Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Fiksie | Fiction

Langafstandliefde


Cobus van der Merwe - 2007-07-03

Ek sit hier in Dar-es-Salaam voor my Tanzanië-tafel met my oë toegeknyp, wagtend om dit op die laptopskerm te sien. Sit maar oë toe, want om so te sit en staar na “no connection” terwyl die ander skermpie flikker “waiting for http:/www.gaydar.co.za …” is darem net té onlogies frustrerend. En sielskeurend. Want ek weet wat wag wanneer die konneksie inskop.

Vreemd hoe die heelal my altyd waarsku as ‘n geliefde my verneuk. Die vorige boyfriend het gemaak asof ek waansinnig is as ek bel en sê ek weet hy is besig om kak aan te jaag. ‘n Gemeenskaplike vriend vertel agterna dat hy erken het dat ek selfs tot op die laaste oomblik reg was. Asof ek reg wóú wees.

Maar vriende is skaars hier in die vreemde, en konneksies min.

Selfs met my oë toe sien ek die hele tafereel van my alleenwees hier voor my. Soos met geheuetoetse op kleuterskool, is al die besittinkies op die tafel uitgepak. Ek sien dit van links: vuil oranje hemp, sigarette, asbak, vurk, muskietringe, laptop (helder laptop), selfoon (dooie selfoon), Swahili-fraseboek, toe pakkies sigarette, Tabard, CD copy van ‘n plaaslike sanger, Susan Jeffers se Dare to Connect selfhelpboekie, geleende glase nog skoon omgedop, ‘n vuil bord en ‘n halwe brood.

"Dare to connect." Ja, wel.

‘n Muskiet steek my, en sy maters zoem nader, maar ek wil nog nie my oë oopmaak nie.

Dan kan ek dit nie meer hou nie. Ek kyk op na die oranje skerm en klap waar dit seermaak. Voel my eie spatsel varsgesuigde bloed.

Dit was raak. Jy is weer elders aanlyn. Weer op soek na ‘n volgende.

Ek stem saam met die Italianer saam met wie ek by die kroegdeur uitgestap het: "Without mosquito, this is paradise."

Veral as jy nie connected is nie.

 
3 April 2007
Dar-es-Salaam