Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Katvrou: Katswink

Dans op Loftus met die Robster


Katvrou - 2006-07-07

Foto: Frans van Wyk Maandagoggend na die Paasfees-Oppikoppi.

Ons knaag aan ‘n laat ontbyt in ‘n besige Wimpy iewers buite Brits wanneer vriendin Linda se sms deurkom dat hulle nou uit Johannesburg ry om te gaan toustaan vir lekker staanplek op Loftus – vir die Robbie Williams-man. Hulle sal vir my ‘n staanplekkie hou.

Dis nou bykans halftwaalf. Die Robster begin na alle waarskynlikheid eers nege-uur vanaand geluide binne sy mikrofoon maak.

O die skunnige waansin.

Verskeie ure nadat Oppikoppi se rooigrond, klitsgras en murgmoegheid uit my lyf geweek is, kry ek die regte hek by Loftus. Die meeste van die toue is nou reeds uitgedun tot klein groepies Robbie-begeesterdes met R-hemde en duiselige koppe.

“Hoekom lyk jy so sleg?” word ek gevra die oomblik wat ek my sit op die toegepakte rugbyveld kry. Linda is op die plek vies. “Man, los haar. Sy was by Oppikoppi.”

‘n Kort stilte. Dan: “Wat is Oppikoppi?”

Dit gaan ‘n lang aand wees. Ek begin myself vra wat de moer ek hier doen. Om ná drie behaaglike dae se plaaslike bloubloedmusiek aspris my opperversadigde gees te kom uitmergel vir ‘n selfbehepte arrogante klein vreksel van ‘n ander kontinent, is pure masochisme.

Maar ek is nou hier, al is dit ook net om te sien hoe doen hy “Advertising Space”.

Die son het pas agter die stadion gaan sit. Die meeste van ons lê eers so half op die een boud. Jy weet mos jou voete gaan dit ontgeld – so jy werk saggies met hulle. Maar soos die staanveld om die Golden Circle voller raak, begin die mense ook knorriger raak omdat daar onmiddellik meer plek sal wees as almal tog net wil staan.

Teen sesuur se kant is dit dan ook so. Donkerskemer, die hele staanveld is nou bykans vol, en die sitplekke in die stadion word nou ook drupsgewys met lywe bestippel. Die groot videoskerm links wys nog heeltyd musiekvideo’s van internasionale groepe, met hier en daar ‘n advertensie ingeprop.

Dis koel. Maar niemand kry koud nie. Die Robbie-koors loop dik. Ek begin reeds my gewig van die een voet na die ander verskuif en probeer die feit ignoreer dat ek tot in my beendere in moeg is.

Links voor van ons tussen die massa staandes is daar ‘n effense oproering. Iemand het opgegooi. Reg bo-oor die agterkant van haar metgesel se leerbaadjie. Die ruimte om hulle verdubbel binne sekondes. Almal lag hulle gatte af. Nogal hartseer dat mense dink dis snaaks as iemand in die openbaar naar word. Sy lyk duiselig, miskien selfs benewel, daar waar sy met haar arms om die man se nek hang. Haar oë is toe. Iemand lag kliphard, en sê: “Hey if you wanted some space, you should have said so!” Sjoe, ja. Sy’t natuurlik maande vooraf beplan om vanaand haar naam hier voor duisende mense te kom vergat.

‘n Lang ploert kom druk voor my in met ses meisies wat soos bosluise aan sy hemp vasklou. Ek probeer my bes om nie hardop vir hom te sê hy’s ‘n doos nie. Iemand trap op Linda se voet, sy gryp my vas en ons albei bliksem amper grond toe. Nou is almal sommer skuins moerig vir mekaar. Dis nie speletjies om vir vier ure lank te staan sonder om minstens jou gat te wikkel of jou arms in die lug rond te swaai nie.

Die vrou voor ons gooi weer op.

Sy word onder luide toejuiging deur haar vriend weggehelp.

Ons is myle ver van die Golden Circle – om my moet talle lang ouens hulle meisies vir sewe sekondes (dis ongeveer hoe lank hulle arms dit kan uithou) optel sodat hulle net kan sien wat voor op die verhoog aangaan. ‘n Piepklein Zuraida Jardine kweel dat ‘n groot aand nou gaan begin, en komaan, klap julle handjies vir Wire Daisies, mense!! Sy word dawerend gehoorsaam. Ons is almal moer toe moeg, en sal op hierdie stadium kaalgat op ons koppe staan as ons om hemelsnaam net iets anders kan doen as stáán.

