Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Rubrieke | Columns > Willie Knoetze: Uit die boks

Uit die boks: Hie-h, hie-h


Willie Knoetze - 2007-07-23

Hoeveel keer stamp ‘n donkie nou weer sy kop teen dieselfde klip?

My vervolgverhaal eindig toe met ‘n klomp knoppe teen my voorkop. So deur die radiostiltes heen het my bipolêre gemoedjie begin mik vir die naaste bodemlose put. Soveel so dat Christine en suster Visser gegil het: “Intervention!!” en met ‘n eie aksieplan vorendag gekom het: skep ‘n fiktiewe karakter en spoor Die Man op oor die radiogolwe; flirt sy sokkies af en kyk wat gebeur. Ten einde laaste maak hierdie eksperiment dit toe duidelik dat my spesiale Fanuskind eintlik ‘n Milly is wat eerder nuwe delfiniums soek as om gewoon te kuier met die uwe. Kort daarna lig ‘n plaaslike Paula Barry my toe in dat ek intussen die grootste Aggie-waarde in die streek het. Min dinge laat die girls saamtrek vir ‘n allamintige koek en tee soos ‘n misgiste Marta se Marion Times-drome wat aan flarde skiet.

(Kragwoord) 

Ek is seker bietjie Mara hieroor, maar ek kan ook nie sê dat dit werklik ‘n skok was nie. Ten spyte van al die versekerings dat hy nog baie graag wil kuier ná die verjaarsdagfiasko, is dit nie te moeilik om die wiskunde te doen nie. So ja, fluit-fluit, daai storie is uit. Lessie geleer, koppie is seer, maar die lewe gaan aan.

Hierdie Boks is egter nie ‘n relaas oor die intriges en vreemde nuanses van menseverhoudings nie. Nee, wat my dié slag baie ernstig in die oë staar, is mislukking. Of eerder, hoe mens ondervindings soos dié kan internaliseer as ‘n mislukking – en hoe om dit aan te spreek. Die internalisering van mislukking en die gepaardgaande verwringing van jou selfbeeld kan verpletterend wees. As dit nie vir my ondersteuningsnetwerk was nie, het ek na dese heel waarskynlik bly lê ...

Vroeër die week vra ‘n pas geskeide closet of ek regtig glo dat mans in staat is tot volkome verbintenis tot een persoon – in ‘n eksklusiewe verhouding: “Dude, dis mos duidelik dat die commitment ding nie met mans werk nie. Enjoy die freedom van gay wees! No limits!” In ‘n outomatiese selfverdedigingsreaksie neem ‘n nuwe waansin van my besit; die hare in my nek het skoon regop gestaan en ek het net daar ‘n preek van epiese proporsies afgesteek. Om te erken dat hy dalk net ‘n punt beet het, sou op daardie stadium beteken dat alles waarin ek geglo het, in duie sou stort.

Dit het. 

Die nuwe gedrog in my kop het vir ‘n tyd lank gewen. Ek het my medikasie gelos en uiteindelik gaan nes maak in die bodem van die donkerste put wat my gemoed kon kry. Die Droom het bo in die wolke gaan hang – ‘n lugkasteel wat nooit kon grondvat nie.

“When times are dark, friends are few,” sê dit agterop die minibus in Mosselbaai se hoofstraat. Gelukkig is hierdie die plek waar my storie draai. Daar onder in die put, in my donkerste uur, het my vriende en familie my omvou en uitgelig tot ek omring was met sonlig. Ek kan dit nie beskryf nie. Veral dan Grietjie se bystand (en stories van hoe mislukkings eintlik kleiner suksessies is wat net verkeerd verstaan word) het die hele wêreld weer mooi gemaak.

Vandag glo ek weer vas in my lugkasteel. Met my geliefdes se hulp en wysheid het ek besef dat “mislukkings” bloot trappe is op pad na sukses. Te veel mense pak nooit ‘n droom aan nie, omdat hulle bang is vir mislukking. Te veel mense gooi tou op na die eerste paar probeerslae – en te min hou nooit op probeer ten spyte van terugslae nie. Om nie met hart en siel te belê in iets alvorens jy nie 100 persent seker is dat alles perfek gaan uitwerk nie, beteken dat jy nooit gaan begin nie. Perfeksie is nie ‘n waarborg vir sukses nie – eerder ‘n hindernis. Wat is sukses sonder risiko? In ‘n perfekte situasie, is die moontlikheid van sukses enigsins opwindend – of die moeite werd?

Samuel Johnson het gese: “Niks sal aangepak word as al die hindernisse eers uit die weg geruim moet word nie.”

Eintlik word sukses meer gemeet aan hoeveel kere jy iets regkry teenoor hoe gereeld dit gebeur. As ek 134 keer ‘n kolskoot probeer gooi met veerpyltjies en ek kry dit 96 keer reg, is my rekord beter as wat dit sou wees as ek 51 uit 53 probeerslee reggekry het. Ongetwyfeld lyk ‘n gemiddelde sukseskoers statisties baie beter – 96 persent sukses in 53 pogings teenoor 71 persent in 134 pogings. Maar 96 punte is beter as 51 …

Ek dink dis dan ook die geheim: gaan vir wat jy wil hê – en hou aan daarvoor mik, maak nie saak hoeveel keer jy moet mis voor jy regkom nie. ‘n Mens mag nie jou drome laat vaar ten einde jou sukseskoers statisties aantrekliker te maak nie. Wat help dit as jy 30 esels in jou kraal het – maar jou droom was ‘n Brahmaanbul?

Nou ja, my Brahmaanbul is ‘n liefdesverhouding soos my ouers s’n. En al moet ek nog sewentig maal sewe keer my kop stamp voor ek regkom, aan die einde glo ek dis beter as ‘n trop esels waarin ek geen sin het nie.

Diegene wat my wil oortuig dat die essensie van my seksuele oriëntasie om losbandigheid wentel, is welkom om dit self te glo. Vir my is elke man egter nie ‘n piekniekmandjie om te verslind en weg te gooi nie. Ek weet ék wil beslis nie so piekniekmandjie wees nie.