Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Theunis Engelbrecht: Sound Bites

High oppie Highway


Theunis Engelbrecht - 2007-08-01

DVD VAN DIE MAAND



Oplaas beskikbaar op DVD: DA Pennebaker se dokumentêre fliek oor Bob Dylan se laaste Britse solotoer in 1965. Dis hoofsaaklik ‘n agter-die-skerms-loerdery met vermaaklike oomblikke, soos die perskonferensie op Heathrow-lughawe aan die begin van die fliek waar Dylan so geïrriteerd is met die joernaliste se simpel vrae dat hy absurde antwoorde gee, wat dan deur die einste nuuswolwe opgeslurp word asof dit orakelwoorde is. Histeries.

In Howard Sounes se biografie oor Dylan, Down the Highway, het Dylan die volgende te sê daaroor: “They ask the wrong questions, like, What did you have for breakfast, What’s your favorite color, stuff like that. Newspaper reporters, man, they’re just hung-up writers … They got all these preconceived ideas about me, so I just play up to them.” (My kursivering.)

Wanneer Dylan se onderhoud met Horace Freeland Judson van die tydskrif Time aanbreek, is hy geïrriteerd. Hy vernietig Judson met sy tong. Hy skeur hom heeltemal aan flarde. En Pennebaker het dit als vasgelê.

Joan Baez was saam met Dylan op die toer, en die verhouding tussen hulle het in dié tyd erg begin uitrafel. Ook dit is deur Pennebaker vasgevang. So ook ‘n toneel waarin Dylan se bebaarde slymbol van ‘n bestuurder, Albert Grossman (wat ‘n gepaste van), saam met ‘n besprekingsagent sit en konkel oor hoeveel geld hulle uit Dylan kan melk. (Net daardie toneeltjie sê alles wat oor die musiekbedryf gesê kan word.)

In sommige tonele kom Dylan oor as ‘n absolute poephol, maar in die lig van die gekursiveerde sin hier bo kan mens verstaan waar dit vandaan kom en die spel saam met hom geniet. Daar is ook konsertmateriaal waar hy man-alleen met sy kitaar en mondfluitjie in volgepakte sale sing – en die mense luister aandagtig na sy woorde. Dylan is nie net ‘n sanger en liedjieskrywer nie, hy is in sy hart en niere en derms ‘n digter. ‘n DVD om te koester, voorwaar.


DIE KAKSTE CD VAN DIE JAAR

‘n Mens wil nie te veel woorde en kosbare kuberlugtyd mors op slegte CD’s nie, en al is die jaar nog nie oor nie, is die grootste aanspraakmaker tans op die gesogte titel van Kakste CD van die Jaar beslis:

Bryan Ferry

Nog voordat ‘n mens hierdie CD opsit, dink jy aha, wonderlik, ‘n album propvol Dylan-liedjies – dit is altyd interessant om cover versions van Dylan te hoor, want in die meeste gevalle is hulle baie selde beter as die oorspronklike weergawe. (‘n Mens moet ook nogal arrogant wees as jy dink jy kan Dylan beter doen as Dylan self.)

Die pretensieuse titel van die album, Dylanesque, moes mens seker al ‘n onaangename snuffie in die neus laat kry, en wanneer jy uiteindelik daarna luister, kan jy jou ore nie glo nie. Dit is in een woord ‘n skande. Ferry smeer soveel stroop op dat ‘n mens wil naar word. Sy verkragting van “The Times They Are a-Changin’” is onvergeeflik. “Knockin’ on heaven’s door” word in sy hande ligte spookasem-borrelgom-pop.

Ferry se stem is ook nie meer wat dit was in die dae van Roxy Music en Avalon nie, wat sy sang hoofsaaklik na ‘n snotterige geteem laat klink. Een na die ander maai hy die Dylan-liedjies gevoelloos af: “Just Like Tom Thumb’s Blues”, “Simple Twist of Fate”, “Make You Feel My Love”, “All I really wanna do”, “Positively 4th Street”, “If Not for You”, “Baby Let Me Follow You Down”, “Gates of Eden” en “All Along the Watchtower” word almal deeglik opgemors. Sies, sies, sies. Bring die kotsemmertjie.

Moenie jou geld hierop mors nie. Jy sal baie spyt wees. Bryan Ferry het oplaas gesneuwel.


