Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

Wat is taal?


Ampie Coetzee - 2007-08-29

Die onderwerp van hierdie lesing het ek self gekies.

Miskien het ek te veel afgebyt, want vanaf die begin van die wêreld word daar al gepraat van taal; en ek kan nie vasstel of daar nog ooit uitgevind is wat dit is nie. Maar wat ek wel weet, is dat in ons land daar verskriklike verwarring heers. 'n Land met 11 tale, waar almal ewe veel bemagtig behoort te wees in terme van die Grondwet - wat dit klaarblyklik nie kan deurvoer nie, of eintlik nie omgee nie, omdat daar ander ellendes is wat dringend moet aandag kry, soos armoede en misdaad. Dit is so; maar geen bewustheid van taal kan net so rampspoedig wees soos 'n nasie van dom mense nie.

Dit lyk asof die maklikste uitweg dan is: net een nasionale taal, en die ander moet maar tevrede wees met wat hulle het – en van dié wat gehad het, moet weggeneem word wat hulle gehad het.

Hopelik sal ek êrens in my soektog na wat taal is en hoe dit funksioneer – en ook hoe dit eenheid onder groepe mense kan bring – tussendeur iets kan sê oor bemagtiging deur taal.

Waar begin mens met die vraag?

Dis tog vanselfsprekend dat taal kommunikasie is: dit is die instrument wat God – of iemand – aan ons gegee het om met mekaar te kommunikeer . Maar hoe het dit ontstaan?

Ek begin by die begin; en ek sal so ver moontlik chronologies probeer werk; maar daar sal natuurlik kruisverwysings wees. Intertekstueel.

Die evangelie volgens Johannes 1 in die Bybel begin met die opskrif: "Die vleeswording van die Woord". Dan volg die eerste vers met: "

In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God ..." En dan later: "En die woord het vlees geword en het onder ons gewoon ..."

Nou ek weet, en ek sal met geen teoloog stry nie: hierdie Woord is die Logos, en dis met 'n hoofletter geskryf, en dis God is gelyk aan Woord. Maar Woord is nog woord – en woord is taal. So: hoe jy dit ook al sien: êrens het taal by 'n god begin (maak nie saak watter god nie, of watter ongeluk, of watter noodlot nie). So die begin is eintlik onduidelik/onseker – soos alle beginne. En as die begin met die gode te doen gehad het, dan is die soeke eintlik onnodig – dis dan miskien 'n gerieflike uitweg. Maar die akademiese diskoers werk nie so nie.

Kom ons kyk na die woord wat mens geword het – min of meer vanaf die begin van skrif. Die orale so ver terug kan ons nie van weet nie; dis eintlik eers wanneer skrif gekom het dat daaroor opgeteken is.

Die Griekse filosoof Aristoteles het nie direk oor taal en die ontstaan van taal gepraat nie, maar alreeds oor die middele wat taal gebruik, soos die retorika. Dit bestaan uit drie dele: 'n teorie oor argumentasie, argumente vir bewys; dan is daar ook nog 'n teorie van styl, en uiteindelik 'n teorie van komposisie. Retorika word vandag beskou as 'n "futiele dissipline", en ons gebruik dit nog in literêre evaluasie as 'n negatiewe eienskap. Binne daardie dissipline het metafoor egter ontstaan, maar met 'n unieke struktuur en twee funksies: die retoriese en die poëtiese, en veral met toespitsing op die woord. Metafoor dan as 'n verplasing en die uitbreiding van betekenis. Hier is ons dan al verder as die direkte betekenis van die woord: die woord begin al meer word as net direkte kommunikasie. ('n Eenvoudige en direkte voorbeeld van metafoor wat die betekenis van die woord uitbrei: ryp-word in Van Wyk Louw se "Vroegherfs", met die drie betekenisse van ryp-word).

