Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Katvrou: Katswink

Dassie met ’n stofsnor


Katvrou - 2007-09-05

Vleis gooi my met ’n stuk e-pos en beveel aan ek moet my Oppikoppi-storie as volg betitel:

“’n Veldstudie van geselekteerde oorlewingsmeganismes, soos aangeteken en gefotografeer tydens observasie van en interaksie met ’n gekonsentreerde hoeveelheid Homo (soms) Sapiens Erectus (ook soms) tydens rituele tydverdryf, met spesifieke verwysing na twee waargenome vorme van ouditiewe sosio-tipiese kultuuraktiwiteite bekend as ‘rock’ en ‘roll’, in direkte respons op die effek van die GMA (gemiddelde minimum aanvoelbare grondvlaktemperatuur) – windfaktor uitgesluit – gemeet op dag 216, 217 en 218 van die kalenderjaar 2007 nC by ’n vaste punt geleë op die noordelike gedeelte van die landbou-eenheid bekend as ‘Boors se Nek’, deel 17 van die plaas Maroelasfontein, distrik Swartklip, RSA.”

Francois (Vleis) van Zyl – deurwinterde Kreefhoteller en bedrewe Jägermeister-verorberaar.

Ja’k. Ek wil ook nie leer nie.

Vir wat neuk ek al weer Oppikoppi toe? Terwyl ek verlede jaar my gat afgevries het, heeltemal te veel foto’s geneem het en depressief aan ’n houtpaal gehang het, hunkerend na my duvet en katte en vars groente in die yskas, toe Dirty Skirts by die hoofverhoog begin speel het en alles plotseling begin beter voel het …

Niks het tog verander nie. Dieselfde dronk feesgangers wat onmiddellik vergeet van die musiek met die oop-ttssssjjjjj van die eerste bierbottelprop, dieselfde uitmergelende hygende getrap boontoe en terug tussen verskillende verhoë, dieselfde verdorde braakkolle tussen tente. En daardie handvol vervelige Amerikaners wat regtig maar tuis kon bly om plek te maak vir ons mense – vir KOBUS!, Seeleeu Leipoldt, Die Kaalkop Waarheid, The Orange Stilettos, NuL, Robin Auld, Rooibaardt, Willim Welsyn, Zinkplaat, Brixton Moord en Roof-orkes, Jim Neversink, Andra – die meisie van Swakop met die skuurpapierstem – Sonsteek, Diesel Whores, die opperbedonnerde Chromium … soveel muso’s wat goed genoeg is (fok die Wishlist, hierdie mense hoef nie ingestem te word nie) om op een van Oppikoppi se vier verhoë op te tree, maar nie hierdie keer genooi is nie.

Ai.

En elke keer raak jy siek. As dit nie die stof of onnosel verdomde gefuif is nie, is dit die bosveldskeurbuik, die koelbloedige aftakeling van jou oënskynlik gesonde liggaam tot jy, ’n hoesende, besnotte, ontwaterde pateet, twee-uur in die oggend voor jou tent rondkruip op soek na die verdomde ritssluiter sodat die koue om vaderswil net kan ophou aan jou gat vreet.

“Ek sê jou nou. Wanneer ek jou Sondag bel en in jou stem hoor jy’s weer siek ná Oppikoppi, kom ry ek self deur en ek kom bliksem vir jou.”

My ma voel baie sterk oor die saak.

Maar, hier is ek al weer. Op pad Oppikoppi toe. Want by geen ander fees, op geen ander bedoringde plaas, tussen soveel malverslaafde drinkfiks gediertes kan jy so onherroeplik vergeet van die liederlike feit dat jy as plebejer iewers in ’n kantoor moet werk om jou rekeninge te kan betaal nie. Hier vermoor jy jou benepe, paranoïese self. Drink te veel, dink te veel, huil te veel oor vermoorde muso’s, huil oor verbysterende lirieke, neem te veel foto’s, wroeg te veel oor die wavragte plastiekbottels, sakke en ander gemors wat Sondagoggend weggery moet word. Wroeg of die boewe wat agt weke gelede die Bohemian beroof het, by jou woonstel gaan inbreek terwyl jy weg is.

Al wroegend jubel jy.

Want dis Nibs van der Spuy en Guy Buttery met hulle kitare, dis Valiant en Oom Ollie, dis Fokofpolisiekar, Dorp, die Rudimentals en Teboho met sy kort streepdassie; dan ook nog Tidal Waves en Foto Na Dans. Lark, Somerfaan en Luna. Al hierdie mense tussen die klippe en doringbome saam met jou – daardie lang filosofiese (en dikwels Jägermeister-geïnduseerde) gesprekke by die boonste kroeg terwyl die horison die son insluk. En jy kom Oppikoppi toe vir al die mense wat jy ken: die bittereinderkampeerders, die Kreefhotellers met hulle nimmereindigende selfbederfproviand en die motorslapers – almal wat die vorige jaar oorleef het.

En dan is daar natuurlik die nuwe dassietema. Getekende boepensdassies wat oral op batiklappe by verhoë hang – die dassiegrappe, dassiestories en verskillende soorte dassies – die Pofdassie, die Borrelgomdassie, die Rave-dassie (met ’n polifoniese tegnohartklop) die Radioaktiewe dassie, ens, ens, ens … Jy kan besluit watter een jy wil wees – of jy kan sommer net as ’n gewone bruin pelsbol tussen die klippe sit en pere bak in die son.

So.

Gewapen met 6 gig se datakaarte, ’n buisie vol Supradyn-bruispille, ’n dik pak Wet Wipes (met ekstra vitamine E) en twee boepensbottels Old Brown Sherry begin my Oppikoppi-safari.

Die son het pas agter Aucklandpark se beboude horison uitgeklim en daar’s ’n duidelike byt in die straatwind wat deur my veiligheidshek swiep. Ek betree Kuberkoos se kraakskoon Polo, waar die masjien ongeduldig met ’n vol tenk en dieselkeel vir my snor.

Dis Donderdagoggend en Oppikoppi het reeds die vorige aand met hulle Oppitrok afgeskop – so al die bittereinders en veterane is reeds daar.

Tussen die R512 en Brits is dit Panthera, Tool en Ministry (veral daardie aspris bose “Lies lies lies”) wat die teerpad opvreet. En KOBUS! se “Huigelaar” brul die derms lekker los. O halleluja hosanna, kom kyk na my konsert, my skynheilige skouspel.