DIE NIE-TE-KAK-NIE CD’S VAN DIE MAAND

Paul McCartney

McCartney het vroeër vanjaar 60 geword en kwalifiseer nou ook as ‘n outoppie. Hy het nou wel nie die skop van ander outoppies – soos oa Dylan, Tom Waits, Leonard Cohen en Lou Reed – nie, maar op dié hoogs genietbare album bevestig McCartney opnuut dat hy ‘n uitstekende liedjieskrywer is. Sy musiek is ook meer lig as donker. Mooi melodieë, elegante verwerkings. Dit skop af met die vrolike eenvoud van “Dance Tonight”, en dan volg daar onder meer perfekte pop-met-skop, soos “Ever Present Past”, en lekker ouskoolse rock ‘n roll (“Only Mama Knows”). McCartney moet net nie in sy hoë, geknypte stemmetjie sing nie (soos op “You Tell Me”). Andersins is Memory Almost Full ‘n aangename verrassing, al sal dit nie jou lewe verander nie.

The Stooges
The Weirdness

Kom ons bly by die outoppies. Dit was onlangs groot nuus in sekere kringe dat Iggy Pop en The Stooges weer saam speel en ‘n CD gemaak het. Iggy is een van die oervaders van punk en The Stooges speel die meeste jong snotneus-punkgroepe van Amerika, Brittanje en Suid-Afrika nie net onder die tafel in nie, maar ook tot onder die skaduwee van haaikak op die bodem van die see.

Oupa Iggy en sy maters mag dalk lyk soos bejaarde spoke uit ‘n eersterangse rillerfliek, en van hulle lyk of hulle bewerig kan wees van te veel drank, maar wat jy hier kry is volbloed-Stooges op hoë-oktaan-energie. Daar is die dirty attitude, die cocky houding, die snydende kommentaar op ‘n materialistiese samelewing. Hoogtepunte is onder meer “ATM”, “My Idea of Fun”, “Greedy Awful People” en “I’m Fried” (‘n titel wat bewys dat oupa Iggy inderdaad oor deeglike selfkennis beskik.)


BATTLE OF THE BANDS

Ek wou hierdie Sound Bites wy aan die nuwe CD’s van ‘n magdom nuwe rockgroepe wat die afgelope twee maande soos ‘n strontstorm op ons niksvermoedende popmusiekjoernaliste neergereën het, maar het nog nie die nuutstes van Arctic Monkeys, Arcade Fire en The White Stripes te hore gekry nie. Benewens dié drie CD’s is daar ook kwaai nuwe uitreikings van die groepe Gossip, The View, The Used, The Cinematics, Modest Mouse, Bloc Party, Manic Street Preachers, Good Charlotte en Thirty Seconds to Mars. (Hieroor, en meer, dus hopelik volgende maand.) Intussen kan mens vinnig draf deur die ander rockalbums wat nie so uitstaande is soos dié waarvan die name hier bo genoem is nie.

Dit is lekker stewig. Goeie produksie deur Rick Rubin en Mike Shinoda – enigiets waarmee Rubin iets te doen het, is die moeite werd. Linkin Park het ook ‘n lekker attitude en spoeg hul onbehae oor die moderne leefwyse minagtend uit. Die lewensangs in sommige liedjies is dermuitrygend en irriterend. Tussendeur is daar flardes van death metal en hell metal en speed metal en skree die sanger soos ‘n waansinnige vark (hy het hulp nodig). Linkin Park se nuutste is egter terselfdertyd baie kommersieel en ek wonder hoekom ek hierna sal luister as ek eerder na System of a Down kan luister. Nie kak nie, maar ook nie koningskos nie.

New Years Day
My Dear

New Years Day maak jeugdige gatskop-rock. Agter die mikrofoon is ‘n rock chick met attitude. Sy is kennelik ‘n kwaai nooi. ‘n Mens sal te bang wees om saam met haar te slaap – sy klink na daai tipe wat jou neus sal breek as sy haar bobene toeklap in die bed. Of dalk is sy in haar vrye tyd ‘n dominatrix. Sy is ‘n middelmatige rock chick wat ‘n punkrock chick probeer wees, en dit werk nie. Die lirieke is baie vervelig en handel oor probleme met boyfriends en girlfriends. ‘n Mens vermoed tieners en studente met identiteitsprobleme sal hierby aanklank vind, maar waarskynlik ook nie vir te lank nie.

Introspektief, melancholies, selfbejammerend, eentonig, aangrypend, roerend, melodieus, teer, hipnoties – dit is al die woorde wat al gebruik is om hierdie CD te beskryf. Watter woorde kan ek dus nog byvoeg? Ek stem saam met hierdie beskrywings. Moenie hierna luister as jy vrolik wil voel nie. En as jy af voel, sal die musiek soos salf vir jou gemoed wees. Ek weet Wilco is ‘n respektabele groep, maar met die beste wil ter wêreld kan ek nie opgewonde raak oor hul jongste skepping nie.

