Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Theunis Engelbrecht: Sound Bites

Soete verleiding, 'n springmielie en 'n cool-chic-slick-chick


Theunis Engelbrecht - 2007-09-04

Dit is die meeste van die tyd moeilik om ‘n Laserskyf van die Maand te kies, omdat daar gewoonlik meer as een aanspraakmaker is. Hierdie maand was daar meer as ‘n hand vol van hulle: Modest Mouse, Bruce Springsteen, Velvet Revolver, The View, Bloc Party, Interpol …

Daar is dus hierdie keer wéér ‘n keuse gemaak van die DRIE kwaaiste CD’s van die maand: Feist, Sinéad O’Connor en Make Some Noise …

CD’S VAN DIE MAAND

Klik en koop Feist

Haar naam is Leslie Feist, sy kom van Kanada en het lank in Parys gewoon. Met haar CD’s Open Season en Let it Die in die eerste helfte van die dekade het sy al baie aanhangers gewerf, en met The Reminder blaas sy almal uit die water.

Volgens die tydskrif Uncut het sy in die 1980’s in Alberta, Kanada, grootgeword. Sy het in skool- en kerkkore gesing, maar was ‘n selferkende punk. Ná skool het sy Toronto toe getrek, waar sy deel geword het van die groep Broken Social Scene.

Dit was veral haar tweede album, Let It Die (2004), wat ‘n kultustreffer geword het met die stadige, broeiende, smeulende liedjies daarop met spatsels van soul, folk en jazz en pragtige poëtiese lirieke.

Die lekkerste CD’s is altyd daai wat ‘n mens nie in ‘n boksie kan druk nie. Feist is so veelsydig - sy kan in uiteenlopende style werk, en terselfdertyd koherensie en kontinuïteit tussen dit alles behou. Hoekom? Wel, sy is uiters talentvol, en sy is eerlik met haarself.

Moenie korporatief-gefabriseerde pop op hierdie CD verwag nie. Verwag in die eerste plek verleidelikheid. Hierdie is die verleidelikste CD wat ek in ‘n lang tyd gehoor het. Norah Jones en Katie Melua kan maar weer in die kinderkranskoor gaan sing, want Feist skop so stof in hulle oë dat daar maklik ‘n orkaan kan ontstaan.

The Reminder is anders as Let It Die – dit het meer skop. Die eerste treffer van die CD, “My Moon My Man”, gee reeds ‘n aanduiding van die heerlike sensuele soort verleidelikheid van die klanke wat Feist optower. Haar weergawe van Nina Simone se “The Park” is met een woord asemrowend. As jy verlep voel en kan doen met ‘n skop in jou agterstewe, luister net kliphard na die perkussie-gedrewe “Sealion” met sy gevoel van oer-energie.

‘n Mens kan eindeloos skryf oor hierdie musiek, maar die plek ontbreek helaas. Ek weet nie wanneer laas jy gevoel het jy word verlei nie, maar as jy weer daai gevoel wil ervaar, koop ‘n bottel plesierwater van jou keuse, gooi ‘n dop, skakel af, sit agteroor en gee jou oor in die arms van Feist. Jy sal nooit weer dieselfde wees nie.

Klik en koopSinéad O’Connor

‘n Mens weet nie altyd so mooi wat hierdie vrou besiel nie, want hierdie album bestaan uit twee CD’s, waarvan die een akoestiese weergawes met kitaar en stem bevat (opgeneem in Dublin), en die ander een popverwerkings van dieselfde liedjies (opgeneem in Londen).

Boonop het daar ‘n fout ingesluip met die verpakking van hierdie CD en is die Dublin- en Londen-plakkers op die skywe self verkeerd om geplak. Só luister ek toe na die Dublin-opnames terwyl ek dink ek luister na die Londen-opnames, en na tien minute is ek die moer in vir Sinéad. Ek aanbid die grond waarop sy loop en die geur wat sy afskei, en het gedink sy begin nou selfherhalend klink.

Diep teleurgesteld druk ek die CD terug in die boksie en het nie dadelik tyd om na die ander skyf te luister nie. ‘n Paar dae later druk ek toe die CD in waarop staan "Dublin Sessions", en kom agter dit is eintlik die Londen-sessies wat daarop is (en andersom). So, toe kon ek nou vir die eerste keer luister na die popverwerkings van die liedjies wat op die ander skyf net met kitaar en stem gesing word.

