Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

Afrikaans en haar geskiedenisse: Andersmaak en saammaak


Hermann Giliomee - 2007-08-16

(Voordrag: Breytenbach-huis, Wellington, 28 Julie 2007)

Die Breytenbach-huis kom tot stand as 'n nuwe tuiste vir skeppende besinning oor ons lewe hier in die Boland en ook in die land Suid-Afrika, wat sulke harde eise aan ons gemoedsrus stel saam met al sy weelde van genietinge.

Ek wil vra dat die opteken van herinneringe en die herinterpreteer van die geskiedenis deel van die uitdaging sal wees om die Breytenbach-huis tot 'n intellektuele en geestelike kragbron in die Boland te maak.

Ek wil vandag kyk na Afrikaans en haar geskiedenisse. Ek wil twee vrae stel:

  • Hoe en wanneer oorleef 'n taal?
  • Hoe belangrik is dit vir 'n taal se oorlewing dat ten minste 'n seksie van sy sprekers dit as deel van hul identiteit beskou?

Taal en oorlewing: 'n Vergelykende perspektief

Oor die medium- tot lang termyn word die oorlewing van 'n taal deur faktore bepaal wat diep onder die oppervlak lê. Nicolas Ostler beklemtoon in sy Empires of the World: A Language History of the World (2005) dat langdurige beheer oor die staat nie die voortbestaan van 'n taal verseker nie. Hy haal die geval aan van die Mantsjoes wat China in 1644 verower het en tot 1911 regeer het. Binne twee of drie generasies na hul magsverlies het hul taal, Mantsjoe, feitlik uitgesterf. Vir Ostler is die krities belangrike faktor die prestige van 'n taal op die gebied van godsdiens, internasionale diplomasie of kultuur.

Nicolas Chrystal beklemtoon in sy Language Death (2000) die faktor van politieke mag. In die keuse van 'n ampstaal of lingua franca is dit gewoonlik die politieke elite se belange wat deurslaggewend is. Dit is goed bekend dat in Afrika die koloniale taal gekies is ten einde etniese verskille te oorkom. Taal word een van die vernaamste simbole van die nuwe nasie of nuwe regime wat aan bewind is

David Laitin (1992) beklemtoon 'n ander faktor wat nog redelik onbekend in Suid-Afrika is. Hy toon aan dat die swart middestand in Afrika die taal van die voormalige koloniale heersers kies omdat dit aan hulle en hul kinders beter kans gee om die soort werk te kry wat toegang tot die middestand verleen, al werk hierdie keuse teen die armes se belange. Gewoonlik brandmerk die elite die tale wat die armes praat as struikelblokke vir vooruitgang en ontwikkeling.
         
In David and Maya Bradley se Language Endangerment and Language Maintenance (2002) kom S Wurm tot die volgende gevolgtrekking:

Een van die belangrikste faktore vir die behoud en die vernuwing van 'n bedreigde taal is die houding van die sprekers teenoor hul eie taal en die gewig wat hulle daaraan heg as 'n belangrike simbool van hul identiteit.

As die lede van 'n klein taalgemeenskap vrywillig en toenemend 'n dominante of "prestige”-taal by voorkeur gebruik en hierdie gedrag aan hul kinders oordra, is die agteruitgang van die taal onomkeerbaar. Volgens RMW Dixon (1997) is dit die kinders wat die keuse maak. Waar twee tale in 'n streek gepraat word, neig hulle om die lingua franca bo die tradisionele taal te verkies. Gewoonlik is die geradbraakte wyse waarop hulle hul eie taal gebruik, 'n voorloper van die proses van agteruitgang.
 
Vir Afrikaans is die sleutelvraag ook of daar mense is wat die taal as 'n deel van hul identiteit beskou. Daarsonder sal dit baie moeilik wees om 'n taal te handhaaf en te bevorder. Ek wil byvoeg: die koppeling van 'n taal aan 'n arrogante, eksklusiewe identiteit loop die gevaar om 'n dodelike omhelsing te word, soos wat amper met Afrikaans in die tweede helfte van die vorige eeu gebeur het. Net so 'n gevaar, maar aan die ander kant van die spektrum, is dié van mense in leierskaps- of ander strategiese posisies wat die mag het om die suurstof van Afrikaans al meer af te sny. Hulle doen dit in die geloof dat Engels die kortste pad na winsgewendheid en akademiese voortreflikheid is.

Afrikaanssprekendes is verantwoordelik vir sommige van die groot terugslae van die afgelope tyd. Soos Gerrit Komrij dit gestel het: Afrikaans is springlewendig, maar kort-kort word 'n ledemaat geamputeer.

Ons kan dit toelig met verwysing na die universiteite. In sekere universiteite het 'n klein groepie mense rondom 'n vasberade rektor 'n voertaalbeleid daargestel wat aan Afrikaans 'n billike kans sal gee om in die instelling te oorleef. In ander universiteite het 'n klein groepie mense (sekerlik minder as tien mense aanvanklik) 'n beleid neergelê wat die omstandighede geskep het waarin Afrikaans op medium- tot langer termyn moeilik sal oorleef. Die alumni mag baie sterk voel dat Afrikaans behoue moet bly, maar hulle vind gou uit dat dit moeilik is om iets te vermag. Die probleem kom by 'n elite wat nie aan hierdie mense verantwoordbaar is nie en wat allerlei aspirasies het om hul instelling te “moderniseer”. Intussen word lippetaal bewys aan die bemagtiging van die agtergesteldes en aan die liefde wat die akademici vir Afrikaans koester.

