Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Rubrieke | Columns > Marius Crous: Man-tot-man

Wat gay seuns wil weet


Marius Crous - 2007-09-04

As in-die-kas-student was die eerste gay roman wat ek op Stellenbosch (nog by die destydse Griet-boekwinkel) gekoop het, Edmund White se A boy’s own story (1982). Dit was inderdaad 'n belangwekkende bydrae tot my worsteling met my seksuele identiteit, veral in 'n tyd toe ek in 'n manskoshuis met sy macho fasade en sy straight bravade moes oorleef. Ek wens ek het toe alreeds geweet van Auden se opvatting dat wanneer ‘n man jou viktimiseer, hy eintlik heimlik eroties aangetrokke voel tot jou.        

In 1987 het 'n vriendin vir my Patricia Nell Warren se klassieke The Front Runner (1974) geleen. Hierdie roman vertel die verhaal van ‘n atletiekafrigter en sy verhouding met sy jong steratleet. Dit was, vir sy tyd, 'n besonder gewaagde tema om aan te sny. Maar volgens die internet is daar sowat tien miljoen kopieë van die roman in nege verskillende tale verkoop. Ek onthou nog die een toneel waar die hoofkarakter se seuntjie met 'n speelgoedvliegtuigie in die hand loop en die pa dit sien as 'n pompende, volbloed ereksie.

En tog glo die meeste straight mense steeds na al die jare dat rugbyspelers, atlete en sportmanne nie gay kan wees nie.

Adam Mars-Jones se The dark proof – stories from a crisis (1987) was een van die eerste kortverhaalbundels oor vigs wat ek gelees het. Die verhaal “Slim” het ook vir die eerste keer vir my die koppeling gemaak tussen vigs as aftakelende siekte en die benaming “slimming disease”.

Een van die gay romans wat om die een of ander rede my altyd bybly, is Christopher Bram se Surprising myself (1988.) Seker maar vanweë sentiment en nie om literêre redes nie. Nie net is dit 'n pragtige liefdesverhaal oor Joel en Corey nie, maar dit laat mens anders kyk na die macho boelies saam met wie jy op skool was. Heimlik wens ons almal ons loop die jock een aand in ‘n gay bar raak in die gestalte van 'n hustler. Die teks lewer ook kommentaar op gay verhoudings.

Ek onthou hoe geskok ek was toe ek as student 'n reeks verse oor ‘n onbeantwoorde hetero-liefde geskryf het en Danie Botha by 'n werkswinkel gepraat het van die “homoerotiese elemente” in die teks. Het ek dit dan nie goed genoeg weggesteek nie? Maar dit het heelwat tyd en terapie gekos voordat ek dit aan myself en ander kon erken.

Dit verklaar ook hoekom ek ‘n boek soos Fucking Martin (1993) van Dale Peck moes uitstal, tot groot ontsteltenis van die ander mense om my in die restaurant. Of hoe 'n leersame vonds Alan Hollinghurst se The swimming-pool library (1988) was, want dit vertel van seks in openbare toilette, van die obsessie met liggame en liggaamsbou en veral ook seks tussen mans oor die kleurgrens. Laasgenoemde sny hy weer aan in sy Bookerpryswenner, The line of beauty (2004).  

Omdat die kritici in Afrikaans nooit werklik die bul by die horing(s) gepak het nie, is die versluierde gay elemente in die werk van Karel Schoeman nooit behoorlik toegelig nie. Ek dink nou maar net aan Op ‘n eiland. Ook in die geval van Hennie Aucamp is daar eerder klem gelê op die stilistiese towerkrag van die tekste. Eers met Koos Prinsloo en Johann de Lange was daar – goddank – ‘n groter openhartigheid. Of met Brand Vermeer se oopgooi van die gym se kleedkamers.

Die geile godslasterlike geskrifte van Gerard Reve en sy mistieke belewing van gay seksualiteit en religie was ook een van die groot ontdekkings op universiteit. Nou is burgerlike verbintenisse wettig, maar in sy tyd het sy huwelik selfs die verdraagsame Hollanders ontstem.

My universiteitsjare is ook gekenmerk deur die verfilmde weergawe van E M Forster se klassieke Maurice en die gay ikoon Rupert Everett in Another country. Ek herinner my nog aan hoe geskok ‘n straight medestudent was, wat saamgesleep is na Maurice toe en vir wie die sekstonele tussen meester en slaaf te veel was.

Die vormende rol van hierdie tekste in my eie identiteitsoeke beklemtoon net weer die rol wat literatuur kan speel in die lewe. Ek koppel dit nou nie hier aan die opvatting dat literatuur die werklikheid moet weerspieël nie. Vir ‘n verwarde in-die-kas-moffie wys hierdie tekste vir jou dat daar nog baie ander soos jy is; dat daar buite mense is wat deur dieselfde trauma en ellende as jy gaan. Dit bevredig ook die nuuskierigheid. Kan mens selfs beweer: dit is ‘n tipe trap-der-jeugd? ‘n Tipe, “Wat gay seuns wil weet”?

En nou praat ek nie net van smeermiddels en seksposisies nie. Daar bestaan in elk geval genoeg gay porn en pulpskrifte om meer hieroor te leer. Een vakansie het ‘n Duitser vir my ‘n pulproman geleen van ene Robbie, die seun van 'n diplomaat met ‘n enorme lul. Hy het ‘n EU in die kleine deurgedraf. Ek hoop dit het my Duitse woordeskat, net soos Ralf König se strokies dit sou doen, verbeter.

Sentraal in enige mens se lewe is die soeke na aanvaarding en veral omdat gays so moeilik aanvaar word, lees ons in gay tekste: Jy is goed genoeg. Jy is nie alleen nie. Amper soos in Koestenbaum se The Queen’s throat waarin hy aandui hoekom gays so assosieer met tragiese operaheldinne en soprane soos Maria Callas.

Die groot vraag wat mens nou moet vra, is: Het die aanwesigheid van gay literatuur, die insluit van gay karakters in nie-Afrikaanse televisieprente en ‘n groter bewuswees daarvan in die media, enigsins bygedra tot ‘n beter begrip en aanvaarding van gaywees? Impliseer die beheptheid met 'n eiesoortige gay literatuur nie 'n terugtrek in ‘n ghetto van samehorigheid nie? Het die gaygerigte inslag van die Grondwet mense se vooroordeel en afkeeuuuur verminder?

Gestel ‘n oningeligte straight persoon lees ‘n roman waarin die hoofkarakter ‘n getroude man is en dan ‘n seksuele verhouding met ‘n ander man aanknoop. Wat gaan sy reaksie wees? Gaan dit sy stereotipiese sienswyses versterk? Gaan hy dink: wag ‘n bietjie, ek moet dit ook probeer? Of gaan hy toegee dat daar iets soos biseksualiteit is? Mens kan maar bloot net aanhou spekuleer.