Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Rubrieke | Columns > Afrikaans > KritNet

Richard Powers, ’n naaswenner


Paul Cilliers - 2007-06-26

Klik en koopThe Echo Maker
Richard Powers
451 pp
William Heinemann
ISBN 0-434-01632-2

Hoewel Richard Powers hier miskien nog nie so ’n groot leserspubliek het nie, kry hy lankal reeds ’n uitstekende ontvangs by die kritici. The Echo Maker is sy negende roman en was pas die naaswenner van die Pullitzer-prys vir letterkunde. (Julle sal dalk onthou dat die vorige boek waaroor ek dit gehad het, The Road van Cormack McCarthy, die wenner was – en wat ’n voortreflike boek was dit tog.)

Powers se romans is op idees gegrond. Hy bied saam met die verhaal ’n geweldige klomp inligting, die resultaat van baie en deeglike navorsing. Galatea 2.2, moontlik sy bekendste roman, handel oor ’n rekenaarprogram wat gevorderde vrae oor letterkunde moet probeer beantwoord op ’n manier wat ten minste gelykstaande is aan hoe ’n goeie student dit sou doen. Op die ou end word die program en ’n student dieselfde onvoorbereide vraag gegee, ’n klassieke voorbeeld van die sogenaamde Turing-toets vir rekenaarintelligensie. Die roman bevat omvattende besprekings van rekenaarprogrammering, kunsmatige intelligensie, breinsimulasie en neurale netwerke - maar ook van letterkunde en die waardering daarvan.

Mens sou kon bang wees dat al die detail jou sou verswelg, of dat dit vir die oningeligte leser vervelig sou word. Dit is geensins die geval nie. Powers is besig met ’n fyn analise van die woordkuns en hoe dit verstaan word. Terselfdertyd vra hy van die mees fundamentele vrae: Wat is dit om ’n mens te wees, en hoe werk die verhoudings tussen mense? Die roman is dus nie alleen interessant nie, maar ook treffend en diepsinnig. Ek het dit indrukwekkend gevind.

In The Echo Maker is die brein weer eens die sentrale tema, en die vraag na wat dit is om ’n mens te wees steeds die sentrale vraag. Die konteks is egter heel anders. In hierdie boek het ons te doen met ’n jong man, Mark Schuster, wat ernstige breinbeserings opdoen in ’n motorongeluk (wat onder verdagte omstandighede plaasvind). Nadat hy uit ’n lang koma wakker word, ly hy aan die rare Capgras-sindroom. Hy verstaan goed wat rondom hom aangaan, maar betwyfel die werklikheid van enigiets waarmee hy voorheen ’n sterk emosionele verbintenis gehad het. Hy herken dus sy suster, sy hond en sy huis, maar is oortuig dat hulle vervalsings of plaasvervangers is, nie die egte persoon en dinge self nie. Hy kan nie ’n werklike verhouding met hulle herbevestig nie – iets wat vir hom en sy suster geweldig ontstellend is.

Sy “geval" word ondersoek deur Gerald Weber, ’n bekende neuroloog en die skrywer van populêre boeke oor die brein en wat daarmee kan skeefloop – ’n duidelike verwysing na Oliver Sacks, die skrywer van The man who mistook his wife for a hat. Weber kan die saak nie kleinkry nie. Daarmee saam is sy jongste boek nie ’n sukses nie. Hy begin aan homself twyfel en kom onder die indruk dat sy lewenswerk tot nou toe eintlik net ’n selfsugtige akademiese eksploitasie was. Hy betrap hom dat hy eintlik maar net vir Mark sien as ’n besondere geval wat ’n goeie boekhoofstuk sal maak. Hy verval in ’n depressie waarin hy, soos Mark, nie meer seker is van sy identiteit nie.

Mark se suster, Karin, in baie opsigte die hoofkarakter van die roman, is insgelyks haar persoonlikheid ontneem. Sy offer haar hele lewe op om haar broer te probeer rehabiliteer, maar hy wil niks met haar te doen hê nie. Hy soek sy regte suster. Op ’n manier ly hulle almal, en by implikasie alle mense, aan ’n soort Capgras-sindroom.

Die roman speel af in die plat landskap van Nebraska, en die ander hoofkarakters van die boek is die skaars, en bedreigde, spesie kraanvoëls wat kortliks daar aanland op hulle jaarlikse migrasie. ’n Tweede tema van die boek is dus ’n ekologiese een. Daar is ’n wedywering tussen bewaringsorganisasies en Groot Besigheid wat die gebied waar die kraanvoëls oornag, wil ontwikkel. Dieselfde karakters is by al twee storielyne betrokke.

Ook op ’n simboliese vlak probeer Powers die twee verhale verknoop. Die kraanvoëls, wat deur sekere Indiane “echo makers” genoem word, kom keer op keer terug na dieselfde plek. Hulle ontsnap nie aan hulle instinktiewe geheue nie. Ek dink die boek wil op die ou end ook iets oor instink sê.

Powers het sy huiswerk goed gedoen. Sy kennis van neurologie is indrukwekkend en hy wend dit met insig aan. Mens kan egter weer nie die vraag vermy of dit goed genoeg is om van The Echo Maker ’n goeie roman te maak nie. Hierdie keer is my antwoord effens meer gekwalifiseerd as by Galatea 2.2. Die drie hoofkarakters is inderdaad interessant en ontwikkel op ’n manier, hoewel nie té veel nie. Daar is ook ’n klomp sekondêre karakters – Mark se vriende en vriendin, ’n enigmatiese helper by die hospitaal, Karin se minnaar(s) – wat help om die storie te dra. Terselfdertyd is daar ’n hele misterie rondom die ongeluk self, en ’n enigmatiese nota wat Mark langs sy bed kry as hy uit die koma wakker word, wat die boek ook ’n soort speurverhaal maak.

Dit is duidelik ’n ambisieuse boek, maar waarna tel dit alles op?

My gevoel, na al die moeite, is: na te min. Die berg baar ’n muis. Geen van die karakters, behalwe miskien Mark, wen eintlik mens se guns nie. Die simboliek is geforseerd en die hele intrige, wat op die laaste paar bladsye so tjoef-tjaf ontknoop word, is ’n windeier – om by die voëlmetafoor te bly sonder om te ver te gaan daarmee. Miskien is Powers ’n slagoffer van sy eie sukses. Die boek is 150 bladsye te lank, en ’n goeie redakteur sou dit hom moes gesê het.

Dit is duidelik dat ander lesers en kritici baie meer plesier aan die boek gehad het as ek. Ek moet ook sê dat ek nie gevoel het dat ek my tyd gemors het nie. Powers is ’n vaardige skrywer, en die roman het inhoud, met ander woorde, dit is nie metaletterkunde nie. Daar is ’n sterk narratiewe lyn, wat beteken mens hou aan lees, al word daar eintlik niks nuuts meer gesê nie. Die keurders vir die Pullitzer moes duidelik ook meer van die boek gehou het, maar wat my betref, is dit ’n definitiewe naaswenner. Galatea 2.2 is egter ’n heel ander storie. Soek dit!


 



Resensie moontlik gemaak deur Exclusive Books.