Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Skole | Schools > Rubrieke > Om eerlik te wees ...

Om eerlik te wees ... Om net aan die gang te kom


Jasper van Zyl - 2007-07-18

Dis altyd moeilik om te begin. Enige skrywer sal jou vertel (en jy sal weet as jy self skryf) dat dit moordend is om te begin met 'n skryfstuk. Dis altyd moeilik om te begin draf. Dis moeilik om te begin werk, veral as jy die oggend by die Wimpy op Gansbaai (ja, Gansbaai het 'n Wimpy!) moet begin kelner speel.

Maar die heel, heel moeilikste, is om te begin swot.

Ek weet van geen mens op die ganse aardbol wat daarvan hou om te begin swot, om sy/haar kop te vul met die "wonderlike kennis", om die interessante werk "deel" van hulle te maak (het julle onderwysers ook al daardie woorde met julle gebruik?) nie. Dis eenvoudig nie so maklik nie.

Ek het aan die begin van hierdie jaar aangemeld vir my eerste studiejaar op universiteit. Hoewel ek aan die einde van verlede jaar my skeinatboeke in 'n wonderlike ritueel tot as en roet verbrand het, het ek myself weer in lesingsale gevul met Newton se wette, magnetisme (wie verstaan dit?) en selfs ander belaglikhede soos kwantummeganika en fluids. Selfs meer as dit: die matrieks sal weet (of as jy in 'n skool soos myne is, waar die werk eers aan die heel einde behandel word, nié weet nie) wat organiese chemie behels. Ek het die werk in matriek net deurgelees en wens nou ek het nie – of kom ons wees eerlik: dit sou nie gehelp het nie. Ek is pas deur ses maande daarvan ...

Maar die ding wat in hierdie ses maande vir my kop uitgesteek het en my nou soos 'n swart mamba reguit in die oë staar: ek kan net nie begin swot nie.

Jou gedagtes dwaal, jy maak meer koffie as wat jy moet, jy rol balletjies met Prestik, jy luister Coldplay tot jy heeltemal depressed is, jy blaai deur die jaarboek, jy stuur sms'e die hele wêreld vol, jy rook later Pacific Mist-sigarette omdat jy nie meer Marlboro kan bekostig nie. Jy luister Lukraaketaar totdat dit jou teen die mure uitdryf. Jy lag vir die simpelste goed. Jy kyk of jy jou potlood op die lessenaar kan balanseer. En jy plak later weer jou plakkate oor – dit hang skeef.

Jy kry net nie geswot nie.

Een van die ouens wat saam met my swot, vertel my dat hy hierdie wanhoop so intens ervaar dat toe hy eenkeer besig was om te swot, hy op sy horlosie gekyk het, toe opgekyk het en tien minute later eers wakkergeskrik het. Dis nou as mens die horlosie moet glo.

En nee, ek het geen raad nie. Ek wonder baie keer hoe ek deur 'n eksamen of 'n toetsreeks kom met hierdie luiheid van my. Ag, dis seker nie eers regte luiheid nie. Luiheid behels 'n mens wat nie WIL werk nie. Maar dis nie dat ek nie WIL werk nie, dis net dat ek my nie so ver kan bring nie.

Ek skryf hierdie rubriek vir die matrieks van hierdie jaar wat nou voor 'n groot, ja, moerse, eksamen staan. Vir almal van julle wat hier lees: doen jou ding. Dis net vir jouself! Gaan sit. En begin.