Maar 'n proses van taalverplasing is nooit heeltemal onomkeerbaar nie. Nuwe mense aan die stuur, helder denke en vasberade optrede kan 'n verskil maak.

Gegee die feit dat wit Afrikaanssprekendes maar net ongeveer 43 persent van die totaal van Afrikaanssprekendes vorm, is die groot uitdaging die sluit van 'n nierassige bondgenootskap om Afrikaans te bevorder. Gegee die verdeelde herinneringe onder die sprekers van die taal, moet ons erns daarmee maak om saam oor die geskiedenis te praat en dit saam te verstaan. Die proses wat in Stellenbosch uitgeloop het op twee boeke oor die geskiedenis van die bruin gemeenskap moet eintlik in elke Bolandse dorp van stapel gestuur word.

Ons moet ook die historiese ontwikkeling van Afrikaans in al sy fasette verstaan, en hoe dit op verskillende tye verskillende identiteite gedien en verskillende funksies verrig het.

Ek probeer nou 'n kort oorsig te gee.

Eerste fase: kreooltaal van 'n veelrassige gemeenskap

Tot 1795 was Nederlands die amptelike taal en die enigste taal wat status verleen en mense bemagtig het. Die regering het predikante, sieketroosters en onderwysers beveel om in die kerk en die skool die Gereformeerde geloof in die Nederlandse taal te verkondig.

Toe die eerste slawe ingevoer is, het die regering opdrag gegee dat slegs Nederlands met hulle gepraat moet word. Slawe kon nie vrygestel word as hulle nie Nederlands kon praat of skryf nie. Die skole was egter min en die arbeidsmag het toenemend bestaan uit slawe en Khoikhoi, vir wie Nederlands 'n vreemde taal was.

Die kreolisering van Nederlands kon nie gestuit word nie. Reeds in 1685 skryf 'n hoë amptenaar dat die Nederlanders aan die Kaap die Khoikhoi navolg en "seer krom en bijna onverstandelijck spreken” (Scholtz, 1967:191). In die 1730's skryf die Duitser OF Mentzel oor die belaglike uitdrukkings wat die vroulike burgers gebruik. As hy vir hulle vra: "Het julle geen Bybel nie?” antwoord hulle: “Ons het geen Bybel nie.” En as hy dan vra: Hoeveel onse in 'n pond?” dan bloos hulle.

Tog was daar perke aan die kreolisering. Afrikaans het van die basis van Nederlands ontwikkel en gegroei. Afrikaans het ontwikkel deurdat mense van alle rasse en klasse dit as verbindingstaal gebruik het. Juis dit het tot stigmatisering aanleiding gee. So het die Cape Argus in 1857 gevra: "[Is] the miserable bastard jargon worthy of the name of language at all?”

Die term Afrikaner as 'n naam vir mense van Europese afkoms het eweneens 'n ambivalente oorsprong. Tot vroeg in die agtiende eeu is die naam Afrikaner gebruik vir slawe wat in die kolonie gebore is en vir vryswartes, wat ten minste deels van slawe-afkoms was. Die burgers het na hulself verwys as boere, Christene en soms as Nederlanders.

In 1707, vanjaar presies drie eeue gelede, het 'n jong man, Hendrik Biebouw, saam met sy drie vriende feesgevier oor 'n oorwinning wat die burgers oor die regeringsamptenare behaal het. Hulle was volgens alle aanduiding aangeklam. Johannes Starrenburg, 'n hooggeleerde Duitser wat toe landdros van Stellenbosch was, het gerapporteer dat die mans soos “mal mense” met hul perde die straat afgejaag en in die Kompanjiesmeule met “veel gevloek” die skale rondgegooi het.

Starrenburg het hulle berispe en gelas om huis toe te gaan. Toe hulle weier om te gehoorsaam, het hy Hendrik Biebouw, sestien jaar oud, met sy kierie geslaan. Hierop het Biebouw geskreeu: “Ek wil nie loop nie, ek is ’n Afrikaner, selfs al slaan die landdros my dood en selfs al sit hy my in die tronk, ek sal en wil nie swyg nie.”

Die landdros het Biebouw en sy trawante in die tronk gestop en by die regering aanbeveel dat hulle verban word. ’n Maand later is drie van die jong mans in die openbaar lyfstraf toegedien.

Dit klink na 'n alledaagse opstandjie, maar hierdie okkasie, presies 300 jaar gelede, was die eerste keer dat dit gedokumenteer is dat 'n man wie se ouers albei Europeërs was, homself 'n Afrikaner genoem het. Wat het Hendrik Biebouw bedoel met sy uitdagende kreet, “Ek is 'n Afrikaner!”?

Sy pa was 'n ongeletterde Duitser wat voorheen ’n buite-egtelike verbintenis gehad het met ’n slavin, waaruit ’n dogter gebore is. Sy ma was 'n weeskind van Rotterdam. Al vaste punt vir Biebouw was dat hy in Afrika gebore is. Sy kreet sou miskien sy halfsuster, wat amptelik as 'n vryswarte geklassifiseer is, verras het. As sy teenwoordig was, kon sy dalk uitgeroep het: “Issie, ek is 'n Afrikaner!”

