Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

Die verband tussen taal, die ekonomie en misdaad


Christo van der Rheede - 2007-07-10

Navorsing bewys dat taal ‘n reeks primêre en sekondêre ekonomiese aktiwiteite dryf wat uiters belangrik is vir ekonomiese groei en welvaartskepping in Suid-Afrika. Op hierdie stadium is dit veral die twee voormalige amptelike tale, Engels en Afrikaans, wat ‘n belangrike rol in dié verband speel. Die prentjie het egter na 1994 verander met die aanvaarding van ons nuwe Grondwet wat amptelike erkenning verleen aan 11 tale in ons land. Verskeie statutêre liggame is in die lewe geroep om die amptelike tale van ons land te ontwikkel, te beskerm en te bevorder sodat al die tale binne ‘n bepaalde konteks kan bydra tot ontwikkeling en welvaartskepping van die sprekers van die onderskeie tale.

Ongelukkig het net die teenoorgestelde gebeur. Aan hierdie uiters belangrike konstitusionele opdrag soos vervat in ons Grondwet, word nie in die praktyk uitvoering gegee wat die bewaring, bevordering en beskerming van al ons amptelike tale betref nie. Nie net het Afrikaans in die proses sterk veld verloor nie, maar ook is daar nie veel gedoen om die ander amptelike Afrikatale op skool- en tersiêre vlak uit te bou nie. Hierdie roekelose gesindheid teenoor die inheemse tale van Suid-Afrika, wat Afrikaans insluit, lê nie net die ontwikkeling van tradisionele gemeenskappe aan bande nie, maar strem ook ekonomiese groei, werkskepping en swart ekonomiese bemagtiging op voetsoolvlak.

‘n Oorwegend Engelse voertaalbeleid in die private en publieke sektor het ook die deur wyd oopgemaak vir buitelandse mededingers wat ons plaaslike taalverwante industrieë letterlik versmoor. In plaas daarvan dat ons die taalonregte wat in die verlede teenoor ons Afrikatale gepleeg is, regstel, doen ons presies die teenoorgestelde. Nie net ontneem ons die plaaslike bevolking van ekonomiese geleenthede in die taalverwante kommoditeitsmark nie, maar hulle word ook intellektueel, kultureel, maatskaplik, spiritueel en psigies ontmagtig. Verder is daar ‘n direkte korrelasie tussen intellektuele, kulturele, maatskaplike, spirituele en psigiese ontmagtiging en die potensiaal dat die betrokke persone hulle tot misdaad sal wend.

Hierdie lesing het dus ten doel om ‘n ontleding te doen van die verhouding tussen taal en die ekonomie deur die rol van die private sektor wat taalprodukte skep en die verskillende staatsdepartemente en statutêre liggame wat direk met taal gemoeid is, te ondersoek. Ook wil ek die leemtes identifiseer en konkrete voorstelle op die tafel plaas, sodat ons Afrika-gemeenskappe deur Afrikatale kan bemagtig, hul menswaardigheid in die proses kan herstel, ekonomiese-bemagtigingsgeleenthede op voetsoolvlak kan skep en sodoende die potensiaal om misdaad as ‘n aantreklike alternatief te omarm, verminder.

Om die verband tussen taal en die ekonomie te verstaan moet die verskillende industrieë gemoeid met taalprodukte vir die verskillende taalgemeenskappe en die produkte wat elkeen vervaardig, geïdentifiseer word. Verder moet die omset of impak daarvan vasgestel word om die direkte bydrae tot die Bruto Binnelandse Produk (BBP) te bepaal. ‘n Ontleding van die sekondêre ekonomiese aktiwiteite wat daarmee gepaard gaan, is ook noodsaaklik om ‘n geheelbeeld te kry van die industrie en aan die hand daarvan ‘n risiko-analise te doen. ‘n Volgende stap sou wees om ‘n model en ‘n strategie te ontwikkel om die ekonomiese geleenthede in onderontwikkelde tale te begin ontgin en die regering te oortuig dat ons inheemse tale ‘n geweldige bydrae kan lewer tot die skep van welvaart en die ontwikkeling van intellektuele, kulturele, sosiale en menslike kapitaal in taalgemeenskappe.

