Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Fanus Rautenbach: Umfaanus

Net so: een ... twee ... drie!


Fanus Rautenbach - 2007-07-17

"Toe ek op universiteit was …" Oeee, hoe baie het ek nie gedroom van die dag wat ek presies hierdie woorde sou kon sê nie!

Op 'n keer in standerd 7 (graad 9 vandag) vra die leerkrag in Engels wat ons eendag wou word. Nadat elkeen sy beurt gekry het om te spog met "advokaat", "rekenmeester", "geneesheer", "veearts" en "predikant", kom die onnie by R, alfabeties.

"En wat gaan jy word, Rautenbach?" vra hy op sy gemaklike Engels, en ek antwoord in die vreemde sukkeltaal: "Ek wil graag 'n joernalis word, Meneer!"

"Ka-ka-a-ha!" lag die opvoeder. "'n Joernalis? Jy sal niks anders word nie as 'n onderwyser!" Ek het dit nie destyds besef nie, maar hy het homself met daardie opmerking beledig.

Toe word ek 'n onderwyser. Terwyl ons in opleiding was, moes ons kritieklesse (kortweg genoem krits) ondergaan. Toe een knaap baie, baie stout was, jaag ek hom uit die klas uit, op aanbeveling van prof Nr 1. Toe ek dit weer doen, in prof Nr 2 se klas, is sy kritiek: "As jy die leerder die klas verbied, erken jy dat hy gewen het!"
 
My vraag: "Maar kom u twee professore nie van dieselfde opleidingsentrum af nie?"

As gevolg hiervan het ek nie hoë punte gekry nie.

Na een klas vra ek aan prof Nr. 2: "Professor, help dit die kind deur hom 'n pak slae te gee? Nou praat ek van 'n skoolkind én jou eie kind?"

Sy antwoord was: "As jy 'n kind lyfstraf wil toedien, moet jy dit doen voordat die kind vier jaar oud is, anders dien dit geen doel nie. O ja, en as jy 'n kind iets belowe, moet jy daardie belofte nakom. As jy hom sjokolade belowe, gee hom sjokolade. As jy sê: 'As jy nou nie ophou met jou stoutigheid nie, slaan ek jou dood!' en hy gaan voort, moet jy hom doodslaan, anders glo hy jou nooit weer nie!"

Baie jare later vertel suster Erika my van haar ervaring as eenouermoeder (alleenouer). Sy had twee seuns en sy het hulle in hulle hele lewe nog net een pak slae gegee. "Tel op daardie papiere!" was haar opdrag. Hulle lag net. Sy nie. Ma sê kwaai en ernstig: "Ek gaan tot drie tel; as ek drie getel het en die papiere lê nog daar, dan gaan ek elk van julle so 'n pak slae gee dat julle dit nooit-ooit, solank as julle lewe, sal vergeet nie!" Sy lig die regterwysvinger en sê so streng as wat sy kan :"Een!" Die tweetjies giggel nog. "Twee!" Hulle begin vermoed dat Mammie ernstig is. "Drie!" Haar onderlip bewe, maar die twee knape gehoorsaam nie haar bevel nie.

Sy lag nie (nou mág jy nie lag nie). Sy het hulle elk 'n pak slae belowe en sy gee dit. Daarna, in al die jare daarna, had sy nooit weer nodig om aan hulle te slaan nie. Kom die stoute, of ongehoorsame geleentheid, lig sy net die regterwysvinger.

Einde van storie.

Engeltjie Engelbrecht, limeriekmeester van Flinkveria, piepie toe ook 'n straaltjie by:

'n Alleenmoeder van twee jonge knape
sê: "Ek duld g'n onmin van swape.
As ek 'n opdrag gee,
en na die telling van twee
het nog niks gebeur nie,
gaat ek aan't slate!"

of 'n bietjie stout:

'n Alleenmoeder van twee stoute knape
sê: "Ek duld g'n onmim van swape.
As ek 'n opdrag gee,
en na die telling van twee
as niks verbeter nie
dan gaat ek daai twee gate slate!"