In 'n ongepubliseerde essay, “The Afrikaner as African”, maak Breyten Breytenbach die interessante moontlikheid oop dat Biebouw homself 'n Afrikaner noem omdat hy nóg die een nóg die ander is. Breyten stel die vraag:

Het "Afrikaner" beteken om iets soos die reënboog te wees, wat nóg son nóg reën is, maar 'n mooi hersenskim wat die twee met mekaar verbind? So half in die middel van die twee vasgevang?

Van die Britse amptenare het voortgegaan om die term Afrikaner met slawerny te verbind. In 1877 het die Cape Times in ’n hoofartikel geskryf: “The name was originally applied to the half-bred offspring of slaves, and even in a word the mark of slavery is detestable.” In 'n lys van prostitute wat die Kaapse munisipaliteit in hierdie jare opgestel het, staan Afrikaners heel bo.

Gedurende negentiende eeu het Engels vinnig die dominante openbare taal geword. Daar was vrese dat Nederlands vinnig verdring sou word. In 1867 het die Kaapse blad De Zuid-Afrikaan geskryf dat dit tyd word dat die mense 'n bietjie meer bewus begin voel van hul nasionaliteit. Daarsonder kon die Nederlandse taal bestaan nie. Maar Afrikaans se gemengde herkoms het dit onmoontlik gemaak om dit as simbool van 'n eksklusiewe nasionaliteit voor te stel. En Nederlands het vir die meer gegoede Nederlands- of Afrikaanssprekendes 'n bepaalde gebruikswaarde gehad, maar min of geen emosionele inhoud nie.

Tweede fase: Simbool van 'n inheemse nasionaliteit

In 1853 het die Kaap 'n parlement gekry. Die invoer van demokrasie bring dikwels 'n verhewiging van stryde oor nasionaliteite en tale in in multi-etniese samelewings. Ons het dit in die negentiende eeu gesien en sien dit vandag weer. Soos wat die Afrikaners tans aan apartheid gekoppel word, is hul voorvaders in die negentiende eeu met slawerny verbind. Hulle is daarvan beskuldig dat hulle heimlik verlang om weer die bruin en swart mense te verslaaf.

JH (Onze Jan) Hofmeyr, koerantredakteur en later leier van die Afrikanerbond, het vertel dat die bruin kiesers wys gemaak word dat “sodra die Hollandse koloniste daarin geslaag het om die Parlement uit die hande van die Engelse te kry die eerste stap sou wees om alle kleurlinge wat in die kolonie aanwesig is weer tot slawe te maak."

So laat as 1934 is daar gerapporteer dat “coloured and Slamaiers are still haunted by a lurking fear that the Nationalists may bring slavery back into the land.”

'n Verenigde Party-pamflet van 1948 waarsku dat die Nasionaliste slawearbeid sal terugbring.
 
Maar die grootste vyande van Nederlands en Afrikaans was nie die Engelse nie, maar die statusbewuste koloniale Afrikaners in dorpe en stede wat gestreef het na sosiale aanvaarding deur die Engelssprekendes in ʼn samelewing wat al meer ʼn obsessie met klas- en rasonderskeidinge ontwikkel het.

Die ontwikkeling van Afrikaans as skryftaal deur blankes het uit suiwer funksionele oorweging gespruit.. Twee Nederlandse immigrante het begin om die gebruik van Afrikaans om arm mense te bereik, te propageer. Arnoldus Pannevis, wat onderwyser aan die Paarlse Gimnasium sou word, het in 1872 in De Zuid-Afrikaan voorgestel dat die Bybel vertaal en in Afrikaans gedruk word. Hy was alleen bekommerd oor “het geestelijk heil van de gekleurde bevolking van dit land”.

Later in dieselfde jaar vra hy die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap dat die Bybel vertaal moet word in “a kind of corrupted Dutch”. Hy skryf dat hy weet van meer as 'n miljoen mense wat 'n “Cape Dutch Bible” sou wou lees. Klaarblyklik het hy hier alle Afrikaanssprekendes in gedagte.

Binne die volgende agtiende maande skuif die motivering vir die aanwending van Afrikaans. Dit is nou nie meer om die Bybel vir mense van alle kleure met min of geen opvoeding te vertaal nie, maar om Afrikaans die simbool van 'n volk se identiteit te maak.

Die vernaamste figuur in die Genootskap vir Regte Afrikaners, wat in Augustus 1875 gestig is, was SJ du Toit. Hy het ontken dat Afrikaans die taal van gekleurde mense was en het beweer dat “Hottentotte hul taal verlaat en ons s’n aangeneem het”. Afrikaans was ʼn witmanstaal, “ʼn suiwer Germaanse taal”. Afrikaners moet geleer word dat Afrikaans hul moedertaal is en dat dit hul plig is om Afrikaans as publieke taal te ontwikkel saam met Nederlands.

