Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Anton Goosen: Met liefde ... van die Liedjieboer

Vrede


Anton Goosen - 2007-08-07

Ek het 'n positiewe reaksie van oor die hele wêreld gekry

"Ja, 'n mens moet maar geduldig wees, Meneer," sê die bergie terwyl ek vir Skye vir 'n stappie neem in Dorpstraat.

Geduld, inderdaad. Daar is baie nuwe inligting vir haar in die strate. Die honde-underground. Met geduld en tyd kan baie dinge gebeur en regkom.

Maar eers: Facebook is regtig wonderlik. Almal is nice met mekaar. Met die eerste teken van onmin kan enige van die partye net 'n link kliek wat sê "remove friend". Good news. 'n Alkie-vriend van my het eenkeer gesê: "I drink, Anton, because I like only good news."

En nou eers oor aan $teve:

"Ek het met die media gesels oor die Anton-versoening en eintlik is daar niks te filosofies daaraan om te vergewe en aan te gaan sonder om in mekaar se holle op te kruip nie. Ek gee nie om as mense met my verskil nie. Maar beledigings sal ek nie duld nie, ook nie van mense wat ek vergewe nie. Ek is seker Anton het sy eie voorwaardes vir versoening, maar as hy ander se keuses van medium en metode as krimineel afskiet, sal ek hulle van voor af verdedig en ons tweetjies sal terug wees by punt A. Maar ek dink wat tussen ons gebeur, is hopelik meer volwasse as dit. En as dit by krone kom, is ek reg om hom te kroon as Vader van Moderne Afrikaanse musiek. Want ek dink hy is. Alhoewel hy nog net nie 'n nice ene was nie."
http://stevehofmeyr.co.za/blog/?p=4398#more-4398 (30-07-07)

Ek wil dit baie duidelik stel: ek vra nie erkenning as enigiets nie. Natuurlik is erkenning vleiend, maar ek het myself nog nooit gekroon as enige vader van enigiets nie. Soos wat ek ook aan Rapport genoem het, sien ek myself slegs as 'n ritme-ghitaarspeler wat 'n klomp songs geskryf het en dit soms sing. Dis al.

Wat is 'n vader in hierdie geval in elk geval? Madiba of Hitler? Of verkieslik nie een van die twee nie? Is 'n vader regtig nodig? Nee. Dis juis die wonder van musiek: elkeen doen sy eie trip.

"We are all different," skree 5 000 mense.

"I'm not," steek een person in Life of Brian sy hand op. Maw, soos dit tans vir my lyk, wil ek nie as vader van whatever enigiemand enige plek heen lei nie. En allermins die volgende situasie:

"The Messiah."

"I am not the Messiah! Now fuck off."

"How shall we fuck off, oh master"?

Ek help graag, maar is nogal self besig met survival. Voltyds.

Daar was 'n skets deur Stan Freburg, 'n VSA-komediant waar twee nagklubs in Las Vegas met mekaar kompeteer. Eers is dit net die "grootste dit of dat", maar later het die een 'n waterstofbom op stage laat ontplof!

"This once on stage only: THE HYDROGEN BOMB!"

En dit sluit af met sound fx (effects) van coyotes se huil oor die leë woestyn.

Ek dink versoening en vergifnis is onvoorwaardelik. Dit beteken dat jy die foute van die verlede erken, maar nie noodwendig gaan herhaal nie. Wat sou tog die punt in herhaling wees? Versoening is die erkenning van mekaar se regte - ook as individue. Mense kan op 'n beskaafde manier van mekaar verskil - dis tog gesond - sonder om beledigings te slinger en sekerlik sonder om ou-koei-voorbeelde uit die sloot te gaan grawe.

Vrede is eintlik al wat van belang is; krone en ego's is niksseggende leë blikke. Ek het 'n deernisvolle eerlikheid in ons gesprek by die Fanus-huldigingsprogram opgelet wat ek vertrou. Daar was baie vrede en liefde in die lug by die Fanus-fest. Hoekom ons sag met ons rûe na die kameras met mekaar gepraat het? Want dit is hoe dit hoort tussen eksvrinne wat dan weer die bande hervat. My impulsiewe gut-gevoel was reg en dis hoekom ek nice was met hom. En dit was tussen hom en my.

"Ek weet nie eens meer waaroor dit gegaan het nie."

"Ek ook nie."

Die speelveld is weer gelyk. Die foute (dit wat beide persone gehinder het) is in twee sinne weggevee en die nuwe gelyke speelterrein wag op die vrug van versoening,

En as vrede dan dalk selfs die enigste boom in hierdie tuin is wat met 'n handdruk begin is, dan is dit reeds genoeg en vir my 'n dag om te onthou. Vrede beteken dat mense beskaafd kan verskil van mekaar.

Ek het nogal positiewe reaksie van oor die hele wêreld gekry. Behalwe een ou wat wou hê ek moes eerder met Koos Kombuis gaan vrede maak het (hy kan egter gerus wees, want ek en Koos het intussen Facebook-vriende geword) en Mal girl. Mal girl dink ek is skynheilig met hierdie fragile vrede en
dat ons dit net doen vir publisiteit! Mal girl is 'n ander storie. Mal girl het seks-sms'e uit die inrigting gestuur. Sy en 'n ander chick wat gaan bad het.

Money for nothing and sex 4 free.

Ek wonder of iemand dit al gebruik het? Dit is polities baie meer korrek as om dalk die woord chicks byvoorbeeld te gebruik in 'n titel! In hierdie game van publisiteit moet jy hulle óf almal kwaad maak óf saamspeel.

Maar ek het intussen besluit ek gaan nie die titel gebruik vir 'n song nie, want ek is maar te dankbaar teenoor Mark Knopfer as ghitaarslaner en vir die gebruik van chicks for free in menige tête-à-tête'e met chicks wat hulle wip vir die woord chicks.

Daardie Dire Straits song ("Money for nothing") het al talle kere 'n argument/verskilpuntjie tussen my en 'n sekere soort feminis besleg. Die soort wat aanstoot neem indien jy 'n motordeur vir hulle sou oopmaak.

"Gaan vertel dit eers vir Dire Straits en dan vir my," was 'n wenner-aanhaling om die onderonsie in my guns te beklink.

Amanda Strydom het 'n ongelooflike sms gestuur: "Ek dink nie jy en Steve het 'n cooking clue wat julle vir versoening gedoen het nie. Dis soos toe Madiba sonder woede uit die tronk gestap het. Trots, trots op julle! Sussa xx"

Vrede maak op hierdie manier gaan net oor mense, nie loopbane of sogenaamde talent of prestasies nie. En dis juis waar dit aansluit by die Facebook-beginsel van beskaafd wees en geen aanstoot gee nie.

Dalk pas ek beter by Facebook aan as wat ek besef, want eintlik hou ek ook maar net van goeie nuus!

Ja, 'n mens moet maar geduldig wees!

Ahoi uit Kleinbaai (waar die groot wit haaie tande wys in die kanaal).

tony g