Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Theunis Engelbrecht: Sound Bites

Verruklike vroumense


Theunis Engelbrecht - 2007-07-03

Waar dit ‘n paar maande gelede die outoppies was wat die lekkerste nuwe musiek gemaak het, is dit tans weer die vroue van alle ouderdomme wat die avontuurlikste musiek maak. Wat kan ‘n mens meer vra as nuwe CD’s van Tori Amos, Patti Smith, Suzanne Vega en Björk in een maand? Die debuutalbums van Amy Winehouse en Dolores O’Riordan is ook nie te versmaai nie.

Van al hierdie liewe dames is Björk die een wat die mense die mees opgewonde en aan die praat het. Ek het dit nog nie gehoor nie, maar volgens wat ek gelees het in tydskrifte soos Uncut en Mojo is dit iets fabelagtig. (Die rede hoekom ek dit nog nie gehoor het nie, is dat daar probleme was by die CD-drukkery in Midrand waar die plaaslike weergawes gedruk word, en ek kan ongelukkig nie R200 betaal vir ‘n ingevoerde kopie nie – ek is nog nie so bevoorreg soos diegene wat CD-resensies vir glanstydskrifte pleeg nie.)

Eintlik is ek bly daar is ‘n vertraging, want iemand wat nie verdien om eerste of tweede prinses te wees nie, kan hierdie keer die gesogte titel kry van …

KONINGSKOS VAN DIE MAAND
Tori Amos

American Doll Posse

Amos se musiek het die wêreld in 1991 getref met die uitsonderlike album Little Earthquakes. Daarna het nog ‘n klomp gevolg. As ek reg tel, is hierdie haar negende ateljee-album (ek mag verkeerd wees, want my breinselle wat syferverwante inligting berg, het lankal afgesterf.)

Wat werklik indrukwekkend is, is hoe Amos keer op keer daarin slaag om ‘n mens uit te skop met ‘n verruklike album. Enkele van haar CD’s ná haar debuut het ‘n bietjie te veel van ‘n pynigende dermuitrygery geword, maar haar afgelope vier CD’s is prima – bewenens American Doll Posse ook The Beekeeper, Scarlet’s Walk en To Venus and Back.

American Doll Posse is ‘n konsep-album bestaande uit 23 snitte waarop Amos vyf personas aanneem wat hul eienskappe, maar nie hul name nie, aan Griekse gode en godinne ontleen: Clyde, Pip, Isabel, Santa en Tori. Om sake nog te vererger, het Amos ook aanlyn-blogs, video’s en My Space-webwerwe vir al dié personas geskep.

Self sien ek nie kans om Amos se kuberspeletjie te speel nie – net om uit te werk watter persona watter perspektief oordra in haar musiek, is al klaar ‘n taak wat ‘n mens lank kan besig hou. Vir mense met meer tyd en geld om op die internet rond te jakker, kan dit egter ‘n heerlike avontuur wees om dié legkaart met al sy kuberstukke te bou. Vir my is die musiek vir eers genoeg.

Amos maak party mense ook moeg omdat sy sulke laaaang albums maak (The Beekeeper het 19 snitte gehad en Scarlet’s Walk 18). Dit is egter nou die vierde keer dat sy dit regkry om my van A tot Z vasgenael te hou. Sy het ‘n hipnotiserende uitwerking; sy hou jou deurentyd in die holte van haar mooi, fyn handjies.

Anders as so baie ander popsangers skryf Amos ook oor meer as net twee onderwerpe. Die politieke kommentaar in “Yo George”, “Isabel” en “Dark Side of the Sun” is skerp, logies en meedoënloos. Oorloë was, is en sal daar seker altyd wees, en dis altyd baie interessant om te luister hoe skrywers en kunstenaars oor dié onderwerp skryf en sing.

Sy lewer ook snydende kommentaar oor die mens se toenemende vervreemding in hierdie onpersoonlike tye waarin die kuberwerklikheid die werklikheid al hoe meer laat begin vervang (die liedjie “Digital Ghost” is verpligtend vir elke rekenaarverslaafde).

‘n Mens kan eindeloos praat oor hierdie lieflike album. Dis ‘n roller coaster – die een oomblik klink Amos (of een van haar personas) besonder hardegat en soos ‘n katjie wat ‘n mens nie sonder handskoene moet aanpak nie (“Secret Spell” en “”Big Wheel”). Die volgende oomblik klink sy (of een van haar personasies) weer speels, lighartig en verleidelik (“Bouncing off Clouds”). As jy dit kan regkry om die CD aan te sit en jou net oor te gee aan die musiek en aan niks te dink nie en jou net te laat meesleur vir 80 minute, behoort American Doll Posse meer waarde vir jou geestesgesondheid te hê as ‘n generiese pil van Dr Phil vir ‘n afgeleefde tril.