Aristoteles het egter ook verder gegaan met die karakterisering van metafoor, naamlik as die middel waardeur ooreenkomste gesien word waar dit skynbaar nie bestaan nie – of hoegenaamd nie bestaan nie – maar betekenis oproep wat nie anders sou kon nie. Soos uit 'n gedig van Breyten wat ek later sal gebruik. Dit gaan oor die probleme van skryf: "die skrywe 'n spaar piesang in 'n masseersalon" (OD,  360). Verduidelik? Goeie illustrasie van die bymekaarbring van teenstrydige – of selfs die onmoontlike.

Hier gaan dit oor die woord en die metafoor. Maar: Wat is taal?

Net kortliks, die ou grote wat in die paradys was, en in die hel, Dante Alighieri, het 'n vernakulêr in sy De Vulgari Eloquentia, 'n soort ars poetica (die woord eloquentia presiseer: die elokwensie, mooi-spraak), wat hy gedefinieer het as die spraak wat 'n baba leer as hy/sy begin artikuleer, die namaak van die klanke gemaak deur die moeder, wat dan woorde word voordat daar reëls vir taal gemaak word. Daarteenoor staan die taal waarvan die grammatika geleer moet word, wat eers na lang studie bemeester kan word. Die Romeine se ekwivalent vir grammatika was locutio secudaria. Moedertaal teenoor tweede taal.

Wat ek in my vermoeiende soeke kon opspoor, is in die werk van Jean-Jaques Rousseau, 'n opstel met die titel "Essay oor die oorsprong van tale" (1765).

Hy teoretiseer dat een moontlike oorsprong van taal die gebaar ("gesture") is, wat 'n sterk vorm van kommunikasie is, omdat dit fisieke nodighede oordra; en dan kom ook by die uitdrukking (letterlike woord) van passie: haat, liefde, meegevoel. Dan eers kom spraak. Ook was die taal eerste figuratief: die wêreld is begryp deur die beelde wat gevorm is deur passie, en daarvolgens beskryf. Letterlike betekenis het eers later gekom – toe dit dan ook vir minder emosionele doeleindes gebruik is: "Idees van rede vervang sentimente van die hart." Hierdie veranderings word versnel deur die ontwikkeling van skrif: ideografiese simbole word vervang deur 'n kosmopolitiese alfabet, wat dan spraak vaslê en dit meer eksak maak – ten koste van ekspressiewe uitdrukkingsvermoë. Die verbetering van grammatika lei tot 'n verlies aan vitaliteit.

Skrif is eintlik 'n supplement tot spraak, noodsaaklik maar 'n vermindering. Hierdie konsep van die supplement word in ons tyd deur die Franse filosoof Jacques Derrida sterk betwis. Maar dis vir later.

Dis egter van belang dat linguiste – en nou nie filosowe nie – ook Rousseau gedurig aanhaal. Hier moet ek net vlugtig noem dat die enigste lewende linguis van internasionale status, Noam Chomsky, ook nog nie van Rousseau kan wegkom nie. Hy haal – binne 'n ander konteks - aan: As die mens spraak nodig het om te leer om te dink, is daar nog die noodsaak om te weet van die kuns van spraak. Die kuns van spraak (ons sal vandag eerder praat van die kuns van skryf, en dan kom ons by die digkuns uit: ook een van die oudste wyses van uitdrukking, maar hier laat ek my nou nie in nie!) … Rousseau dan verder: die kuns van spraak kan gedagtes kommunikeer en gemeenskap tussen "minds" vestig.

(Die afwesigheid van 'n Afrikaanse woord  vir mind illustreer die feit dat ons dit nie het nie – dat ons dit dus elke keer moet omskryf – dus: woorde maak konsepte – hoe minder woorde hoe minder konsepte!).

Chomsky haal in 'n eerbetoon aan 'n ander linguis, Wilhelm von Humboldt,

hom (Humboldt) aan waar hý oor Rousseau praat, en noem dat taal eintlik nie aangeleer kan word nie, maar in die verstand ontwaak, en mens kan slegs die draad voorsien waarlangs dit self sal ontwikkel.

Chomsky en Humboldt was ook aktiviste (Chomsky leef natuurlik nog, en word in Amerika hoog geag as intellektueel). 'n Uitgangspunt rondom taal in hierdie verband was dat dit 'n ontwaking van bewussyn bring wat kan lei tot die transformasie van die passiewe, geëksploiteerde laer klasse, tot bewuste en kritiese meesters van hulle eie lot. 

