Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Resensies | Reviews

Die Afrikaner 300


Ruan Kemp - 2007-08-07

Gelukkig is dit presies drie honderd jaar sedert ‘n besope belhamel, Hendrik Biebouw, vir die eerste maal uitgeroep het: “Ek ben een Afrikaner”, anders sou gehore volgende jaar weer na hierdie ongeïnspireerde produksie moes kyk. 

Daar was wel oomblikke van lig, soos die apartheid-episode waarin ‘n swart vrou en ‘n wit man mekaar op ‘n donker verhoog vind, en die Slag van Bloedrivier wat vertel word uit die oë van twee vissies en ‘n krap. Die gehoor het die voorstelling van Glenda Kemp en haar slang Oupa geniet en Eugene Terre'Blanche en sy perd Satan was ‘n treffer. Ook die pratende Proteas by die Chelsea-blommeskou was vars, maar toe die Proteas begin sing “Delarey, Delarey, sal jy die blomme kom sny, Delarey?” toe kots die mannetjie in die voorste ry met die stink bobbejaanleervellies in sy mou.

Volgens die borg, die Afrikanerbond, ‘n wedergebore Broederbond met die nageboorte nog dik om die gesig, is hierdie produksie ‘n "moet-sien" – “veral noudat daar met die hele De la Rey-verskynsel ‘n nuwe oplewing in Afrikaner-identiteit is”. Dit is ‘n simpel ding om te sê, want daar is nie iets soos ‘n Afrikaner-identiteit nie. Hendrik Biebouw was dalk ‘n Afrikaner, en Gys de Villiers is moontlik ‘n Afrikaner, en die mannetjie in die voorste ry met die stink bobbejaanleervellies is dalk ‘n Afrikaner, maar Afrikaners is ‘n onpersoonlike wanbegrip.

Volgens die Poolse joernalis en geskiedskrywer Ryszard Kapuściński is dit onmoontlik om ‘n boek te skryf oor ‘n groep, want anders as ‘n individu kan ‘n groep slegs in ‘n mees elementêre en hoogs repeterende vorm uiting gee aan sy bestaan. Deur Hendrik Biebouw die individu af te skeep in hierdie uur lange kotskoetsrit deur die geskiedenis op soek na die Afrikaner se identiteit kots hulle die pot heel mis.

Op soek na die identiteit van ‘n Afrikaner hoef mens nie verder te soek as Etienne Leroux se Onse Hymie nie. Maar op die boekrak op die verhoog is daar net skoene (wie sit skoene in ‘n boekrak?) en die helfte daarvan is nagemaakte Crocs. Hierdie plastiek-trekimplemente wat as uniform gedra word by vermybare plekke soos die KKNK spreek boekdele oor die oppervlakkigheid van hierdie meganiese solidariteit, hierdie vervaardigde groepsidentiteit van “die Afrikaner”.

Boonop is hierdie simboliek die enigste aspek van die produksie wat subtiel is. Die grappies is geforseerd, en Wikus du Toit se verwerking van Jan FE Celliers se "Dis al" nog meer so. En ten spyte van die verhoogvaardigheid van die akteurs word die gehoor tot geen nuwe insigte aangespoor nie.

Dis dwangvoeding vir die geiles,
Dis laertrekpropaganda,
Dis ‘n vervelige kabaret,
Dis al.