Wire Daisies is so futloos soos hulle Britse kos. Hoe hierdie groep van Cornwall gekies is om vanaand se storie aan die gang te sit, gaan my verstand te bowe. Treana Morris, voorsanger en kitaarspeler, glimlag skitterend en probeer haar bes om nie agter te kom hoe min hierdie skare regtig omgee wie de hel hulle is nie. Alles is so rimpelvry. Geen verbale knoppe of swellings of minstens net ‘n paar kwaai refreine met hier en daar ‘n goeie dik kitaarsolo nie. Met Liedjie Twee wat presies in dieselfde ritme as Liedjie Een begin, weet ek onmiddellik hier kom moeilikheid. Nog ‘n uur se vretende verveling. En ek dink: oooeee julle binêre bleekmense, Freshlyground gaan julle gatte skop. One time.

Stap Freshlyground dan ook uiteindelik op die verhoog.

Dis mos net Zolani Mahola wat mens eerste deur die radiogolwe leer ken. Daardie stem soos ryp lemoene en geroosterde neute. En sy sing “Buttercup”. Haar oë is stout, haar wye romp oranjebont – en haar hande teken prentjies in die lug.

Said hey I found a pretty little Buttercup
While I was walking one day …
Vanaand sien ons die hele span op die verhoog – hoor nie net Zolani se stem nie. En die applous loop dik en gretig. Nog harder en dringender die oomblik wanneer die kamera die pragtige Kyla Rose en haar viool sien. Die reuse-videoskerms wys vir almal hoe klein sy eintlik is. Hoe sy vieserig skop-skop na die verdomde kabels onder haar voete. Die skare bulder. Sy glimlag net. Druk die viool onder haar ken in, en maak haar oë toe voor sy die snare vat.

Ek wens vanaand meer mense het “Nomvula” geken. Sy sal dit nie vanaand sing nie. Dis ‘n ding wat so saggies aan jou hart kom vat:

Sondela, mhlobo wam
Nali ibali elide; apho kwaqala khona inkathazo – zo zo …
Mense, ken julle “Vanish”? Of die onthutsende “Father please”? Die radio speel mos “Doo Be Doo” en “Things have changed” tot kotsens toe. Weet die radiosiele nie daar’s tien ander liedjies op die album nie? Een van die dae wil mens ook nie eens meer “I’d like” hoor nie – en dit sal ‘n hondzef dag wees.

Peter Cohen is lekker hoorbaar dog onsigbaar agter die dromme – behalwe wanneer die kamera hom onthou. Verder is Simon Atwell met daardie sjarmante fluit, Aron Swartz op die klawers en ‘n ewig grinnikende Josh Hawks op baskitaar besig om die verhoog met gemak te beset. En hulle góói met die dansery, hoor. Niks ingewikkeld nie – net lekker los heupe en jolige waaiende hande wat jou nader roep.

Dit raak stiller wanneer Zolani met “I’d like” begin. Langs haar speel Julio Sigauque sy akoestiese kitaar met ‘n eerbied wat ek elke oomblik in hierdie paar minute van hierdie liedjie kan voel.

What do I do with all these feelings warming me up inside?
What do I do with all these glorious hours dreaming of you at night?
I'd like to call you sometime
I'd like you to need me one time
I'd like to have you all the time …
En vir die eerste keer vanaand, binne hierdie lirieklose refrein, sing die hele stadion vol mense saam met haar. Whoohoohoo—hooohoooaaaa-whoohoo-hooaaaa!!! Ja. Met ons arms in die lug. Ek voel my keel trek toe en my oë brand. Dit vat jou aan die hart om te hoor hoe bykans 61 000 mense saamsing vir iemand wat in hierdie land bly. Whoohoohoo—hooohoooaaaa-whoohoo-hooaaaa – ons sing vir jou, Zolani.

Daar word mooi gewag tot Simon die liedjie met daardie laaste paar hartseer note voor ons kom neersit.

Ons klap nie hande nie. Ons SKREEU. Ek lag en huil sommer tegelyk, kyk om my rond – en is verstom om die heerlike reaksie uit elke rigting te hoor. Nou dis mos APPLOUS hierdie. Komaan. Laat die kranse antwoord gee.

Twintig, dertig minute swem deur ‘n meer vol teer.