Ek het nou afgewyk van my poging tot 'n chronologiese oorsig van denke oor taal. Maar dis Rousseau se skuld – wat nog altyd denke beïnvloed.

Nou, die ander persoon – filosoof, aktivis, denker in die wydste sin van die woord –sonder wie die moderne Franse filosofie nie sou kon klaarkom nie: Friedrich Nietzsche, die filosoof wat gesê het God is dood. Miskien figuratief? Hy is sekerlik een van die eerstes wat aanvaarde waarhede met die uitdrukking "is dood" begin het. In ons tyd nog het Roland Barthes gekom met "die skrywer is dood." Dis natuurlik simbolies verklaarbaar. Hier by ons sou ons kon sê "Afrikaans is dood." Maar ons hoop nog al die tyd dat dit nie so is nie – en met die werk van die Sentrum vir die Bemagtiging deur Afrikaans is daar hoop – net soos ons van die Breytenbach-sentrum hoop om Afrikaans weer te laat bloei in hierdie valleie waar dit begin het.

Van Nietzsche is daar enkele mal-klinkende gedagtes oor die ontstaan van taal. Maar luister of u nie weer iets van Rousseau gaan hoor nie. Hy gebruik die Duitse woord Rausch as sleutelwoord hier, figuurlik vir "dolheid", "raserny", "frenzy" (die werklike betekenis is "dronkenskap"). Die essensie van Rauch, sê hy, is die gevoel van verhoogde mag ("Kraftsteigerung") en oorvloed. Net soos Rausch die oorsprong van tale is, so word die regte kunstenaar die erfgenaam en eksploiteerder van die linguistiese instink wat die mens vergader het.

Die mens, sê Nietzsche, is eerstens 'n biologiese wese, maar het sosiaal geword, en nuwe faktore het gekom in sy verstandelike ontwikkeling. Die eerste was taal. Dit domineer ons bewuste denke, in so 'n mate dat ons geneig is om waar te neem en te dink slegs dit waarvoor ons taal het; en as ons geheel en al rebelleer teen hierdie linguistiese tirannie, hou ons op om te dink. Woorde dien net om aan te wys, te be-teken (vir "Bezeichnung"), en nie vir begrip nie. En dan kom die ontnugtering met die woord. Hier beweeg hy vroeg al nader aan die wroeging van die moderne digter (by ons veral Breyten en Van Wyk Louw). Sê Nietzsche verder: die woord verdun (verwater), stomp af; die woord depersonaliseer; die woord maak die ongewone gewoon. Die aandrang op 'n toereikende wyse van uitdrukking is onsinnig: dit lê in die essensie van 'n taal, van 'n medium tot uitdrukking om slegs 'n verhouding uit te druk. Wat hy hier uitdruk, word in die poësie dikwels probeer om te verwoord.

By wyse van ’n soort voetnoot sal ek twee voorbeelde gee: een van Van Wyk Louw, en een van Breyten:   

 

  • Van Wyk Louw

Hy filosofeer oor die feit dat die woord in die gedig eintlik nie meer veel

kan verrig nie, en wonder of daar nie iets soos 'n fluit kan wees wat die wêreld kan transformeer nie. Maar dit is ook nie daar nie:

Maar: omdat geen fluit voorhande is nie,
Moet ons in die weefsels van
(o) van ons dink-histologie
soek: om lug en kraakbeen
brein-sel, vleis en slymvlies
sonder slymerigheid van ons histories-
en geweefde denke te bespie;
sódat en ópdat ons in woorde, wat
maar klank en teken is,
in ná-geskape skeppinge
die skepping van die god
déúr-dink, déúr-praat.

  • En dan die voorbeeld uit Breyten, ligter van trant, parodiërend op sy verhaal van die pampoen ("Fascistiese Pampoen"):

    die skrywe 'n spaar piesang in 'n masseersalon
    maak die hande iewers vas want dit moet uiters
    vermoeiend wees om sonder wind te vlieg
    skryf: trek jou onvars gesig liewer in
    daar is nie baie oor nie
    en gaan staan op die dak van doomsdy te sing

Dis Nietzsche en die moderne digters oor die frustrerende beperkings van die woord. Wat dan as jy nog nie eens een taal kan bemeester nie?

