Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > Artikels | Features

’n Verrassing in die middel van die Kaap se wynlande


Johann H Crafford - 2007-05-23

Wie sou nou ooit kon dink dat die Kaap se wynlande nog ’n verrassing kan oplewer, maar tussen Klapmuts en Simondium lê wat met veiligheid beskryf kan word as een van die Boland se besbewaarde geheime. En dit lê oop en bloot, reg onder ons almal se neuse.

Die kennisgewingsbord lees "R45 Franschhoek", maar die teerpad van sowat nege kilometer kan maar net sowel die Simonsberg-wynroete genoem word (die pragtige Simonsberg lê aan die regterkant soos ’n fort van ouds die vallei en oppas), of selfs die Drakenstein-wynroete (hierdie bergreeks strek van links na regs in die agtergrond). Of wat van Roete 45?

Om by hierdie juweel uit te kom, is baie eenvoudig. Vat die N1 na die Paarl en neem dan Uitgang 47 na Stellenbosch, Klapmuts en Wellington. By die stopstraat draai jy regs en ry onderdeur die N1 verby Butterfly World aan jou linkerkant tot by die volgende stopstraat. Ry oor die R101, oor die spoorbrug en draai dan links op die R45 na Franschhoek.

So 500 m verder lê die landgoed Anura aan jou regterkant. Volg die teerpad tot by die kelder en restaurant en maak jou gereed vir ’n besonderse ervaring.

Anura is die Latyns vir padda, en die plaas se naam is glo afgelei van die koppie Paddabult agter die kelder. Die plaas is ’n allemintige 240 ha groot, waarvan sowat 110 ha onder wingerd is.

Anura is in 1990 deur die Bouma-familie aangeskaf en hul eerste Cabernet Sauvignon het dubbelgoud by die Veritas-toekennings ontvang. Die plaas se wyne, wat sowel wit as rooi insluit en met ’n hele rits toekennings spog, word onder die Anura- en Frog Hill-name bemark.

Maar dis nie net wyn wat jy hier kan proe en koop nie. Hier word ook kaas gemaak en onder die naam Forest Hill verkoop, van tradisionele Brie tot Marisch met Cajun-speserye.

En dan is daar die Lily Pad-restaurant. Ek het nou al by twee geleenthede onverwags hier opgedaag, so teen nege-uur se kant, en gevra vir ontbyt. En albei kere het die baie vriendelike meisie verskonend gesê hulle is eintlik nie voorbereid nie, maar dat hulle uit dit wat hulle in die kombuis het, vir my en my donkerkop iets aanmekaar sal slaan. En albei kere is ons verras met ’n ontbyt wat vir niks skrik nie.

Leer dus nou van my: bel hulle tog net die vorige dag om te bespreek en ek is seker jy sal ’n ontbyt kry wat jou mond lank daarna nog sal laat water! Hulle telefoonnommer is 021 875-5360.

Vra hulle dan sommer ook uit oor hul spyskaart vir middagete. Hulle bied ’n groot verskeidenheid spyskaarte aan om enige smaak te pas, selfs ’n braaispyskaart.

Sodra jy nou klaar kaas en wyn geproe het en jou eie tenk is vol, ry dan terug na die hoofpad en draai regs in die rigting van Franschhoek. So 2,6 km verder, aan jou regterkant, lê die landgoed Glen Carlou (021 875-5528/5596). Tot in 2003 het die bekende Finlayson-familie nog hier geregeer, maar vandag behoort die plaas van 125 ha aan die Hess-Groep van Switserland.

En die Switserse konneksie val jou sommer gou op. Van die pad af al tref die styl van die kelder en proelokaal jou soos ’n handvol sneeu op ’n snikhete somersdag. Dis suiwer Switsers. Die gebou sal enige tyd in die Switserse Alpe pas, natuurlik omring met sneeu en mense in warm winterklere en ski’s.