Die verskillende privaatsektorindustrieë gemoeid met die vervaardiging van die verskillende taalprodukte sluit in die papier-, publikasie-, advertensie-, drukkery-, verpakking-, kommunikasietegnologie-, radio-, televisie-, film-, tolk- en vertaling-, spraak-, elektroniese-media-, teater-, kleinhandel- en NGO-industrieë. Staatsdepartemente direk gemoeid met die taalbedryf sluit in Onderwys, Kommunikasie, Kuns en Kultuur, Toerisme, Omgewing- en Ekonomiese Sake en Handel en Nywerheid.

Die privaatsektor produseer jaarliks ‘n magdom taalprodukte. Dit behels oa die vervaardiging van papier; die publiseer van boeke, koerante, tydskrifte; die skep van advertensies; en die maak van musiekopnames, DVD’s, films en vele ander produkte. Die staatsektor is gemoeid met die beskikbaarstelling van befondsing om ekonomiese groei in die sektor te stimuleer en wetgewing uit te vaardig, befondsing beskikbaar te stel om die verskillende taalprodukte vir opvoedkundige en ander doeleindes aan te koop, en inhoud te gee aan die opdrag in ons Grondwet sover dit die bewaring, bevordering en beskerming van al ons amptelike tale aanbetref.

‘n Ontleding van die taalproduktemark, soos vervat in ‘n verslag wat in 2006 deur die Afrika Media Ontwikkelingsinisiatief vrygestel is, dui daarop dat 43 koerante daagliks of weekliks in Suid-Afrika gedruk word. Vyftig gratis koerante word op ‘n streeksbasis versprei en word aktief as medium deur plaaslike besighede benut om hulle besighede en produkte te bemark. Ongeveer 350 tydskrifte word maandeliks in Suid-Afrika versprei en ‘n totaal van 20 miljoen eksemplare word gedruk. Statistiese gegewens tydens die World Newspaper Congress vrygestel dui ook daarop dat koerantverkope in Suid-Afrika die afgelope vyf jaar met 43,18 persent gegroei het. Hierdie groei is in teenstelling met wat in die res van die wêreld gebeur.

Mondi, een van ons land se grootse rolspelers in die bosbou- en papiersektore, het onlangs R4,6 miljard aan pulpmeul- en papiermasjien-uitbreidings bestee om in die vraag na papier te voorsien. Die bosbou-, hout-, papier-, uitgewers- en drukkery-industrieë dra altesaam sowat 12 persent by tot ons BBP, en indien ons die elektroniese media, die staatsektor en die sekondêre aktiwiteite bybring, bedra die algehele BBP-bydrae reeds meer as 20 persent.

Die gevaarligte flikker egter vir die akademiesehandboek-bedryf. ‘n Verslag deur die Suid-Afrikaanse Publikasie Industrie, wat reeds in 1998 in opdrag van die Departement van Kuns en Kultuur die lig gesien het, dui daarop dat 60 persent van ons akademiese boeke reeds ingevoer word. (Gedurende die periode tussen 1989 en 1995 was die verhouding 78 tot 22 persent in die guns van plaaslik gepubliseerde boeke.) Hierdie situasie kan egter beredder word met staatsondersteuning en die uitbreiding van die mark vir handboeke in inheemse tale. Dit is ook nodig om ons inheemse tale tot wetenskapstale te ontwikkel, aansporings te bied aan plaaslike skrywers en maatreëls daar te stel wat die ontwikkeling van menslike kapitaal deur inheemse tale vir die taalindustrie, vanaf skool- tot tersiêre vlak, sal reguleer. Dit kan egter nie gebeur as die politieke wil en besigheidsin ontbreek nie.