Die kortste, maar waarskynlik die belangrikste, bydrae tot die werking van taal kom van die Franse linguis Ferdinand de Saussure. Sy analise, wat vervat is in lesings wat later deur sy studente gepubliseer is, werk so: Daar is drie elemente in taal: die woord is teken (die woord perd is die teken vir 'n perd). (Ek onthou 'n vraag in 'n eksamen lank gelede: "Die perd wat in hierdie sin staan, is nie 'n perd nie: waarom nie?".) Die woord is teken, wat bestaan uit 'n betekenaar en 'n betekende. Die verbintenis tussen die betekenaar en die betekende is arbitrêr – die linguistiese teken is arbitrêr.

De Saussure se eenvoudige uiteensetting is só aanvaar in sowel die taalkundige gemeenskap as in die filosofie s'n dat daar nie eens meer na hom as sodanig verwys word nie. Dit is die teorie van die werking van taal, en alhoewel dit nie 'n direkte antwoord gee op die vraag wat taal is nie, gee dit wel insig in die wyse waarop taal werk – wat taal dus taal maak: die ver-taal van die werklikheid in woorde. Tweedehands; en dis hoe ons die werklikheid ervaar. Maar nog, en dis belangrik:  woorde maak idees, woorde maak betekenis. Hoe minder woorde, hoe minder betekenis.

By Ludwig Wittgenstein gaan dit ook nie meer oor die ontstaan van taal nie, maar veral oor taal as sosiale instrument, of reeks instrumente, wat gedurig deur die samelewing ontwikkel word om verskeie doeleindes te dien. So het, in ons tyd, konsepte soos transformasie, bemagtiging, een nasie deel van ons maatskaplike woordeskat geword; en dan die konstrukte geskep waarbinne in politieke en sosiale verband nou gewerk word. Dis in die eerste plek woorde wat dit gemaak het. Skrif.

Wittgenstein het ook met die interessante teorie van taal-spel gekom, waarin taal vergelyk word met 'n sak vol verskillende speel-apparate (tennis, hokkie, sokker – seker nie rugby nie, want hy het gekom van Oostenryk!); en dan het elk sy eie reëls. Om dan te verstaan wat aangaan in die spel, moet jy die reëls daarvan ken. Jy kan dus nie sokker met 'n hokkiebal speel nie. So is daar in diskoers verskillende uitings wat binne daardie diskoers "geldig" is. Dis goed en wel; maar jy kan tog politiek en rugby praat! Wittgenstein werk ook met die betekenaar-betekende-konsep van Saussure, maar binne hierdie "wordgames" het hy nie rekening gehou met literêre kreatiwiteit nie, soos byvoorbeeld 'n verbreking van die spel in Breyten se pampoen-storie. Hier is die betekende 'n pampoen; maar dis 'n pampoen wat grom en eet en 'n maan word. Binne die diskoers van die letterkunde is dit aanvaarbaar – en dis die wonder van taal-as-teken: jy kan die reëls oorskry. Maar dan moet jy eers taal ken, en ook kreatief ken.

Ek moet nou kom by die postmoderne filosowe se taalsienings, veral Jacques Derrida en Michel Foucault s'n. Hier sal ek net enkele idees kan noem (ook omdat ek nie alles verstaan nie). Die klem lê hier op teks – by Derrida veral – teks bo spraak. Ek het al genoem dat Derrida Rousseau se klem op spraak bo teks dekonstrueer: teks is nie 'n supplement nie, maar alles is teks, met ander woorde skrif. ('n Hele afdeling van sy boek word gewy aan Rousseau se essay.) Derrida se uitspraak is beroemd: daar is niks buite die teks nie (dink maar, om te vereenvoudig, hoe jou lewe deur teks gevorm word, en beheer word – van die Bybel tot die ID-boek). Maar dit beteken nie 'n verabsolutering van die teks nie, want in die postmoderne geskrifte bestaan daar geen absolutes nie: die teks verander gedurig.