Kuberkoos het die drie dae se musiekprogram op ’n foto gegooi en as volg verdeel: Vrouedag, Vrydag en Saterdag. Jy weet dus presies wat waar gaan gebeur met daardie foto in jou gatsak.

Vrouedag

In Band Camp is die musiekmakers en mediamaniakke se tente wyd en ver versprei (selfs die kamerameester John Hogg is daar met sy Lada en safaritent). ’n Paar lywe, dik van die vorige nag se gekuier, steier mompelend in die son rond. Die son is verbete en moerig – soos altyd op hierdie bedoringde plaas. Indien jy nie onmiddellik jou tent opslaan sodra jy jou kampeerkol bespied nie, is jy later behoorlik in jou moer. Dis totaal onmoontlik om twee-uur die oggend ’n halfslap tent in die stikdonker te probeer regop ruk sonder om jou skeenbeen verskeie kere met ’n stomp tentpen en halwe baksteen te deurboor.

Ek slenter rond en bekyk die plaas. Alles werk reeds klopdisselboom. Oppikoppimense met CREW-hemde is oral tussen die verhoë en stalletjies sigbaar – met roepradio’s en fronse. Hulle is moer besig. José van Café Barcelona se kosstalletjie is weer hier – maar hy mag nie koffie bedien nie, want Nescafé het hulle stalletjie op die boonste rif; net hulle doen koffie, so sy hele masemoer. Geen koffie by José nie. Net Milo, warmsjokolade en so aan. Hy lyk moeg en vies.

My eerste foto gebeur net na 12:00 in die boonste kroeg se donker agterkamer. ’n Tepelpienk polistireenmannekyn kyk koploos verby ’n grys 1995- Oppikoppi-T-hemp – met name soos Blues Broers, Koos Kombuis, Valiant Swart en Die Volk, N’Goi, Band o’ Gypsies, Jack Hammer en The Famous Roaches daarop verewig.

Die begin van soveel bodemlose musiekdinge.

My nuuskierigheid oor die wenner van die Oppikoppiwebwerf se Wishlist, The Rose of Sharon, verdamp summier by die aanhoor van hulle eerste liedjie se sopperige ”It’s you an’ me, girl …”. Hulle probeer. Nogal hard ook – veral die bloedjonge voorsanger gedoop Scott. Maar dis blote resepmusiek met mooi gesiggies. Ek sien hoegenaamd geen hond of haaraf nie en kies koers grondkroeg toe. Zippy, Sonvrou en Oom Draadkar sit daar in ’n stowwerige sonkol saam met Myburgh; doer in die hoek het Danie Marais en Erns Grundlingh ’n ernstige filosofiese gesprek aan die gang en WHHAATSSJOEEEEE! nies iemand dawerend agter ons. Die stof is besig om in ’n subtiele osmosemonster te verander onder die duisende malende tekkie-, plakkie- en stewelsole – maar goddank, hier kom ’n vragmotor met ’n moerse gatgieter verby en bepiepie gou elke stukkie betrapte, verdorde aarde tot ’n vogtige grondtapyt.

’n Toornige dubbelbasdromroffel vanuit die Most Amazing-verhoog pluk my en Kuberkoos agter ons bierglase uit – en hier op die klein verhogie, twee-uur op snikhete Vrouedag, is vyf skoongesigmanne meedoënloos besig om ’n stewige moshpit te ontketen. Metal in die middag? “RRRROOOUUAAAARRRGHHHHHHH!” verplaas lirieke en die ouens in die moshpitte swaai hulle koppe soos bedonnerde Afrikanerbulle. ’n Hele paar suwwe stofdassies met taai slaap in hulle oë en dorings in hulle hare strompel nader om beter te kan sien. Dis Tranquil – die wenners van Tuks se Demofilterkompetisie – en Garreth se thrashmetal-gebrul uit die nersderm uit met die vernuftige kitaarwerk vanuit beide kante van die verhoog sorg dat hulle nie sommer maklik vergeet gaan word nie. Hulle dra die metalrockers Trivium en In Flames se T-hemde. Twee van hulle is met silwerpennetjies net onder die onderlip bepriem en die naels wat oor die kitaarsnare vlieg, is swart geverf. Indien jy hier en nou hard genoeg drink, kan jy in die moshpit spring en jou verbeel jy’s by Download II – met Slayer, Killswitch Engage en Machinehead op die agenda. Maar dan moet jy verkieslik ook minstens ’n rib of twee breek.

Tranquil se moer. Hierdie ouens gorrel met Jeyes Fluid.

Bloodmoney is ’n lekkerte vlak voor sononder met voorsanger Tim Kroon se stem wat aansienlik donkerder en ryper klink as ’n paar maande terug. Soos altyd het kitaarman Lorne sy Skotse rompie aan, en dié hou aan om vir Gavin nog bier te gee tussen rusposes, so die baskitaar klink vandag dikker as gewoonlik. “Black leather never looked so good,” sug ’n nuwe aanhanger ná ’n besonder beweeglike stuk singwerk deur Tim, waar hy ver agtertoe buig, ’n refrein uit sy derms uit trek en die leer styf om sy ritssluiter span. “Oh yummy, check that out,” hoor ek weer. Fok tog. Ek wens sy wil net soveel aandag aan hierdie ouens se kwaai musiek gee.

Dorp doen die ding lekker op die James Philips-verhoog. Dis duidelik die feesgangers sit geruime tyd net vir hulle en wag – en die feesgees loop dikker as bloudraad. Hulle glip soomloos in hulle onderskeie musiekrolle in – en gaan onmiddellik BOS. Dis veral Piet (sy naels is ook swart geverf) met sy sjarmante rukdansstyl en Kevin se gryns bokant sy kitaar wat hierdie speelbeurt interessant hou. “Extreme” maak dit nog lekkerder.

“Check out our new video ‘Simon says’,” roep Piet van bo af na ons toe. “It’s SAUCY!”

Dis egter die bekende “London out there” wat almal op die plek laat spring en dans en bons soos vuurwarm springmieliepitte. Dis daai “Jhai!”-ding wat Piet sporadies uitgil wat hierdie liedjie net so ’n bietjie meer mal en minder gewoon maak. Dis omtrent ’n refrein wat halsstarrig in jou kop bly steek: “You come up for air – it’s still London out there.”