Die Moslemgemeenskap aan die Kaap het hulle nie aan die obsessies oor taal en identiteit gesteur nie. Vir hulle was hul godsdiens van veel groter belang. Hulle was die eerstes wat Afrikaans in gedrukte vorm gebruik het. Teen 1840 het daar al ongeveer 40 klein boekies, die sogenaamde Kietaabs, wat meestal oor die geloof handel, verskyn. Die eerste Afrikaanse blad was Die Bode, 'n kerkblad wat op Genadendal uitgegee is. JHH de Waal meld dat die Moslems in Kaapstad teen die 1890's die enigste mense was wat nog lojaal aan Afrikaans was.

Maar dit was 'n klein Engelssprekende bruin elite, wat sekerlik heelwat minder as vyf persent van die bruin gemeenskap uitgemaak het, wat die toon in die sogenaamde kleurlingpolitiek sou aangee. Die leier was dr Abdul Abdurahman, wat in Wellington grootgeword het. Hy het sy volgelinge aangemoedig om vlot te word in Engels, “the most universal of all languages”, en om op te hou om hulle in die “barbarous Cape Dutch” uit te druk.

Maar Abdurahman het geweet dat Afrikaans 'n uitstekende politieke instrument vir sy politieke propaganda is. Hy was feitlik seker die skrywer van die rubriek “Straatpraatjies” in APO, die lyfblad van sy African Political Organisation. Hier is Afrikaans as die taal van die Kaapse werkers gebruik. Die rubriek het met die skynheiligheid van die blanke politiek, en veral die Afrikanerpolitiek, die spot gedryf.

Deels as 'n reaksie op die verguising van Afrikaans het die groot volkskrywer CJ Langenhoven na Afrikaans verwys as die enigste “witmanstaal” wat in Suid-Afrika gemaak is. Sulke uitsprake kon kwalik die halfmiljoen bruin Afrikaanssprekendes tot die stryd vir Afrikaans aanspoor. Hierdie les is aan Langenhoven tuisgebring toe hy ‘n funksie by ‘n bruin skool bygewoon het waar met ‘n enkele uitsondering slegs Engelse gedigte opgesê is. Ontsteld het hy uitgeroep: “Daar is 'n miljoen, ja, 'n miljoen potensiële lesers van Die Huisgenoot ... en wat doen ons vir dié mense; wat is ons houding teenoor hulle, dat hulle aan hul moedertaal, Afrikaans, vashou en nie vervreemd raak nie?”

Afrikanernasionalisme, wat een van die dryfkragte agter die ontwikkeling van Afrikaans was, het al meer kleurbewus geraak. Dit was feitlik 'n onbegonne taak om die bruin mense te probeer oorreed om Afrikaans deel van hul identiteit te maak. Maar daar was ook sommige blanke en bruin Engelssprekendes wat geen Afrikaner-mobilisasie wou hê nie. Hulle het dit, soos vandag, as 'n uitdrukking van rassisme afgemaak.

Miskien moet ek hier verduidelik dat daar in die eerste veertig jaar van die vorige eeu na die stryd tussen die twee blanke gemeenskappe verwys is as een waarin die Angel-Saksiese en die Nederlandse “rasse” teen mekaar te staan gekom het. In hierdie konteks het Engelssprekendes soms na taalbewuste Afrikaners as rassiste verwys.

En toe op 'n dag stel CJ Langenhoven aan 'n Engelssprekende gehoor die vraag: “Why do you always call our politics racialism, but your racialism you call politics?”    

Ons kan inderdaad vandag presies dieselfde vraag stel. Waarom word die Afrikaanssprekendes se aandrang op Afrikaans so dikwels as rassisme afgemaak, maar die aandrang op toegang in Engels word altyd as aanvaarbare politiek beskou?

Die Nasionale Party het in die eerste twee dekades van die Unie nie die moontlikheid afgeskryf om die bruin mense se steun te wen nie. In 1919 het dit die koerant The Clarion opgerig. Die artikels is geskryf deur NP-politici of joernaliste van Die Burger wat skuilname gebruik het. Sommige lesersbriewe en artikels het verklaar dat die kleurlinge niks minder as Afrikaners is nie. JHH de Waal het dr Abdurahman en sy APO daarvan beskuldig dat hulle die bruin Afrikaanssprekendes teen hul mede-Afrikaners oprui. Volgens De Waal was hulle mense wat "dieselfde taal praat, dieselfde liefde vir Suid-Afrika het, oorwegend dieselfde geskiedenis het, om die bos gelei word deur dieselfde vriende en wat hulle in feitlik alle opsigte in dieselfde posisie bevind".

Die werklik groot politieke kloof tussen die wit en bruin Afrikaanssprekendes het nie in 1948 nie maar eers tussen 1929 en 1933 ontstaan. Voor daardie jare het die NP nog gewedywer vir die bruin stem in die Boland, soos byvoorbeeld die kiesafdelings van Stellenbosch en Paarl, waar bruin mense tussen 'n vyfde en 'n kwart van die kiesers verteenwoordig het. Maar nadat die Verenigde Party van generaals Hertzog en Smuts gestig is, het DF Malan se NP die hoop laat vaar om die bruin stem te wen. Eers nou het die NP en Die Burger apartheid aggressief begin propageer.

