Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Geestelik | Spiritual > Artikels | Features

Die NG Kerk honderd en vyftig jaar gelede – het die kerk sedertdien verander?


Nico Smith - 2007-06-05

By die Algemene Sinode van die NG Kerk in Junie vanjaar sal dit presies 150 jaar gelede wees dat die sinode van dié kerk ’n besluit geneem het waarvan die sinodegangers allermins die gevolge kon voorsien. Die sinode het naamlik besluit dat persone van kleur voortaan in afsonderlike geboue vir hulle kerklike voorregte sou vergader.

Dié besluit was in direkte teëstelling met ’n besluit van die sinode van 1829, naamlik:

Op ’n voorstel dat die Nagmaal gelyktydig aan lidmate sonder onderskeid van kleur of afkoms bedien word, is eenstemmig besluit dat die voorstel as ’n onwrikbare stelreël, op die onfeilbare Woord van God gegrond, behoort aangemerk te word en dat bygevolg alle Christengemeentes, en elke Christen in besonder, verplig is om in ooreenstemming daarmee te dink en te handel.

Die vreemde is dat die sinode van 1857 dan die besluit van die sinode van 1829 op Bybelse gronde handhaaf, maar dan tóg besluit om dit nié in die praktyk deur te voer nie. Die sinodebesluit van 1857 het soos volg gelui:

Die sinode beskou dit wenslik en Skrifmatig, dat ons lidmate uit die heidene in ons bestaande gemeentes opgeneem en ingelyf word, oral waar dit kan geskied. Maar waar hierdie maatreël as gevolg van die swakheid van sommige, dit die bevordering van die saak van Christus onder die heidene in die weg sou staan, die gemeentes uit die heidendom, en dié wat nog tot stand sou kom, hulle Christelike voorregte in ’n afsonderlike gebou of gestig sal geniet.

Nou sou ’n mens kon vra waarom op Gods aarde die sinode besluit het om die gesamentlikheid van gelowiges volgens die Skrif te handhaaf en dan tóg besluit dat in die praktyk die gelowiges uit die heidendom afsonderlik moes vergader.

Verskillende historiese faktore het hierin ’n rol gespeel. Dat die sinode van 1829 so ’n duidelike besluit oor die gelykwaardigheid en onskeibaarheid van alle gelowiges kon neem, was natuurlik gegrond op die Bybelse voorskrif in dié verband, soos dit veral in Kolossense 3 vers 11 so duidelik uitgespel is, naamlik:

Vir sulke nuutgemaakte mense maak dit nie saak of iemand ’n Griek of Jood, besny of nie besny, van ’n vreemde kultuur of ’n barbaar, ’n slaaf of ’n vryman is nie. Al wat saak maak, is Christus wat alles in elkeen is. (Nuwe Lewende Vertaling.)

Die besluit van die sinode van 1829 sou ook gesien kan word in die lig van die veel gewraakte Ordonnansie 50 wat deur die destydse Engelse owerheid aan die Kaap in 1828 uitgevaardig is – dus slegs ’n jaar voor die sinode se besluit. Soos bekend, was daar natuurlik heftige verset onder die koloniste aan die Kaap téén hierdie ordonnansie wat die Khoisanmense (Hottentotte) formeel op ’n gelyke voet met die burgers geplaas het. Dit kan aanvaar word dat die sinode van 1829 dus in dié saak leiding wou gee deur te besluit dat wat die kerk betref, dit ’n uitgemaakte saak is dat die gelykwaardigheid van alle gelowiges in die kerk gehandhaaf sal word.

Waarom dan die terugkrabbeling van die sinode van 1857?

Uit die historiese gegewens blyk dit dat die verset teen Ordonnansie 50 in die Wet, en gesamentlike aanbidding in die kerk, sedert 1828 sterk toegeneem het. So sterk het die aandrang van “die swakkeres” (volgens die sinode van 1857) geword dat gekleurdes uit hulle midde verwyder moes word, dat die sinode dan besluit om tóg maar aan hulle aandrang toe te gee. En daarmee was dit die begin van die geskiedenis van die NG Kerk as ’n kerk wat na die pype van haar lidmate sou dans. Gaan ’n mens die geskiedenis van die NG Kerk sedert 1857 na, blyk dit dat die NG Kerk, wat gekleurdes in die kerk betref, telkens weer aan die (sondige) begeertes van haar lidmate voldoen het.

