Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Theunis Engelbrecht: Sound Bites

Troumusiek


Theunis Engelbrecht - 2006-07-07

Ek weet ek het laas keer belowe ek sal hierdie keer skryf oor “music to make love by” na aanleiding van die gelyknamige reeks langspeelplate wat in die 1970’s uitgereik is - die meeste daarvan deur James Last wat musiek van Montevani en Vivaldi uitvoer.

Ongelukkig kan ek nie vandeesweek oor hierdie netelige onderwerp gesels nie, aangesien ek gou besef het die navorsing daarvoor gaan baie ingewikkeld wees. Dis ‘n steekproef van so ‘n allemintige omvang dat dit baie moeilik was om die logistiek daarvoor in plek te kry.

‘n Verdere probleem is die begrip Music to make love by en hoe om dit in Afrikaans oor te sit. Ek het dit laas keer genoem “musiek om by te naai”, maar uit die reaksie wat ek veral uit die polities-korrekte segmente van my vriendekring ontvang het, het ek die indruk gekry dis nie kosjer om van naai te praat nie. Daar is ‘n hele paar alternatiewe, maar dit bevredig nie heeltemal nie: Musiek om by te kafoefel? Nee, dit klink te veel Klipwerf. Musiek om by gemeenskap te hê? Nee, dit klink te veel Keuzenkamp. Musiek om mee omgang te hê … Nee, dit klink te veel Hugo. Musiek om by te pattapatta? Mmm, dit klink lekker, dit klink na onder andere Mabuse en Mkeba en Ngwangwa en Klaasen. Musiek om by te stamp Volume 74: Die Bosmossel-vastrap … Nee, glad nie. Maar as dit sou bestaan, dan sou dit uitgereik wees deur die mense wat tans al die Afrikaanse Pomp-CD’s uitreik. Wat dan van Musiek om by te pomp? Nee, dit klink te veel Wessels en Hofmeyr. Musiek vir die opsitkers … Nee, dit klink te veel Goosen. Buitendien het baie mense in die huidige geglobaliseerde postmoderne prebarbaarse wêreld die opsitkers verruil vir ‘n kers om op te sit (die kopiereg op die intellektuele inhoud van hierdie gedagte behoort aan die skrywer Johann de Lange). Intieme bekentenis dalk? Nee, hierdie titel sal ook nie deug as alternatief vir Music to make love by nie, want dit klink te veel Van Rooyen, Hougaard en Rauch. Musiek om by te skotteljons? Nee, dit klink te veel na iets wat op baie sinenergieke wyse deur die ATKV en Huisgenoot geborg sal word. Musiek om by te skommel? Nee, dit klink te veel Bosveldklong en Gerrie.

Wat die steekproewe betref vir ‘n rubriek oor musiek om by seks te hê, word indiepte-navorsing verder gekompliseer deur die feit dat daar verskillende seksverwante variasies is. Jy kry biseksueel, homoseksueel, heteroseksueel, aseksueel, transseksueel, metroseksueel, panseksueel, interseksueel, transitoseksueel, transgender, transvestie en transisionering, om net ‘n paar te noem.

‘n Verdere beperking is dat ek vir so ‘n rubriek net kan werk met die CD’s wat die afgelope twee maande deur goedgelowige multinasionale musiekkorporasies aan Sound Bites verskaf is vir resensiedoeleindes.

Wel, ‘n broer maak ‘n plan, en ek is bly om julle mee te deel dat daar tans intensiewe steekproewe rondom die betrokke onderwerpie gedoen word, en dat ek dus in die volgende aflewering daaroor sal rapporteer. Dit sal dus oor so drie weke wees, indien ek nie van die wal tot in die sloot gestamp sal word nie. Intussen kan julle my help om die beste naam vir die volgende rubriek te kry deur ‘n briefietjie deur te looi na SêNet. (Nee, nie LêNet of KykNet of SlaapNet of N-Net of BetaalNet of HoesNet of FokofNet of LetNet of PoepNet nie, maar SêNet, let wel.)

Maar om te vergoed vir hierdie yslike teleurstelling wat julle hopelik ervaar weens die slegte nuus wat ek hierbo vermeld het, skryf ek vandag oor ‘n onderwerp wat baie makliker was om na te vors: Musiek om by te trou (en wittebrood by te kou).

