Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Rubrieke | Columns > Marius Crous: Man-tot-man

Wie is die sexyste skrywer(s) in Afrikaans?


Marius Crous - 2007-07-25

Is daar iets soos ‘n sexy skrywer in Afrikaans? En waaraan word sexy gemeet sonder om te diskrimineer op grond van straight/gay, haargroei, liggaamsbou, ouderdom of beroep en inkomste? Eintlik is alle skrywers seker sexy. Enige man wat met sy brein kan woeker, is ‘n aanwins. ’n Man wat nie net lyf is nie, maar wat as die lig afgeskakel word, darem nog intelligent oor die osoonlaag of die voordele van ’n oop verhouding kan praat.

In die tagtigerjare het almal oor Alexander Strachan gekwyl. Hy was die harige, bebaarde, gespierde man en het voldoen aan alles wat as patriargaal-manlik beskou is. Sy wedervaringe van jagtogte en grensoorloë, van werfbobbejane wat aan vroue se onderklere snuif, het almal deur ‘n goue vlies van drome laat gesigte sien. Deesdae kom daardie blonde natuurkind Christiaan Bakkes die naaste aan daardie stereotipe.

Onder die jonger skrywers is Gert Vlok Nel beslis ’n kandidaat. Daardie onverbonde swerwersvoorkoms met die stoppelbaard en die mymering van liefdeswoorde met die mikrofoon feitlik teen sy lippe, het al menige toeskouer laat kruisbeen sit. Die digter Danie Marais staan nie ver agter Gert Vlok Nel nie. Die stil, donker tipe wat kan skryf oor die liefde, liefdesverraad en ook ’n musiekkenner is. Gedempte lig en agtergrondmusiek is hier ’n wenkombinasie.

’n Drawwende Francois Bloemhof het beslis al gay mans amper in die sypaadjie laat vasry en sy sin vir die grillige maak van hom die ideale man om saam te neem op wildernissafari – dis nou vir daardie stil tye in die tent met die agterna-gloor van die nag, Jens Friis het nou nog nie ’n boek geskryf nie, maar sy gesig met strepe drukkersink besmeer, sal mens laat uitroep: “Bel ami, kom gou hier.”

Johann de Lange met die mooi stem en die groot hande; daardie einste hande sou ek wil sien in rubberhandskoene besig om ’n kadawer te ontsluit. En agterop Deon Meyer se motorfiets sal geen pad ooit te lank wees nie: die valhelm, die leerbaadjie met die ritssluiters en die kettings, die leerbroek en die stewels. Dan is daar ook nog die Bloemfonteinse Gilbert Gibson met die blonde hare en die helende hande op die koop toe – hy sal menige knop uit mens kan masseer.

Of Eben Venter, terug uit die Australiese grammadoelas. Mooi, oop en skoon gesig met bril en nette haarsnit. Net hy sal vir my kan verduidelik wat al daardie eienaardige disse in Foxtrot is en my daaraan kan laat proe. Nes ek graag saam met Francois Loots die naglewe van Beijing wil opsoek.

Watter geheimenisse oor die swerwinge van Anna van Louisana sal Hennie Aucamp nie vir my kan ontsluit nie? Henning Pieterse sal vir my kan uitwys hoe verskil ’n madrigaal van ’n virginaal, wyl ek hom wys hoe ek ’n Bloubaardskamer inrig. Vir Etienne van Heerden sal ek met die skedel uit Leroux se studeerkamer strategies geplaas, wil kiek.

Maar die sexyste van almal bly die monnik van Trompsburg. Daardie enigmatiese figuur met die onderdrukte drif, verskuil onder dienlike bruin broek en bruin hemp. Die een wat jou boei met sy weerlose mond wat Dietse frases aaneenketting. Met hom sal ’n mens ’n ander land kan binnegaan. Ons weet immers almal ná Sex and the City hoe begeerlik priesters en monnikke kan wees.

“All […] of my life I’ve been trying to do intellectual things that would attract beautiful boys,” het Foucault een keer opgemerk. Miskien is dit hoekom ek so van skrywers hou.