Ry deur die hekke en teen die bultjie op na die imposante gebou. Voor jy begin proe, gaan kyk eers na die uitsig van die balkon af! Mooi bly darem maar mooi, en die Boland is wragtag darem mooi.

Nou kan jy terug na binne en van Glen Carlou se puik wyne gaan proe. Hulle bied net ses wyne aan, waaronder ’n Chardonnay en hul Grand Classique, ’n rooiwyn wat in die Bordeaux-styl gemaak is. Daar is ook ’n Syrah wat reeds ’n horde pryse gekry het.

Draai weer regs by die hoofpad, en 800 m verder sal jy die ingang tot Klein Simonsvlei vind. Dis ’n hele 2,3 km tot by die plaashuis, kelder en proelokaal, maar hier vind jy nog ’n tipiese Kaapse wynlandgoed met die buitegeboue knoesig tussen die akkerbome. Een met ’n familiegeskiedenis wat terug dateer tot 1898.

Vandag swaai Niel Joubert (en sy stewige Boerboel Byter) hier die septer. Die handjievol wyne word met trots onder die Niel Joubert-naam bemark en sluit drie witwyne en vyf rooies in. Maak ’n afspraak om hierdie landgoed te besoek deur 021 875-5936 te skakel.

So 600 m verderaan in die hoofpad lê die landgoed Backsberg. Hierdie landgoed en die Back-famile het eintlik geen bekendstelling nodig nie. CL Back, ’n immigrant uit Litaue, het die oorspronklike plaas, Klein Babylonstoren, in 1916 gekoop. In 1970 het die landgoed by uitstek ’n wynplaas geword en in 1976 het Michael Back die stuur oorgeneem by sy pa Sydney. Die vierde generasie Backs is glo slaggereed om die tradisie voort te sit.

Mens ry tussen ’n lang laning bome, wat vandag amper ’n moet is vir ’n wynlandgoed, tot by die buitegeboue, wat nie net ’n ruim proelokaal insluit nie, maar ook ’n lekker restaurant. Hul spitbraai is glo iets om te ervaar.

Backsberg bied ’n omvattende reeks wyne, selfs ’n “kosjer”-reeks, asook ’n brandewyn. Hul vlagskip is die Klein Babylonstoren 2002, wat ’n versnit is van Cabernet Sauvignon, Merlot en Cabernet Franc.

Backsberg verdeel hul wyne in drie unieke kategorieë, naamlik premium, super premium en ultra-premium, waar die Babylonstoren-reeks ingedeel is.

Bel 021 875-5141 vir meer inligting, en 021 875-5952 vir middagete-besprekings by die restaurant, Tables at Backsberg.

Nog 1,6 km verder lê Cowlin Wines se Noble Hill Vineyards (021 874-3844) wat eenmaal deel van die historiese Bloemendal-plaas was. Hierdie plaas is oorspronklik in 1674 deur goewerneur Simon van der Stel toegeken.

Die Cowlins van Cornwall in Brittanje en die Malherbes, afstammelinge van die Franse Hugenote, het ’n paar jaar gelede hande gevat en produseer vandag ’n reeks wit- en rooiwyne wat hul man in enige geselskap kan staan. Hul vlagskepe is die 2002 Noble Hill, wat ’n Cabernet Sauvignon/Merlot-versnit is, en die 2000 Cabernet Sauvignon.

Veritas- en Fairbairn-toekennings, asook ’n groot glimlag van John Platter, beteken dat hierdie wyne reeds deur kenners raakgesien is en geag word.

Hier word ook uitmuntende piekniekmandjies aangebied. Jy kies self uit die verskeidenheid in die deli en dan kan jy heerlik gaan ontspan op die stoep of op die grasperk onder die bome. Cowlin Wines bied ook spesiale kinderpakkette aan.