Relient K

Dit begin belowend, maar reeds op die tweede liedjie val als plat en is Relient K niks meer as net nog ‘n modern rock-groep nie. Hulle klink soos enige ander groep. In hul guns tel meer as genoeg kwaai rifs, soos in die song “I need you”. Hulle gebruik selfs klavier (in die lekker catchy “The best thing”) en “Forgiven”. Ondanks interessante en goeie momente is dit helaas uiteindelik te lig in die broek – iewers tussen melkbaard en halwehardebaard.

Hierdie ene moet op mens groei. Geduld is nodig. Die musiek is bedrieglik eenvoudig op die oor af met die eerste luisterslag. Dis baie anders as Travis se vorige werk – meer gestroop, meer akoesties, meer ingetoë. By tye is daar skoonheid in die musiek wat byna broos is, en ‘n groter eenvoud. “3 Times and you lose” gee die toon goed aan, en Travis het darem nie heeltemal die beat verloor nie (“Selfish Jean”), maar ek sou hul nuwe CD nie as onmisbaar beskryf nie.

Maroon 5

Maak geen fout nie – dis ‘n goeie CD. Maroon 5 sal nie afwyk van hulle suksesresep nie. Dit is heel genotvol om te luister en selfs uplifting, al bly die sanger se stemmetjie mens op plekke irriteer (waar hy klink soos Will Young op helium). Aansteeklike liedjies soos “Makes Me Wonder” is gewiste treffermateriaal en nie van die deursnee Top40-gemors wat jou wil laat kots nie. Maroon 5 pretendeer nie om iets groots te skep nie, maar skep ten minste ‘n lekker tyd – en die meeste van die tyd is ‘n lekker tyd tog belangriker as enigiets anders, stry?

Bon Jovi

Lost is die sleutelwoord hier. Of die musiek jou ‘n high oppie highway-gevoel gee? Nee. No dice. Bon Jovi se musiek is resepmatig, en hier en daar is daar wel ‘n paar lekker vibes en catchy deuntjies. ‘n Mens kan nie sê dis sleg nie, want dit is nie. Bon Jovi sing oor meisies en goeie tye. Gaap. ‘n Mens kan eerder die tyd wat jy sou mors om hierna te luister, positief aanwend en gebruik om te luister na ordentlike musiek soos die Travelin’ Wilburys.

The 69 Eyes

Dié musiek is donker en vol angs en een liedjie het die oulike titel “Frankenhooker”. The 69 Eyes sing onder meer oor spoke, vampiere, prostitute met boggelrugge, vlermuise, bloed, engele, vlerke en harte. Goedkoop goth heavy metal – hulle moet eerder by Kobus! gaan leer hoe dit gedoen moet word. ‘n Mens kan nie glo hierdie mense neem hulself ernstig op nie. Dit maak nie eers my koue pampoen bang nie. Dit klink baie lagwekkend omdat The 69 Eyes so pretensieus is. Sluit hulle toe!


KOMPILASIES VIR ALLERLEI SOORTE VIBRASIES

Verskeie kunstenaars
Music from and inspired by Spider-Man 3

‘n Kompilasie van hoofsaaklik Amerikaanse modern rock-treffers. Dis onmoontlik om die name van die kunstenaars agterop die CD te lees, maar daar is die enigsins temerige Snow Patrol, die vuurwarm The Killers, die sprankelende dog nie juis inspirerende nie Yeah Yeah Yeahs, die fabelagtige Wolfmother, die so-so Beatsteaks (nie well done genoeg nie), die vars rock van The Walkmen (hul “Red River” is ‘n hoogtepunt op die CD, en dit in ‘n tyd dat ‘n mens begin dink het die bergip “vars rock” is ‘n kontradiksie in terme).

‘n Stewige kompilasie inderdaad - daar is ook nog Black Mountain, The Flaming Lips, Simon Dawes, Chubby Checker, Rogue Wave, Coconut Records, Jet, Sounds Under Radio, The WYOS en The Oohlas.

As ‘n man in ‘n spinnerak jou aandraai, is dit net die versameling vir jou.

Verskeie kunstenaars
Full Metal Assault

As jy van jou musiek ultraswaar hou, sal hierdie metaalaanslag jou toonhare laat vrot word van lekkerkry. Die groepe wat op hierdie dubbel-CD gehoor kan word is Trivium, In Flames, Atreyu, Machine Head, The Haunted, Slipknot, Hatebreed, Cradle of Filth, Dimmu Borger, Satyricon, Devildriver en Soulfly. Metal het al lankal holrug gery begin raak en die angs, aggressie en woede raak op die duur irriterend. Die ideale CD om op te sit as jy langasem-gaste het waarvan jy ontslae wil raak. Hulle sal in ‘n kits soos mis voor die son verdwyn. En jou brein sal soos ‘n bokser se slaansak voel as jy dit deurgeluister het.