Geen wonder dat die NG Kerk uiteindelik daartoe verplig was om die begeertes van haar lidmate in verband met apartheid as politieke beleid ook na te volg nie.

Dit is dan ook uit die geledere van die NG Kerk dat die woord apartheid gebore is. ’n Sekere eerwaarde Du Plessis het die woord apartheid as die beleid van die NG Kerk ten opsigte van gekleurdes vir die eerste keer in 1929 by ’n sendingkonferensie te Kroonstad gebruik. Sedertdien het dit deel geword van die algemene kerklike spreektaal. In die eerste sendingbeleid wat die NG Kerk in 1935 die lig laat sien het, word dan ook verklaar dat apartheid die wil van God is en daarom deur die kerk toegepas moes word.

En na die uitslag van die verkiesing in 1948 skryf Die Kerkbode (amptelike blad van die NG Kerk) in ’n redaksionele artikel dat die NG Kerk innig dankbaar behoort te wees dat daar nou uiteindelik ’n regering in die land aan bewind gekom het wat besluit het om die weg te betree wat die NG Kerk deur die geskiedenis heen aangedui het as "die finale oplossing" vir die land se rasseprobleem. Die NG Kerk het immers deur die harde praktyk geleer dat alleen langs die weg van apartheid ’n vreedsame samelewing in Suid-Afrika verkry sou kon word!

En nou, 150 jaar na 1857, kan tereg gevra word of die NG Kerk enigsins sedert haar besluit van 1857 verander het?

Daar is talle aanduidings dat daar gedurende die afgelope 150 jaar weinig verandering ingetree het in die amptelike houding van die NG Kerk ten opsigte van gekleurdes in die kerk. Toe ’n totale politieke verandering in 1994 plaasgevind het, het die NG Kerk voortgegaan asof niks in die land gebeur het nie. Apartheid is sedert 1994 in sy geheel op alle terreine van die Suid-Afrikaanse samelewing ter syde gestel – behalwe in die NG Kerk, waar die vier afsonderlike kerke vir verskillende rassegroepe nog steeds in stand gehou word. Die NG Kerk is sedert 1975, dus 32 jaar gelede, nog steeds besig om met die kerke waaraan sy geboorte geskenk het, te verenig. Baie goeie voornemens tot hereniging van die vier kerke is veral sedert 1994 aan die kerklike publiek voorgehou. Huidiglik blyk dit egter, soos waarskynlik by die eerskomende sinode duidelik aan die lig sal kom, dat die eenwording van die NG Kerk-familie nie binne die afsienbare toekoms verwesenlik gaan word nie.

In plaas daarvan dat die NG Kerk-familie in 1994 daartoe oorgegaan het om die sinodes van die vier kerke byeen te roep en hulle versoek het om in die lig van die afskaffing van apartheid as één kerk te konstitueer, het die NG Kerk rustig voortgegaan om die bestaan van die vier kerke te handhaaf, ten spyte van die feit dat die bestaan van sodanige rasgekonstitueerde kerke volgens die nuwe Grondwet van die land ontoelaatbaar was. Daardeur het die NG Kerk ’n Godgegewe geleentheid om finaal van apartheid in haar boesem ontslae te raak, laat verbygaan. Die rede vir hierdie verpaste geleentheid wat die nuwe politieke bedeling die NG Kerk gebied het om vir goed van haar misplaaste besluit van 1857 ontslae te raak, kan op geen ander wyse verklaar word as dat die wil van die lidmate hierin weer vir die kerk die weg aangedui het in plaas daarvan dat die kerk deur sterk kerklike leiding vir haar lidmate die weg sou aanwys.

Omdat die NG Kerk ’n kerk geword het wat na die pype van haar lidmate dans, het die NG Kerk in die loop van die geskiedenis langsamerhand al meer ’n kerk vir wit Afrikaanssprekende Afrikaners geword wat slegs vir die religieuse, kulturele en tradisionele behoeftes van die Afrikaners voorsien het. Daarom het die NG Kerk uit eie keuse uiteindelik dan ook afgesluit geraak van die res van die kerke in die wêreld. Sodoende het die NG Kerk uiteindelik die “muishond-kerk” van die wêreld geword wat slegs met ’n klein groepie uiters konserwatiewe Gereformeerde kerke in verskillende lande kontak gehad het en by hulle internasionale byeenkomste toegelaat is.