Die videoskerms flits ‘n reuse rooi R. Dan groen, dan wit. Die verhoogligte spits aan, in een beweging, tot reg bo teen die 50 meter hoë silwer stellasies. Dis asof een towerhand al 61 000 mense se knoppies tegelyk druk. JAAAAAAAAAAA!!!! YEAAAAAAA ROBBIE-ROBBIE-ROBBIE-ROBBIE!!!!

Foto: Frans van Wyk Om die verhoog skiet moerse groot vlamtonge meters ver die lug in. Woossjj, wooooosjhhhh. Om my is totale pandemonium. Ek dink nie ek’t al ooit in my lewe my vriendin Linda of haar man so hard hoor gil nie. “RRRROBBIEEEEEEEE!!!!!! JAAAAAAA!!!!!”

En ek dink: mense, mense, mense … die ou moet toilet toe gaan nes die res van ons.

Die gillery word ‘n onaardse gedreun wat die ganse stadion soos ‘n kondoom onder ‘n trekker verpulp.

“RRRROBBBIIIEEEEEEEEEEE!!!!!!!!!!”

Hiert-jou. Wip die man uit ‘n gat in die middel van die verhoog met ‘n onnutsige kaartmannetjiegesig, swart stofjas en kiertsregop rug – die skoolseungrinnik gereed vir die massa mense voor hom. Diegene in die Golden Circle sien hom soos in for real. Die res van die koppe swaai na die videoskerms links en regs van die verhoog.

Foto: Frans van Wyk

Hy stap vorentoe, begin trap-trap vir die eerste paar note van “Tripping”.

Hy maak sy mond oop.

Die skare brul.

First they ignore you
Then laugh at you and hate you
Then they fight you
Then you win …
Die enigste manier waarop Robbie aandui dat hierdie spul mense nogal hard kan raas, is die verbaasde groot oë, en die FOOKIN’ HELL!! wat hy geluidloos in die mikrofoon uitroep. Die geskreeu om my is nou op suiwer waansinvlak. Ek verwag enige oomblik dat mense om my gaan flou val. Robbie loop stywebeen heen en weer in die silwerwit kollig wat verbete sy lyf vashou. Bliksem, maar die man is windgat – en maak darem heeltyd grappe tussenin om die balans bietjie te stabiliseer. “Ladies and gentlemen – the horny giraffe.” Hy staan vir ‘n oomblik stil en wys vir ons hoe lyk ‘n jags kameelperd – nek styf, boude wat dóér staan.

Dan sien hy die vrou voor hom in die Golden Circle wat vir hom flash. Hy vries in sy spore: “OH, OH, OH. Pardon me, but I just have to abuse my position. Love, won’t you please bare your breasts again for me.”

Sy sit wydsbeen op haar metgesel se nek. Haar T-hemp sê WEAPONS OF MASS DESTRUCTION – en met die oplig sien ek voor my twee oë die afgryslikste boobjob suid van die ewenaar.

Die voorste deel van die stadion ontplof - PWWWHOOAARRRRRRRRRR!!! - en testosteroonvlakke dreig om deur skedels te skiet. Die videoskerms bokant ons is twee kaal reuseborste. IN YOUR FACE, BABY.

Die vel om die silikoon is so volgestop, dit trek skoon styf. Een bors staan bietjie links na die oksel se kant toe. Daar is hoegenaamd geen nipulêre aktiwiteit nie – die tepels twee gemmerkoekies op twee drilsels opgestopte vleis. “Eeeeeuuuwwww!!!!!” gril die meeste van ons – insluitend die ouens langs ons. Robbie dink egter dis pragtig, en sê mooi hard en opreg vir haar binne sy mikrofoon: “Baie dankie!”

Sy wil huil. En knyp die man onder haar se kop nog stywer tussen haar knieë vas.

Die skare BULDER. Die meeste juig.

Die twee plat kaal tepels brand nog in my retinas in wanneer Robbie binne die ritme van sy bedrewe span musiekmense begin dans, op plekke sommer nog rap ook. Videobeelde agter hom, hemelhoog – sonder die kamera sien meer as 40 000 mense niks van hierdie man nie. Die meeste van die liedjies is vir my onbekend – met elkeen wat hy so moeiteloos uit die vuis uit voortbring, dink ek: “O is dit hy wat dit sing?”

