Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > Artikels | Features

Olifantsrivier Vodacom Wynroete: Waar tydelike ervarings permanente herinnerings word


Johann H Crafford - 2007-08-15

Dis nie aldag dat ek rondskarrel om byvoeglike naamwoorde te vind om iets te beskryf nie, maar die Matzikama het dit onlangs reggekry om my dit te laat doen.

Die Matzikama is die gebied langs die Weskus wat noord van Clanwilliam begin en weer suid van Nuwerus in die noorde eindig, in die weste deur die Atlantiese Oseaan begrens word en in die ooste deur die Bokkeveld- en Koebeebergreekse. En dit sluit die Sandveld, die Knersvlakte, die Hardeveld en die Olifantsriviervallei in.

En dis juis oor laasgenoemde dat ek nou die Maandagoggend die pad gevat het vir ’n ontdekkingsreis wat my uiteindelik na ’n paradys sou neem waarvan ek nie bewus was nie. En wat ek nie gou sal vergeet nie.

Kyk, dit werk so. In my nimmereindigende soeke na nuwe wyne en wynplekke het my en Monika Greeff (skakelbeampte van die Olifantsrivier-Vodacom-Wynroete, 027 213 3126) se paaie so ’n jaar of drie gelede gekruis. Sy het vertel van die selfoonreus Vodacom se belegging in hul streek en betrokkenheid by maatskaplike en bemarkingsprogramme wat die plaaslike gemeenskap bevoordeel.

Haar opgewondenheid oor die hele omgewing se skatte, natuur en ander, wat daar wag om ontdek te word, het my toe laat besluit van uitstel kom afstel, en ek het my goedjies gepak en die N7 noordwaarts aangedurf vir ’n besoek van drie dae aan daai geweste. Ek het so gereken: om 300 km te ry vir ’n wynproe is bietjie veel gevra (selfs vir my!), en volgens wat almal my vertel, is daai geweste baie, baie meer werd as ’n dag of selfs twee.

En daar ry ek toe deur die golwende landskap van die Swartland, oor die Piekenierskloofpas en in daai lang kloof af tussen Citrusdal en Clanwilliam met lemoen- en naartjieboorde as my persoonlike erewag. Man, maar dis ’n mooi roete!

By Clanwilliam draai ek toe af en gaan besoek die bekende Strassbergers se velskoenfabriek, die rooibosteefabriek en die Ramskop-veldblomtuin. Hierna is ek onderdeur die N7 op die pad na Lambertsbaai, en my boude het net lekker hul sit gekry toe ek skielik besef hoekom hierdie plek die Sandveld genoem word. Dis mos aartappelwêreld hierdie. Of die wêreld van die ertappels. Of die arries. Tjips se ouers.

En toe volg die allermooiste landskap, met klipkoppies van elke vorm en grootte. ’n Regte visuele sensasie!

So 10 km duskant Lambertsbaai wag die duine en valleie van The Dunes (027 432 1244) op die regterkant vir almal wat mal is oor fô-baai-fôs en kwaadbaaiks.

Ek is reguit na Lambertsbaai se hawe vir ’n lekker calamari en tjips (en ’n botteltjie wittes) by Isabellas. Daar sit ek toe op die kaai en kyk hoe die see die hawe instroom, soos speelse walvisse blaas as hy deur slootjies en gate gedwing word teen die hawemuur, en dan weer uitstroom.

Na ete het ek oor die hawemuur na Voëleiland gestap om eers na die duisende malgasse en handjievol kormorante te gaan kyk, en toe het ek gaan kyk na waar die diamantbote vasgemeer lê. Hierdie natuurskat is nou ’n besoek werd, hoor!
Om meer uit te vind oor bly- en eetplekke en ander lekker dinge soos wynproe, skakel gerus die toerismekantoor by 027 432 1000.

En gepraat van wynproe: die eerste Sauvignon Blanc uit die Wyn van Oorsprong Lambertsbaai-wyk word later vanjaar vrygestel. Sien uit na hom!

Dit was nou tyd vir ernstige wynsake en ek het die grondpad Vredendal toe gepak. By die T-aansluiting het ek links gedraai op die R363 en was nog op pad deur die ratkas toe dit vir my voel of ek terug is in die Swartland, buite Stelenbosch of naby die Paarl, want dit was net wingerde waar ek gekyk het! Nou verstaan ek hoekom hierdie wynwêreld meer as 20 persent van ons wynproduksie verteenwoordig.

