Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Fiksie | Fiction

Once threw a party


Izak de Vries - 2007-08-16

I am the devil in disguise

I
Karel Niebuhr is mal oor Elvis.
Karel Niebuhr is ook ’n Wiskunde-onderwyser in die Moordenaarskaroo. Hy is baie konsensieus, en probeer vreeslik hard om Wiskunde en Wiskundige Geletterdheid aan die boere en die plaaswerkers se kinders te verduidelik. Dit gaan maar moeilik, maar Karel is baie gelykmatig en hy spandeer baie tyd aan ekstra lesse – meestal verniet.

Karel Niebuhr is enkellopend, ten spyte van ’n paar plaastannies se beste bedoelings.

Karel Niebuhr is ’n moffie, sien, en dis die ding: al word die mooi Karoodogters voor hom geparadeer, word hy gewoonlik styf oor hulle boeties.

Karel Niebuhr is egter maagdelik, want in die Moordenaarskaroo is daar nie moffies nie – in elk geval nie volgens die skoolhoof en die dominee nie. Dis hoekom Karel Niebuhr hom slegs verlustig aan die Karooseuns as hulle ma’s besig is om ’n sussie aan hom te probeer afsmeer ...

II
Elvis Aaron Presley is op 8 Januarie 1935 gebore. Hy was een van ’n tweeling. Sy tweelingboetie, Jessy Gaaron Presley, is dood gebore. Toe hy tien jaar oud was, sing Elvis “Old Shep” op die Mississippi-Alabama Fair and Dairy Show. Hy kom tweede. Sy prys is $5 en gratis ritte op al die speelgoed wat opgestel is in die pretpark.

Die Presleys was brandarm, en die huisie waarin hulle gewoon het, was bitter klein. Vernon Presley, Elvis se pa, het die huis waarin Elvis gebore is, self gebou met die hulp van sy broer.

Vandag is Elvis se geboortehuis ’n museum, want in 1946 bid die jong Elvis vir ’n fiets onder die Kersboom. ’n Fiets is egter te duur en Gladys Presley (née Smith) oorreed haar seun dat ’n kitaar, wat $12,95 kos, ’n beter Kersgeskenk gaan wees.

III
Gary A Nator (nie sy regte naam nie, maar helaas) is op 19 Maart 1969 gebore. Hy is die jongste van ’n tweeling. Sy tweelingboetie, Nash, is dood by geboorte. (Laasgenoemde is ’n infame leun, maar dit pas die organiseerders, so dit verskyn wel op sy biografie. Later in die verhaal weier sy ma om oor die “swaar” in haar lewe te praat, so die mite leef voort.)

Op tienjarige ouderdom skryf Gary se ma hom in vir die Friends of the Jewish Orphans se jaarlikse talentkompetisie en fondsinsameling. Hy sing “Silent Night” op sy ma se aandrang en wen. Sy prys is R10 en tuisgebakte pretzels. (Die oomblik is op film vasgelê en daar is dus bewyse voor.) Die dominee hoor van die grootse oomblik en nooi die jong man om “Silent Night” in die kerk te sing, al is dit die middel van Julie.

Die Kersfees (1980) kry hy ’n fiets, al vra hy vir ’n kitaar. (Sy ma sal later in die storie sê hy lieg, hy het gevra vir ’n fiets.)

IV
Nie een van die mense in sy dorp weet wanneer Karel Niebuhr gebore is nie. Sy skoolhoof sê dit sal iewers in die blikskottel se lêer staan, maar hy het nie tyd vir nonsens nie.

Die dorp se mense sê Karel is ’n alleenloper en hy praat nie oor sy gesin of sy familie nie.

Die kinders sê Karel is ’n moffie.

Die skoolhoof sê hy dink Niebuhr is ’n moffie, maar die man gedra hom en hy is ’n goeie onderwyser. Hy hou hom egter dop.

Tannie Wenna Benadé sê dis bog. Karel se broek het bult gestaan toe hy een middag gekyk het hoe haar seun, Wian, haar twintigjarige dogter, Carellie, se bostukkie afhaal tydens ’n verspotte gestoeiery in die swembad.