Hy begin ook by die logos, soos ek probeer het. In 'n hoofstuk uit sy sleutelwerk, Of Grammatolgy, skryf hy so oor die logos (ek gee die aanhaling uit die Engelse vertaling van die werk, want ek matig my nie aan om dit in Afrikaans te vertaal nie – die vertaler se Voorwoord beslaan 87 bladsye!):

The “rationality” … which governs a writing thus enlarged and radicalized, no longer issues from a logos. Further, it inaugurates the destruction, not the demolition but the de-sedimentation, the de-construction, of all the significations that have their source in that of the logos.

Wat gebeur nou met die "significations", met be-teken-is?

In die betekenaar-betekende-verhouding is die betekende min of meer 'n vaste entiteit, maar is die betekenaar verskuiwend (soos die woord boom kan wees boom-met-blare; boom-van-'n-blik; boom-skraap; boom-wat-jy-rook. Soos: "Die boom is boomskraap wat ek onder die boom gelê en rook het"). Die betekenaar is dan nie gekoppel aan die betekende nie. Daar gaan De Saussure dan ook!

Ek kan miskien 'n minder flippante voorbeeld gee van 'n betekenaar sonder betekenis, sonder 'n betekende dus. Breyten noem sy een digbundel ("YK"). Yk beteken "merkteken", "stempel op mate en gewigte"; en 'n geykte uitdrukking is 'n gekende uitdrukking, maar ook iets soos 'n cliché. Dus drie betekenisse, nie 'n vaste betekende nie. Wat van die hakies en die aanhalingstekens? Die aanhalingstekens is alreeds tekens – dit staan in die naam daarvan; en hierdie tekens het 'n hele paar funksies in die skrif (ek gaan nie daarop in nie), maar die feit is dat dit ook nie 'n betekende het nie. Dieselfde met hakies. Sê nou maar ons lees yk as cliché – wat niks beteken nie (soos in: "Alles is nou in plek vir die vergadering") – en hakies en aanhalingstekens wat niks kan beteken sonder 'n betekenaar nie. Dan het ons Niks. Die titel van die bundel het geen betekende nie. Dis nie iets nie – en dit is wat Breyten by implikasie gedurig oor die digkuns sê. Maar hier is tog skrif, en verskeie betekenisse. Dus niks, maar ook tog iets. So sou dekonstruksie werk. Ek glo nie Breyten het hom verdiep in Derrida se geskrifte nie (hy was in elk geval in die tronk toe hy hierdie bundel geskryf het); maar hy ken woorde, en kan intuïtief verskeie betekenisse aanvoel. Daarom is hy ook 'n meester van die metafoor. Dit gaan nie om Breyten nie.

Ek wil net weer illustreer hoe 'n ongelooflike instrument/middel taal is. En dan mors ons daarmee in hierdie land – soos om mense se moedertale te laat verwaarloos. Ter wille van Engels – "broken English". Ek het dit nie teen Engels nie, soos dom mense dit teen Afrikaans het nie. Tale is tale. Dis die mense, die hegemonieë wat dit praat. (Jammer vir die oomblik van pontfikasie!)

Maar tot so ver van Derrida.

Daar is nou min ruimte om ook oor Michel Foucault te praat. Hy is die filosoof wat die konsep diskoers in detail verfyn het tot die diskursiewe formasie. Hy het 'n wonderlike, poëtiese toespraak gemaak – "Die diskoers oor taal" - wat soms moeilik is om te begryp. Ek stel voor dat u dit vir huiswerk gaan lees! Dit wat ons geglo het ons kan verstaan van taal, naamlik dat ons dit eintlik nie kan verstaan nie, beteken nie dat filosowe en digters en romanskrywers daarmee klaar is nie.