Die finaliste hiervoor is boonop ook goedgunstiglik verskaf deur die multinasionale musiekkorporasies wat onder andere Steve Hofmeyr, Karen Zoid en die Radio Kalahari Orkes bemark. Hulle is:

Ben Harper – Both sides of the gun
Oakenfold – A Lively Mind
Novastar – Another Lonely Soul
The Best of Beverley Knight – Voice
Beth Orton – Comfort of Strangers
Duncan James – Picture Past
Laura Michelle Kelly – The Storm Inside.

Een maklike maatstaf is om na die kunstenaars se voorkoms te kyk en te besluit met watter een jy die graagste sou wou trou. Stap twee is bietjie moeiliker, want dan moet jy na hulle musiek luister, en daarin word hul persoonlikhede en gemoedstoestand en dieper gedagtes oor die lewe geopenbaar, asook hulle lewenslus of die gebrek daaraan. Dan verander dit die prentjie van met wie jy sou wou trou aansienlik.

Andersins kan jy ook kyk na musiek wat lekker is om te speel tydens ‘n troue, by die onthaal en ten tyde van die wittebrood. Daar is waarskynlik al ‘n boek oor die onderwerp uitgegee deur Lux Verbi of ‘n diepte-artikel daaroor het dalk al in Sarie of Fair Lady of Lig of Leef of Cosmopolitan of Top Billing of Heat of Mense of De Kat verskyn, daarom sal ek net rakelings daaroor beweeg.

Op grond van voorkoms en begeerlikheid soos uitgebeeld op die omslae van hul CD’s, sou ek op die eerste oog af tougetrek het om te kies tussen Oakenfold en Duncan. Maar toe ek aandagtig na al die CD’s geluister het, het ek besef my gesonde verstand sê vir my van al hierdie kunstenaars sou Ben Harper die beste een wees om my te trou.

Klik en koop hierdie cdOns sluit af deur kortliks meer te sê oor elkeen en wat daar alles op hul albums geopenbaar word. Oakenfield maak dansmusiek wat die biesies laat bewe en die blomme in jou sitkamer ‘n twist in hul stele laat kry. My wanaangepaste hond het ook dol van uitbundige lewensvreugde geraak terwyl ek hard na hierdie CD geluister het. Na die tyd was ons albei baie moeg, maar het die adrenalien lekker gepomp tydens die luister na hierdie sinteties vervaardigde klubmusiek. Dis hard en vrolik en voorop die CD kan ‘n mens jou verkyk aan die reliëf van hierdie beeldskone skepsel in die opkomende of ondergaande son (afhangend van hoe jy daarna kyk.) Harde, positiewe dansklubmusiek. En wat jy op ‘n Sondagoggend by die huis kan speel as jy ‘n bietjie vir ‘n slag ‘n wip in jou wors wil kry, bedoelende ‘n bietjie energie en proaktiewe aksie eerder as daai tipiese babelazzz-overkill-Sondagoggend-gevoel. Nie troumateriaal nie, maar ideaal vir ‘n kortstondige intens passievolle en bandelose flirtasie en gevolglik sappige ondervindings op voorwaarde van geen langtermyn-implikasies nie.

Klik en koop hierdie cdLaura Michelle Kelly lyk alte pragtig op die omslag van haar CD. In haar gesig sien jy ‘n soort onskuld, maar aan haar houding en res van haar lyf en hoe haar swart rokkie haar borste beklemtoon, kry jy daai idee hier is nou vir jou een van daai soek-nie-kak-nie soort persone. En dit maak die mans natuurlik mal en dryf hulle op volmaan-aande tot vermeende anonieme onanie en geil, geil, geil drome en gedagtes. Die musiek? Introspektief en sensitief, maar niks oorspronkliks of buitengewoon nie. Maar hoekom sal ek hierna luister as ek na Tori Amos kan luister? Hoekom sal ek my tyd so mors? Dus, nie troumateriaal nie. Sorry, girlfriend.

Klik en koop hierdie cdVan Novastar wil ‘n mens net so ver as moontlik weghardloop. Jirre, die man (ja, dis nie ‘n groep nie) kan baie wroeg. Die titel van sy CD skree dit al uit: Another Lonely Soul. Dis pynlik om na sy intieme ontboesemings insake sy eksistensiële angs en seksuele frustrasie te luister. Die martiemartelgatte onder ons sal hierdie een opraap. Op die foto’s lyk hy ook nie eens na iemand wie se pantoffels ‘n mens onder jou bed wil ruik wanneer jy wakker word in die oggend nie. Die musiek is delikaat, sensitief, en regtig mooi, mits ‘n mens in die regte gemoedstoestand is om jou bloot te stel aan skaamtelose dermuitrygery.