Voor Jimmy Eat World bons ’n ekstatiese jong skare. Agter die staalafskorting voor die verhoog staan ’n sestal knorrige sekuriteitsouens met arms gekruis. Almal se oorpluisies is ingeprop – die helder oranje stringetjies hang soos leesbriltoutjies om hulle gesigte. In die donker lyk dit of hulle harsings in neonoranje strengels uit hulle ore drup.

Die musiek, hoewel flikflooiend en kleurvol, is vir my maar bra dunnerig en ek swenk tussen die doringbome en konkavure terug boontoe vir Luna. Ná haar is dit Clark en Van der Hoven in die plek van Albert de Wet, wat vroeër die week moes kanselleer. Luna speel vanaand saam met Radio Suid-Afrika se Leon van der Westhuizen op baskitaar, Henry Steel van Delta Blue met sy blueskitaar en Scicoustic se maniese Gideon Meintjies op die tromme. Ongeag die Amerikaners en Engelse wat onder op twee verhoë voor en na haar speelbeurt optree (Groove Armada is nege-uur op die hoofverhoog), kry Luna steeds ’n goeie klomp mense wat haar met aandag beluister. ’n Besielende paar liedjies word gedoen – sonder fieterjasies en arrogansie.

En ek moet al weer die pad vat in die middel van Luna en Henry se kragtige “Green eyes”.

Dis ’n blitsige pas op pad ondertoe na die Sipho Gumede-verhoog vir Lark met die kamera in my hande, gereed vir aksie, want Inge Beckmann en Paul Reiser het heel moontlik reeds agter hulle mikrofone begin beweeg. My skoensole trap in die donker ’n ronde klip los wat my soos ’n swaar sak Sandveld-aartappels gesig eerste laat neerslaan – voorarms op bomenslike manier steeds in die lug; die kamera vreemd onbeskadig. My knieë en regterduim is lelik nerf-af en ek bloei ’n bietjie oor die lens – maar al waaraan ek kan dink, is hoe etters-dronk ek moes gelyk het met die neerslaan. Dis vermoedelik ook die oomblik wanneer ek my selfoon verloor en dit eers bykans sewe uur later agterkom. Hahaha.

Ha.

Oppikoppi is die plek waar dinge behoorlik verloor word. Selfone, sweet, groottoonnaels, stukke van jou linkerlong. Want sien, al rook jy nie, hoes sal jy hoes in die vuil sweet van jou aanskyn. Tot jou longe losrafel.

Fuzzy staan reg met sy koplose baskitaar – dik bos krulhare soos ougoud in die geel lig. Ek vra vir John Hogg, wat langs my sy staan kry met die Canon, of hy al vir Inge afgeneem het. Hy sê nee, en ek wonder of ek nie vir hom ’n bietjie van my sjerrie (ek dra dit aan my in heupflesvorm) moet gee om hom met hierdie ding van Inge te help nie. Inge is biologies perfek en onthutsend aantreklik. Sy toor jou verskriklik met die eerste aansien. Maar ek vergeet van John se sielkundige welstand die oomblik wanneer “Black swan” begin. Inge trap soos ’n volbloedvertoonmerrie op haar fyn toontjies in swart knopieskoene en – en die Sipho Gumede-verhoog kry weer, soos verlede jaar, Lark se elektro-aanslag van waansinnige elegansie. Goue blinkertrane glim op haar ooglede en om haar nek hang ’n sleutel aan ’n goue ketting.

Haar selfvertroue is tasbaar.

Veral die mans raak totaal gek wanneer sy oorbuk en laag afkyk in die donkerte in:

“Take me …”

“HOO-AAAA! YEAH BABY! I’LL TAKE YOU! PPWWWWOOAAAAHHRRRR!”

Sy ignoreer hulle.

“Take me …
Take me …
Take me from this place NOW …”

Die ouens hou op jil. Verdomde ploerte.

“Wat de moer is dit dié?” vra Gerhard Uys, erg vertoornd. “Hoekom het sy nie ligte van voor nie?” Dis veral vir beginners soos ek erg moeilik om behoorlike foto’s te neem wanneer daar net ligte agter die kunstenaar skyn – en ek vermoed dis hoe Lark nog altyd hulle vertonings doen. Indien mens wag tot bykans aan die einde van hulle vertoning hier by Sipho Gumede, kry jy darem ’n volle drie tot vier minute se ligflitse van voor af. Dit help veral wanneer sy in die middel van haar slangdans om die mikrofoon haar kop agteroor gooi en binne-in “Spider’s eye” verdwyn. Dis ook wanneer mens, vlugtig aan die regterkant, die hoekige lyn van haar heupbeen deur die swart kleefbroek kan sien.

Dis terug. Nie so vretend soos Augustus 2006 nie, maar dit hang soos ’n nat kombers in die donker tussen die bome. Ek voel hoe sink die koue se silwer slagtande in my nek. Ek sluk nog sjerrie voor ek die pad terug boontoe aandurf vir Clark en Van der Hoven. Hierdie keer het hulle die enigmatiese donker man Naude Swanepoel op perkussie. Naude grynslag die hele tyd. Steek sy tong uit, frons, gryns dan weer. Dit werk op ’n vreemde, onbeskryfbare Oppikoppi-manier – nes Gerald Clark se lang vuil stoftone op die verweerde plakkies en die wilde rooi van sy hare onder die ligte. Pieter en Neels (baskitaarman van Revolusie en hoofkitaarplukker van éf-él) dans soos hondsdol hiënas voor die luidsprekers met hulle vol bierglase en skreeu die woorde van elke liedjie saam. Dis absoluut befok. En Werner van der Hoven sing “Journeyman” – ’n redelik onbekende liedjie van hom wat nietemin ’n eerbiedige stilte tussen die lywe voor die verhoog laat neersak.

“I can’t see my home
It’s too far away …”

Die kuier by die boonste kroeg is nou al goed aan die gang. Niemand dans nog op die toonbank nie (dis vir die twee-, drie-uursessie môreoggend), maar dis die gebruiklike sigaret-in-die-mond-AHOOI!- en rugslaan-hoessit-jou-doos-geselse wat oral opduik.

Dis egter onmoontlik om te vergeet dat Andries Bezuidenhout nou sy kitaar hier langs die kroeg gaan speel.