Derde fase: Simbool van 'n suksesvolle volksbeweging

Tussen 1900 en 1980 het Afrikaans ontwikkel van 'n relatief beskeie spreektaal tot wat genoem word 'n hoogkultuurtaal wat alle funksies kan verrig, insluitende onderrig op tersiêre vlak en as medium vir die politiek, wetenskap en filosofie, en tegnologie. Jean Laponce, 'n voorste taalsosioloog van Kanada, het aan my geskryf dat naas Afrikaans net drie tale (Hebreeus, Maleis-Indonesies en Hindi) in die loop van die twintigste eeu daarin geslaag het om hierdie ontwikkelingsgang deur te gaan.

Hoe is daarin geslaag om Afrikaans in die loop van die twintigste eeu as 'n goed-ontwikkelde taal te vestig?

Die eerste punt is dat gelykheid van tale in die Grondwet van 1909 verskans is. Genl Hertzog en oudpresident Steyn het versoening gekoppel aan gelykheid tussen die twee blanke groepe. Die Grondwet het bepaal dat Nederlands saam met Engels “gelyke vryheid, regte en voorregte” kry. Maar net blanke Afrikaanssprekendes kon voordeel trek uit die bepaling dat elke aanstelling in die nuwe regering gedoen moes word met die nodige inagneming van die gelykheid van die twee tale.

Daar is gou gevind dat moedertaalonderrig in die Suid-Afrikaanse omstandighede 'n doeltreffender vorm van onderrig as Engelsmedium is. Dit het die Afrikaners in staat gestel om die armblankes in hul geledere met goeie onderrig op te hef. Die beleid van beskaafde arbeid het ook aan hulle voorrang in werksgeleenthede gegee.

Vierde fase: Taal as simbool van 'n dominante staatsvolk

Gedurende die derde kwart van die vorige eeu, van 1950 tot 1975, het Afrikaans as die taal van die bewindhebbers op vele vlakke dramatiese opgang gemaak, maar terselfdertyd (grootliks ongesiens) ontsaglike skade gely.

Die beginsel van tweetaligheid in die staatsdiens, waarvoor die Grondwet in 1909 voorsiening gemaak het, is nou vir die eerste keer doeltreffend toegepas. Die sakesektor, wat vir meer as tagtig persent Engelstalig was, het Afrikaans as die regeringstaal met respek begin behandel.

Die stelsel van apartheid het aanvanklik bitter weinig integrasie op opvoedkundige gebied toegelaat, maar het wel grootskaals onderwysgeleenthede uitgebrei en saam daarmee het Afrikaans as voertaal of as tweede taal gegroei.

In 1978 het dr Richard van der Ross, op daardie stadium rektor van die Universiteit van Wes-Kaapland, verklaar: “Die gebruik van Afrikaans onder kleurlinge het sedert die Tweede Wêreldoorlog stelselmatig toegeneem – op die skoolwerf, in meer formele situasies, onder geleerdes –oral.”

Dr Van der Ross het ook verklaar dat hoe verkeerd dit ook al was om aparte universiteitsonderrig af te dwing, die feit nietemin bly staan dat die Universiteit van Wes-Kaapland tersiêre onderrig gebring het aan mense op die laerinkomstevlakke wat dit andersins nie sou ontvang het nie.

Daar is egter ook baie groot skade aan Afrikaans gedoen. Daar was taaljingoïsme vaardig wat van Afrikaans 'n taal wat uitsluit en afstoot, gemaak het.

In 1960 het die digter DJ Opperman gewaarsku dat die Afrikanervolk nie daarin slaag om 'n aantrekkingskrag as volk te ontwikkel nie. Dit het inteendeel “'n sterk wegstotende mag” gehad. Die Afrikaners het 'n groot gevaar geloop van “'n geestelike lewe oorheers en verdor deur rassespannings en rassewaardes, 'n geestelike afsondering, 'n geestelike intelery, geestelike gebreklikheid en uiteindelike onvrugbaarheid”.

In baie opsigte het hierdie waarskuwing waar geword. Die Afrikaners het ras as simbool van hul identiteit bo taal gestel. Die feeste rondom Afrikaans in 1959 en 1975 was eksklusiewe rassefeeste eerder as taalfeeste. In hierdie ideologiese klimaat het Afrikanerleiers Afrikaans uitgebeeld as die skepping van die Afrikaners. Die voortbestaan van apartheid en Afrikanermag is tot voorvereistes verhef vir die oorlewing van Afrikaans.

Afrikaans is die besitting van die Afrikaner gemaak waaraan niemand durf raak nie. Taalorganisasies soos die FAK het vir die helfte van Afrikaanssprekers geslote gebly. Een van die verskeie laagtepunte was die besluit van die SA Akademie van Wetenskap en Kuns om lidmaatskap aan prof Richard van der Ross te weier. Prof Erika Theron het die enigste gepaste kommentaar gemaak met dié woorde aan hom: “Ek is so skaam vir my mense.”

Hierdie verafgoding van volk en taal het Afrikaans in 'n dodelike omhelsing vasgevang. Die staatsvolk se taalimperialisme het selfs so ver gestrek dat dit bruin Afrikaanssprekendes wou opvorder vir die projek om Afrikaans die dominante staatstaal te maak. In 1966 het die Broederbond se Uitvoerende Raad besluit dat Afrikaans nie slegs 'n gelyke posisie met Engels by swart mense moet geniet nie, maar inderdaad Engels as die swartes se belangrikste taal moet vervang. 'n Omsendbrief is aan die afdelings dwarsoor die land gestuur met die versoek dat die volgende boodskap uitgedra word: “Aangesien die oorgrote meerderheid blankes en kleurlinge Afrikaanssprekend is, behoort Afrikaans en nie Engels nie die Bantoe se tweede taal te word.”