V
In 1948 kom die Nasionale Party aan bewind in Suid-Afrika. Saam met die Broederbond maak hulle die lewens van swart mense, gays en andersdenkendes hel. In dieselfde jaar pak Gladys en Vernon Presley hulle seun, Elvis, en al hulle aardse besittings in ’n 1939 Plymouth en vertrek na Nashville, Tennesee.

Op 16 Augustus 1977 sterf Elvis Presley in Nashville, Tennesee.

VI
In Januarie 2007 trek Gary A Nator al sy spaargeld en vertrek met die Greyhound na Nashville, Tenessee. Hy was nou reeds vir meer as ’n jaar lank ’n barista in Tupelo, Mississippi, en kon die aksent van die plaaslike bevolking, ook die swart gospelsangers, foutloos namaak.

Op 12 Januarie doen hy sy eerste oudisie. Hy staan uit.

Op 14 Januarie word hy voorgestel aan die bestuur van die Blue Suede Lounge. Hy is weer eens uitstekend.

Op 18 Januarie ontmoet hy ses musikante, saam met wie hy vyf uur per dag werk.

Op 24 Januarie doen hulle ’n volledige show, al is daar minder as vyftig mense in die gehoor.

Na die show word Gary A Nator amptelik Elvis. ’n Opnamekontrak word voor hom neergesit, ’n groot bedrag geld word hom aangebied, en die sleutels van ’n pienk Cadillac word aan hom gegee.

Twee meisies kom bied hulleself aan. Hy soen die eerste een innig terwyl hy sy vinger in haar broekie inwerk. Die tweede een word deur Elvis beveel om haar toppie uit te trek. Hy skryf op die pragtige linkerbors: “With love”. Op die ewe pragtige regterbors skryf hy: “Elvis! I’m alive!” Haar foto verskyn die volgende dag in elkeen van die plaaslike koerante (sommige gedokter of gesny, ander nie).

Gary A Nator gaan kry sy besittings teen donkeraand en neem sy intrek in die meerstersuite van die Blue Suede Lounge. Dit sal sy tuiste wees vir minstens sewe maande.

Toe die foto’s van die beskrewe meisie die volgende dag verskyn, laat die bestuurder van die Blue Suede Lounge vir Elvis, soos hy nou bekend staan, kom en kondig aan dat sy maandelikse toelae met $300 verhoog word. Knipogende word ook gesê dat meisies nooit die deur gewys sal word as hulle Elvis se handtekening op hulle het nie.

VII
Op Donderdag 9 Augustus 2007 kom Karel Niebuhr op Kaapstad se lughawe aan. Hy mis byna-byna sy eerste vlug weens die SAA-grondpersoneel se onbevoegdheid (al was hy twee uur voor die tyd op die lughawe) en slaak dus ’n sug van verligting toe hy opstyg. Amper dertig uur later kom hy in Memphis aan, gooi sy sak in die motelkamer neer en gaan na die Blue Suede Lounge. Al wat ’n blog is, en al wat ’n resensent is, sê die Blue Suede se Elvis is koning.

Hy is oorweldig deur die musiek en beland gou voor, tussen die gillende meisies. Hy gil saam met hulle, ding mee om Elvis se attensies en staar met tranerige oë na die ouerwordende Elvis op die verhoog.

Hoe hulle dit doen, weet hy nie, maar die man raak al hoe ouer soos die show vorder. Tussen liedjies gaan hy soms van die verhoog af; dis duidelik dán wanneer hulle die toorstaffie moet swaai.

Op pad uit gebruik Karel van sy kosgeld om weer vir die volgende dag se show ’n kaartjie te kry.

It’s now or never
Hy kom vroeg, en honger, by die vertoning aan. So kry hy ’n staanplek reg langs die versperrings om die verhoog.

Soos die vorige dag kom daar ’n paar enorme, swartgeklede gorillas in en neem stelling in voor die verhoog.

Twack, thwack, twang! Die eerste note van “Don’t be cruel” klink op en Elvis verskyn. Die skare gaan mal en Elvis kom kniel reg voor hom. Karel se hart slaan bolmakiesie toe Elvis hom reguit in die oë kyk terwyl hy sing “Don’t be cruel ...”

Grote griet, dink Karel, dis asof hy net vir my sing!

“I don’t want another love,” sing Elvis.

Liewe hemel!