Hy stap op en groet almal – sy gesig rustig onder die geel ligte.

Met die eerste noot van die kitaar besef ons almal van voor af waarom ons Oppikoppi toe kom. Om te onthou hoe belangrik die lied en sy woorde is. Want soms tussen die donker mure van die stad vergeet mens van stil word en luister.

“Ek gee jou my palm, jy lees my lewenslyn
Maar weet jy, my verlede het lank reeds verdwyn
Hierdie woorde en sinne het ek iewers geërf
Maar die taal wat ek praat, het lank terug gesterf
Ek het eendag vergeet waar kom ek vandaan
Waar my huis is, my land is, of die klank van my naam …”

Andries. Respekt. Hierdie liedjies verseg om te vervaag.

Onder by die hoofverhoog is die lywe al dikgepak vir Fokofpolisiekar. Die koue wurm haar koue dun arms onder klere en wolmusse in. Ek sien dat veral Francois, Wynand en Hunter se hare nou weer lekker lank is – ’n slim ding om te doen in die winter. Hou jou kopvel toe, my bra. Maar ek voel hoe die bibber my bekruip – die koue is wragtig vanaand ’n teef.

Maar die teef maak gatskoon met die eerste hoop note wat dik en woedend uit die bende val. Want die gespring begin en hou aan tot jou longe soos ou teesakkies agter jou ribbes lê – en al voel jy jy moet nóú gaan pie of jy ontplof, kom jy doodeenvoudig net nie daarby uit nie. Dis Fokofpolisiekar. Daar is maar net een Fokofpolisiekar en hulle ruk aan hokke en tralies en vooroordele en stukkende harte tot alles weer beter voel. Francois, mikrofoondraad om sy nek gedraai, rug regop in die refrein, staan met sy T-Rex-armpie, Wynand bo-oor die baskitaar, die meeste van die tyd in die lug, skreeuend, Snake onsigbaar (veral as jy onder staan en probeer foto’s neem) agter die tromme, Johnny met sy gesig soos ’n engel, stil en stemmig maar met ’n bose kitaar wat in sewe tale praat, en Hunter wat sy woorde in Fokofpolisiekar laat lééf.

Die energie is ’n lewende ding en trek jou in. Dis asof Oppikoppi se eerste aand as hoogtepunt van die naweek omgedraai is met Fokofpolisiekar wat die aand klaarmaak – en hierdie beginpunt van voortreflikheid gaan deurrock tot niemand op hierdie befokte plaas meer kan loop of drink nie.

“Prioriteit nommer een
Kom lewendig hier uit!”

Dis in die middel van ’n dik basrif dat Wynand vinnig na regs swenk en vir Francois DWARRRRRR met die kitaarkop in die gesig tref. Ek vóél daai slag tot hier onder. Francois vou dubbel op die plek – sy hele liggaamshouding sê EINA-FOK-MA-SE-MOERRRR waar hy vir ’n paar sekondes gebukkend staan – maar herstel so te sê in sy sokkies om op die plek verder kop te ruk. Fokofpolisiekar. Malgesweet, wilde oë, kitare soos swaarde onder die rook en ligte en kameraflitse. Fokofpolisiekar. Dit wat hulle met stemme en kitare sê. Ons land brand in die skaduwee.

“Genade onbeskryflik groot –
Ek is die HEL in …”

Ek proe die woorde in my mond. Dit bly daar sit, heeltyd, tot later met my bibberende terugstrompel tent toe.

Kry die longjohns en dubbelstel flenniefrokkies op die motor se agtersitplek, wriemel dit aan, duik vir die opblaasmatras met sy slaapsak en twee komberse. Die koue bly halsstarrig talm.

En die nag kom lê in my vel.

Vrydag

Die oggendstort is amper te koud om te kan verduur. Vroeg stort is beter, want dan wag jy nie so lank vir jou beurt onder die stroompie water nie. Dis nou te sê as jou taai vel en smerige klere jou enigsins pla.

Oorkant die damestorte se afskorting maak een of ander stortende kalant die mees onaardse snuit-, gorrel- en huuhhkkkk-gnnnnarrrrrr-geluide in sy keel. Liewe genugtig. Dit klink of hy sy sinusse probeer skoonsuig. Ek stort vinniger. Langs my op die stortmuurtjie staan my stortbuurvrou se L’Oreal‑sjampoe‑ en ‑opknapperbottels netjies gepak. Ek het net seep en tandepasta en so. Die hare moet maar goor bly tot ek weer terug in die beskawing is.

Die knaap wat voor my by die Look & Listen-tent verbyloop, se hemp sê UNFUCK THE WORLD. Hy lyk dienooreenkomstig begeesterd met ’n lang blou drinkbottel.

By Kreef Hotel gaan daar bitter min aan – voor die Kreef Chambers (spesifiek Coenie K, De Waal en Advokaat met Vleis as bedrewe hofpolisieman en Charlie as doodsveragtende vuvuzelablaser) eindelik opstaan om die middag te trotseer, bied hierdie tentkamp omtrent soveel opwinding as ’n ou vloerspons. Want niemand is daar nie, sien. Dan, natuurlik, indien jy hierdie gediertes kan raakloop voor hulle in verskillende windrigtings verdwyn, kan jy die volgende goete beleef en glo:

  1. Mens kan ’n tienrandnoot uit ’n swart asdromsak vol rommel toor.
  2. Jägermeister kan gesnuif word.
  3. Dit is inderdaad so – daar is ’n beampte in Kreef Hotel spesifiek vir die doel om te keer dat tentbewoners wat te veel fles vat langs die laatnagvuur nie vooroor kantel en in die vuur bliksem nie.
  4. Botteloopmakers het geen waarde met kiestande en harde tafelhoeke in die omtrek nie.
  5. Die geheime handleiding vir seksueel gefrustreerde alleenlopermanne getiteld “Sewe maniere om draad te trek” is in Kreef Hotel deur ’n formidabele vrou geskryf, maar sal nooit gepubliseer word nie, aangesien nuwe metodes by elke Oppikoppi uitgedink word. Die nuutste twee metodes is “Rof tos” en “Tarentaal” (met laasgenoemde tegniek moet die knaap blykbaar ’n wit veer in die een hand en ’n swart veer in die ander hand hou, en tydens die selfbevredigingsaksie só vinnig hande verwissel dat dit lyk asof hy ’n tarentaal in sy skoot vashou). Bliksem. En “Rof tos” kan nie hier omskryf word nie. Liewer nie.
  6. Coenie K het die lewer van ’n walvis.
  7. Oorpluisies kan as ruilmiddel vir kondome dien.
  8. Al bring jy kussingslope vol van jou eie proviand, jaag die lelike zolhonger jou immer terug na die geurige vleispotte van Kreef Hotel.
  9. Die twee persone met die mees indrukwekkende en dikste slagare in hulle voorarms is Le Roi van Foto Na Dans, en Tranquil se baskitaarspeler. Niemand weet wat sy naam is nie.
  10. Charlie blaas nie meer die vuvuzela vyfuur in die oggend nie, want iemand het die ding verwoed by ’n ander plek gaan indruk. Charlie is tans nog redelik seker die vuvuzela is nie naby sy prostaatklier nie.