En siedaar! Ek is mal oor die CD. Die stoute ou Sinéad. Sy moet ophou om haar aanhangers se koppies so deurmekaar te krap. Ek is van mening dat O’Connor en Nina Hagen die allerbedonderdste bestebefokste sangeresse in die wêreld is. Boonop het O’Connor se musiek ‘n sterk spirituele onderlaag en inslag, wat dit verfrissend anders maak as musiek met niks meer as blote materiële substansie nie. Boonop kan mens hoor hierdie oortuigings kom uit O’Connor se hart en dat dit nie kunsmatig gefabriseer word net om ‘n bepaalde marksegment te dien nie. Sy bly een van die mees individuele kunstenaars van ons tyd, en bevestig dit met Theology. As jy langtand byt, soos wat ek gedoen het, gee dit tyd om op jou te groei en speel dit gereeld een keer deur. Jy sal in ‘n japtrap verlei voel.

O’Connor het die meeste liedjies self geskryf, en doen haar eie interpretasies van Curtis Mayfield se “We People Who Are Darker Than Blue”, Tim Rice en Andrew Lloyd Webber se “I Don’t Know How To Love Him” en Boney M se “Rivers of Babylon”. Kortom: ‘n fantastiese plaat. Rillings van verleidelikheid.

Klik en koopVerskeie kunstenaars

Sien jy die prentjie van hierdie CD se omslag? Wel, klik daarop en koop dit onmiddellik by kalahari.net. Jy het geen keuse nie. Doen dit nou, en kom lees dan weer verder hier.

Goed. Wat het jy om na uit te sien in die pos? ‘n Dubbel-CD waarop ‘n klomp uitgelese kunstenaars liedjies van John Lennon sing. Dis alles deel van ‘n projek van Amnestie Internasionaal om geld in te samel vir humanitêre noodverligting in Darfoer. Deur die CD te koop het jy dus ook jou stuiwer gelewer vir ‘n goeie saak.

Mense wat liedjies deur die groot meesters wil sing, moet altyd ligloop. Ek meen, dit sit werklik nie in enige Jan of San Rap se broek (of G-string) om byvoorbeeld liedjies van Bob Dylan, Nina Hagen, Tom Waitz of Wolfgang Amadeus Mozart uit te voer nie. Lennon val ook in dié kategorie.

‘n Mens is byvoorbeeld aanvanklik skepties as jy sien dat Avril Lavigne “Imagine” sing. Maar wat gebeur? Sy blaas jou weg met ‘n briljante vertolking daarvan met klavier en strykkwartet. Sy slaag ook daarin om die liedjie opnuut impak te laat hê – en laat ons heeltemal eerlik wees, so fantasties soos wat die liedjies is, het “Imagine” ook maar al holrug gery begin raak. En dis Lavigne wat dit weer laat nuwe lewe kry. Wow.

Die twee CD’s wemel van hoogtepunte – daar is regtig niks en niemand op wat Lennon se naam in oneer bring deur kak weergawes of misplaaste interpretasies nie. The Flaming Lips maak van “(Just Like) Starting Over” ‘n hartverskeurende ervaring; Green Day slaag daarin om vir “Working Class Hero” stewige bôls te gee; en Black Eyed Peas en Aerosmith met Sierra Leone’s Refugee All Stars blaas ook nuwe lewe in onderskeidelik “Power to the People” en “Give Peace a Chance”.

Snaaks genoeg klink dit of Duran Duran se weergawe van “Instant Karma” beter is as U2 s’n (maar dit hang af van in hoe ‘n mate ‘n mens se oortromme al beskadig is en word bepaal deur hoeveel oorhare jy het). Regina Spektor se weergawe van “Real Love” is subliem, en so ook Ben Harper s’n van “Beautiful Boy”. Youssou N’Dour se weergawe van “Jealous Guy” is loshande die beste weergawe wat daar nog van dié liedjie opgeneem is.

Make Some Noise is ‘n CD wat jou lewenslange vreugde en verwondering sal verskaf. Dit herinner ‘n mens weer ook opnuut daaraan watter fabelagtige liedjies John Lennon geskryf het. Die man was ‘n genius. As jy uitmis op hierdie CD, mis jy uit op fokken baie, dude.