Elvis staan op en kies ’n chick met enorme knockers toe hy begin sing van “walking down the aisle”.

Die volgende nommertjie is “Hound Dog” en die skare gaan mal. Elvis ruk en rol en skud tot die gehoor heeltemal gek is.

Tydens “Jailhouse Rock” kom staan Elvis weer reg voor Karel en kyk diep in sy oë toe hy sing: “I sure would be delighted were you pumping me!”

Dit kan nie wees nie, dink Karel en sy keel trek toe van lekkerkry.

Elvis speel sy gehoor. Daar gryp hy weer ’n blondine met moerse boobs. Maar Karel kon sy oë sien ...

Tydens “All shook up” klim Elvis van die verhoog af en gryp ’n girl met ’n bloedrooi mond wat styf langs Karel staan. Elvis hou die hele tyd aan haar vas, maar daar is geen twyfel nie: Elvis se oë is net op Karel. Dis onmoontlik om dit ontken en tot sy ontsteltenis word hy verskriklik styf. Gelukkig is dit taamlik donker op enige plek anders as op Elvis en Rooi Mond se gesigte.

Toe die song klaar is, sê die dosie met die rooi mond: “He only looked at you while he sang to me. I fucking swear he’s a fucking fag.”

Dan is dit nie net ek nie, jubel dit in Karel.

Vir ’n tyd lank ignoreer Elvis hulle deel van die verhoog. Hy soen meisies, skud hande met jong mans en tydens “Stuck on you” hou hy sy hand die hele tyd binne-in die meisiekind se stywe toppie.

Tydens “It’s now or never” kom staan hy weer ’n slag voor Karel en kyk na hom – maar verbeel hy hom nie dalk nie?

Dit was egter tydens “Devil in disguise” dat Elvis vir Karel voor die bors gryp, nader pluk en toe iets in sy hand stop. Die hele ding was so goed gedoen dat dit sweerlik sou lyk asof Elvis die duiwel hardhandig van hom wou wegstamp, maar dis net Karel wat weet dat daar ’n klein nota in sy hand is.

Met bewende vingers druk hy dit in sy sak. Dis te gevaarlik om dit nou te voorskyn te bring.

Die res van die konsert is hemels. Elvis kyk skaars na hom, maar die notatjie is werklik, dít droom hy nie.

Na “Return to sender” is daar ’n oomblik se stilte. Elvis hou sy hand op vir die orkes en sê: “Suspicious minds often saw me crying in the chapel. I’ll understand when some of my letters are returned to sender. Oh, the wonder of you.”

Toe gaan staan hy op sy knieë, steek sy duim op, en die musiek van “Crying in the chapel” begin speel.

Die show eindig met Elvis wat in die middel van die verhoog staan en “Love me tender” sing.

Vier encores volg.

En eers toe loop die mense uit.

Karel se hand bewe. Daar is gewoon te veel mense om nou al te kyk. Wie sê Elvis het nie vir ’n klomp ander ook goed uitgedeel nie? Dalk is dit ’n kaartjie na môre se vertoning. Dalk het Elvis hom herken van gister se vertoning en het so besluit dat hy een van die gelukkige mense is wat weer kan kom. Hy sou so graag wou ...

Dalk is dit ’n afslagbewys op ’n cd ...

Dalk ...

Om hom begin die mense nou minder raak. Met bewende hande haal hy die briefie uit sy sak. Dis opgefrommel en hy vou dit versigtig oop.

Number Three
Are you lonesome tonight
Act 1 was where we met
I am the devil in disguise
Now and then, there’s a fool such as I
It’s now or never
Stuck on you
Teddy Bear

Op die agterkant staan: “I, Elvis, hereby invite the bearer of this note to visit me in the master suite. Please show him in. GAN

Wow! Hy wil gaan sit.

Hy wil huil.

Hy wil gil van blydskap.

Toe kom staan een van die gorillas voor hom: “Hey, you. Did Elvis give you a note?”

 

Act 1

“Wow, you came!”

Die butler wat hom by die gorilla gekry het, maak die deur saggies toe. Elvis is weer jonk en mooi, die sakkerigheid van netnou is weg. Sy hare staan groot en agteroor op sy kop. Hy sit die glas water neer waaraan hy staan en drink het.