Bitter min van die mense wat vir Black Hotels op die hoofverhoog beleef, hou niévan wat hulle hoor en sien nie. En dis moeilik om in die dag, terwyl die son nog skyn en die meeste van die feesgangers nog met bewende lewers en bloedbelope oë tussen die toilette en tente rondstruikel, enigsins ’n indruk met jou musiek te maak. Maar Black Hotels doen dit sonder moeite. En sjoefff, weg is daardie sjerrie-hoofpyn.

Lisa Campbell, die pragtige (en ingetoë) baskitaarspeler, glimlag net liefies elke keer wanneer die oorlamse knape in die voorste ry onophoudelik vir haar skreeu: “Hot bassist! Hot bassist!”

Die Kapenaars en blues-dissipels van Boulevard Blues Band is volgende aan die beurt op dieselfde verhoog – en dis hier waar die groot dansery nou ontketen word. Tot Oom Draadkar is aan’t lyfskud tussen die sweetlywe. John Mostert (daardie taai voorsanger van Blues Broers) bekyk ons eers van agter sy sonbril – en moer ons dan hard met die mojo. Ek dans sonder dat ek dit eens agterkom. Dis Pebbleman Richard Pryor se kitaar, sien. Dis ’n lelike ding as dié se kragte jou eers beetpak.

Ek swaai nog so lekker gat toe een van die sekuriteitsmanne nader kom, my aan die arm vat en kwaai in my oor sê: “Luister, jy moet liewer nie hier voor dans terwyl jy nie besig is om foto’s te neem nie. Dit stel ’n slegte voorbeeld.”

Huh?

Hoe de moer kan jy nié dans vir die blues nie?

Ag ja. Netnou gooi hulle my uit – so met moeite hou ek myself in toom tot Richard en John die laaste noot uitrock. John se bril is lankal af en onder die swart hoed blink sy oë soos twee blou skerwe glas. Richard kom nader en vryf John se skouerspiere soos ’n wafferse fisioterapeut. “Ahhhh yess mah boy, right there, “ sê John. En ’n glimlag kreukel om sy oë.

Dis met die val van die son horison se kant toe dat ek agterkom die algemene gevoel van die dag is een van biologiese aftakeling. Die enigste manier om daardie afgematheid tydelik te besweer, is natuurlik te vinde binne die grondkroeg agter die ry pale met hulle groen en wit vlae. Die meeste van jou vriende wat jy langs die pad verloor, kan jy dan ook altyd weer hier binne kry.

Kidofdoom. Vier jongmanne uit Pretoria wat musiek maak sonder lirieke.

Nuwe klanke, nuwe lekkerte. En dis in die middel van Kidofdoom se kitare en klawers dat ek Liam Lynch se woorde oor hulle onthou: “Like icebergs mating. Hard.” En dis nie ’n rumoerige gepaar nie, nee. Alles instrumenteel en intens, gevoelvol, maar soos in ’n gebalde vuis – nie fieferig emosioneel soos ’n panfluit nie. Weerskante van die verhoog is lang buisligte met stukke kleure wat elke tweede sekonde verander van blou na rooi, geel en pers – en die ouens glimlag heeltyd. Johann, die frenetiese tromspeler, het ’n erg kosbare T-hemp aan. Shu se logo, met hulle album “ars poetica” onder in ’n wit tikfont. Shu. Nóg ’n befokte groep uit Gauteng wat woedend steier teen die bevuilde sleurstroom van middelmatige snertmusiek.

Dan weer ’n hygende trapsessie boontoe vir Paul Riekert en Anton L’Amour se musiekbeurt. Die hele area voor die klein verhoog is absoluut stampvol gepak. Soos dit hoort. Paul rook meesmuilend, teug aan sy glas bier, knik vir Anton en tel sy papiere op. Hy lees donker gedigte en kyk na ons met oë soos gloeiende oniksklippe in sy skedel.

Dinge is intens vasgevang tussen die kilheid van Trent Reznor se woorde in “Closer” en die klank van Paul se stem. Anton L’Amour se sigaret brand tussen sy lippe tot ’n wit stuk as van bykans twee sentimeter – ek staar asof getoor daarna – maar dit bly net so skeef hang sonder om af te val. Alles is vas tussen hierdie twee kunstenaars op die verhoog.

“The ocean doesn’t want me,” lees Paul stadig. Ek ril.

Niemand praat nie.

En net die wind durf roer – effe senuagtig in die bougainvillea by die heining.

Die keuse tussen Dirty Skirts en Rory Eliot om 23:00 is nie ’n maklike een nie. Maar Rory sing nou al geruime tyd sonder sy oorlede sangmaat, Chas Smit, toe hulle nog as Plush bekend gestaan het. En om “Halo” op ’n verhoog te hoor, sal hierdie koue aand met ’n dik wolkombers toemaak.

Ek is nie verbaas om te sien hoe baie mense na Rory kom luister nie. Die gemak waarmee hy speel en met sy gehoor praat, word net deur die krag van sy talent getroef. “Halo” is ’n manjifieke bevestiging van sy geloof – hy sê dat hy met God praat wanneer hy sing “Pick me up, pick me up in your own time …”, maar dat hy, terwyl hy op hierdie mal aardbol moet oorleef, sal doen wat hy kan om alles te hanteer. “I breathe the clouds in” beteken dan ook dat hy dagga sal rook tot dit by sy ore uitkom. Alles om nie mal te word nie.

Hy doen ook ’n liedjie vir Chas. “I still can’t believe you’ve been taken …”

Ek huil my kamera nat.