Dis Amos se vermoë om verskillende emosionele dimensies te betree, die regte klanklandskap daarvoor te skep en musiek daaruit te tower wat jou op ‘n trip vat wat jy weet geen mens ooit in woorde sal kan vasvang nie. Klink dit hiperbolies, prof dr Malherbe Nienaber? Dan moet dit wees – want dis die heilige waarheid.

En haai, kan julle glo wie vandeesmaand Amos se eerste prinses is?


Patti Smith
- Twelve

Mense wat Patti Smith se musiek nie ken nie, het baie huiswerk. Gaan koop dadelik haar seminale album Horses (1975). Gaan Google haar en lees oor haar lewe en geskiedenis. Koop en ontdek gerus ook albums soos Radio Babylon, Easter, Wave en Dream of Life (net om mee te begin – daar is nog heelwat meer). Om kuberlugtyd te spaar gaan ek nie nou oor haar verlede uitwei nie – Google is net ‘n druk van die knoppie ver, jou ou luiaard! Gaan doen self jou huiswerk!

Twelve is Smith se covers album en bevat haar vertolkings van liedjies waarvan sy hou of wat sy dink ‘n belangrike, relevante boodskap vir ons teenswoordige tydsgreep het. Dis altyd ‘n riskante onderneming om ‘n covers album te maak, maar danksy haar allamagtige stem sal Smith selfs daarin slaag om met moord weg te kom, al het sy dit nie nodig nie.

Net een van die 12 liedjies is maar baie vaal: haar weergawe van Tears for Fears se “Everybody wants to rule the world”. Op die res druk sy haar eie stempel af, selfs al gebruik sy nie dieselfde energie en intensiteit as wat The Rolling Stones gebruik op “Gimme Shelter” nie, of Nirvana op “Smells Like Teen Spirit”. Smith doen laasgenoemde baie minimalisties en akoesties, met ‘n banjo wat dit dryf. Dit het nie die lieflike gatskop van die Nirvana-weergawe nie, maar word in Smith se hande eerder ‘n hartseer rouklag. Haar weergawe van Paul Simon se “The boy in the bubble” het meer groove as die oorspronklike, en haar interpretasies van Jimi Hendrix (“Are you experienced?”), Neil Young (“Helpless”) en Stevie Wonder (“Pastime Paradise”) is van die ander hoogtepunte.

En wat kan ‘n mens sê van daai stem? Te wonderlik vir woorde. Daarom dat daar nie nou hier verdere woorde gaan volg om Patti Smith se lof te besing nie.

En raai wie is die tweede prinses vandeesmaand? Sy moet dankie sê aan die drukkers in Midrand omdat hulle agter was met die druk van Björk se CD.


Suzanne Vega

- Beauty & Crime

Die CD is ‘n skamele 34 minute lank en bied enige tyd net so ‘n lekker trippie as Tori Amos se 80 minute lange epiese opus (erudiete woorde klink so mooi.) Die eerste snit, “Zephyr”, is onweerstaanbaar en gee die toon aan vir wat volg: ‘n onopgesmukte Vega, gestroop van enige poging tot foefies of uitsonderlike vokale of instrumentale akrobatiek vir die ore. Dis die feit dat dit so spontaan en natuurlik klink waarin hierdie album se bekoring lê.

Ek wil nie deelneem aan debatte of mens Vega na dese as neo-Americana sal klassifiseer nie. Dit is eerder iets vir die musikoloë. Maar die groter klem op akoestiesekitaarklanke verklap moontlik dat Vega ook klankgewys na roots terugkeer, of sy (of haar produksieleier) dit bewustelik doen al dan nie.

‘n Mens kan die klank op baie maniere beskryf – ‘n vriend noem dit byvoorbeeld Cowboy Junkies met bôls – wie weet, dalk is dit deel van die genre genaamd Brokeback-ballades. Enigiets is deesdae moontlik as ‘n mens die Britse en Amerikaanse musiektydskrifte lees.