“I was so scared you’d not come ...” Die stem is warm en die suidelike drawl is verleidelik.

Karel weet nie of hy kan praat nie.

Stadig kom Elvis nader en hou sy arms wyd oop. Karel loop vorentoe en word toegevou in sequins. Elvis ruik nog na sweet. Dit is verruklik.

Karel word styf. Elvis ook.

Elvis skuif sy hande stadig af oor Karel se rug en gryp sy boude vas. “May I kiss you?”

Karel knik en Elvis se warm tong krul om syne. Dit is ongelooflik.

Na ’n hemelse ewigheid kom hulle op vir asem. Albei se asems jaag.

“I’m so glad you came,” sê Elvis en soen hom weer.

Die ringe aan Elvis se vingers krap heerlik soos hulle op en af jaag oor Karel se lyf.

Toe hulle weer asem skep, sê Elvis: “We could stand here all day and kiss, or we could ...”

Elvis hou hom dop.

“Could what?” vra Karel en lag.

“Any suggestions?”

“You’re stiff,” sê Karel.

Elvis knik. “And so are you. May I blow you?”

“Wow,” sê Karel. “Hell, is this real? Wow, hell yes, if you want to!”

Elvis kniel en vat saggies aan die knop in Karel se broek. Net toe sy beringde vingers Karel se gulp vasvat, knor Karel se maag ongelooflik hard.

Elvis kyk op en glimlag. “You’re hungry!”

Karel bloos. “I used today’s food money to buy this morning’s ticket.”

“My poor dear,” sê Elvis en staan op. “What can I order you? The Blue Suede Lounge has fantastic food. And while you are with me, it is on the house.”

“A blowjob! I’ll swop a week’s food for a blowjob!”

Elvis kry ’n vreeslike stout uitdrukking op sy gesig en sê: “You’re a man, my friend. I’ll oblige, but thereafter I will order us a meal.”

Hy soen Karel lank en innig, toe lei hy hom na die enorme koningingrootte dubbelbed.

Saggies, en met geoefende hande, trek hy Karel se klere uit. Eers sy tekkies, sy sokkies, sy hemp, en vinnig, sonder vertoon, word die jeans en onderbroek uitgepluk.

Elvis kniel voor Karel se parmantige ereksie, vat dit stewig vas en begin saggies sing: “Oh baby let me be ...”

Met sy mikrofoonhand speel Elvis die skag, met sy lippe en tong fladder hy oor die harde, pienk glans. Karel weet nie of hy moet sit of lê nie.

Hoe baie het hy nie al gedroom oor die dag dat ’n man so iets aan hom sal doen nie? Van sy hoërskooldae af het hy geweet dat hy van ander seuns hou. Hy onthou hoe bang hy eers was, hoe hy later vrede gemaak het en ’n alleen lewe vir homself ingedink het. Deur sy universiteitsjare en die bitter alleen jare in die Karoo kon hy maar net sy eie hand vat en droom van ’n sterk, manlike hand in die plek daarvan.

En hier is Elvis Presley besig om met sý penis liefde te maak.

Aan die einde van die song suig Elvis hom behoorlik in.

Goeie dôner, dink Karel. Dan is dít hoe dit voel.

Elvis se mond is warm en nat.

Elvis se tong is soepel en geoefen.

Elvis se lippe suig soos ’n speenkalf.

Goeie hemel.

Wat maak jy met jou hande?

Wat maak jy met jouself?

Hoe maak jy dat jou brein nie kortsluit nie?

Goeie hemel!

Goeie genade, dis lekker!

O genade.

O hemel.

O griet.

O!

Elvis sluk, toe klim hy op die bed en hou Karel styf vas.

“What about you?” vra Karel na ’n rukkie.

“First, my dear man, I’m going to order room service. Then, when your stomach stops complaining, I’m going to turn you over, take off this costume and slip a condom over mine. Would that be okay?”

Goeie hemel, dink Karel, alles in een dag! Hy knik en gryp Elvis tussen die bene.

“Stop, stop!” lag Elvis. “I’ve had my hors d’ oeuvres, but I need to feed you! Besides, one can’t eat a lot before a show. I’m hungry too.” Toe laat sak hy sê stem en sê: “Besides, number three, I’m much better at pumping you when I’m full of steak!”