Sluk dan nog ’n bietjie OBS, en ruk myself reg.

Saam met Ben en Louis is Rory Eliot and The Reason een van die mees inspirerende vertonings van die aand. Almal ken die woorde van die liedjies – en skreeu so hard vir ’n encore dat die ouens net eenvoudig móét terugkom. En hulle doen “Jetlife”.

“Women walk around with mace in their bags –
Just a piece of meat waiting to be tagged.
Oh I can’t believe this happens in my land
I can’t believe the value of the rand …”

Die hele gehoor beaam skreeuend sy woorde.

Rory glimlag en knik, en buig weer oor sy kitaar.

“You gotta prove, you gotta stay humble
Or this world will surely crumble …”

Al wat hierna vir my werk, is die tent.

Want die hardebaardmanne van Architecture of Aggression sal soos ’n brandende stormram déúr die effek van hierdie laaste lied donner as ek nou na hulle moet gaan kyk.

Net voor ek en Klaas Vakie begin tango, onthou ek dat ek toe nooit vir Somerfaan onder by die Sipho Gumede-verhoog gesien het nie.

Fok.

Saterdag

Die dag glip met bitsige sonstrale deur die tent se flap. Thor se voorhamer slaan ’n donga agter my oogkaste oop en die gat in my duim waar ek neergeslaan het, begin nou so ’n bietjie sweer.

Syndol vir die voorhamer en ’n nuwe pleister met ’n smeersel Bactroban, en die wêreld’s my oester.

Oorkant ons staan Jacob en Sam van Tidal Waves langs hulle tent oor die aand se musiekdinge en gesels. Ek hol oor na hulle toe en koop summier nog ’n kopie van hulle ongesensorde “Lekker lekker dans”-kortspeler – maar my glimlag vries op my gesig wanneer Sam vir my sê dat Jacob nie nou klawers speel omdat hy wil nie. Dis omdat hy moet, want Kaya is sowat twee maande gelede dood. So nou soek hulle ’n klawerbordspeler, asseblief, en baie dankie.

Kaya met die bonsende dreads en vinnige vingers. Kaya met die glimlag van ’n ou man en die hart van ’n seun.

Kaya.

Ek hap na lug.

Sam se smal skouertjies hang nog krommer en hy vryf-vryf onbeholpe oor my hare. “Nee man, it’s OK Kerriena; we will always be sad. It’s OK.”

Op Shane van Desmond and the Tutus se gordelgespe staan daar in groot goue hoofletters: JESUS SAVES. Hy dans en sing soos ’n kind sonder groepsdruk en speel ’n piepklein tamboeryntjie wat soos ’n silwer vuisyster om sy vingers pas. Ek kan verstaan dat hierdie jong viertal ’n liedjie soos “Saggy bottom speedo” heelwat meer lewe kan gee as wat dit ooit sal benodig.

Almal dans stywebeen, losbeen, oopbeen. En ek dans in die son om te vergeet van Kaya en Chas Smit se dooie gebreekte lyf op ’n sypaadjie in Durban en dat hulle nooit weer sal sing nie.

Op pad boontoe (hygend, vir die soveelste keer) kry ek die ouens van Foto Na Dans – hulle lyk gereed vir aksie later vanmiddag op die James Phillips-verhoog. Ek strompel verder, vorentoe, boontoe. Voor my stap ’n ou met ’n moerse klip vol droë spriete en rooigrond op sy regterskouer. Ja’k. Daai wit gholfhemp van hom gaan nie meer vir baie lank so bly nie.

Hiert, en almal is hier. Roof, Thys Nywerheid, Zippy, Sonvrou, ag liewe hemel, hoe lekker – almal wat Bacchus en die Bitter Barnards se werk ken. Dit lyk of Bacchus daai nuwe swart Johnny Cash-skoene dra. Ek mis sy ou donkerbruin veterlose Docs.

Tussen “Op die plaas” en die vrou wat haar minnaar aan die bed vasbind en sy vyande laat kom, vlieg die minute soos leë muskiete by my kop verby.

Le Roi en Alex is op die hoofverhoog besig om dinge tussen die klawerbord en trompet te bespied, en ek staan met een dik drang in my kop – dat ek hulle “Vergeet van my” hier sal hoor vandag.

Foto Na Dans begin soos ’n opgefokte huis met mure wat na alle kante toe oopval. Na elke kant toe is daar aksie. Alex wat vervaard oor sy gesig grabbel en dan onthou hy’t ’n bebliksemde trompet in sy regterhand. Neil en sy verbete diksnaar, telkens vas in ’n lugsaluut bokant sy kop. Le Roi wat vlak voor Liam Lynch se stompneuskamera die lug in spring. Dirkie en die malheid van sy tromme. Whooomppp-whoomp-WRRROOMMMPPPP. En hier staan Theuns wat lyk soos ’n priester met eeue se wilde gedagtes wat net in sy oë mag leef maar in sy mond sal sterf – en die kitaar wat vir ons almal deur sy twintig vingers praat.

Le Roi se stem is ouer as water.

En “Soldaatvolk” gebeur deur hierdie vyf lywe voor ons. Stuk vir stuk. Arms in die lug, koppe wat swaai, hare en sweet begin meng. Le Roi met sy linkerarm agter die rug en kitaar in die regterhand terwyl hy so hard as moontlik probeer om sy nek van sy kop af te ruk. Lekkerrrrr. Dit laat sy bos hare net nog kwaaier krul.

“My gedagtes behoort agter tralies
Daar’s net plek vir een in my kis
Ek kon net kyk
Ek kon net kyk
Ek kon net kyk hoe alles vergaan ...”

Blykbaar word die video tot kotsens toe op MK89 gespeel.

Dis jammer.

Maar hier kom “Huiwerig” en die trompet kry nuwe stemme te midde van ’n nuwe sarsie tromroffels uit die hoek uit. Op hierdie verhoog kry jy maar min van die trombeplunderaar se werk te siene. Jy hoor dit wel alte duidelik. ’n Meisie skreeu vir haar vriendin: “Shame man, die ouens was heel naweek baie senuweeagtig!” Maar hier en nou is hulle besig om daardie senuwees stuk vir stuk met elke kitaarsprong te vertrap.