DVD VAN DIE MAAND

Klik en koopBruce Springsteen

Die CD The Seeger Sessions, wat Springsteen verlede jaar uitgereik het, is ‘n versamelstuk. (As jy wil weet hoekom, gaan lees in die vorige Sound Bites hoekom ek laasjaar so gesê het, ek gaan myself nie hier herhaal nie.) Dit was een van die beste CD’s van die jaar wat nooit sy prag en plesier sal verloor nie, want die musiek daarop is tydloos.

Om die vreugde vanjaar nog net dieper in te vryf en meer ekstaties te maak, het Springsteen toe saam met The Sessions Band (wat saam met hom op The Seeger Sessions gespeel het) gaan toer en hul konsert in Dublin opgeneem. Dit is nou op CD sowel as DVD beskikbaar.

The Sessions Band is ‘n absolute vreugde om te aanskou. Dis ‘n moerse groot band, bestaande uit 17 musikante en met instrumente soos ‘n horingseksie (saksofoon, trompet, tromboon), ‘n stryksessie, ‘n baie cool banjospeler (Greg Liszt), pedaalstaalkitaar, trekklavier, klavier, orrel, penniefluitjie, mandolien ens.

The Seeger Sessions was ‘n deel van Springsteen se soektog na roots, wat hom langs die pad van die Amerikaanse folk-geskiedenis gelei het. Wat ‘n ryke erfenis … Dit wys jou, nie alle Amerikaners is drolle nie.

Daar is folk, hillbilly, country, rock ‘n roll, Dixieland, gospel … ‘n uitbundige viering van musiek en van die lewe. Dis musiek met bloed en derms, met ‘n hart wat warm klop.

As jy die CD koop en nie die DVD nie, mis jy nie soveel nie, hoewel dit lekker is om te sien hoe al die outoppies in die band hul harte en siele uitjol. Die DVD is deurgaans half onderbelig, maar dit laat jou nogtans voel asof jy ‘n plesierige karnaval in jou eie voorhuis kan geniet.

Dis boonop ‘n lekker lang konsert – 23 liedjies. Mense wat kaartjies gekoop het, kan nie kla hulle het nie waarde vir hul geld gekry nie. Die weergawe van “When the Saints Go Marching In” op die tweede CD gee mens hoendervleis. Nie gedink so iets is moontlik nie? Wel, gaan luister net …

Live in Dublin is in CD- sowel as DVD-formaat ‘n prima-uitreiking.


NOG
DVD’s

Klik en koopKurt Cobain

Op 8 April 1994 is Kurt Cobain van Nirvana dood aangetref nadat hy homself deur die kop geskiet het. Hy het ‘n geskiedenis van heroïenverslawing en depressie gehad.

Hy was ook die sanger van ‘n groep wat gesorg het vir een van die mylpale van 1990’s-rock, Nevermind.

Op dié DVD word die verhaal van sy lewe vertel. Dis ‘n interessante, aangrypende storie. Dis hartseer om te sien hoe so ‘n mooi man met kennelik baie talent verwoes word deur die lewe, en deur homself. In sy tyd het hy die stem geword van die underdog en outsider. En soos Jim Morrison en Nick Drake sal hy altyd by ons kom spook.

Daar is onderhoude met musikante wat saam met hom gewerk het en ander bedryfsmense, en interessante dinge word bespreek wat ‘n mens se perspektiewe verbreed sover dit Cobain en grunge aanbetref. As ek nog meer vertel, gaan ek van die lekkerkry weggee, so as Kurt Cobain vir jou iets beteken het, koop hierdie DVD of neem dit uit. Indien nie, mis jy ook nie so verskriklik baie as dit by jou verbygaan nie.

Klik en koopP!nk

Bestaan die Afrikaanse woord tierwyfie nog? Waarskynlik nie, want dit is in hierdie tye van versmorende korrektheid seker seksisties om dit te gebruik. Wel, dis die eerste woord wat in ‘n mens se kop opkom as jy aan P!nk dink. Sy het bôls, sy het guts, sy is sterk, sy is ‘n baie lekker girl. Ek laaik haar kwaai.