Monkey gland-sous.

Elvis lyk beter in monkey gland-sous as in sequins.

Elvis lyk beter in ’n g-string van tjips as in leer.

Elvis lyk baie beter sonder enigiets aan as in enigiets.

Elvis het amazing hande.

Elvis weet presies wanneer om die KY uit te haal.

Elvis se heerlike, regop voël is warm in Karel se mond.

Elvis se vinger begin speel met die KY.

“Still a virgin?”

Karel haal die penis uit sy mond. “Yes,” sê hy en suig verder.

“Scared?”

Karel huiwer ’n oomblik en sê: “A little, but please, I want it.”

Elvis vat hom onder die ken en stuur Karel se mond na syne toe. Hulle soen lank, dan sê Elvis: “I’ll be gentle.”

“I can’t wait,” sê Karel en bied homself aan.

Elvis se vingers werk saggies, dieper en dieper.

Elvis rol ’n kondoom oor sy voël.

Elvis vat Karel se boude vas en ruk homself in.

Karel snak.

“Was dit seer?”

“Net ’n bietjie. Gaan aan ... Hey! That was Afrikaans!”

Elvis begin lag terwyl hy stadig stoot.

“Jy’t my uitgevang, Kareltjie. My kop haak uit.”

Nou is sy eie kop regtig aan die uithaak, dink Karel. Elvis se fris lyf is liefderik besig om hom saggies te pomp, en nou Afrikaans? Goeie hemel.

“Ek was vir baie jare ’n Telkom-tegnikus, Karel. Ek het jou foonlyn kom installeer. Toe al het die moffies gepraat oor jou. Ons het geweet jy gaan eendag uit die kas val.”

“Móffies? In die Karóó?”

“Skaapvleis maak van ’n man ’n man. Dis jý wat te bang was om te sien wat om jou aangaan.”

“En jy het my herken?”

“Onmiddellik. Ek het amper gestik toe ek jou daar sien op en af spring.”

 

The purple gang
Die laaste twee uur in die kar is hel. Hy is moeg. Dit is warm in die Golfie. En hy’s bang. Hy’s genuine bang om skielik te begin leef wat hy wil leef, hóé hy wil leef.

Hannes kom terug. Op die lughawe het hy hom morsdood geskrik toe hy Hannes as Elvis op die voorblad van Huisgenoot sien. Hulle het ’n onderhoud gedoen met sy ma.

Hannes se ma sê:

  • Haar seun is 19 Maart 1969 gebore.
  • Sy praat nie oor daardie tyd nie.
  • Hannes het op tienjarige ouderdom die Friends of the Jewish Orphans se jaarlikse talentkompetisie en fondsinsameling gewen met “Silent Night”; sy het die lied gekies.
  • Sy prys was R10 en tuisgebakte pretzels; sy het ’n film om dit te bewys.
  • Die dominee het hom daarna “Silent Night” in die kerk laat sing.
  • Hannes het ’n fiets gekry vir 1980 se Kersfees, maar dis wat hy wou gehad het, sy onthou nie die storie van die kitaar nie.
  • Hannes is nie getroud nie, maar hy’s gewild onder die meisies en hy sal waarskynlik binnekort afhaak noudat sy droom bewaarheid is om in Amerika te sing.

 

Karel weet nie meer of hy moet huil of lag nie. Sy anus is ... dit voel of dit tintel. Dis gevoelig, maar nie seer nie. Dis lekker. Dit wag vir Hannes om weer en weer en weer daardie heerlike voël van hom te kom indruk.

Maar hoe de moer gaan hy kan aanhou klasgee in die Moordenaarskaroo as sy diepste geheim aan almal moet bekend word?

By die huis stort hy en raak aan die slaap. Hy droom van Hannes, maar toe Hannes hom wou soen, storm die skoolhoof die klaskamer binne en sê dat gays nie in sy skool toegelaat word nie.

Suf en moeg word hy wakker die volgende oggend. Hy stort, hy eet Weetbix sonder melk (die melk in die yskas was suur).

En hy ry werk toe.

Die kinders laat hom weer lewe kry en almal, selfs die skoolhoof, sê hy lyk ongewoon goed vir iemand wat oor soveel tydsones heen moes reis.

