, pak jou tas in en uit, stort in vreemde plekke; jy proe, ruik, sien, hoor dinge, en die gewaarwordings word deel van jou brein. Is daar nog plek vir die prentjies in jou kop?

Please wait while Windows is compacting your mail folder. Dis maar hoe ons geheues (geheuenes? geheugenisse?) ook is. Ons vergeet, maar dis net dormant, dit sluimer iewers tot iets anders - 'n reuk dalk - dit trigger en skielik is jy weer vyf met 'n tuinslang in jou hand, somer, moerbeie, muisvoëls in die kriebosse. Ek hoop daar is nog baie plek in my brein. Ons is nog nie eers halfpad nie.

  • Is fotografie bestem om altyd ’n ondankbare diens te wees? Besef mense regtig wat jy doen, daardie enkele foto tussen die honderde wat mens neem, daardie een foto wat jy oopmaak en vir hulle wys? Vergeet hulle gou van dit wat hulle sien?

Vlietend, nee, want mense gaan altyd foto's neem, of dit nou op hul selfone of met Hasselbladds is. Ondankbaar ook nie - goed, ons kan almal net soveel keer 'n trotse skoonmoeder se troualbums deurblaai – maar in die algemeen word enige foto geniet, of dit nou goed is of nie. Veral as dit gaan oor mense en herinneringe en dinge wat gesinne of vriende gedeel het. Hulle is post-its wat in die huis rondlê en jou aan ander of beter tye herinner. En fotografie het baie demokraties geword - digitale fotografie is goedkoop en kompak. Almal is fotograwe. As die foto klaar geneem is, is dit uit die fotograaf se hande. Daarna is dit moeilik om te sê of mense dit gaan onthou of nie. Die wêreld is natuurlik oorgefotografeer, flou gery, so net die beste en mees ongewone en ikoniese foto's bly vir lank deel van die visuele landskap. Sulke dinge gebeur net.

  • Is jy Afrikaans-Engels gebore? Jy blyk ewe gemaklik met beide tale te wees.

Nee, ek's Afrikaans gebore (met 'n braaitang), maar het van vroeg af baie Engels gelees. Ek was in oorwegend Afrikaanse skole, maar hulle was tegnies gesproke dubbelmedium, so Engels was algemeen. Die Hardy Boys het my leer Engels praat - thanks, Franklin W Dixon – en eindelose naweke van inbly in die koshuis oor naweke.

 

die woord

elke woord is ’n magneet wat die waansin kom opvreet elke woord is ’n wapen warm teen jou sy elke woord trek water uit die diepste grond elke woord skep lug soos voëls wat vlug met kenne in die lug elke woord is ’n wurm wat stil verorber aan elke blaar wat val soos ’n druppel bloed elke woord uit sy mond loop vanself oor die grond uit die tong van ’n mespunt kom moord uit die oorde van die hemel kom die vrugte van die hel en die plukkers is die punte wat verlief is op kommas. die glans van die woord is die ronding van ’n koeël die loodboot wat seil soos ’n brief op die see jy’t jou lewe se tyd om in blind te verdwaal die gif in jou wond is skaars ’n kwaal want die woord kom genees al die siektes van die vlees die woord is die agteros wat verbrand die kraal en speke steek deur die koppe van die kinders ’n foon wat lui is blomme in jou ore elke sin wat klap is ’n vars pan vol goud elke sprong van jou lippe is plesier in die klippe die kapkapkap van die lepels en die vurke en die messe en die borde wat skree koopkoopkoop
elke woord draai die rat in jou oog net stywer die drukgang word nouer en nie wyer

God neem foto’s oor Montagu

  • Watter plek op hierdie aardbol wil jy nog besoek? Hoekom?

Baie. Orals. Die trein deur Rusland sal doen. Ook China. Kazakstan. Chili. Tsjad. Easter Island. Madagaskar. Daar is te veel om te doen en sien. Ek was nog nie eers in Zimbabwe of Mosambiek nie. Of Margate.

  • Wat is in jou yskas? En hoe gereeld kan jy vir jouself iets voorberei?