Ek wil afsluit met 'n teks waarin die soeke na die oorsprong van taal ikonoklasties – en ietwat spottend – gefiksionaliseer word. Dis 'n boek van Umberto Eco, die Italiaanse professor in Semiotika aan die Universiteit van Bologna, wat in 1999 verskyn het: Serendipities – Language and Lunacy. 'n Serendipity is soos 'n valse geloof en ontdekking wat soms kan lei tot die ontdekking van iets wat waar is. Soos Columbus wat geseil het in die geloof dat hy die Ooste sal vind, en toe Amerika ontdek het.

In die boek is 'n hoofstuk met die titel "Languages in Paradise". Eco sê aan die begin daarvan dat sy storie die voordeel bo baie ander het, want dit het by die Begin begin. Myne het ook; maar syne het met die mens begin: dit begin in die tuin van Eden waar Adam met God praat, en Dante Alighieri, die digter van die "Inferno" en die "Paradiso", ontmoet dan ook vir Adam en gesels met hom.

Die verhaal is natuurlik fiksie, maar met baie aanhalings uit geleerde tekste. Waar hy veral spekuleer, is oor die Toring van Babel, spesifiek oor die verwarring van tale. Hy het glo gelees dat die mense daar hulle een taal verloor het as gevolg van skrik toe die toring vernietig is! Die teks uit die Bybel sê eintlik iets anders oor die einde van die toring. Ek haal 'n stukkie aan, omdat daar by wyse van spreke miskien iets op ons van toepassing kan wees:

Toe daal die Here neer om die stad en die toring te besien waaraan die mense-kinders gebou het.

En die Here sê: daar is hulle nou een volk en het almal een taal! En dit is net die begin van hulle onderneming: nou sal niks vir hulle meer onmoontlik wees van wat hulle van plan was om te doen nie.

Kom, laat Ons neerdaal en hulle taal daar verwar, sodat die een die taal van die ander nie kan verstaan nie.

As ons maar net een taal gehad het, sou ons ook een nasie kan wees. Waar is ons Toring van Babel?

Maar miskien is ons begenadig – dat ons in verskeidenheid moet leer saamleef – en moet leer om met die verstrooiing van ons tale kreatief te dink aan oplossings.

Uit die insident van die verstrooiing van die tale stel Eco vas dat Hebreeus die primordiale taal was, en ná die ineenstorting van die toring was dit nog die taal van die uitverkorenes. Dit beteken dat die taal wat Adam en Eva met mekaar gepraat het, en ook – veral - met God, Hebreeus was. Toe God aan die begin gesê het: "Laat daar lig wees", het hy dit in Hebreeus geuit. Daar het ons wêreld en taal toe begin!

Wat wou ek dus sê? Eintlik, dat taal so ondefinieerbaar is, en so waar is, en so nodig is vir ons verkryging van kennis van ons wêreld dat ons dit moet koester; en veral besorg moet wees oor die verwaarlosing van moedertale – of huistale, as u nie van die konsep moeder hou nie – want dis waar kennis die eerste begin vorm.

 

Bibliografie

Aristotle. 1942. The pocket Aristotle. Edited with prefatory notes by Justin D Kaplan. Pocket Books, New York.

Breytenbach, Breyten. 2005. Die Ongedanste Dans. Human en Rousseau, Kaapstad en Pretoria.

Chomsky, Noam. 1987. The Chomsky Reader. Edited by James Peck. Pantheon Books, New York.

Derrida, Jacques. 1974. Of Grammatology. The John Hopkins University Press, Baltimore en Londen.

Eco, Umberto. 1999. Serendipities, Language and Lunacy. Phoenix, Londen.

Flew, Antony. 1979. A Dictionary of Philosophy. Pan Books, Londen.

Foucault, Michel. 1973. The Archaeology of Knowledge, and the Discourse of Language. Pantheon Books, New York.

Louw, NP van Wyk. 1962. Tristia, en ander voorspele en vlugte. Human en Rousseau, Kaapstad.

Plato. Selected Passages. Edited by RW Livingstone. Oxford University Press.

Ricoeur, Paul. 1977. The Rule of Metaphor. Routledge, Londen en New York.

 

(Lesing gelewer by die SBA Winterlesings: Breytenbach-huis, Wellington, 28 Julie 2007)