Hiervandaan was dit 'n kortpad na die instruksie in 1976 aan die hoofde van die swart skole aan die Witwatersrand dat Afrikaans en Engels op gelyke grondslag as voertale gebruik moet word. En dit was die natuurlik die vonk wat die Soweto-opstand in 1976 laat ontbrand het – die vernietigendste enkele terugslag vir Afrikaans.

Vyfde fase: Afrikaans op soek na 'n vernuwende projek wat al sy sprekers bind

Dit is nie so dat dit net sekere Afrikaanse skrywers en akademici buite die NP- raamwerk was wat teen die taaljingoïsme gewaarsku het nie. Reeds in 1981 het Beeld dié tweeledige stelling gemaak:

Die Afrikaners kan nie sonder Afrikaans bestaan nie, maar – en dit is net so belangrik indien nie belangriker nie – Afrikaans kan nie sonder die aktiewe meelewing van die bruin en swart mense wat die taal praat, bestaan nie. Die Afrikaners moet kies of hulle eksklusief wit wil wees en of hulle Afrikaans wil wees.

Die Afrikaners het gou ondervind dat goedgekwalifiseerde bruin en swart Afrikaanssprekendes nie besonder gretig is om deel te word van die breë koalisie wat die NP-regering in die jare tagtig probeer vorm het nie. Hulle wou eerder Afrikaans –en veral 'n alternatiewe Afrikaans – aanwend as 'n instrument in die bevrydingstryd.

Vandag, dertien jaar later, is ons heelwat wyser en heelwat soberder oor wat die oorgang na 'n demokrasie gebring het. Die verlies van staatsmag het ongetwyfeld die posisie van Afrikaans verswak.
 
Soos wat Nederlands en Nederlandse koloniste in die 1850's en 1860's aan slawebesit gekoppel was, word Afrikaans en apartheid aan Afrikaans gekoppel. Soos wat die Engelssprekende dr Abdurahman net na Uniewording die bruin mense probeer oorreed het om Engels bo Afrikaans te kies, is daar vandag opvoedkundiges wat alle pogings aanwend om Engels as die enigste onderrigtaal te vestig, al is meer as driekwart van die bruin mense Afrikaanssprekend.

Tog is daar nou ook iets wat nooit tevore gebeur het nie: voorste intellektuele – en ek praat van Neville Alexander en Jakes Gerwel – wat in 'n kritieke tyd vir Afrikaans as onderrigtaal op tersiêre vlak in die bresse tree.

Die huidige stand van Afrikaans op onderwysgebied

Gedurende die laaste dekade van die vorige bestel was daar 'n sterk styging van die proporsie bruin kinders wat matriek geslaag het en matriekvrystelling gekry het. Die koms van demokrasie in 1994 het, gemeet aan bepaalde indikatore, agteruitgang gebring. Volgens 'n studie van prof JL Sadie het die persentasie bruin kinders wat matriek / graad 12 geslaag het en van dié wat matriekvrystelling gekry het, aansienlik gedaal.

Matriek/Graad Twaalf (leerders wat finale eksamen geskryf het)
Bruin leerders
                             %Slaag                             % Vrystelling
 1982                     82%                                 16%
 1993                     91%                                 21%
 2002                     85%                                 17%

                                      Swart leerders
 1993                     28%                                 5%
 2002                     62%                                 11%

                                      Indiërs
 1983                     74%                                 37%
 1993                     91%                                 44%
 2002                     91%                                 52%

 

In die geval van blankes het dit konstant op ongeveer 98 persent en 50 persent gebly. Die mees dramatiese vordering is deur die Indiërs gemaak, wie se proporsie leerders met matriekvrystelling met amper die helfte vermeerder het, terwyl dit in die geval van bruin leerders met ongeveer 20 persent gedaal het.

Die deelname aan tersiêre onderrig deur bruin Afrikaanstaliges is die laagste van al die groepe in die land – minder as die helfte van die vlak van swart mense.

Daar is nog nie ver gevorder op die pad van 'n enkele gemeenskap van Afrikaanse mense nie. Apartheid is verby, maar Afrikaanssprekendes het verdeelde herinneringe, verdeelde geskiedenisse.
         
Wit Afrikaanssprekendes is geneig om aan te neem dat daar met apartheid van die wetboek af 'n enkele Afrikaanse gemeenskap weldra tot stand sal kom en dat dit die taak om Afrikaans as taal te bevorder baie sal versterk. Met sy kenmerkende deurdagtheid het Neville Alexander egter opgemerk dat die gedagte van 'n nuwe gemeenskap onrealisties is:

Mense, ons is nog lank nie 'n gemeenskap nie. Daar is glad nie die bande van emosie en gedeelde herinneringe oor belangrike kwessies wat Afrikaanssprekendes tot een gemeenskap saamsnoer nie. Wat ons bind, is die taal Afrikaans. Die manier om te organiseer, is nie as 'n volk of nasie of gemeenskap nie. Die beste weg is om te organiseer as 'n belangegroep van mense met 'n gemeenskaplike belang by Afrikaans as voertaal van laerskool tot universiteit en die reg om aan te dring op al die regte waarop sprekers van enige van die amptelike tale in die land kan aanspraak maak.