En natuurlik is hierdie gebied se ryk spoelgrond, gematigde klimaat, mistige oggende, sonnige dae en daai kenmerkende suidwestelike seebriesie ideaal vir die groei van topgehalte druiwe. Dit behoort dus geensins verbasend te wees dat soveel van die topwyne wat in die Kaap gemaak word, hul oorsprong in hierdie wingerde het nie!

Ek is verby Spruitdrift links en Stoumann’s regs, deur Vredendal en anderkant uit op die pad na Lutzville, onder deur die Sishen-Saldanha-spoorbrug (wat soos ’n afgeskaalde weergawe van daai fensie lugbrug in die suide van Frankryk lyk) en ’n entjie verder regs na Melkboomsdrift se gastehuis (027 217 2624), wat die basiskamp vir die volgende twee nagte sou wees.

Ek het in een van die gastehuis se nege en suite-kamers, die Tuiekamer, gebly, maar daar is ook vier selfsorgeenhede. Die historiese ou plaasopstal op die oewer van die Olifantsrivier dateer uit die vroeë 1800's en is is pragtig gerestoureer. Die eetplek is in die ruim solder van die hoofgebou, wat balkonne het waar ek elke oggend met stomende koffie die Olifantsrivier en die uitgestrekte wingerde op die vloer van die vallei met hernude ongeloof gade geslaan het terwyl die wildeganse onder by die rivier luidkeels gebaljaar het.

Na ’n heerlike nagrus en ’n stewige brekfis in die solder is ons (dis nou ek en die mooie Monika) toe na Seal Breeze (Joan, 084 505 1991; John, 082 804 1906) vir ons eerste proe.

Om daar te kom vat jy die pad Lutzville toe en na sowat 20 km draai jy links na Strandfontein/Doringbaai. Twee kilometer verder lê hierdie boetiekwynmakery aan jou linkerkant. Sommer met die intrapslag in hierdie klein keldertjie/proelokaal met sy diamantgruisvloer het ek geweet hier kom ’n geneuk.
Joan Wiggins se hartlike verwelkoming was die begin van ’n byna emosionele wynervaring wat my met elke proe na nuwe byvoeglike naamwoorde en beskrywings laat soek het. Met die Merlot was dit goud in ’n glas. Toe gaan ons na Beethoven in ’n bottel met haar Cabernet Sauvignon en toe na ’n simfonie van sintuie met haar Shiraz.

En net toe ek dink dit kan nie beter raak nie, haal hierdie goue meisie ’n bottel van haar pryswenner 2004 Shiraz uit (sy’t net 22 bottels oor gehad!). Haar eerste poging, en hy’t ’n prys gewen!

Maar daar was nog wyne wat daardie dag geproe moes word en ons het ons met groot moeite losgeskeur van Seal Breeze en Joan Wiggins. Maar hierdie ervaring sal ek moeilik vergeet en die paar bottels Seal Breeze rooi wat my vergesel het, sal dit net nóg moeiliker maak.

Ons is verby Lutzville-kelders, regs by die stopstraat en toe met die grondpad langs na Bellpost van die Thiarts (027 213 2562). Die hele Thiart-familie is by hierdie wynmakery betrokke en Nico, een van die drie seuns, het ons die dag by die kelder ingewag. Hy en sy ouer broer Koos is saam met hul pa verantwoordelik vir die puik wyne wat hier met liefde gemaak word.

Bellpost se wyne sluit in ’n Sauvignon Blanc, Chardonnay, Ruby Cabernet, Shiraz en Merlot, en elkeen kan sy man in enige geselskap staan.

Hiervandaan is ons terug Lutzville Cape Diamond Vineyards (027 217 1516) toe, waar Lydia Kotze ons in die proelokaal ingewag het met die entoesiasme en hartlikheid waaraan ek nou al gewoond geraak het onder die mense van hierdie kontrei.

Ons het begin met hul kunsuitstalling. Lutzville nooi plaaslike kunstenaars om maandeliks hul handewerk in die kelder se konferensiekamer uit te stal. Verder spog hulle met ’n restaurantjie, Café Wijne, waar heerlike ligte maaltye geniet kan word.

Na ete het hierdie blondine ons met ’n sprankel wat selfs die beste vonkelwyn vaal sou laat lyk, deur die wynproeproses geneem. En daar is iets vir elke smaak, van die Sauvignon Blanc waarvoor hierdie deel van die land al bekendheid verwerf het, deur hul reeks rooiwyne, tot ’n heerlike ligte Wit Muskadel. As hierdie wyne ook net lekker was, was dit al genoeg, maar hulle is boonop so goedkoop dat ek my byna gewelddadig moes weerhou om nie van hulle te koop nie.