Foto: Frans van Wyk Ek is so verveeld ek kan die stuipe kry. Siestog. Dalk is dit omdat ek nie my 40HHH-melkkliere vir 61 000 mense kon wys nie. Nee wag, dit moet wees oor ek nie meer my voete kan voel nie. Iemand pak fluks warm kole op my laerug en vryf dit met ‘n gloeiende tuinvurk in die rondte om nog beter te kan skroei.

Robbie geniet hom gate uit. Die Ego is viervoet op Loftus staangemaak. Hier en daar met ‘n valse noot. Maar hy maak of hy dit nie agterkom nie. Hy gaan lê op sy sy en sing - en wag vir die kamera om in te zoem. Die twee groenblou oë vol uitnodiging en beloftes. Duisende vroue om my lubricate hulself in ‘n staat van akute ontwatering. Voor my roep ‘n meisie: “Ohhh, ohhh … I can die now!!”

Robbie wip regop en vertel grappe oor sy vorige groep Take That, en hoe de moer kan hulle ‘n reünie hou SONDER HOM??? Hy lag kliphard, lek sy lippe, knipoog vir die kamera, swaai sy heupe. Hy verlustig hom in die aanbidding wat in golwe van voor af oor hom spoel. Vertel met smaak van die modelle wat hy platgespring het. Vra die skare om saam met hom die wêreld se hardste wind te breek. Wat de moer …?

Hy noem Suid-Afrika die wêreld se bes bewaarde geheim: “Don’t tell people about it! Everybody’s gonna wanna come here!!”

Dan stap hy na sy basspeler toe en vra die ou om gou om te draai. Hy trek sy hemp op en wys vir ons hoe bloedrooi die arme ou se rug deur die Kaapse son gestreep is. Robbie lag: “This guy’s playing in pain, people!” Hahahaha. Afrika’s nie vir sissies nie, boeta.

Ek wil huis toe gaan. Hierdie slungel van Stoke-on-Trent is ‘n totale windsak. Hoekom wou ek na hom kom luister? Om te kan sien hoe lyk hy onder sy hemp? Ek weet nie. Kan nie eens op my agterent gaan sit sodat die bloed net weer deur my toonpunte kan begin vloei nie – daar’s nou skaars plek om te staan.

Robbie begin met “Advertising Space”.

There's no earthly way of knowing
What was in your heart
When it stopped going
The whole world shook
A storm was blowing through you …
Op die videoskerms bokant my kop is hy ‘n patetiese Elvis. ‘n Karikatuur van roem. Die kitaar teen sy bors vasgeklem, met die geoefende siniese lipkrul van Graceland se Meester. Ek dink aan Johannes Kerkorrel se sirkusdier en sy toertjies. Vir die eerste keer staan ek stil en luister. Ek kry skielik ‘n bietjie koud. Die video is eenvoudig. Onthutsend.
There's no dignity in death
To sell the world your last breath …
Ek soek Linda se hand agter my. Sy staan in haar man se arms. Haar oë blink, sy gee vir my ‘n slukkie van haar ystee. Ek hou haar hand baie styf vas. En kry skaam omdat ek huil.
I saw you standing at the gate
When Marlon Brando passed away
You had that look upon your face
Advertising space.
Hierdie ode aan roem, die verkragting van eiewaarde, hoe maklik geld jou gees kan vervrot. Vir ‘n handvol minute kan ek sien waarom Robbie Williams sy aanhangers net soveel verpes as wat hy hulle probeer respekteer. En watter voorreg is privaatheid nie. Om te kan lééf – en dit uitbundig te doen, met skoon voete - sonder om op ander te trap.

Hy maak dit klaar. En buig in ‘n nederige dankie voor die massa gillendes.

Ek vee my trane af. Die nag is nou voelbaar koud. Veral hier agter my borsbeen.

Om my is selfone in die lug, klein flitsies skiet wit spitse in die naglug in, ouens wat nog krag in hulle arms het, tel hier en daar weer hulle meisies op om te kan sien elke keer wanneer Robbie na die kant van die verhoog stap. Dis asof hy nader is. Meer dáár.

Foto: Frans van Wyk

Op die skerms verskyn daar vir die eerste keer lirieke. “Come Undone” is hierdie een se naam. Dooie hond. Die insig, die selfkennis! Robbie se gesig verskyn op die videoskerm, geverf in ‘n wit spookmasker, met twee swartgeverfde Gene Simmons-oë wat boos vir die kamera gluur. Die masker gryns – die tande skerp onder die grilswart lippe.