Haar musiek is ook lekker en heel orraait, hoewel dit nou nie eintlik iets is om oor huis toe te skryf nie. Dat sy weet hoe om ‘n skouspelagtige en energieke konsert aan te bied, is verseker. Agterop die DVD word dit beskryf as “Fantastic acrobatics, eloborate stage sets, sizzling costumes”. Nou ja toe. Die treffers hierop wat heel gaaf is, is “Stupid Girls”, “Who Knew”, “Nobody Knows”, “Trouble” en “Get the Party Started”. Daar is ook ‘n dokumentêre prent, “On the road with Pink”, wat agterop haar DVD-doos beskryf word as “an in-depth look into the tour, the music, the singer and the life of one of rock’s most unpredictable and visionary artists.”

Glo my, die woord visionary hoort nie daar nie. Ek sal nie so ver gaan om die DVD te koop nie, maar as mens dit een aand uitneem by die videowinkel sal jy ‘n aand van eersteklas-vermaak in jou eie voorhuis gewaarborg wees.

Klik en koopStereophonics

As jy ‘n aanhanger is, sal dié dubbel-DVD oor dié groep van Wallis so reg in jou kraal val. In vandag se wêreld, waar rock al hoe meer soos ‘n generiese gekreun begin klink, het Stereophonics darem ‘n varsheid gehad wat hulle ‘n bietjie – let wel, ‘n bietjie – uitgelig het bo die res.

Die DVD bevat ‘n interessante dokumentêr oor hul eerste 10 jaar in die musiekbedryf, en van die mense wat hulle verskyning maak, is vername katte soos Ronnie Wood, Paul Weller, Noel Gallagher, Bono, Jimmy Page, Jools Holland, Roger Daltrey, The Black Crowes en Tom Jones.

Daar is ook beeldmateriaal van meer as twee en ‘n half uur se verhoogoptredes en altesame 39 liedjies word gedek. Van die optredes was by die Glastonbury-fees en die Brit Awards. Daar is ook ‘n foto-album van 32 bladsye.

Op die DVD staan dit is ‘n “extraordinary rags to riches story”. Inderdaad. Net jammer Stereophonics se musiek het nie werklik so ‘n groot impak soos dié van sommige van die voorste groepe van ons tyd nie.

OORBLYFSELS, OORBLYFSELS, OORBLYFSELS …

Terug na die CD’s. Dit is werklik verstommend hoe baie nuwe musiek daar uitgereik is. ‘n Mens skryf net oor die heel bestes wat uit is, en dan bly daar nog ‘n magdom oor. Van hierdie oorblyfsels is so goed dat hulle moet oorstaan tot volgende keer (soos Modest Mouse se We Were Dead Before The Ship Even Sank, Mark Ronson se Version, Björk se Volta), omdat hulle almal baie, baie sterk kandidate is vir die CD van die Maand-titel.

Deur die ander oorblyfsels dartel ‘n mens dus net ligweg en kortliks.

Marcos Hernandez
Jump Into It

Daar moet maar net altyd hartebrekers wees soos Ricky Martin, Enrique Iglesias en Marcos Hernandez. Hulle maak popcorn-pop – wat in Afrikaans nog beter klink: springmielie-pop. Mans wat baie daarvan hou is gewoonlik gay en vrouens wat hulle smaak is gewoonlik seksueel gefrustreerd, want al drie hierdie knapies blyk heel billike springende mielies te hê. Vir baie van ons vat dit egter meer om aan die spring te kom, is ek bevrees om te sê, ou Marcos. Jammer, man. Troos jou daaraan jy is steeds beter as enigiets wat ons al in al vier seisoene van Idols in Suid-Afrika gesien het.

Klik en koopLumidee

‘n Vriendin sê vir my Lumidee probeer Fergilicious wees en dat sy ‘n "cool chic slick chick" is. Sy sal waarskynlik deur die geslagsgelykheidskommissie gedagvaar word oor so ‘n uitlating, hoewel dit tegnies gesproke korrek is. Die musiek het elemente van onder meer hip-hop, R&B en stroperige seventies soul. Die lirieke is nie goed nie en glad nie interessant nie, en trouens geweldig oppervlakkig. Dis cockteaser musiek. My vriendin sê Lumidee het “stunning looks”. Ek sal nie stry nie. Dalk is dit die soort musiek wat hulle speel in die plekke waar paal- en skootdansers hul ding doen? Straks. Maar vir my was dit als baie vervelig.