Beauty & Crime is een van daai lekker CD’s wat elke keer wanneer jy daarna luister, meer onder jou vel inkruip. Wie kan mooi liedjies soos “New York is a woman”, “Edith Wharton’s Figurings” en “Pornographer’s Dream” weerstaan? (Hopelik selfs nie eers prof dr Malherbe Nienaber nie.)

Hierdie CD verdien ‘n ereplekkie in enige versameling. Skoonheid en suiwerheid is twee woorde wat in ‘n mens se kop oppop as jy hierna luister.

Die feit dat ek vandeesmaand een koningin en twee prinsesse het, beteken nie daar is nie ook ander verruklike vroue met nuwe CD’s op die rak nie. Maar om die koningin en haar prinsesse meer spesiaal te laat voel, gaan ek nie so baie woorde oor die res skryf as oor dié maand se Top 3 tannies nie.


Dolores O’Riordan

- Are You Listening?

Dis altyd interessant om uiteenlopende resensies oor dieselfde produk en/of kunswerk te lees. O’Riordan was die sangeres van die gewilde groep The Cranberries, en hierdie is haar solodebuut – en my hart bloei vir haar as ek sien hoe word sy in hoogaangeskrewe tydskrifte soos Uncut en Mojo afgeskiet. Ek was nooit ‘n buitengewone Cranberries-bewonderaar nie, en dit blyk juis die aanhangers van die groep te wees wat teleurgesteld is in O’Riordan se CD.

‘n Mens hoef net een keer haar musiekvideo “Ordinary Day” op MTV of VH1 te kyk om dadelik daarvan te hou. Dit is suiwer pop en dit is wat dit vir my bekoorlik maak, omdat suiwer pop deesdae skaars is en dit ook nie meer so maklik is om dit te maak nie. Of dalk is dit bietjie gevaarlik om dit suiwer pop te noem, want in party liedjies gooi sy ook lekker heavy kitare in (soos op “In the garden” en “Stay with me”).

O’Riordan se stem is vir my ook baie lekker – dit klink of sy jou uitnooi om saam met haar kattekwaad aan te vang. Op plekke klink sy bietjie na Sineád O’Connor, maar dis duidelik dat sy dit nie doelbewus doen nie. Dit sou baie onregverdig wees om hulle met mekaar te vergelyk.

Die liedjies mag dalk te eenvoudig vir die puriste en intellektuele popliefhebbers wees, maar ironies is dit juis dit wat van hierdie album ‘n genoeglike luisterervaring maak. Dit lig jou op en gee jou energie, dit is glad nie pretensieus nie, daar is ook geen skynbare poging tot grootsheid nie – en dis die egtheid wat my imponeer, aansteeklike liedjies of te not. Uncut en Mojo se resensente kan gaan kak in kabouterland.


Amy Winehouse

- Back to Black

Dis lekker om weer byna-ware soul te hoor. As jy nie weet van wie ek praat nie, sy is die een wie se musiekvideo’s “Rehab” en “You know I’m no good” op TV te sien is. Amy Winehouse het ‘n wonderlik donker stem – as mens ‘n paar glase wyn in het as jy hierna luister, sal jy selfs kan sê dit het so ‘n tikkie van Aretha Franklin, ‘n tikkie van Nina Simone, ‘n tikkie van Eartha Kitt, ‘n tikkie van Anastacia, ‘n tikkie van Macy Gray. En dis mos nou iets totaal onweerstaanbaar vir enige regdenkende mens.

Winehouse werk slim met die tradisie van soul, R&B en Motown om dit in ‘n moderne gedaante saam te klits sonder dat dit enigsins berekend klink. Nog ‘n CD wat gewaarborg is om jou op te lig en lekkerder te laat voel as wat jy voel, mits jy nie ‘n suurpruim is nie.

Verskeie kunstenaars

- A Tribute to Joni Mitchell

Joni Mitchell se werk is allesbehalwe kommersieel en sy word beskou as ‘n toonaangewende en belangrike liedjieskrywers. As ‘n mens net kyk wie almal gehoor kan word op hierdie huldeblyk aan haar, besef jy watter hoë aansien sy geniet: Sufjan Stevens, Björk, Caetano Veloso, Brad Mehldau, Cassandra Wilson, Prince, Sarah McLachlan, Annie Lennox, Emmylou Harris, Elvis Costello, kd lang en James Taylor.