Die Donderdagaand is daar ’n SMS van Hannes: TRUG. KOOP KY. LIEFDE, 47.

Hy sukkel om te slaap. Hy’s opgewonde, maar bang. Hier’s niemand op die dorp wat weet nie, niemand wat vermoed nie ... Dalk vermoed hulle, maar hulle wéét nie. En dit sal hel wees as hulle moet uitvind.

Hy daag moeg by die skool op en almal sê die lang vlug het hom uiteindelik ingehaal.

Die kinders hou hom besig. Hy dwing homself om te konsentreer, en hy help almal wat hulp nodig het, maar dié middag is hy vodde toe hy terugry huis toe.

Hannes weet presies waar hy bly. Hy het dit nie gesê nie, maar Karel is seker dat hy gaan kom kuier.

Goeie hemel, wat daarvan as iemand uitvind?

By die apteek huiwer Karel, maar hy ry verby. Hy sien nie kans om KY en kondome te koop nie. Die dorpie is te klein.

Hy wil huil.

Sou dit anders gewees het as hy vanaand ’n date sou hê met ’n meisie? Sou hy dan openlik kon kondome koop? Dalk. Hy weet nie. Almal sou in elk geval geweet het. Hemel tog, wat moet hy doen?

Teen skemeraand is daar ’n klop aan die deur. Sy hart bons verskriklik terwyl hy deur toe stap, maar hy sien die vangwa al deur die venster voor hy oopmaak. Twee jong konstabels staan daar.

Karel groet.

“Middag,” sê een. “Dit sal gaaf wees as jy oopmaak,” sê die blondekop en wys na die traliehek. “Ons wil nie moeilik wees nie.”

Karel sluit oop en stoot die traliehek weg.

Die volgende oomblik duik die twee konstabels hom plat. Nog twee mense kom ingehardloop en storm die huis in. Hardhandig word boeie om sy polse gedruk en hy word ru na die vangwa gestoot. Die konstabels is groter as hy. Hy’t nooit iets anders as sesdespanrugby gespeel in graad 8 nie, en dit was ook net omdat hy moes.

“Kom moffietjie,” sê die swart konstabel toe hulle by die vangwa kom. “As jy saamwerk, gaan jy nie seerkry vanaand nie.”

“Behalwe as jy self ’n knuppel kies,” sê die blonde een en lag.

Ag hemel tog, dink Karel. Hy sal nou moet gefokus bly. Hy sal homself hier moet uitpraat vanaand.

Ag hemel tog.

Deur die staalgaas kan hy sien hoe die ander twee mans uit sy huis kom. Een dra ’n sportsak wat hy diep in sy kas bêre. Hulle moes gegrawe het.

Ag hemel tog.

Hoe?

Die vangwa trek weg en Karel moet mooi sit om nie seer te kry nie. Dis moeilik met sy hande wat vas is agter sy rug. Hulle ry dorp uit. Sy moed sak en nou byt hy op sy lippe om nie te huil nie. As hy gaan huil, gaan hulle hom waarskynlik seerder maak.

Uiteindelik ry die vangwa stadiger. O, dêm. Hy weet presies waar hy nou is. Die ou tronk is al lank in onbruik en daar loop baie praatjies op die dorp rond dat Sataniste daar partytjies hou oor naweke.

Toe hulle aftrek van die pad af, hoor hy die blonde konstabel oor die radio praat: “Die prisonier is hier. Maak julle reg!”

Die swart konstabel lag.

Daar staan verbasend baie motors. Die plek lyk glad nie verwaarloos nie. Groot spreiligte steek bo die mure uit. Klipharde dansmusiek klink op van binne die mure. Dit klink nie vir hom soos enigiets wat hy al ooit van Satanisme gehoor het nie, tensy die Karoo-Sataniste almal trip op techno.

Hy sien ’n reuse mobiele kragopwekker. Hulle stop en die drywer toet. Twee mooi jong mans met kaal bolywe pluk die hek oop en slaan gul op die gaas met hulle hande. Die bakkie stop weer, die deur word oopgemaak en die twee konstabels steek hulle hande uit.

“Kom,” sê die blonde een, “laat ons jou uithelp. Ons wil nie hê jy moet val nie.”

“Ja,” sê die swart een. “En onthou, you can run, but you can’t hide from the family!”

