Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Rubrieke | Columns > Afrikaans > KritNet

Bleek maar briljante McCarthy


Paul Cilliers - 2007-05-29

The Road
Cormac McCarthy
Picador 2006
ISBN 0-330-44755-9
241 bladsye


Indien enigiemand Cormac McCarthy leer ken het deur die swak film wat gemaak is van sy roman All the Pretty Horses, moet hulle dit dadelik vergeet. McCarthy is een van die belangrikste lewende skrywers in die VSA. Die New York Times se paneel deskundiges het Blood Meridian aangewys as een van die vyf beste Amerikaanse romans van die afgelope 25 jaar en The Road het pas die Pulitzer-prys vir letterkunde gewen.

McCarthy se tekste is weliswaar besonder donker, maar sy taal het ’n skoonheid en liriek wat min hom kan nadoen. Ek het hom leer ken deur die sogenaamde Border Trilogy (waarvan All the Pretty Horses die eerste is). Dit vat ’n rukkie om aan sy elliptiese styl gewoond te raak – daar is die absolute minimum van leestekens – maar as dit jou eers tref, is dit, ten minste vir my, onweerstaanbaar. Veral sy dialoë kan jou asem wegslaan.

The Road is sonder twyfel een van die bleekste boeke wat ek nog gelees het. ’n Pa en ’n jong seun loop deur die verbrande landskap van ’n postapokaliptiese VSA. Amper almal is dood; daar is niks van die beskawing oor nie. Die aarde is verbrand, alles is onder as, bykans geen lewe van enige aard is oor nie. Dit reën aanhoudend en dit is koud. Die verhaal is bloot die tog van die twee om van êrens in die binneland by die see uit te kom, terwyl elke oomblik ’n stryd is om aan die lewe te bly. Al kos wat hoegenaamd beskikbaar is, is in blikkies. Die apokalips vind plaas op die dag van die seun se geboorte, dus ’n halfdosyn of meer jaar gelede, en alles is reeds op. Omdat daar geen sosiale strukture meer is nie, is elke mens, soos Hobbes gesê het, ’n wolf vir sy naaste.

Pa en seun het niks in die wêreld oor behalwe mekaar nie. Soos wat hulle stelselmatig wegkwyn, is die teer besorgdheid wat hulle vir mekaar het, die enigste ding wat hulle deur die een leë, koue vreesaanjaende dag na die ander dra. As dit nie daarvoor was nie, sou mens die boek nie kon lees nie. Selfs daarmee is die boek steeds oorstelpend troosteloos – terugslag op terugslag sonder enige horison van hoop. Die pa som dit so op: “There is no God and we are his prophets.”

Hoekom sou mens so ’n boek hoegenaamd wil lees?

Die eerste antwoord is eenvoudig McCarthy se taal. Min skrywers kan so baie doen met so min woorde. Weer eens is dit veral in die dialoë wat hy wonders verrig. Niemand sê ooit meer as ’n paar woorde op ’n slag nie, maar die gesprekke roep telkens, sonder ’n sweem van sentimentaliteit, die sterkste emosies op. Soos by poësie is geen parafrase daarvan moontlik nie. Mens moet dit eenvoudig self lees.

Mens sou dit ook kon lees as ’n soort waarskuwing. Die apokalips was in alle waarskynlikheid ’n wêreldwye kernoorlog en al wat oorbly, is die ewige “nukluêre winter” wat daardeur veroorsaak is. Ek dink egter nie dat McCarthy dit eintlik so bedoel nie. Hy het dit waarskynlik, soos in sy vorige boeke, meer oor die bleekheid van ons bestaan in die algemeen. Die vraag wat hy ondersoek, is dus nie “Wat is die gevolg van ’n kernoorlog?” nie, maar eerder: “Wat is die parameters van ons menslikheid?”

The Road roep natuurlik ander postapokaliptiese romans op. Een van die sentrale beelde – dié van die winkeltrollie – herroep Paul Auster se In the Country of Last Things. ’n Ander teks waaraan ek dikwels gedink het, is Samuel R Delany se Dhalgren. Hierdie verhaal speel, soos dié van Auster, in ’n vervalle stad af. Dit is ’n “groot” boek met ’n vervlegde struktuur en ongewone karakters. Hoewel die styl daarvan heel anders is as McCarthy se poëtiese ellipsis, is dié boek ook heel troosteloos, maar iets heel besonders en totaal onderwaardeer.

Die titel van The Road herinner aan die “beat”-skrywers, en spesifiek natuurlik Kerouac. Soos by Kerouac se On the Road is die reis wat McCarthy se pa en seun onderneem, sonder doel of werklike funksie, eintlik niks meer as ’n konfrontasie met daaglikse kontingensie nie.

Dit mag klink of dit ’n moeilike boek is om te lees, maar dit is geensins die geval nie. Ten spyte daarvan dat die aksie in die teks (en daar is wel aksie) eintlik sekondêr is, het die boek ’n soort momentum wat mens dra. Maak geen fout nie, hierdie is ’n buitengewone boek, een wat reeds deel uitmaak van die belangrikste tekste van ons tyd. En as klein troos: op die einde brand daar die flouste liggie van hoop. Die liggie se naam is humanitas.

All the Pretty Horses is nie goed verfilm nie, maar ons kry een van die dae ’n film van ’n McCarthy-teks wat dalk iets spesiaals kan wees. McCarthy se vorige roman, No Country for Old Men, was ’n ongewone, baie “noir” soort speurverhaal. Ek dink nie baie lesers het geweet wat om met die boek te maak nie, aangesien dit duidelik in die genre van speurverhaal val, maar geen van die konvensies daarvan volg nie – definitief ’n bietjie “af”. Die goeie nuus is dat die Coen-broers ’n film van die boek gemaak het wat teen die einde van die jaar vrygestel word. Dit is reeds by die Cannes-filmfees vertoon en is benoem vir die Goue Palm. Nou daar kan ’n ding wees!



Resensie moontlik gemaak deur Exclusive Books.