Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Fanus Rautenbach: Umfaanus

Taxi-Gespraxi


Fanus Rautenbach - 2006-07-05

Die eerste stem wat ek hoor, is Elsa Olivier s’n: “Dit is die einde van jou onafhanklikheid en die begin van jou afhanklikheid …” Ek maak my oë oop, vee oor my voorkop … kyk na my vingers: klein bloeddruppeltjies … van die voorruit wat gebars het: ’n Toyota het my Merc ‘n dwarsklap gegee toe ek wou draai … van die Paarl af op pad terug Kaapstad toe.

Waarheid: my onafhanklikheid daarmee heen.

Nie rêrig nie.

“Hoe word ek in hierdie Kaap vervoer?”

“Ricci!”

“Dit kos paar pond tien stad toe met die Ricci … verkleinwoord van KARR(I)ETJIE!”

Op ‘n keer moes ek dringend stad toe … en David Kleyn het ‘n taxi … gewone taxi … ook ‘n Merc … Ek betaal R60.

Toe maak ek kennis met die wit Japannese stadskameel … die vervoerwonderwerk van die afgelope eeu … die minitaxi ... die Toyota. Hulle vertel allerhande stories oor die taxi’s … en twee daarvan is heeltemal waar: “Dit is veilig … en daar is nie so iets soos apartheid nie.”

Nou staan ek langs die pad en lyk asof ek ‘n taxi Cavendish toe wil hê. Dit ratel en toeter en roep alles gelyk: “Kapmoubraai! Ops!” (Overgezet zynde: “Kaapstad-Mowbray-Obeservatory!”)

En ook “Mouibraaikap! Die Woudstok!” (skreeu die skreeuer … roep die roeper). Aan my kant is dit: “Plumstead! Retreat Kaffendiesh! Klapmont (eintlik CLAREMONT)!”

Dis myne. Versigtig staan ek nader, my geldjie in my hand. My beursie vasgemaak in my binnesak (dit blyk helemal onnodig te wees). Die roeper vat my respekvol aan die arm: “My pa!” nooi hy my binne. Daar is ‘n klein sitplekkie. Die roeper, die skreeuer, die advertensiebestuurder, en die sirkuskoning, wys na die sitplekkie en beveel: “Gooi!”

“Gooi?”

“Gooi jou gat daarin, Pa! Wikkel jou tokkels en janasseblieftog skwies jou stêre in daai poesie in – disnethy dai posisie! Hiert, my pa! Jy’s nog lekka hups! Waar bly jy, Pa?”

“In Arkadia …”

“Arkydia? Die Old Age Home vir jong tattas … Hoe lykit met die ou tannies daar?”

“Wat lees jy?” Ek wys na ‘n veelgevatte slaphandboek …

“Lekka boek, al vuil galies innie tronk in …” Hy wys my die titel: Papillon … die groot ontsnapping. Hy’s oop op bladsy 243 … innie mirrel Sirrel.

“Waar gaan Pa nou?”

“Fliek in Cavendish.”

“Fliek?”

“Na die movies toe …”

Leon Schuster se Mamma Jack!

Met die terugkom, luister ek na Kapmoubraai!

“Klim, my pa! Kyk da’ agter. Koop vir jou ‘n plaas!”

Agter is drie sitplekke langs mekaar. Leeg.

Vandag se straattaxi’s is verantwoordelik vir 65 persent van die 2,5 miljard jaarlikse passasiers vir stedelike gebiede. Daar word gereken dat omtrent 20 persent van die Suid-Afrikaanse bevolking van openbare vervoer afhanklik is. Dertien persent het geen toegang tot openbare vervoer nie. Nou word daar nuwe en groter taxi’s beplan; en elke voertuig sal vir van 18 tot 35 passasiers voorsiening maak.

‘n Huidige eienaar van ‘n minitaxi sal een van die dae ‘n nuwe, grote kan koop. Elke eienaar van ‘n minitaxi sal R50 000 ontvang, wat hy mag aanwend soos hy wil. Die meeste sal dit seker maar as ‘n pensioen gebruik.

So sit ek en dink, weer op pad fliek toe … teen R5 (korter afstande slegs R3,5O) vir die reis in teenstelling met die Gewone Wit Taxi van R60!

“Marristbuuuuurg!” fluit-skree die roeper, die skreeuer. (Hy het waarskynlik ‘n aandeel aan die inkomste, want hy sien met valk-oë die voornemende passasiers raak en roep hulle nader.

“Waaienberg en Marristburg!”

“Gaan julle tot in Natal?”

“Wat praat jy, Pa?”

“Marristburg is in Natal.”

“Nei … nie Marristburg nie. Mannenburg … die voorstoep van die graveyard!”

Die taxi hou stil … dieselle laaitie met Papillon klim op. “Ek wil agger die drywer sit … veiligste plek op aarde – agger ‘n taxidrywer se rug.” En hy lag: “So safe soos ‘n drol op ‘n desskas!”

Toe roep die roeper, maar dis reeds te laat: ons linkeragterlig slat die Ougat- Chevvy se regteragterlig.

“Kom ons gaan poeliesstasie toe,” stel ons roeper voor.

“Nei, vergerit!” Die Chevvy trek weg … en lag en waai. Hy weet van die polisie en die polisie weet van hom. “Ons is ou pelle!”

Ek kyk na Papillon … Hy trek op dieselle bladsy – 243 Innie mirrel Sirrel, innie senter Miesiesventer!

“Haai, dis dieselle pa van nou se dag … Het Pa al ‘n ou tannie gekry? Anders mors mens net die Waai-eghera! Gooi: vanaand Gooi Pa weer!”