“Dames en moffies!” gil iemand oor ’n luidspreker. “Nommer drie het opgedaag!”

Nommer drie? Hoe weet húlle?

Is Hannes hier?

Die twee konstabels lei hom deur swaar staaldeure, deur ’n nou gangetjie, en skielik is hy in die helderverligte binneplein van die ou tronk. Oral staan jong mans rond.

’n Moerse kabaal klink op. Almal skree. Twee onderbroeke seil deur die lug, maar die gooiers is duidelik rigtingbedons.

Almal kyk na hom. Die meeste is kaalbolyf. ’n Hele klompie paartjies hou aan mekaar vas.

“Welkom,” sê die blonde konstabel. “En geniet die aand. Hannes is nou-nou hier.” Daarmee maak hy ook die boeie los.

Daar gaan weer ’n gejuig op toe die boeie baie camp rondgeswaai word. Die partytjie begin weer in volle vaart.

Flip, hy ken van die mans, besef Karel.

“Kom,” sê die blonde konstabel. “Ons het vir jou van jou eie klere gebring. En seep, en sjampoe. Hier is ’n mobiele stort.”

Een van die mans wat in sy huis was, hou die sportsak na hom uit en sê: “Kom, ons gaan wys jou.”

“Check jou later,” sê die swart konstabel. “Ons moet gou die van terugvat. Ons kom sodra ons skof klaar is.”

By die stort sê die man: “Dis skoon. Ons Doom dit gereeld. Is klein, maar dan is jy darem alleen ... Hannes kom, anders sou jy nie alleen hoef te gestort het as jy nie sou wou nie! Oh, en by the way, ek is by die ingang. Bring die sak vir my en ek sal dit in Hannes se kar gaan sit. Oh, en nog ’n by the way, drinks en snacks is vanaand op die huis vir jou. Dis baie special om ’n nuwe maatjie te verwelkom.”

Die stort is klein, maar dis skoon en dis warm. Sy kop spin. Hier is moer baie mans hier buite en dit lyk of hulle almal gay is, of ten minste heel happy om uit te hang saam met ’n spul gays.

En hulle almal ken vir Hannes. En hulle weet van hom en Hannes. En Hannes is hier naby, baie naby.

Hy raak styf, maar dwing homself om te sak, stort klaar en haal die skoon klere uit. Dankie tog, die man het smaak. Hy’t wragtag gekies presies wat Karel sou wou aantrek vanaand. Alles is daar, ’n skoon handdoek, ’n swart onderbroek, deodorant, sy Hugo Boss ...

Met ’n drankie in sy hand staan hy soos ’n kind in ’n speelgoedwinkel en kyk na al die mans wat hy ken. Die meeste is openlik gay, en heelparty kom skud sy hand en druk hom vas. Sommige gee hom selfs ’n goeie boeresoen op die lippe.

Na ’n tydjie maak die compère almal stil en sê: “Ladies and gays. He’s alive! He is Elvis! He’s here, and he iiiis ... GAY!”

“Boem, boem. Doef, doef,” klink dit uit die luidsprekers en Hannes kom op. Hy is die jong Elvis in ’n onderbaadjie vol sequins, ’n moerse stywe broek en geen hemp nie. “Once threw a party,” begin hy ...

Dit was ’n voorreg om hom te hoor met ’n behoorlike band, besef Karel, maar vanaand is daar geen twyfel nie: die kere wat Elvis vir hom knipoog as hy en die karaokeritme mekaar mis, wéét Karel dat Elvis vir hóm kyk ...

Na ’n uur hou Hannes sy hande op. “Dis moerse om terug te wees by julle. Ek het julle so fokken baie gemis.”

’n Groot gejuig gaan op.

“Ek dink teen dié tyd weet die hele familie in die Karoo al dat ek hom in Vegas uit die kas moes gaan haal, maar, sistas, he’s here tonight! Kareltjie, kom hier. Dié een wil ek vir jou sing!”

’n Nog groter gejuig gaan op en Karel grinnik soos ’n bakvissie toe hy op die verhoog klim.

“Kom sit hier waar almal jou kan sien.”

Karel sit.

Hannes gaan staan op sy knieë voor Karel en sing: “Love me tender, love me sweet ...”

En hulle het.