Kyk ’n mens ook na die geskiedenis van die NG Kerk sedert 1857, blyk dit dat die NG Kerk weinig invloed op die Suid-Afrikaanse samelewing buite die kring van die Afrikaners uitgeoefen het. Vra ’n mens byvoorbeeld na die bydrae van die NG Kerk tot die Ekumeniese beweging in Suid-Afrika, is haar bydrae ’n ronde nul. Vra ’n mens ook na die bydrae van die NG Kerk om leierskap onder die inheemse bevolking te bevorder, blyk dit feitlik ook ’n ronde nul te wees. Watter huidige vooraanstaande leiers wat in die nuwe bedeling sedert 1994 na vore getree het, het uit die geledere van die sogenaamde dogterkerke van die NG Kerk gekom? Na my wete nie ’n enkele nie. Wat anders kon ’n mens verwag het van ’n kerk waarin die gelykwaardigheid van gekleurde gelowiges nooit werklik erken is nie en die gekleurde lidmate van die kerk in slaafse onderdanigheid gehou is?

Slaafse onderdanigheid? Vanaf 1881, toe die eerste kerk vir gekleurdes gekonstitueer is (die NG Sendingkerk), tot in die sestigerjare van die vorige eeu, toe die swart NG Kerk in Afrika gekonstitueer is, is gekleurdes (kleurlinge, swartes en Indiërs) nie as waardig geag om leierskapposisies in die kerke wat vir hulle gekonstitueer was, in te neem nie. Hulle was dan glo nog nie "ryp" vir leierskap nie, en die sogenaamde dogterkerke is eintlik deur wit sendelinge oorheers, wat weer gestaan het onder die jurisdiksie van die wit NG Kerk. Die hele sendingbedryf van die NG Kerk was dus daarop gerig om "nieblanke" departemente van die NG Kerk te stig wat onbepaald onder die wakende oog van die wit NG Kerk sou funksioneer.

En nou, na al die jare van afsonderlikheid in die NG Kerk-familie, is daar nog steeds ’n sterk beweging in die NG Kerk wat geen strukturele eenheid van die NG Kerk-familie wil hê nie, maar slegs ’n federale verband waarin elke kerk dan haar selfstandigheid sal behou en die vier kerke slegs in raadplegende hoedanigheid met mekaar sal federeer. Dis van harte te hoop dat die drie sogenaamde dogterkerke van die familie sal insien dat dié federale verband wat in vooruitsig gestel word, niks anders as ’n foefie is om die daadwerklike eenwording van die vier kerke te ontsnap nie.

Dis vanjaar 355 jaar sedert die NG Kerk vanuit die Nederlandse bodem op Suid-Afrikaanse bodem oorgeplant is. Soek ’n mens na die invloed van dié kerk op die Suid-Afrikaanse samelewing as geheel, lewer dit ’n bedroewende prentjie op. Die NG Kerk het ’n kerk van en vir wit koloniste gebly wat die Suid-Afrikaanse samelewing as geheel eerder tot nadeel as tot voordeel gestrek het. Vir té lank het die NG Kerk ’n kerklike "establishment" opgebou wat alleen op eie voordeel ingestel was. Van ’n werklike vereenselwiging met die gedifferensieerde samelewing waarbinne sy haar bevind het, was daar weinig sprake. Sy was eintlik maar ’n Afrikanerkerk wat vir die welsyn van die klein minderheid Afrikaners in die land bestaan het.

Om bogenoemde redes voel ek dat ek nie anders kan nie as om aan die NG Kerk te sê: “Moeder, ek kla u aan! U was vir die gelowiges uit die Afrikanervolk geen goeie moeder nie. U het u kinders op ’n weg gelei waarop hulle tans veel te ly het.” Maar dit is die uitspraak van die bekende kerkvader uit Afrika-bodem, Augustinus, wat gesê het: “Die kerk is ons moeder. En daarom moet ons haar bly liefhê. Selfs wanneer sy ’n hoer geword het, moet ons haar nog liefhê en meewerk aan haar rehabilitasie.” In baie opsigte geld dit ook van die NG Kerk, wat met vreemde gode (nasionalisme en apartheid) "gehoereer" het en daarom haar ware aard en karakter as kerk oneindig skade aan gedoen het. Maar sy bly desnieteenstaande nogtans my moeder by wie ek die bestaan van die Evangelie as Goeie Nuus geleer ken het. Daarom sal ek nie my rug op haar draai nie, maar voortgaan om haar op te roep om die weg van gehoorsaamheid aan die Skrif te kies en te bewandel.