Die aanslag van Engels as globale verbindingstaal sedert die middel 1980’s is
veel groter as wat enigiemand verwag het. Wat die aanslag soveel sterker maak, is die geneigdheid by veral sekere sakelui, akademici en senior bestuurders aan universiteite om gehalte aan Engels te koppel. Dit is 'n houding: “Akademiese uitmuntendheid kan net deur medium van Engels bereik word.” Hierdie mense is, om die woorde van Philip John in 'n resensie van Chris Brink se boek te gebruik, “moderniseringsfundamentaliste” – hulle sien hulself as enigste progressiewes, mense wat sogenaamd bevry is van die laste van die verlede. Hulle maak mense wat op Afrikaans as onderrigtaal op universiteit aandring, af as verstokte nasionaliste en rassistiese “uitsluiters”.

Daar is nog 'n faktor, een wat aansluit by die vorige een: baie mense is nie meer
bereid om vir 'n saak – en veral die saak van Afrikaans – op te kom nie. Hulle wil op die rug van Afrikaans ry en baie graag Afrikaanse studente hê, maar is nie bereid om enige opofferings vir Afrikaans te maak nie. Vir hulle is daar nie meer 'n Afrikaanse “saak” nie.

Die redes hiervoor moet in die groter politieke opset gesoek word – en dan
praat ons nie net van Apartheid Suid-Afrika nie, maar van alle lande wat 'n diepgaande politieke omwenteling ondergaan. In 1850 het die Franse denker Alexis de Tocqueville in The Old Regime and the Revolution soos volg oor die Franse Rewolusie geskryf:

Mense voel nie meer gebonde aan hul kaste, of klas of gilde of familie nie. Alles wentel om hul eie private belange. Hul is behep met hul private belange, en om na hulself om te sien. Hulle onttrek hulle in 'n eng individualisme wat alle openbare deugde versmoor. Despotisme [en onthou 'n mens kan ook 'n demokratiese despotisme hê] maak hierdie tendens onweerstaanbaar want die burgers het nie meer 'n gemene saak nie – daar is nie meer iets soos gemeenskaplike behoeftes, of behoefte aan kommunikasie of gemeenskaplike optrede nie. Mense trek hulself terug in hul private lewens ...”
 
Dit is veral waar van baie akademici. Hulle wil nie langer “bodder” met Afrikaans nie.

En tog is daar onbetwisbare winste. In die afgelope vyftien jaar het ons radikaal anders oor Afrikaans leer praat. En die mense wat hier die voortou geneem het, is nie die wit Afrikaanssprekendes nie. Dit is bruin en swart intellektueles (en ek wil weer Neville Alexander en Jakes Gerwel uitsonder) wat oortuigend geargumenteer het dat Afrikaans nie gered kan word deur op die minderheidsregte van die Afrikaners aan te dring nie. Hulle het ons laat besef dat die idee van 'n uitverkore Afrikanervolk wat Afrikaans as sy “besitting” koester, moet sterf om Afrikaans te red.

Dit is ook hulle wat ons laat besef het ons moet ons stryd vir Afrikaans nie in die naam van etniese groepregte of minderheidsregte veg nie, maar eerder as die stryd van 'n versameling individue wat op hul fundamentele reg op moedertaalonderrig aanspraak maak. Hulle het, heel tereg, die eis gestel dat ons die stryd vir Afrikaans moet voer as deel van die stryd vir alle minderheidstale

Dit is mense soos Abraham Phillips wat alle Afrikaanse mense gevra het om hul verpligting teenoor behoeftige Afrikaanssprekendes na te kom. Dit is hierdie verpligting wat eerste kom, nie die strewe om onder die top 200 universiteite in die wêreld te kom (die regering se eise maak dit in elk geval onmoontlik) of om die nuwe swart elite op te lei nie. US se aangewese transformasietaak is om die ontsettend (en daar is geen ander woord nie) lae deelnamekoers van bruin Afrikaanssprekendes aan tersiêre onderrig doeltreffend aan te spreek.

In baie opsigte gaan dit vandag goed met Afrikaans. Daar is veral die sterk styging in die verkoop van Afrikaanse boeke, waaroor mens baie bly is. Maar die basis waarop Afrikaans tans rus, is baie onseker. Daar is geweldige druk op Afrikaans op universiteitsvlak. Val Afrikaans op Stellenbosch – en dit is nog steeds 'n moontlikheid – dan val Afrikaans in die land. Koerante, boeke en tydskrifte sal algaande verskraal. Afrikaans as geskrewe taal sal iets soos Jiddisj word.