Le Roi stap tot op die rand van die verhoog, rek weer die oë groot en begin uit sy derms uit: “VVUUHHHHRRGEEEET VAAAAAN MYYYYYY …”

Hoendervleis tot verby my kiestande.

En die kitare val agter hom in. In my kop sien ek hoe honderde jongmense (en jou wragtag, tot veertigjariges gaan dit nog vir mekaar sê) hierdie jaar en volgende jaar mekaar in hulle moere in gaan stuur met hierdie liedjie. Want dis kragtig en finaal.

Dis verby.

“VERGEET VAN MY – en volg die roete van Desember …”

Nog ’n hoogtepunt van drie dae se befokte musiek.

En nes ek begin dink dit kan nie beter raak nie, kom klim Nibs van der Spuy en Guy Buttery met hulle kitare op die Gito Baloi-verhoog. Hulle speel liedjies vir Gito en vir ons. Guy se voete is kaal, en Nibs se lang kenbaardjie het groen en geel rekkies in. Hulle speel vir die son wat agter die koppie sak en die hele “Beautiful feet”-album kry kleur op hierdie klein verhoog. Chet Atkins se handtekening loop in swart letters op Nibs se kitaar. En Guy – ja. Guy is ’n edelwese wat ewe maklik met ’n eksotiese langneksiter as ’n bottelnek op kitaarsnare kan praat. Guy doen ’n hele paar snitte van “When I grow up” en die middag word heilig. Hier is die kern van jou motivering – hoekom jy hier is. Om musiek van hierdie standaard versigtig in jou geheue te kan bêre.

“There’s beauty in the feet of the wise man.”

En voor hulle afstap, laat hulle die jong Kimnita van New York twee liedjies op die kitaar vir ons speel. Sy is fyn en beeldskoon. Haar stem pas perfek by haar.

Tussen Jack Hammer se akoestiese speelbeurt bo en Bed On Bricks se windgat tokkelos-vermorseling onder by die kleiner verhoog is dit bykans onmoontlik om alles te sien en te hoor. As jy te vinnig afhol in die donker, val jy jou moer suur. Maar as jy nie jou gat roer nie, dan loop jy dalk “Funny” mis, en Bed On Bricks doen nooit daardie vriesding dieselfde nie – elke keer het dit ander stukke by. Die boodskap bly egter duidelik. “It’s funny you should say that – when you paint your face with the constitution, still the kids got no solution …”

Die stil krag van Piet Botha se stem langs Johnathan Martin (Here God Johno – welkom terug – welkom bra – jy was gemis) se betowerende talent in sy vingers en sy keel is ewe belangrik as die funk en rock wat onder by Bed On Bricks gebeur. Liewe dooie moer. En hulle “Rock star” behoort in elke selfbehepte musiekpersoon se huis gespeel te word tot die boodskap deurdring: Jy met jou Porsche en uitsigwoonstel op die Waterfront – jy dink verniet jy’s so pisscool. Jy moet gaan sit op jou toilet soos almal van ons. Fok jou.

Ons wag vir Tidal Waves. Hulle nuwe baskitaarman kom uitgestap, veel kleiner as die kitaar in sy arms. Almal is in wit. YOWZA. Jaco Mans, wat tans vir hulle voorkitaar speel, lyk gelukkiger as Pumbaa met ’n kruiwa vol krioelende erdwurms.

Valiant doem uit die donkerte op met ’n deurmekaar kuif en kom staan soos ’n stout seun langs Jacob. Hulle grinnik vir mekaar. En doen “Hartseerland”. En swaai-swaai die gatte in die rastaritme. Dan, net so vinnig verdwyn die Mystic Boer weer – dis amper tyd vir hom en Oom Ollie langsaan by die groot verhoog.

Jacob slaat die klawers, groet almal soos altyd met “Original music forrr original peepuhllll!” en die boude voor die verhoog begin swaai vir “Lekker lekker dans”. Jacob het die ougatste aksent met: “Ooo die gort esss garrrr, vir die wat kan nie hoog opspring …”

Ons spring. Mors bier, trap op mekaar se voete, bliksem neer, maar ons spring.

“En weet julle wat, mense?
Dié wat nie kan Afrikaans praat, hy moet nou fokkof, ja.
HA LA LA.

Net Tidal Waves kan hierdie liedjie doen. En net Jacob kan van die verhoog af duik en skaars twee sekondes later terugbons soos ’n rubbermannetjie terwyl Sam sy gat af lag maar terselfdertyd nie eens ’n aks tyd verloor nie.

Jah luv, my brutha. Ons voel almal hierdie liefde op die krop van onse pense. Rastas of te not.

Dis bykans twaalfuur. Die nag is nou kouer as die pak brokkoli in my vrieskas. Ek begin al weer jammer voel vir myself. Ek gaan kry die laaste halwe bottel OBS wat ek die vorige nag soos ’n tipiese paranoïese Johannesburger onder my tentflap ingestop het. Dis ongelooflik terapeuties – hoe die sjerrie warm in jou keelgat afglip en soos ’n goudbruin kat in jou maag gaan opkrul. Hoe jou derms en kniekoppe en selfs jou tieties onder die drie hemde begin ontdooi. Heerlik.

Pamela se ouma woon in Dorpstraat. En die Satang maak bang.

Diegene wat dit nie vanoggend geweet het nie, weet dit vanaand. Voor Valiant en Oom Ollie word daar gejil en gedans, want nou’s die hele ding vuur en vlam – tot in sy murg in. Valiant krul sy lip soos Elvis en doen wrede dinge met sy kitaar. Oom Ollie trek sy skouers op, lag oopbek en doen wreder dinge terug met sy konsertina. Karen Zoid kom aangedans met ’n Ferrari-sweetpaktop, ’n plastiekglas vol bier en ’n glimlag wat Bob Mugabe se bose hart sal smelt. En dis “My hartjie my liefie, die son sak weg”, en Oppikoppi se stof verdubbel onder honderde dansende voete en skoene, en hier en daar ’n lyf wat val. Want dis koud en as jy nie nou begin drink nie, gaan jy verkluim. So jy sluk ’n bietjie meer en vinniger, veral omdat dit voel jy loop op die aeroplane se vlerk my bra.

“Die aeroplane se vlerk
Laat ek my notice-maand uitwerk
Pap tamatie
Ek hou my nie smart ’ie …”

Daar’s geen “Mystic Boer” vanaand nie. Geen grys voëls wat ons dophou of ’n oggend wat opstaan uit die berg nie. Maar dis piekfyn. Die Mystic Boer kan nie oral wees nie. Die man het belangrike werk om te doen in die woestyn – met hekke en tralies en tyd.