Dis nie my yskas nie, dis my flatmate se ou 1940’s Fuchsware. Daar's mince oor in Tupperware-bakkies wat ek laasnaweek gemaak het. Hopelik is dit nog OK, want ek's lus om dit vanaand te eet. Daar's kaas, konfyt, olywe en 'n horde goed in botteltjies wat dalk nie meer geëet kan word nie, maar nou al so belangrike deel van die ekosisteem blyk te wees that I dare not fuck with it. Ek hou van kosmaak, maar is nog op die stirfry en snackwicher fase. Ek kan 'n paar mean Korean disse en soppe maak en is 'n natural born braaier.

she

she is whispering a song barely audible above the sound of the knives slicing through the tomatoes the onions the meat onto the wood underneath while a shirtsleeve sweeps the tears from her cheeks like that little bird which comes once a year to peck at the rock of the globe and then disappears back into the black room of space

  • Dink jy dat Oppikoppi genoeg Afrikaanse musiek plaas toe bring? Miskien ouens soos Gian Groen, wat nog nooit daar gespeel het nie, kan nooi, dalk Voël vir een keer kan herroep, en nuwe elemente soos Orkez en Swartskaap vra om te kom, vir Bacchus Nel en sy musiekmanne ’n groot verhoog gee en kyk wat hulle daarmee doen, en Luna haar Afrikaanse liedjies kan laat bekendstel? Willim Welsyn, Stean vd Walt, Albert de Vos, Die Menere, of selfs Vuurkleur, wat straks nie meer is nie. Die vrae loop hieroor. Tussen die laatnagvuurmakers; dit loop deur meer as ’n handvol van die Oppikoppigangers. Hoe voel jy daaroor?

Ja, ek dink Oppikoppi bring genoeg Afrikaanse musiek soontoe. Dis moeilik vir hulle, want hulle kan nie almal nooi nie en nie al die fans tevrede stel nie. Dis ook duur vir hulle om acts uit die Kaap en ander far-flung minirepublieke in te bring, want dan's die vervoer baie duur. Ensovoorts. Elke Oppikoppi is anders – daar's stapelvoedsel en dan rare once-off treats tussenin. Eendag sal daar die perfekte Oppikoppi vir elke fan wees. Hulle moet net elke jaar bywoon. Anders, stuur 'n verskoningsbriefie. Elke Oppikoppi is vir my perfek. Ek dink selfs al is die krag af vir drie dae en die bands net dronk en die toilette verstop, sal dit nog steeds perfek wees. Dis 'n baie spesiale plek met baie spesiale mense. Ons wêreld is klein, maar ons hoofstad is OK.

  • Sal ’n konsepalbum soos Kabous Verwoed se Beenkamers en Gange die nismark van gedigte wat lewend gemaak word, bevoordeel, dalk selfs laat groei?

Natuurlik, on both counts - ek wag nog vir my copy, ek't nog net 'n paar tracks gehoor, maar dit wat ek wel gehoor het, was befok. Daar's nie baie mense wat doen wat Kabous doen nie (Croc E Moses is die enigste ander solodigter waaraan ek nou kan dink wat al 'n CD uit het, en Lebohang Mashile en natuurlik Mzwake Mbuli) en nog minder wat hulle act together genoeg kry om 'n lekker CD met puik musikante te record. Dit sal altyd 'n nismark bly (behalwe nou as 98 persent van die wêreld se bevolking skielik doodgaan en die orige 2 persent toevallig Kabous, Saul Williams en Carl Hancock Rux se tjommies is), maar elke bietjie help. Daar's baie ruimte vir groei, so hopelik sien ons oor vyf jaar dat 10 sulke CD’s jaarliks uitkom. Wie weet, dalk kan Kabous selfs sy gedigte op 7de Laan gaan lees ...

 

  • Sien ons jou by Oppikoppi in Augustus? ;-)

Hopelik. Die band speel nie, maar ek't net 'n halwe verskoning nodig om daar te wees. Maar ek't nou “regte werk”, so dis moeiliker om sommer net in die pad te val en te ry - alhoewel my “regte werk” toevallig presies dit behels (ek's reisskrywer by go!).

 

In die toilette by die Leopold Sedar Senghor-lughawe in Dakar