Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Resensies | Reviews

Donkerhoeker: ‘n Fiela-exposé


Esmarie Prinsloo - 2007-07-02

Ek sit onlangs in ‘n teater in groot afwagting op Fiela se Kind – én met hoë verwagtings, want onafwendbaar onthou ek, steeds emosioneel, die aangrypende 1988-fliek met Sharleen Surtie-Richards en Dawid Minnaar. Omdat dié Dalene Matthee-trefferroman meer as twee dekades gelede teatergehore betower het, sê dit vir my dat hierdie produksie dan iets besonders moet wees.

Maar tot my bittere teleurstelling …

Die verhoogdekor is so treurig – dit gee die produksie ‘n hengse knou. Die hele storie speel basies teen twee agtergronde af: by die Komoeties in die Langekloof en by die Van Rooyens in die Knysna-bos. En net ‘n paar geverfde bome – op deurskynende nette – onderskei die tonele van mekaar.

Toe dink ek (en my gesin wat die aand saam was): teen R100 ‘n kaartjie maak die produksie sowat R64 000 per aand (jy’t reg gelees – R 64 000 op EEN aand!) – aangesien die Drama-teater 640 sitplekke het – en die teater was tjok-en-blok-vol.

Lefra-produksies kon net een aand se wins opdok, vermaaklikheidstegnoloë (die ouens wat die stages bou – net vir ingeval jy nie daarvan bewus is nie) huur en twee huisies bou – een vir die Komoeties en een vir die Van Rooyens. Dan sou die verhoog al na iets lyk. En hulle kon die berg-agtergrond van The Sound of Music – wat verlede jaar in dieselfde teater opgevoer is – gebruik het. 

Fiela se Kind word vertolk deur 14 akteurs. Van hulle vertolk tot drie rolle elk. Vir so ‘n groot produksie is daar te veel rolle met te min akteurs – dit werk nie.

Oor die toneelspel self …

Die 14-jarige Thea Mostert van Alberton – wat die rol van die jong Nina vertolk – is regdeur die produksie onhoorbaar. Ek, wat redelik voor in die teater my plek ingeneem het, kon nie ‘n enkele volledige sin van dié blondekop meisie hoor nie - wat van die arme siele agter? Stemprojeksie is beslis ‘n konsep waaraan sy moet aandag skenk.

Stefan Vermaak (ook 14 jaar), Fiela se hanskind Benjamin, is oukeierig, nie uitspattig fantasties nie, maar oukeierig. Fiela se ander kinders het die paal goed gehaal. Die gesoute akteurs Chris van Niekerk, Paul Lückhoff, Peter Butler en Fiela se man, Selling – wat deur Fahruq Valley-Omar vertolk is – is gesout – perfek soos die see. Rika Sennett, wat Barta van Rooyen speel, was ietwat teleurstellend vir ‘n ou beoefenaar van drama.

Ek het gemengde gevoelens oor Nina van Rensburg en Erik Holm, wat die rolle van die volwasse Nina en Lukas/Benjamin se skoene moes volstaan. Erik staan nie die skoene vol nie, maar hy pas darem daarin (en hy’s looks-gewys darem ‘n cutie ook!). Nina sit die pot dramaties mis. Enigeen (selfs ek of jy) kon die rol beter vertolk. Sy’t niks tot die rol bygedra nie – soos hulle sê, “Sy’t nie die karakter laat lééf nie.”

Maar wie ons aand die moeite werd gemaak het was June van Merch, wat Fiela Komoetie vertolk. Sy’s vrek goed, indrukwekkend en skreeusnaaks. Uit haar spel is dit duidelik dat sy die rol ordentlik bestudeer het, die karaktermanierismes aangeleer het en Fiela werklik verstaan. Fiela, Selling en Kaliel was die ligpunte.

Om darem iets nice ook te sê: Fiela se Kind is gepas vir skoolgehore – maar die boek bly beter. En … die storie bly immergroen.