Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Rubrieke | Columns > Willie Knoetze: Uit die boks

Uit die boks: Skote Petoors


Willie Knoetze - 2007-06-20

"Alle mans is straight-acting - tot jy hulle los." So het ek digby twee jaar gelede my eerste rubriek begin. Soos die noodlot dit wil hê, is dit dan ook hoe ek my vierde jaar “oor die muur” ingestorm het: as ‘n mal, “straight-acting” queen. Min het ek gedink dat ek, terugskouend, soveel van my toekoms voorspel het!

Julle sien, die malligheid het my mos weer ingehaal. So onvoorspelbaar en onverwags soos die sneeu in Plettenbergbaai het my stomme hart iemand raakgeloop en holderstebolder, hopeloos vir die ou gaan staan en val. Aanvanklik het ek dit (wonder bo wonder) reggekry om die vierkamerspier se waansin in toom te hou. Ons geselsies was rustig en tydloos, sonder druk of agenda. Ek is aan die familie voorgestel en het dadelik welkom en tuis gevoel. Ouers, broers, vriende, bure en kollegas het kom inloer en saam gekuier – en dit was die natuurlikste ding op aarde. Hy’t selfs gevra of hy maar my ouers kan ontmoet ...

Toe maak die hartsluise oop en begin sjokolade pomp. (En julle onthou mos hoe dit gaan as die katoolsheid my tref – blind, swak, horende doof en ... totaal en al irrasioneel! Ja, ek was verlief – maar op ‘n manier wat ek nog nie voorheen beleef het nie: die ou het immers ook van my gehou! Verbeel jou dit!

Hier was iemand wat besef dat die lewe te kort is vir cottage tricks, gekompliseerde of “oop” verhoudings, geheime bewondering en sodanige miserabelhede. Hierdie man hou van ete-afsprake, om nagte om te gesels en om mense te laat weet hoeveel hy hulle waardeer! Iemand wat inspirerende DVD's uitneem vir sy verjaarsdag! Wow – dis mos alles waaroor ek droom!

En dis net hier waar my kop my natuurlik toe nou weer los. Heeltemal te vinnig laat val ek die “Ek is verlief op jou”-bom. Radiostilte. Paniek. (O bliksem, Willem – wat het jy nou weer aangevang?) Skielik skop my brein weer in aksie en neem die boot oor. Stille waters, manne, na stuurboord. Here be dragons.

“Wees eerder my vriend en leer my ken. Dis beter as om haastig ‘n ding te doen en later dalk spyt te wees.” Eintlik was dit ‘n baie goeie voorstel – wyse woorde selfs. Absolutwillie het egter net “eerder vriende” gelees en ‘n noodtoestand aangekondig. (O die drama.)

“Aandag, aandag! Hierdie is ‘n staatsgreep. Sjokolade, skoenlappers, hartkloppings en lam knieë word verban. Van nou af word dinge met militêre presisie en dissipline gedoen. Op las.”

Radiostilte.

Oor die volgende paar dae het ons grappies per sms gedeel en kort opsommings van ons werksweek uitgeruil. Ek het hom ook na my verjaarsdagkuier genooi – en hy wou kom! Nog kort boodskappies is heen en weer gestuur – en toe is dit my verjaarsdag. My ou vriend Karlito het my middernag gebel om my geluk te wens. Die tweede persoon om my geluk te wens was Die Man. Hy het uitgesien na die kuier.

Die militêre regime was skielik in gedrang. ‘n Nuwe rewolusie was aan die broei in my binnenste – skoenlappers en al.

Ek was amper laat vir my eie verjaarsdagkuier. Op pad terug van my laaste afspraak af sms Die Man om te sê dat hy laat gaan wees. ‘n Trok het laat ingekom en moet nog afgelaai word. “Sien jou later!”

So daag ek net-net betyds by Café Havana op om nog my gaste te kan verwelkom. Ek het my foon in die kar gelos en gaan partikuleer – dit was ‘n fees! Teen die tyd dat my eerste gaste al huis toe gaan, was Die Man nog nie daar nie. My vriendinne het saam met die Mojito’s in my are begin brom. Iets is nie pluis nie, manne – waar is die ou oor wie Willie so aangaan?

By die kar gekom onthou ek my foon – daar’s vier foproepe en ‘n sms: “Is die picnic nog aan?” Teen dié tyd van die aand/oggend was my skerpsinnigheid egter bietjie af en kon ek nie snap wat hy bedoel met picnic nie. Aangespoor deur my vriendinne en alkohol breek die Hartrewolusie uit en onttroon my brein. In dié toestand kies my gesonde verstand toe die pad en jaag ek weer kak aan. In stede van die aaklige gedig wat Burger destyds ("Ketools") moes aanhoor – kry Die Man toe ‘n afsê-sms. (En nie op ‘n mooi manier nie, soos mens van my irrasionele, innerlike queen kan verwag.) Ai, die arme man. Dié is intussen al ure slaggereed om by ons aan te sluit. Hy wou net seker maak waar. In die Tuinroete kan dit nogal ver ente wees om heen en weer te ry op soek na ‘n groep jolige partytjiegangers.

Eers later die oggend – na ek alles uitgeslaap het – snap ek toe wat eintlik gebeur het: ek is die vark in die verhaal! Agge nee! Met trane in my keel en skaamte in my oë gaan sit ek by my ma in haar kamer. Hoe nou gemaak? “Vra om verskoning. Sê vir hom hoe jy nou voel en hoe jammer jy is – dit help niks jy sit hier en sleg voel nie.” (Het ek al gesê hoe lief ek vir my ma is?) Ek sms toe eers en waarsku hom dat ek gaan bel om ordentlik jammer te sê – en dat ek ten volle sal verstaan as hy nie antwoord nie.

So gesê, so gedaan: iewers het brein en hart besluit om saam te werk sodat ek, rustig, vir hom om verskoning kon vra. “Kan ek jou uitvat vir koffie? Dan kan ek persoonlik om verskoning vra. Ek wil graag weer met jou gesels.” Dis reg so. Hy sal laat weet wanneer hy kan wegkom.

Die naweek is ek op Gauteng toe vir Karlito se verrassingspartytjie. Dit was ‘n fees – al het ek spontane blaasinfeksie opgedoen en die grootste deel van die naweek gesit en bewe van kouekoors.

Ek het eergisteraand by die huis gekom. Nog geen taal of tyding van Die Man nie. Het ek hom finaal verwilder?

Ek het gisteraand die “Ketools”-rubriek uitgedruk en vir hom gefaks. Nou moet ek wag en kyk. Geduld: ‘n les wat ek moeilik leer – maak dit, Heer, die laaste keer.

Word vervolg (bid ek) ...