Kyk maar wat aan die gebeur is in die advertensiemark. Die mees populêre advertensies spreek direk tot die hart van die verbruiker, want dit is in hul moedertaal. Geen wonder die groei in advertensieverkope vir koerante was die afgelope vyf jaar ‘n stewige 141 persent nie. Om nie eens te praat van die groei van dié sektor in die multimediamark nie. ‘n Ontleding van dié mark dui daarop dat 92 persent van Suid-Afrikaners na radio luister, 80 persent kyk daagliks televisie, en meer as 60 persent is in besit van ‘n selfoon, terwyl die privaat gebruik van rekenaars en die internet ook besig is om toe te neem. Dis veral radiostasies wat in Afrikatale uitsaai wat uiters gewild is. Plaaslike televisie-uitsaaiers kan nie voorbly om programme in Afrikatale te ontwikkel nie, want die vinnig groeiende swart middelklas, soos in die Afrikaanse gemeenskap, het ‘n behoefte aan meer programme in hul eie tale. Die oplossing lê inderdaad in die koms van digitale televisie wat meer kanale beskikbaar sal stel vir uitsendings in inheemse tale. Maar om dit te verseker moet baie meer inhoud in ons inheemse tale ontwikkel word.

Dit kan net gebeur as die privaat sektor, verskillende staatsinstansies (soos die Onafhanklike Kommunikasie Owerheid en die Departemente Onderwys, Kommunikasie, en Kuns en Kultuur) saam beplan om beleid te ontwikkel, infrastruktuur en bronne vir die ontwikkeling van ons inheemse tale beskikbaar te stel en gehalte-opleiding in die onderskeie tale vanaf skool- tot tersiêre vlak te bied. Ongelukkig gebeur dit nie. Die politieke wil, ekonomiese insig, patriotisme, eiewaarde en integriteit ontbreek.

Kom ons kyk ‘n bietjie na die rolle van staatsdepartemente en statutêre liggame in dié verband. Van die veelbesproke Nasionale Taalbeleid van die Departement van Kuns en Kultuur wat in 2002 die lig gesien het om die grondslag te lê vir die bevordering van veeltaligheid het daar nie veel gekom nie. Die volgende aanbevelings is in die dokument vervat:

  1. Daar word van regeringstrukture verwag om veeltaligheid, ooreenkomstig die streeksomstandighede en gemeenskappe se behoeftes en voorkeure, te bevorder
  2. In die praktyk kom dit daarop neer dat plaaslike regerings die taalgebruik en -voorkeure van hulle gemeenskappe in ag sal neem en na deeglike oorlegpleging met die betrokke gemeenskappe ‘n veeltalige taalbeleid sal ontwikkel en implementeer
  3. Die regering sal private ondernemings ondersteun om taalbeleide ontwikkel en implementeer in lyn met die bepalings van die taalraamwerk.
  4. Vertaling en tolking sal waar moontlik benut word
  5. Amptelike korrespondensie sal in die landsburger se voorkeurtaal geskied.
  6. Al 11 amptelike tale sal gebruik word in gevalle waar die regering omvattend wil kommunikeer, en waar nodig moet die nasionale staatsdepartemente in minstens ses tale publiseer – minstens een uit die Nguni-groep, Sotho-groep, Tshivenda, Xitsonga, Engels en Afrikaans
  7. Internasionale kommunikasie sal in die voorkeurtaal van die betrokke land geskied.

 

Hierdie departement het ook ‘n uiters belangrike ondersoek na die Suid-Afrikaanse Publikasiebedryf geloods en ‘n verslag, getiteld Kulturele Industrie Groei Strategie (CIGS), in 1998 die lig laat sien. In dié dokument is kommunikasie as ‘n strategiese bron in die globale ekonomie geïdentifiseer. Die gedrukte en elektroniese media is deeglik nagevors om vas te stel hoe om eienaarskap verder uit te bou deur in ons inheemse tale te begin publiseer, materiaal vir radio en televisie te ontwikkel en vele ander taalverwante ekonomiese geleenthede te skep. My vraag is: Wat het hierdie departement tot dusver gedoen om werklik prakties gestalte te gee aan die inhoud van hierdie twee uiters belangrike dokumente, die Nasionale Taalbeleid en die Kulturele Industrie Groei Strategie?
Miskien moet ek dit ‘n bietjie anders stel: Waarom gee die Departement van Kuns en Kultuur nie uitvoering daaraan nie?

Is daar ‘n ideologiese of finansiële rede daarvoor, en word ons taalverskeidenheid gesien as ‘n verdelende faktor vir nasiebou? Indien die antwoord daarop ja is, dan verskil ek. In die eerste plek dit is nie taal wat in die weg staan van nasiebou nie, maar wel die gebrek aan gelyke geleenthede en die sigbare gaping tussen ryk en arm in ons land. In die tweede plek wys taalekonome ons daarop dat veeltaligheid ons land op lang termyn baie goedkoper gaan kos.