***

Dis halfvyf, Sondagoggend. Dis nog pikdonker. ’n Vreemde, bleek stilte hang tussen die tente.

Ek kan nie meer my voete voel nie, al het ek vir bykans vier ure by Kreef Hotel se vuur saam met Zippy en Charlie gesit en oor dassies, dagga en rum gepraat. Het ook gemymer oor waar de donner Coenie K heen verdwyn het. Bietjie gegiggel oor die Horny Monk-shooter wat Valiant eintlik op sy naam moet patenteer. Gewonder oor die ou wat hier op ’n draagbaar met ’n nekstut in ’n ambulans weggery is omdat hy in die stikdonker van daai moer hoë koppie afgeval het.

Mense drink te veel.

Zippy en Sonvrou se oë is nog net so groot soos toe hulle Donderdag hier aangekom het. Daardie verwondering van “O my moer, ek’s by Oppikoppi – en hell yeah, dis veel erger en vuiler en zeffer en befokter as wat ek gedink het”.

Dan loop die storie ook dat ek vir Charlie met my elmboog gemoer het en dis hoe hy sy blouoog gekry het. Ek kan dit glad nie onthou nie. Dit maak my bekommerd – dalk is my korttermyngeheue beskadig weens die obsene hoeveelheid Old Brown Sherry wat ek die afgelope drie dae in my gorrel afgegooi het.

Hoe kan mens nie onthou dat jy iemand met jou elmboog geblaai het nie?

Mense drink te veel. Te veel.

Die ou man met die rooi oorpak en gekraakte selfoon maak vir my die hek oop sodat ek kan terugslof Band Camp toe. Ek is tot in my murg in moeg. My ore suis en die pleister op my duim het lankal tydens Rudimentals se ska-dansery in iemand anders se bier beland. Teboho en Mister Bong het die Sipho Gumede-verhoog geannekseer en in sy malle maai in geska. Ross Da Bone het sy dreads afgeskeer (“Yeah, that was an intensely personal decision for him!” het Teboho nog geskreeu terwyl hy saam met ons vir Jitsvinger gehiphopskop het). Een ding is egter ’n feit soos ’n dassie: Ross se tromboon klink nog net so skerp.

***

Valiant en Oom Ollie se werk word puik en grimmig in die voormiddagson deur Brixton Moord en Roof se Drikus Barnard opgesom:

“Ek het my geloof in Afrikaners verloor.”

“Hoekom?”

“Ek het gisteraand met my girlfriend gesokkie op ‘Pamela se ouma woon in Dorpstraat’ … en ek is ’n punkrocker.”

“Ja, maar hoekom Afrikaners?”

“Want die res van die crowd het daar gestaan soos soutpilare.”


***

Die pad huis toe is vinnig en vol hoofpynpille.

En ek kan dit voel aan my agterent.

Die wete dat ek volgende jaar weer hier op hierdie bedoringde plaas gaan kom rondslinger.

GEHOOR TUSSEN DIE DORINGBOME:

Twee vrouestemme agter my teen die Sipho Gumede-koppie:

“The world has done things to you – but you’ve done more to yourself.”

“Hey nice man! Wie’s dit – TS Eliot?”

“Nee. Chris Letcher.”

Ontstelde jong feesganger wat tydens “AWB/ANC-tiete” vir Koos skreeu:

“Fuck you! Fuck you! You’re FUCKED UP!”

Onbekende meisie wat ’n ander meisie se Korn-T-hemp sien:

“My friend didn’t pitch. Here. You can have her Korn glove. I was going to give it to her.”

Jong krulkopknaap by die boonste verhoog, na ’n swaar sug, vir ’n ry onbekende gesigte op die houtbankies voor hom:

“Ek het sewe maande laas genaai.”

Feesganger wie se vriend R400 moes opdok vir steke ná ’n hou met ’n megafoon teen die kop:

“Pasop. Die mediese tent is nie verniet nie.”

Meisie by die boonste kroeg, laatnag:

“Daardie Oom Ollie is fricken hot.”

Diepdenkende kitaarman van Radio Suid-Afrika se SMS:

“Na vier dae by Oppikoppi word mense soos diere. Nutteloos soos dassies.”

Rokende knaap wat vir Guy Buttery op die Gito Baloi-verhoog raaksien:

“Jisses. Dis Jesus.”

Feesganger in die voorste ry:

“Dis alles baie nice. Die hele band, met Frost en Amajuba, ook daai girl met die keyboard en die dromme en blou rook. Maar … dis nie Koos nie.”

Kuberkoos laat Sondagmiddag:

“Daar was heeltemal te veel Tool-hemde hierdie jaar.”

Albie, wat in die motor op pad terug my ongekamde agterkop krities beskou:

“Jy kan maklik dreads groei, weet jy.”

Pieter, baskitaarman van Revolusie, tydens Clark en Van der Hoven se speelbeurt by Gito Baloi:

“Wees daar of wees ’n ploegskaar.”

Kennisgewing deur Kaptein Chris Kreef by die Kreef Hotel:

The calm thing is to remain important.

***

Dit neem ’n hele paar dae voor ek ’n ander foon kry en die ou nommer na ’n nuwe simkaart kan laat oordra. Ek is steeds nie seker presies waar op die plaas buite Northam daardie arme verstote Nokia nou lê nie. ’n Haastige stukkie e-pos van ’n goeie vriendin laat my egter grinnik:

“NS: Bly jou foon is nou weer in werking ... Dalk kry argeoloë oor ’n paar honderd jaar jou foon daar tussen die klippe en bottels ... artefak uit die vroeë 21ste eeu ...”

Dit wat dan ook die langste bly talm, is die musiek. Hoe dit jou tegelyk inspireer en opfok.

En ek vertaal in my kop die woorde van Rory Eliot se “Love away the days”:

Ek wil die lig laat inkom
deur elke venster en deur –
sodat ek saam met jou kan swem
in die lig op die vloer

Goddank vir ons mense se musiek. Vir Oppikoppi. Al kla ons altyd oor wie daar speel en wie nie.

Want hierdie fees ruk mal.

Goddank vir Oppikoppi.

Katvrou