Drakensig lê sowat 800 m anderkant Cowlin Wines. Dis ’n klein boetiekwyn-produseerder en die plaas beslaan slegs sowat 20 ha, waarvan 4,3 ha elk aan Cabernet Sauvignon, Shiraz en Pinotage toegewy word. Net een witwyn, ’n Sauvignon Blanc, dra die Drakensig-naam, maar sy druiwe kom van elders en word fyn gekeur voordat dit die pad bottel toe vat. Dan is daar nog ’n hektaar onder olywe.

Terloops, Drakensig bemark nie ’n enkele versnitwyn nie. Alles is enkelkultivars. Maak gerus ’n afspraak (021 874-3881) en gaan geniet die puik wyne in die lekker atmosfeer van die kroeg/proekamer.

Hiervandaan het ons die voorlaaste 700 m na Fredericksburg van Rupert & Rothschild Vignerons aangepak. Skaars ’n 100 m vanaf Drakensig se hek het ons aan die linkerkant verby Dawn Mountains gery. By navraag het ons geleer dat dit ’n nuwe wynplaas is wat besig is om gestalte te kry. Hierdie roete raak net al hoe beter!

Fredericksburg dateer uit die dae van die Franse Hugenote en is vandag ’n vennootskap tussen die baie bekende Rupert-familie van Suid-Afrika en baron Benjamin de Rothschild, seun van die oorlede baron Edmond de Rothschild van Frankryk. Die plaas het in 1690 ontstaan en die eerste eienaars was die broers Jean en Daniel Nortier (Nortjé). Die Ruperts het die landgoed van 90 ha in 1984 gekoop en twee jaar later begin om nuwe edelkultivars aan te plant. Die restourasie van die oorspronklike geboue het in 1991 begin na uitgebreide navorsing oor die geskiedenis van die plaas.

Drie uitmuntende wyne word geproduseer met name wat jy kan uitspreek net as jy heeltemal nugter is. ’n Paar glase van die Rupert & Rothschild Baroness Nadine, ’n Chardonnay wat in houtvate gelê het, die R&R Baron Edmond, ’n Cabernet Sauvignon/Merlot-versnit uit spesifieke wingerde wat in Franse houtvate verouder is, en die R&R Classique, ’n versnit van hoofsaaklik Cabernet Sauvignon en Merlot, en jou r’e en s’e sal in jou verhemelte vasslaan soos toffie aan ’n vals gebit. Die vlagskip is die Baron Edmond. Skakel hulle by 021 874-1648 vir meer inligting.

Ons laaste stop van die dag was by Vrede en Lust, wat so 300 m van Fredericksburg af is en die eindpunt vorm van hierdie 9 km lange wyn-en-koservaring. Die plaas is in 1688 deur die Franse Hugenoot Jacques de Savoye gestig. In 1996 het die Buys-familie die plaas, sowel as die buurplaas Wolwekloof, gekoop en Vrede en Lust herstel tot sy oorspronklike grootte in 1688.

Al hul rooiwyne is versnitte, terwyl die twee witwyne ’n Chardonnay en ’n Chenin Blanc met ’n klein persentasie Semillon is.

Cotage Fromage, ’n grasdak-kothuis by die ingang tot die plaas, bied ’n gemaklike en ontspanne atmosfeer en ’n stewige spyskaart van ligte en swaarder etes wat óf binne die deli/restaurant geniet kan word, óf op die stoep voor onder sambrele, of agter onder die groot akkerbome.

Skakel 021 874-1611 vir meer inligting oor keldertoere en dies meer, en 021 874-3991 vir tafelbesprekings by Cotage Fromage.

Net so terloops, hierdie kos-en-wynervaring kan natuurlik ook van Vrede en Lust se kant af aangepak word, met ontbyt by Cotage Fromage en middagete (laterig natuurlik) by enigeen van Cowlin Wines (piekniekmandjie), Backsberg of Anura.

Enige verskoning om hierdie roete weer aan te pak!