Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Poësie | Poetry

Droë profiel


Corné van Wyk - 2007-07-03

Die posman van die lewe het
‘n pakkie voor my deur kom los
en ek het dit oopgemaak
en jou in smarag daarin gevind ...

... skielik spruit nuwe lewe
uit die droë bas
om my leë profiel
en ek besef:

my lewensvuur was dooie kole
(ek, krom en skeef)
pyn, ‘n splinter
wat deur my hart steek.

Maar jy was my eerste asemteug
‘n gloeiende nuwe vuur
sag het jy my in jou arms neergelê
en sag het jy my op my voorkop gesoen.

My delwery in die skag
van ons verlede
laat my kaal kabbelende gedagtes
oor droë herinneringe loop ...

... as ek jou nie nodig het nie,
waarom weergalm jou naam in my gedagtes;
waarom is my tydmasjien maar net
‘n nederige foto van jou teen my muur?