‘n Ander belangrike statutêre instelling is die Agentskap vir Media-ontwikkeling en Verskeidenheid (AMOV). Hierdie instelling is verantwoordelik vir media-ontwikkeling in gemarginaliseerde taalgemeenskappe en die skep van entrepreneurskapmoontlikhede in radio-, televisie-, film-, spraak-, vertaal-, tolk- en die gedrukte- en elektroniese-media-dienste. Dis veral vroue, plattelandse mense, gestremdes, ongeletterde mense, werkers en arm mense wat hierby moet baat. Ander rolspelers in dié verband is die Departement van Kommunikasie, die fiskus en die Universele Diensagentskap. My vraag is: Wat het hierdie Agentskap vir Media-ontwikkeling en Verskeidenheid tot dusver gedoen om ten volle uitvoering te gee aan hul mandaat?

Die grootste rolspeler wat die grondslag moet lê vir die ontwikkeling, beskerming en bevordering van ons inheemse tale is die Departement van Onderwys. Dit is direk daarvoor verantwoordelik om stelsels en bronne daar te stel om gehalte-moedertaalonderrig op skool- en tersiêre vlak te verseker. Omdat dit nie gedoen word nie, is ons Afrikatale (dit sluit in Afrikaansdepartemente op tersiêre vlak) besig om leeg te loop, en geen noemenswaardige navorsing word meer gedoen nie. Verder is die kapasiteit om inhoud in Afrikatale te ontwikkel drasties besig om af te neem. Skoolleerders se lees-, skryf- en numeriese vaardighede is besig om agteruit te gaan, daar is ‘n hoë uitvalkoers op ons skole, studente kom nie die mas op op universiteit nie, ons land lewer nie die getalle en vlak van geskoolde werkers op wat ons benodig om die land te ontwikkel nie, en ons kapasiteit om kwaliteitnavorsing te doen gaan by die dag agteruit.

Gegewe dié agtergrond is dit geen verrassing nie dat misdaad as ‘n aantreklike alternatief gesien word. Dus, wie nou nog twyfel dat taal ‘n magtige instrument is om die kultuur van uitsigloosheid en magteloosheid in ons arm werkersklasgemeenskappe om te keer, moet inderdaad sy of haar kop laat lees. Ons kan nie toelaat dat die elite, dié wat toegang het tot goeie Engelstalige onderrig in voormalige Model C- en privaatskole, alleen die vrugte pluk van ons land se ekonomiese vooruitgang nie. Dit skep ‘n teelaarde vir sosiale onstabiliteit, waarvan misdaad, morele verval en weldra anargie tekenend is.

As burgerlike bewegings moet ons die staatsinstellings en privaatsektor tot verantwoording roep om ten volle uitvoering te gee aan die volgende:

  • artikel 6 (2) van die Grondwet, wat vereis dat meganismes daargestel word om inheemse tale te ontwikkel
  • artikel 9 (3), wat beskerming verleen teen onbillike diskriminasie op taalgronde
  • artikel 35 (3) en (4), wat klem lê op die reg op ‘n billike verhoor in die taal van die gearresteerde, aangehoudene en beskuldigde
  • artikel 6 (5), wat die werksaamhede van die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) omskryf betreffende die bevordering van veeltaligheid.

Indien ons dit nie doen nie, dan faal ons nie net in ons burgerlike plig nie, maar moet ons medeverantwoordelikheid aanvaar vir die feit dat ons Grondwet in ‘n klugspel ontaard. Dís gewoonlik iets wat nie oornag gebeur nie. Dink maar aan die eksperiment van die padda wat in die warm water gegooi word. Dié spring onmiddellik uit. ’n Padda wat egter in koue water gesit word wat agterna warm gemaak word, kook letterlik dood. Mog dit ook nie met ons gebeur nie.

Lesing gelewer by die misdaadkonferensie wat deur die SA Akademie en die SBA op Vrydag 22 Junie 2007 in Pretoria aangebied is.