Hardloop ‘n myl ver weg as jy hierdie CD sien, iemand dit vir jou wil speel of jy dit op radio of TV hoor. Infernal bestaan uit ‘n sexy outjie en ‘n sexy meisie wie se voorkoms en bemarkbaarheid as sekssimbole skynbaar vir hulle baie, baie belangrik is. Hulle maak Euro-dance en nie eers die retroklank kan dit red nie.

Die titelsnit het ‘n irriterend aansteeklike hook wat dit ideaal maak vir selfoon-luitone en Afrikaanse vertalings daarvan deur opportunistiese amateurs wat wil geld maak.

En o ja, die lirieke is uiters oppervlakkig en uitermate weersinwekkend.

Klik en koopSeptember

Op die voorblad is ‘n pragtige blonde engel. Al wat sy in haar mooi koppie hoor, is die gemaal van romantiese wroeginge op ‘n adolessente vlak. Euro-pop wat klink soos iets wat in ‘n stroopmasjien rondgerol is voordat dit op die markplein uitgespoeg is. Pure borrelgom. Ons moet net hoop Nadine en Son-Isha ontdek dit nie en maak Afrikaanse vertalings daarvan nie, want dan sal hulle weer die hele jaar op DKNT pryk.

Klik en koopCalvin Harris

Die liedjies het wonderlike titels: “Merrymaking at my place”, “This is the industry”, “Acceptable in the 80s”, “Traffic Cops”, “Electro Man”. Dis Disco Revisited, ja, en dis baie elektronies en laat mens op plekke ook dink aan die vroeëre Prince, met enkele sterk funk- en disko-beats. Die eerste liedjie is lekker, en daarna verloor dit maar gou stoom, al bly dit op ‘n manier interessant, al is dit net om te hoor watter cheesy retro-idee Harris volgende gaan opstuur. Dis ligweg amuserend, maar nie groovy genoeg om vas te steek nie. As ‘n mens ‘n paar glase wyn in het, sal dit jou eufories laat voel, maar andersins nie juis nie.

Klik en koopAir

Air begin hul trefkrag verloor. Hulle het al goeie albums uitgereik, soos Moon Safari, maar dit begin klink soos musiek vir masseer- en skoonheidsalonne of ‘n tandarts se wagkamer. As jy voel jy het iets nodig om jou te kalmeer, luister hierna. Aan hierdie kant was dit maar net ‘n vervlietende ou lugborreltjie, is ek bevrees om te bely.

Kyk ‘n mens na die omslag, dink jy dié CD het potensiaal om iets besonders te wees: ‘n stokou omie met groot brille. So, is dit nou hoe Sugardaddy lyk? Die titel van die CD is net so kwaai. Jy sien uit daarna om te hoor hoe hierdie ou omie sing, en om te hoor watter temas draai suikerpappies (of vroetelpappies) aan. Maar nee, die omslag is pure misleiding, want die ou omie sing glad nie. Sugardaddy bestaan uit twee jong ouens en hulle maak dansmusiek wat enige losgat-paartie sal laat groove. Die musiek self is niks om oor huis toe te skryf nie. Lekker deep groove op plekke (soos “Hypnotise”) en scratch (“Hate Love Passion”), maar uiteindelik niks meer nie as ‘n goeie klankbaan vir ‘n tweederangse pornografiese fliek.

Nou wat het ons hier? Dis mooi uitgegee en die verpakking is pragtig. Dit lyk soos die tipe CD wat in jappienagklubs in Kampsbaai gespeel word. ‘n Mens kan dus nie jou ore glo as jy daarna luister nie: dis niks anders nie as ‘n opgewarmde weergawe van die destydse Hooked on Classics nie. Musiek van Rossini, Boccherini, Mozart (baie Mozart), Vivaldi en Beethoven word stelselmatig en harteloos verkrag. By party van die musiek het die vervaardigers net ‘n drumbox bygesit. Ongelooflik waartoe mense in staat is. Miskien word hierdie soort musiek by huweliksonthale gespeel. Ek het die heel aand opgegooi nadat ek hierna geluister het, en het vir drie dae daarna nog sooibrand gehad. En arme Mozart en sy maters rol seker nie in hulle grafte om nie, hulle tol. Moet onder geen omstandighede geld hierop mors nie.

Volgende maand: ‘n Rock-special met onder andere Modest Mouse, Arctic Monkeys, Velvet Revolver, The View, The Used, Sick Puppies, Good Charlotte, Ash, Bloc, Billy Talent, Skillet, Sunrise Ave en Daughtry.