So unimpressed, but so in awe
Such a saint, but such a whore
So self-aware, so full of shit
So indecisive, so adamant
I'm contemplating, thinkin' about thinkin'
It's overrated, just get another drink and

Watch me come undone

They're selling razor blades and mirrors in the street
I pray when I'm coming down, you'll be asleep
If I ever hurt you, your revenge will be so sweet
Because I'm scum, and I'm your son
I come undone
I come undone.

Om my word die liedjie woord vir woord uitgebulder. Ek sien duisende arms in die lug. ‘n Stadion vol begeesterde gillendes wat vir Robbie Williams sing. Ek wonder of hulle die boodskap sien. Wat hy hier vanaand ewe sjarmant uitsing vir elke gesiglose wat voor hom in die donker bons, eufories gereed om nóg geld na hom toe te gooi.
So write another ballad, mix it on a Wednesday
Sell it on a Thursday, buy a yacht on Saturday
It's a love song, a love song
Do another interview, sing a bunch of lies
Tell about celebrities that I despise
And sing love songs, we sing love songs so sincere

So sincere

Love your son
I am scum
I am scum!

Hy verdwyn na agter. Met die opdrag dat almal hom BAIE HARD moet terugroep. Loftus roep. Klap hande, gil, brul, skreeu, jil, en gil soos besetenes.

Niks gebeur nie. Die Robster kom nie uit nie. Julle moere, komaan, skreeu harder, julle vreemde bliksems van Afrika!!

Ole-ole-ole-OLEEEEEEEEE!” begin die ganse Loftus uit pure radeloosheid die sportkreet uitbeier. Harder en harder swel dit, vul dit die hele nag, trek dit oor die hele stad, tot dit voel of die maan bokant my kop se nate gaan lostorring. “Ole-OLEEEEOLEOLEOLEEEEE!!!!!!!!

Die Robster hou daarvan.

Hy kom uitgestap in ‘n wit oorpak en steel die laaste stuk van Loftus se hart deur “Angels” te sing.

Nog nooit was ‘n liedjie so lank, so verbysterend uitmergelend nie. Die aandoenlikheid, ag aarde, die stroperigheid, die doodgewone woorde. Baie huil nou voor die voet – almal vas in die vervaardigde heiligheid van die oomblik. Robbie vra die skare om saam te sing. Loftus beier van voor af: “And through it all she offers me protection, a lot of love and affection, whether I’m right or wrong …” Hy vra vir nog ‘n refrein, en kry dit woord vir woord.

Hy sug, kyk dan op: “I just wanted to hear it one more time.”

Dan sê hy dankie en totsiens almal, en verdwyn na agter.

Dis asof niemand wil glo hy kom nie weer uit nie. Stadig, stuk vir stuk, sleepvoet en half dikmond, begin mense omdraai en aanskuif na die sy-uitgange, trap-trap oor plastiekbottels, proppe en papiere.

Bo-oor ons koppe dreun ‘n helikopter, laag oor die stadion – dis die Robster, op pad terug na die Westcliff.

Komaan mense, komaan, dis klaar, kry nou rigting, asseblief. Wil net by die motor uitkom, hierdie gewig van my voete af kry, die gesuis in my ore smoor. Ek gee myself nou al ‘n gesonde kramp in die gat. Maar vir my was daar weinig beloning in hierdie aand. Miskien drie of vier minute se stilte in “Advertising Space”. Verder niks nuut nie. Net pure goedvoorbereide, onverdunde vermaaklikheid. Robbie Williams weet presies wat om op die verhoog te doen. Wat die mense wil hê. Hoe om hulle te laat swymel. Teen ongeveer R400 per kop.

Wel.

Gee my eerder U2. Roger Waters. Dalk Metallica – indien die verhoog vlak voor my neus is. Ek hoor Red Hot Chili Peppers kom, gerugte oor Audioslave, The White Stripes, dalk ook Korn. Wie weet. Miskien kom Lordi met koffers verhoogbloed en lateks hulle gruwelike monstergevrete vir Afrika wys.

Gaan kyk, ja. Gaan kyk. Staan vir ses ure en pyn terwyl jy mal word vir dit wat jou bloed laat kook.

Maar nie vir die Robster nie.

Veral nie as Oppikoppi jou harder laat skreeu nie.

Foto's: Frans van Wyk