Toe ek die eerste keer daarna geluister het, het dit my nie weggeblaas nie. Die tweede keer, toe ek oorfone opsit, het dit my meer beïndruk. Dit wys waarskynlik dat dit die soort musiek is waarna mens aandagtig en afgesonderd moet luister. Dit skop op ‘n hoë noot af met Sufjan Stevens se weergawe van “Free man in Paris”, met onuitspreeklik heerlike koperblaassolo’s in die middel, wat dan plotseling afbreek en oorgaan in ‘n strykensemble, en dan kom die ooms en tannies met die koperblaasinstrumente en maak dit klaar. Fassinerend.

Björk kan nie anders nie as om ‘n mens te begoël met “The Boho Dance”, waarna dinge lekker spoed optel met Caetano Veloso se sexy calypso-agtige weergawe van “Dreamland”. Cassandra Wilson se ongelooflike stem laat oudergewoonte elke haartjie en luisie op ‘n mens se liggaam kiertsregop staan, en Prince verras met ‘n briljante weergawe van “A Case of You”. Annie Lennox en Emmylou Harris se bydraes is ook liedjies waarna mens graag meer as een keer luister.


Meisies, meisies, meisies net waar jy kyk!

En nog is het einde niet! Daar bly nog vyf verruklike vroumense oor, maar ek is seker julle is nou al net so moeg soos ek en dat ons dinge nou ernstig moet begin kortknip, anders kan ons nog die hele aand kibbel en knabbel, en so kan dit ook nie aangaan nie.

Macy Gray se eerste twee CD’s was dinamiet en heerlike luisterstof, maar haar jongste, Big, is ‘n groot teleurstelling – reeds op van haar werk na haar tweede album het dit begin klink of sy haar fut verloor, en dit breek my hart om dit te sê (want Macy is ‘n oulike, dierbare meisie), maar hierdie album is een Groot Gaap. Ook maar goed so, want nou het mens meer tyd om na Tori en Björk en Patti en Suzanne te luister.

Interessanter as Macy is ‘n plaaslike meisie met die naam Tasha Baxterse debuut-CD, Colour of Me. Sy slaag ook daarin om pretensielose pop te maak, maar wat terselfdertyd vars en kreatief klink. ‘n Baie aangename luisterervaring met selfs verfrissende oomblikke hier en daar. Wie het nou nodig om na Suid-Afrikaanse Idols en Kylie Minogue te luister as jy na Tasha Baxter kan luister? Ek hoop net nie Baxter word ingesluk deur die oorvol, oorlaaide musiekmark nie. Sy verdien om meer as ‘n eendagsvliegie te wees. Waarskynlik is dié soort pop vervlietend van aard en ‘n mens moet maar wag en sien of Baxter ‘n blywende impak gaan maak.

Avril Lavigne se jongste heet The Best Damn Thing, maar dis ‘n baie, baie misleidende titel. Net jagse bakvissies en donsdosies van beide geslagte sal daarby aanklank vind. Jy sien haar video “Girlfriend” oral, en dis nou regtig ‘n liedjie wat ‘n mens reeds in die eerste vyf sekondes naar maak, wat seker ‘n rekord moet wees. Mense wat dink Avril Lavigne is ‘n belangrike kunstenaar, sê dit net omdat hulle nie met hulle koppe oordeel nie, maar met hul hormone en geslagsdele.

Ek was skepties oor Melanie Cse This Time, omdat ek niks wil weet van enigiets of enigiemand wat ooit iets met The Spice Girls te doen gehad het nie. Ondanks my vooroordeel het ek dit nie ‘n onaangename album gevind nie, maar tog redelik oppervlakkig en sielloos, en nie iets wat ek sal bêre om eendag saam te vat ouetehuis toe nie, ondanks ‘n pragballade soos “What if I stay”. Die materiaal is nie sleg nie, dis net dat Melanie C dit alles bederf met haar eendimensionele aanslag.

Sophie Ellis-Bextor se Trip the Light Fantastic bevat ook doodgewone pop wat geensins uitsonderlik is nie, maar ook nie sleg nie. Sy is nie naby op ‘n vlak wat eers verlangs naby dié van mense soos Amos, Smith, Vega en Björk kom nie, maar ‘n mens moet redelik wees en erken dat van die simpel deuntjies regtig aansteeklik en oulik is, soos “Me and my imagination”. Veel meer verteerbaar as Avril Lavigne en selfs meer luisterbaar as Macy Gray, maar niks wat jou laat voel wow! nie. So baie sangeresse probeer deesdae om soos Madonna te wees, en Sophie straks ook, dat ‘n mens net jou kop kan skud oor die illusies waaronder hulle verkeer. Arme mense.