Om die taak om Afrikaans te bevorder is daar 'n werkbare koalisie nodig. Aan die anderkant is daar die Afrikaners, soos wat waarskynlik die meeste wit Afrikaanssprekendes hulself noem, vir wie Afrikaans 'n onlosmaakbare deel van hul identiteit is. Jan Rabie het dit die sterkste gestel: "Sonder Afrikaans is ek niks." Maar dan is daar ook diegene wat hoofsaaklik instrumentele waarde aan Afrikaans heg. Baie van hierdie mense staan skepties of agterdogtig oor mense wat die identiteitsaspek te sterk beklemtoon, veral omdat dit hulle te veel aan die retoriek van apartheid herinner. By 'n taalberaad wat in April 2007 op Stellenbosch gehou is, het Cecil le Fleur van die Griekwa-raad sy standpunt oor 'n Afrikaanse Belangeraad so gestel: “Dit moet gaan oor die opheffing van die taal se sprekers, nie die taal as sodanig nie.”

Die uitdaging is om die spanning tussen hierdie twee komponente te probeer besweer deur saam te werk aan projekte wat Afrikaans uitbou en die projek van bemagtiging bevorder. Die een kan nie werklik sonder die ander nie.
           
'n Taak vir die toekoms

My gevoel is dat Afrikaans nie werklik 'n vaste plek in die land sal kry voor daar nie 'n saambindende idee en vernuwende projek ontstaan nie. As ek na die Wes-Kaap kyk, is hierdie taak om 'n gesamentlike projek van stapel te stuur gerig op die uitwissing van die agterstand van bruin Afrikaanssprekendes op die gebied van die onderwys en veral die tersiêre onderwys. Dit kan so lyk:
 
1. 'n Loodskomitee word gestig bestaande uit rektore van die universiteite met 'n belang by Afrikaanse onderrig (dit sluit natuurlik UWK in) en ander leiers op die gebied van die onderwys, sakeleiers en kerkleiers, en verteenwoordigers van die betrokke staatsdepartemente.

2. Daar word fondse ingesamel vir behoorlike navorsing van die onderwys in skole op die platteland waar die agterstand op onderwysgebied verreweg die grootste is.

3. 'n Afvaardiging word na die Departement van Onderwys gestuur om 'n
verandering in die sogenaamde NISFAS-fonds (National Student Financial Aid Scheme) te kry. Dit neem die studiekoste van ʼn student en die geweegde getal van voorheen benadeelde studente wat reeds studeer, in ag. Dit word dan soos volg vermenigvuldig:

swart getal    x 3
bruin getal     x 2
Indiër getal    x 1
wit getal        x 0.

Maar ons het reeds gesien dat die bruin Afrikaanssprekendes se deelname aan tersiêre onderrig twee maal laer as dié van swartes is. As hierdie formule op grond van taal eerder as ras bereken word, moet die lenings wat vir bruin Afrikaanssprekendes beskikbaar is, sterk styg. 'n Metode moet gevind word om ook behoeftige wit en swart Afrikaanssprekendes by te staan.

4. Met oudstudente- en sakesteun moet US sy huidige (hoofsaaklik Engelse) IT-gebaseerde afstandonderrig uitbrei deur Afrikaans as voertaal aan te bied vir voorgraadse studente regoor Suid-Afrika en Namibië.
 
5. Met oudstudente- en sakesteun moet daar stelselmatig kleiner en meer
gespesialiseerde en beursgesubsidieerde voorgraadse gemeenskapskampusse in ander gebiede (soos Paarl-Wellington, Oudtshoorn-George, Vredendal, Upington, ens) geskep word wat ondersteun kan word deur die US se IT-gebaseerde afstandonderrigprogram. Hierdie kampusse kan dan ook as basis dien vir die US se gemeenskapontwikkelingsprojekte – insluitend nagraadse studies in hierdie verband.

6. Indien daar besluit word om volwaardige tweetaligheid te bevorder, is verskeie moontlikhede oop. 'n Voorstel wat gemaak is, is dié van prof Christo Viljoen. Volgens hom kan elke universiteit in die land 'n “ankertaal” kies waarin die meeste voorgraadse kursusse aangebied word. Die regering betaal dan die gewone subsidie vir al die modules wat in die ankertaal aangebied word en dubbel die subsidie vir elle student in kursusse wat in 'n tweede taal aangebied word. Viljoen het bereken dat dit die staat R250 m sal kos, of twee persent van sy onderwysbegroting, om parallelmediumonderrig op hierdie grondslag in vier universiteite aan te bied. Dit sou 'n instelling soos die Universiteit van KwaZulu-Natal die middele bied om vinnig Zoeloe as voertaal vir tersiêre onderrig te ontwikkel.

7. Indien die regering onwillig is om dit toe staan, kan die US die regering nader met die aanbod dat dit 'n rand vir elke rand van die staat sal bydra om 'n stelsel van volwaardige parallelmediumonderrrig in te stel.
 
8. Nadat die tersiêre kwalifikasies van Afrikaanssprekendes in hierdie provinsie opmerklik verbeter het, kan die provinsiale regering vra dat regstellende aksie op grond van ras na regstellende aksie op grond van klas verander.

Slot

Ek wil afsluit.

Pous Benedictus het gesê mense kan hul identiteit verander, maar hul kan nie hul verantwoordelikheid ontduik nie. Die ou vraag: “Wie en wat is die Afrikaner?” behoort tot die verlede. Die nuwe vraag is: Hoe kom ons as Afrikaanssprekendes ons maatskaplike verantwoordelikheid na by al die ander verpligtinge en uitdagings wat ons het?