Die lekker gekuier by die gawe mense van hierdie kontrei ken natuurlik nie tyd nie en die son was teen dié tyd vinnig op pad na die horison in die weste. Monika het my toe maar gaan aflaai by Melkboomsdrift, waar ek onmiddellik van Hilsa van Heerden se wyne gaan proe het. Die twee rooies het soos fluweel in my keel afgeloop en hulself sommer onmiddellik in my ou versamelinkie inbespreek!

Daardie nag het so ’n heilsame saligheid oor my toegesak en net die veraf gezoem van die ellelange ertstreine het my ’n slag of wat herinner ek’s nie alleen in hierdie paradys nie.

Die volgende oggend het ek maar met ’n swaar gemoed gebrekfis en afskeid geneem van Melkboomsdrift en sy asemrowende uitsigte, maar dit was my laaste dag in die Matzikama en ek moes nog Westcorp se Vredendalse kelder aandoen, en dan het Vanrhynsdorp en Klawer-kelder gewag voordat ek weer die lang swart streep Kaap toe moes aandurf.

Na ’n gekyk, geruik en geproe in die ruim proelokaal van Westcorp se Vredendalse kelder – dis nou binne die dorp se grense, maar op die R27 na Vanrhynsdorp – het Koos Jordaan, operasionele bestuurder, my op ’n toer deur die reuse-kelderkompleks geneem.

Westcorp is natuurlik die oorsprong van die uiters suksesvolle Namaqua Bag-in-a-Box, een van die grootste handelsmerke in Suid-Afrika. Westcorp besit ook die Spruitdrift-reeks, ’n baie bekostigbare wyn wat die afgelope paar jaar sy merk deeglik gemaak het. Kyk maar net na die lang lys toekennings!

Maar voor ek my visier op Vanrhynsdorp gestel het, het ek voor die versoeking geswig en met vroulief se “Engel, jy moet eers jou keldertjie begin leeg drink voordat jy nog wyn koop!” wat aanhoudend saggies in my ore weergalm, het ek ’n hele paar bottels rooi en wit op my oorlaaide plestiek gesit. Ek sal maar ’n bossie blomme koop voor ek by die huis aankom, het ek besluit.

Die 20 km of so Vanrhynsdorp toe het weer eens gewys dat daar ’n meesterstuk van ’n skildery op pad is, want die veld het weer plek-plek sulke stukkies van sy kleurryke mat uitgerol.

In Vanrhynsdorp is ek reguit na die toerismekantoor (027 219 1552), waar die vriendelike en hulpvaardige beampte ’n byna onuitputlike bron van inligting was. By die kantoor is daar ’n museum wat ’n deurstap dubbel en dwars werd is.
Daarna is ek na die Latsky Radio-Museum (027 219 1032), waar die eienaar-kurator se entoesiasme vir sy versameling ou radio’s en onderdele wat terugdateer tot die vroeë 1900's byna aansteeklik was.

’n Besoek aan Vanrhynsdorp sonder ’n besoek aan die vetplantkwekery met sy sowat 700 verskillende soorte vetplante is byna ondenkbaar.

Ongelukkig het my tyd opgeraak en moes ek die N7 terug Kaap toe pak, maar ek het besluit na hierdie wêreld kom ek beslis terug. In en om Vanrhynsdorp self is daar soveel skatte wat ontdek en herontdek moet word dat ’n mens minstens ’n dag of twee hier moet kom deurbring.

Sowat 20 km verder het ek regs gedraai na die Klawer-kelder wat reg teenaan die N7 lê en wag soos ’n skelm verkeersman. Daar het die pragtige Karin my van hul Birdfield- en Klawer-wyne laat proe, en was dit nie vir my meisie se sagte stem in my ore nie, het ek met nog wyn daar weggery.

Die wynmense van die Olifantsriviervallei het my sommer van die eerste dag af gewaarsku dat jy in hierdie geweste as vreemdeling aankom, maar as vriend vertrek. Gelukkig was daar nie tyd vir besoeke aan wynmakers soos Keukenhof, Rosslo, Fryer’s Cove, Stoumann’s, Wilgenhof en Stellar Organic nie, wat beteken ek sal eersdaags móét terug gaan om verder aan daai vriendskappe te werk!

Die besoek aan die Matzikama het my onwillekeurig laat dink aan wat ene Linda Hogan geskryf het:

Die natuur … die aarde … het ’n manier van praat. Die meeste van die tyd is ons nie geduldig genoeg of selfs net stil genoeg om te hoor en te luister na die storie nie.

  • Johann Crafford is ’n reklamekonsultant, vryskutjoernalis en skrywer. Hy spesialiseer ook in privaat wyntoere vir klein groepies.