Klik en koop hierdie cdVan Beth Orton is daar geen enkele kiekie op die Advance Promo CD wat die multinasionale korporatiewe koning aan ons geskenk het vir resensiedoeleindes nie. Kyk, die vrou het ‘n stewige en welverdiende reputasie, maar ek kan nie eers onthou hoe sy lyk nie. As ek na die musiek luister, dink ek nee, van hierdie girlfriend wil ek ver weg bly, sy sal my heeltemal mal maak met haar uiters serieuse en diepsinnige uitkyk op die lewe verhul in onduidelike pseudofilosofiese metafore. Genade! As ek baie na hierdie CD luister, sal ek sommer aseksueel raak. Maklik.

Duncan James lyk na ‘n baie lekker ou op sy CD se voorblad. Jy kan sien hy het iets van ‘n stoutgat en ‘n rebel in hom. Dalk ‘n Ricky Martin-gemodelleerde verskynsel. Onweerstaanbare glimlag. Sexy klere. Die musiek is – wel, nou ja, wat sal mens sê? Gerig op die prikkeling van die swoele fantasieë van donsdosies van albei geslagte. Daar is ‘n sekere greinerigheid in sy stem wat hom ‘n goeie trouman-kandidaat kan maak, maar as ek na die lirieke luister, dink ek voornemende bruide of bruidegomme moet nie van James verwag om ‘n diep seun te wees nie (straks iets om voor dankbaar te wees). Aan die ander kant: sy pantoffels op die vloer rondom die middernagtelike uur voor die kaggel sal nie te versmaai wees nie, glo my vry, seuns en dogters, broers en susters en ander geslagtelike verskynsels. Delicious is die woord.

Klik en koop hierdie cdBeverely Knight sal die manne en die hardcore-vroulike-selfseks-genieters in ‘n lekker sensuele stemming plaas. As jy die soort ou is wat daarvan hou dat jou girlfriend vir jou dansies in stoute onderkleertjies moet doen, kan hierdie CD die ideale musiek vir die geleentheid verskaf. Maar stel eers self ondersoek in en luister by die winkel voor jy koop. Dalk verkies jy eerder Tina Turner.

Klik en koop hierdie cdDit laat ons met die legendariese Ben Harper. Both Sides of the Gun is ‘n dubbel-CD met 18 songs. Dis vintage Harper – daar is ‘n opregte spiritualiteit in sy stem, musiek en lirieke. Hy is kreatief gesproke meer interessant as enige van die ander troumateriaal-kandidate vandeesmaand. Hy sing oor dieper dinge, maar sonder om obskuur of selfvertroetelend te raak of soos ‘n pseudofilosofiese Afrikaanse meningsvormer te klink. Die woord gentleness spring op in die kop as jy ‘n woord soek vir Harper se musiek. Die beste kopie van die hele lot.

 

Goeie nuus!

Volgende keer gaan die beloofde Music To Make Love By-aflewering verskyn, en onthou, help my solank om ‘n gepaste vertaling te vind. Ek het ‘n span vrywillige medewerkers in die veld gestoot om dieptepeilings te doen en te verseker dat die nodige steekproewe op ‘n sosiologies-metodologies wetenskaplike wyse geskied. Die deelnemende navorsers se name kan nou reeds bekend gemaak word, sodat julle voorbereid kan wees:

Die navorsingspaneel wat tans vasstel wat is die ideale musiek om by omgang te hê, bestaan uit:

  1. Antoinette Burger, joernalis, aspirantromanskrywer en avonturier.
  2. Karin Retief,redaksionele konsultant van ‘n leefstyltydskrif.
  3. Jeanne-Marié de Villiers, rehabiliterende dwelmvergryper, voormalige sielkundestudent wat opgeskop het en daarna ‘n agent en glorified groupie geword het van ‘n paar rockbands van Johannesburg en Pretoria en Vanderbijlpark in die 1990’s wat al almal intussen ontbind het en waarvan sy met sommige lede van al hierdie groepe volgens haar eie erkenning intieme avonture gehad het.
  4. Gogga Goosen: Die skuilnaam van ‘n filosofiestudent aan die Universiteit van Stellenbosch, aspirant-intellektueel en Afrikaanse digter.
  5. Barend Barnard, ‘n finansiële makelaar.
  6. En, natuurlik, die skrywer van Sound Bites.

Lovebites galore tot volgende keer.