Verskeie kunstenaars
Foot Stompin’ Music

As metaal te swaar is vir jou, maar jy hou van heavy rock, probeer gerus hierdie uiters aangename kompilasie met ouskool-rock uit hoofsaaklik die sewentigs. Die kunstenaars wat gehoor kan word, is Grand Funk Railroad, Deep Purple, Uriah Heep, Thin Lizzy, Wishbone Ash, Budgie, Santana, Alice Cooper, Nazareth en Lynyrd Skynyrd. Dit sal party siele nostalgies stem, en ander sal wonder of die meeste van hierdie kunstenaars vandag darem nie al te passé klink nie. My mening dobber so tussen hierdie twee uiterstes rond.

Guru’s Jazzmatazz Vol 4
The Hip Hop Jazz Messenger: Back to the Future
Produced by Solar

Gmf, is dit nou ‘n poging tot ‘n indrukwekkende titel, of wat? Soos aangedui, word hier oorwegend geëksperimenteer met jazz en hip hop, met gaskunstenaars soos Slum Village, Bob James, Damian JR Gong Marley, Ronnie Laws, Brownman, Blankalicious en David Sanborn. Die mengsel is ook bietjie gekruie met house hier en daar, en rap. Wat die lirieke betref, is die waarnemings van die sosiale sirkus treffend, maar die musiek self is nie vreeslik luisterbaar vir langer as vyf minute nie, tensy ‘n mens gerook of gesuip of OD op blouspiritus is.

En dit bring ons by …


DIE KOMPILASIE VAN DIE MAAND

Verskeie kunstenaars
Endless Highway: The Music of The Band

As jy nog nie weet hoe kwaai The Band was nie, doen dadelik ‘n Google-soektog en word wys. Ek kan onmoontlik nie alles hier herhaal nie. Dié CD word uitgereik om saam te val met die 30ste herdenking van Martin Scorcese se fliek oor die groep, The Last Waltz (1977).

Dis ‘n fabelagtige kompilasie met nie minder nie as 17 liedjies deur kunstenaars so uiteenlopend soos onder andere Bruce Hornsby & The Noisemakers, My Morning Jacket, Widespread Panic, Gomez, The Allman Brothers Band, Blues Traveler, Joe Henry, Animal Liberation Orchestra en Death Cab for Cutie. Bob Dylan se seun, Jakob, se weergawe van “Whispering Pines” saam met Lizz Wright is uitstaande, en so ook Johnny Cash se dogter, Rosanne, se weergawe van “The Unfaithful Servant”.

Anders as Bryan Ferry se aaklige Dylanesque, is hierdie ‘n waardige huldeblyk aan ‘n groep wat mens ook liefs nooit moet vergeet nie.


ALLERHANDE PLESIERE VIR ONSTUITBARE PARTYTJIEDIERE

Nog nie een van die wenners en naaswenners en naasnaaswenners van die plaaslike Idols-reekse het al CD’s gemaak wat ‘n mens regtig beïndruk nie (behalwe dalk Brandon October). En hier val Wafeeq nou uit met sy debuut, seker ‘n goeie drie jaar nadat hy derde of vierde was in die wie-weet-hoeveelste-reeks van Idols. Dis ‘n aangename verrassing, want Wafeeq maak lekker partytjie- en dansmusiek met ‘n gawe, groovy edge. Hy sal lag-lag vir Danny K van sy troontjie kan afskop. Hier en daar is nog die gewone clichés van die hip-hop-house-kultuur, maar Wafeeq slaag daarin om ‘n heel vars gevoel te skep met sy musiek. Gryp daai dansskoentjies, sussie.

Groove Armada
Soundboy Rock

Die CD begin met wat seker tans die mees onweerstaanbare dansliedjie is, “Get Down”. Soundboy Rock is die Britte Tom Findlay en Andy Cato se eerste album sedert 2003 se Lovebox. Ongelukkig word die pas nie volgehou nie en verloor die CD op plekke stoom, ondanks die bydraes van gaskunstenaars soos Muyta Buena (voorheen van Sugababes), Richard Archer van Hard-Fi, Candi Staton, Alan Donohue van The Rakes, Angie Stone, Simon Lord van Simian Mobile Disco en Tony Allen van The Good, The Bad & The Queen. Hierdie is waarskynlik een van daardie albums waarvan daar meer liedjies op die internet afgelaai sal word as wat CD’s verkoop word, want nie al die liedjies is ewe warm nie. Dis nietemin die moeite werd om na te luister as jy die slag lus is vir iets wat buite die gewone val.